Die kind is nog jonger: Onderhoud met Simone Garcia Marques

  • 2

Op die foto langs die CD-omslag verskyn Ingrid Jonker en 'n jong Simone (foto verskaf).

Ingrid Jonker se gedigte is al dikwels getoonset. In 'n nuwe projek - www.flamedrop.com/ingridjonker - waarby haar dogter Simone Garcia Marques betrokke is, word met andersoortige klanke aan Jonker hulde gebring. Naomi Meyer gesels met sommige van die kunstenaars.

Lees 'n onderhoud met Anne van Schothorst.

Hier onder gesels Naomi Meyer met Simone Garcia Marques. 

Simone Garcia Marques (foto verskaf)

Simone, die toonsetting van "Toemaar die donker man" (Tim Parr & Dawie Goldeberg) neem die luisteraar na ‘n vreemde soort oerwoud. Jy het die woorde gepraat-sing. Wat was jou ervaring en interpretasie van die lirieke (gedig) ten opsigte van die musiek?

"Toemaar die donker man" is baie na aan my hart. Ek wou hê die musiek moet soos die ganse heelal klink. Tim Parr en Dawie Goldberg het die klank van die nag wonderlik geïnterpreer.  Dit was vir my so lekker om net daar by Tim in sy huis in Vishoek te sit, en dit net natuurlik te laat gebeur. Ek ken Tim al vandat ek 16 jaar oud was. 

Het jy gekies om betrokke te wees by hierdie spesifieke lied, en, indien wel, waarom?

My man Ernesto het vir my gevra om die gedig voor te dra, want dis sy gunsteling. En een van myne ook. "Toemaar die donker man" het baie lae van betekenisse.

Wat het jy gesien terwyl jy die lied se woorde gedramatiseer het?

Ek het my oë toegemaak en begin om die gedig voor te dra, en ek het onthou hoe my ma Ingrid die kamer ingeloop het in Clifton. Sy het my in haar arms gehou en vir my lam-tie-die-dam-tie-die gesing. Ek het die galme van die branders gehoor, die maan deur die gordyne gesien, en haar sagte stem en oë onthou ... en aan die slaap geraak.

Maak die lied se woorde jou bang? Is die “toemaar” die ma se trooswoord en is dit effektief?

Ek was bang vir die donker, maar my ma het deur die gedig  'n vorm aan die donker gegee. Die donker is nie 'n ding wat leeg en niks is nie, maar iets wat deel van die lewe en selfs deel van lig is. Die donker man kan selfs liefde wees.  Om dit op daardie manier te sien, beteken alles in die heelal is die Skepping, die donker man kan ook die Skepper wees. Tog, is die Skepper nie 'n asemrowende gees nie? Kan die donker man ook deel  van die dood  wees? Of 'n kleiner dood soos dié van slaap? Kan die donker man nie ook 'n man wees nie? Ja. "Toemaar" is 'n wonderlike Afrikaanse woord wat my ma Ingrid in haar gedig gebruik het en wat barmhartigheid so mooi omskryf.  

Het jy as klein kindjie hierdie gedig geken? Indien wel, hoe het dit jou destyds laat voel? Of indien nie, hoe het die woorde jou laat voel toe jy dit die eerste keer gehoor het?

Toe ek klein was het my ma altyd haar gedigte vir my in Afrikaans voorgelees, maar ek kon nie die woorde verstaan nie, want ek het Engels gepraat.  Maar ek het altyd vir haar gesê haar gedigte was "quite beautiful".  Later, na haar dood, was "Toemaar" een van die gedigte wat ek kon verstaan. Ek het vreeslik na haar verlang wanneer ek van haar gedigte gelees het.

Baie dankie dat julle my genooi het om oor ons CD Die kind is nog jonger te gesels.   

- Simone Garcia Marques aka Ingrid Jonger 


Die CD se vrystellingsdatum is 3 Junie 2016. Die album kan vooraf bestel word by Raru.co.za.

Die CD gaan ook beskikbaar wees by Loot.co.za en by onafhanklike platewinkels, soos Mabu en Revolution in die Kaap, High Fidelity in Johannesburg en Khaya in Durban.

Die digitale aflaaimoontlikheid sal oor 'n paar weke beskikbaar wees op platforms soos iTunes, Spotify asook op die nuwe Afrikaanse stroomdiens Liedjie.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top