Die kerkseun deur WA Janse van Rensburg: ’n lesersindruk

  • 0

Titel: Die kerkseun
Skrywer: WA Janse van Rensburg
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9781776358311

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Ek het nogal uitgesien daarna om Die kerkseun aan te pak. Dit is baie goed dat die Afrikaanse letterkunde jóng stemme hoor wat vrae uiter oor die kerk en geloof.

An-Mari do Carmo het onlangs die Desmond Tutu-Gerrit Brand-prys gewen met Toe als groen was. Kort daarna is sy ook bekroon met ’n ATKV-Woordveertjie. Laasgenoemde is belangrik, want dit is jongmense (die teikenlesers self) wat hierdie pryse toeken.

Toe als groen was is ’n blerrie goeie boek en maak ’n sterk saak vir geloof, al is dit keihard met bitter en skreiende klagtes wat teen die geloofsgemeenskap gelê word. Do Carmo self is nog baie jonk. Daar lê hopelik nog baie boeke in haar laai, want haar wysheid moet gehoor word.

Ander kon ook al fiksie en godsdiens meng:

  • Slagoffer, François Smuts se moordstorie, was baie interessant en vir my ’n heerlike verrassing in terme van die teologiese gesprekke daarin.
  • Byna twee dekades terug het Berta Smit die Andrew Murray-prys gewen met haar roman Juffrou Sophia vlug vorentoe.

Genoeg vir nou: Daar is plek vir goeie romans wat met die geloof omgaan.

Die storie (of dan ’n deel daarvan) in Die kerkseun

Die volgende kan ’n mens van die voor- en agterblad aflei – ek sal nie die pret bederf deur meer weg te gee nie: Willem Cronjé moet ’n dominee word, want sy pa sê so. Sy pa is immers Riaan Cronjé, hy is die een wat god se woord die heel beste kan uitlê. (Riaan Cronjé sou wel God en Woord met hoofletters spel.)

Willem is egter nie so seker dat hy geroepe voel om ’n dominee te word nie. Dit veroorsaak natuurlik spanning.

Die ander deel van die storie word sommer op die (baie mooi) voorblad uitgespel. Willem ontmoet ’n wulpse vrou en daar word ’n appeltjie gepluk, wat natuurlik ook konflik teweeg bring.

Lees maar self hoe en waar en wat dan.

Die einde van die roman pas baie slim en baie heg by die begin.

Werk dit?

Die kerkseun is uiteindelik relatief eenvoudige leesstof met ’n einde wat slim voorspel word, en jou tog geskok laat. Lees dit asseblief self.

Die roman is dus nie sonder meriete nie, maar dit het ongelukkig glad nie my (dalk verkeerde) aanname dat hier oor godsdienskwessies gedink gaan word, ondervang nie.

Riaan, die pa, is ’n ou totale bliksem wat niks omgee vir sy medemens nie. Hy versinnebeeld alles wat boos is, al is hy die orator van sy god. Daar is sulke mense, maar in fiksie kom hulle kil en dood voor.

Willem is ’n goeie outjie. Daar is sulke outjies. Maar in fiksie raak hulle weg.

Die meisie op die voorblad is natuurlik enige seun se natdroom. Lees maar self meer oor haar. Ek sal baie koppies cappuccino uitgee op so ’n meisie!

Willem se ma is ’n patetiese mensie wat verskree en vertrap word deur haar patriargale man.

Sien julle die patroon? Die kerkseun is propvol aktante. Hulle speel rolle, almal voel egter ewe afgestomp en ongenuanseerd.

Is ek die verkeerde leser?

My verwagting was baie hoog en dalk verkeerd, maar ek wonder wel wie hierdie roman ten volle sal geniet. Dit is nie regtig ’n jeugroman nie en min onnies sal dit in elk geval in die klas toelaat.

Enige een bo 13 kan dit egter met vrug lees. En praat van vrugte: Daardie klok wat soos ’n vy hang aan die begin van die boek... Dink mooi. Nie net sluit dit aan by die einde nie, maar die meisie wat die appeltjies kom pluk, word ook reeds hier voorspel.

Daar is talle sulke slim goed in die boek en Ian Dennewill se omslag verdien ’n prys.

Dis net... Arme Willem kom nooit regtig uit die verf nie en sy pa ondergaan nooit daardie Griekse bliksemstraal waarop die antieke teaterganger sou gewag het nie.

Die bliksem slaan wel en dit slaan hard, maar dit moet die leser maar self ervaar, ek gaan nie sê nie.

’n Jeugsonde?

Hierdie laaste paragraaf is tong in die kies, maar ek wil die skrywer aanmoedig om aan te hou. Hy is nog baie jonk. Hierdie roman gaan waarskynlik oor ’n dekade van nou ’n ligte blos op die wange van Janse van Rensburg plak, maar as hy op hierdie baie vroeë leeftyd reeds sulke verhale kan uitdink, dan hoop ek van harte daar kom nog. Ek mag dalk nie meer leef wanneer die volgende een verskyn nie, maar ek hoop dat daar nog vele appels aan hierdie boom sal bot.

Lees ook:

Toe als groen was deur An-Mari do Carmo – resensie en onderhoud

LitNet loof maandelikse Crito-prys vir lesersindrukke uit

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top