Die Johann Rossouw-gespreksreeks, die afgang van Frankryk en die Weste (3): Chantal Delsol se La tragédie migratoire et le chute des empires

  • 0

Inleiding 

In hierdie derde van drie opstelle oor die afgang van Frankryk en die Weste word stilgestaan by die liberaal-konserwatiewe Katolieke filosoof Chantal Delsol (1947–) se La tragédie migratoire et la chute des empires: Saint Augustin et nous (“Die migrasietragedie en die val van ryke: sint Augustinus en ons”).

Delsol is n vreeslose denker wat nie doekies omdraai nie. Anders as vele van haar Franse filosofiese tydgenote was sy nooit meegesleur deur die opstande van Mei 1968 of die kommunisme nie. Om die waarheid te sê, sy was as student in 1968 n aktivis téén die opstande. Voorts was sy van meet af antikommunisties en het sy voor die val van die Berlynse Muur in Oktober 1989 aktief bande gesmee met antikommunistiese dissidente in van die destydse Oosbloklande.

In haar jongste boek handhaaf sy haar vreeslose ingesteldheid en intellektuele deurdringendheid. Sy staan stil by die nou bykans konvensionele tema dat die Weste vandag iets soortgelyks as die einde van die Romeinse Ryk beleef, en wel deur op merkwaardige wyse op n aantal ooreenkomste tussen die Romeinse Ryk en die moderne Weste te wys waarin die kwessie van migrasie van buite die Ryk sentraal staan. Voorts beroep sy haar op sint Augustinus – wat die begin van einde van die Romeinse Ryk meegemaak het en sy beroemde Die stad van God(426) in reaksie daarop geskryf het – ten einde te vra wat eietydse Westerling kan leer by Augustinus oor hoe om die ineenstorting van jou wêreld te hanteer. Wat haar vergelyking tussen die Romeinse Ryk en die Weste nog merkwaardiger maak, is bo en behalwe die ooreenkomste waarop sy wys, ook op die verskille te wys.

So stel sy dit in die inleiding van die boek met verwysing na Augustinus:

Augustinus leef in daardie era van n breuk wat ons era vandag herleef. Die eerste Christelike Romeinse keiser, Konstantyn, word [later] gevolg deur Theodosius, die eerste Romeinse keiser wat die Christendom sou afdwing en die vroeëre sedes en gebruike sou straf. Kerke word gebou. Mense begin hulle weens ambisie tot die Christendom bekeer ... n Religieuse ommekeer lei tot en vooronderstel n ommekeer in sedes. Vandag beleef ons sedert die tweede helfte van die 20ste eeu die skouspelagtige inkrimping van die Christendom in die Westerse lande wat dit sien gebore word het, die ommekeer in sedes en wette in die teenoorgestelde rigting, en terselfdertyd die herverskyning van panteïstiese oortuigings. (10)

Soos die Romeinse Ryk niks as buite die Ryk beskou het nie, so is dit ook die afgelope twee eeue met die Weste, wat volgens Delsol ook verstaan moet word as n ryk na analogie van die Romeinse Ryk:

Die afgelope twee eeue beset die Westerse kulturele ryk alle ruimte en het dit ook nie n buitekant nie. Die epog van die groot verowerings is vervang met die epog van min of meer regstreekse invloede en oorheersing. Tot met die wending van die huidige eeu oorheers die Weste die wêreldwye geopolitiek, en beheer en straf dit oral. Die Weste, wat nie n sentrum soortgelyk aan Rome het nie, beheer die wêreld deur ideologiese oortuiging. Die Verligting, wat hier die erfgenaam is van die universele Christendom wat op sy beurt die erfgenaam van Rome is, is veronderstel om vir alle mense heilsaam te wees en moet in dié opsig oral uitgedra word, soos die voorafgaande Evangeliese boodskap. Die Westerse draers van die Verligting is die sendelinge van die postrevolusionêre tyd. En ook hier kan geen ruimtelike beperking verdra word nie: Alles behoort aan ons, want ons bied universele geluk. Anders gestel, ons lê ons omskrywing van geluk neer. Dit word n ryk genoem. Tans, met alle kolonisasies verbruik en uitgewis, bly dit n kulturele ryk wat nog steeds heel lewend is. (22)

Natuurlik kan geen selfrespekterende ryk sy ambisie om wêreldoorheersing blatant uitspel nie, maar dit word agter mooi ideale verdoesel:

Dié wil om alles in te palm, om nie “die ander” as ander te laat bestaan nie, word vertaal deur die verklaring van universele, finale vrede, tipies van ryke wat sowel die Romeinse mentaliteit as ons sn deurweek. In sy gedig die Aeneïde laat die [Romeinse] digter Virgilius [die Romeinse hoofgod] Jupiter sê: “Die moeilike eeue sal dan vreedsaam word ... En die bronsdeure sal oorlog wegsluit.” ’n Mens maak slegs teen jou vyande oorlog en wanneer dié ophou bestaan, wy die legitieme krag sigself slegs aan operasies van polisiëring. So sien die Weste die wêreld ná die Tweede Wêreldoorlog [1939–45]: n geheel van lande wat almal verwesters is en in dié opsig oorlog met die internasionale reg moet vervang. Die howe beheer deur die [Westerse] magsentra straf en met die wapen van die reg die skuldiges, van wie die Weste oordeel dat dit geregverdig is om hulle oor die hele wêreld te gaan soek. Die Weste omskryf die misdade en tree as die polisie op, straf die oorlogmakers van al die volke, of maak ten minste daarop aanspraak om dit te doen. Want dit gaan om n vrome wens. Soveel as wat die Romeinse verklarings van universele vrede poëtiese wense verteenwoordig het, soveel verteenwoordig Westerse verklarings van universele vrede ook ideologiese verklarings – slegs ons ideoloë glo regtig daaraan. (23)

Voorts sien die Romeinse en die Westerse ryke sigself ook as ewig, of dan ten minste as onsterflik:

Die ryk is sowel in tyd as in ruimte sonder grense. Maar die oneindigheid van ruimte is nie regtig oneindig nie, omdat die aarde inherente grense het, met die gevolg dat in dié opsig vir die ryk eerder van die geheel gepraat word. Die tyd, daarenteen, kan as oneindig gesien word indien beslag gelê word op die toekoms wat ons per definisie ontglip. Dít is wat ryke doen. Hulle lê beslag op die toekoms – daardie tyd gevoed op onsekerheid – en eien dit heeltemal toe. Die Romeinse Ryk en die Westerse Ryk ná hom verklaar hulleself as ewig. Of n mens moet eerder sê as onsterflik, aangesien die idee van die ewigheid behoort tot die denke van die transendensie. Die Romeine – en ná hulle vandag se Westerlinge – wat glo dat hulle onsterflik is, dink nie aan transendensie nie, omdat die een pre- en die ander post-Christelik is. (25)

Wanneer dit kom by die vermoë om die beperkinge van hierdie ryke in te sien, is een of ander alternatiewe agtergrond as die heersende nodig. Augustinus was in sy tyd n voorbeeld hiervan, maar wat van hedendaagse Westerlinge?

Augustinus het die ydelheid van die Romeinse Ryk geblameer [vir drome van n goue era of van volmaaktheid] – as n mens eeue lank sowel die lewende diversiteit van kulture as die ooglopende broosheid van die lewe ontken, moet jy eendag vir dié ydelheid betaal. Daar moet onmiddellik op gewys word dat Augustinus beskik het oor n religieuse agtergrond wat hom in staat gestel het om perspektief op die situasie te verkry. Oor watter agtergrond beskik ons laatkommers, wat nou sonder religie of oorkoepelende oortuiging is, om te probeer om ons skielike agteruitgang, die verval van ons meerderwaardige ryk tot algemene middelmatigheid, te verstaan? (29)

Augustinus is ook in n ander opsig n sleutelfiguur, naamlik om ons te help om te verstaan wat met die sakrale in die post-Christelike Westerse politiek gebeur:

[M]et veranderinge van religie of oortuiging wissel ook altyd die belang wat aan die politieke gemeenskap toegeken word. Vir die antieke Romeine was die liefde vir Rome soos n soort religie. Met die koms van die Christendom relativeer mense hulle verhouding met die openbare lot. Die ineenstorting van die paganisme dra by tot die desakralisering van die Romeinse kollektief – die Stad, die Ryk, die keiser. Dít is wat dit moontlik sal maak om Augustinus se houding jeens die val van Rome ten minste gedeeltelik te verklaar. Vandag lei die ineenstorting van die Christendom tot die sakralisering van die kollektief omdat die verdwyning van die hemelse geluk ons met slegs die aardse geluk laat. Die moderne ideologieë, wat flou afskaduwings van die uitgewiste religie is, word op hulle beurt uitgewis om byvoorbeeld in Frankryk plek te maak vir die huidige sakralisering van die Republiek. (34)

Met hierdie laaste stelling verwys Delsol na hoe haas alle partye dwarsoor die Franse politieke spektrum te midde van ongekende politieke verdeeldheid vandag almal daarop aanspraak maak dat hulle die Franse Republiek in beskerming neem.

 

1. Ryke en immigrante

Sy neem die vergelyking tussen die Romeinse en Westerse Ryke n stap verder deur te wys op n ooreenkoms tussen die einde van die twee ryke wat nie dikwels vermeld word nie, naamlik die toename in immigrante van buite die ryk, kultureel ánders as die kultuur van die ryk:

Dit mag vreemd of buitensporig lyk om die migrasiesituasie van die Romeinse Ryk ten tye van sy afgang met ons sn te vergelyk. Dit moet gesien word dat die barbare [soos die Romeine na nie-Romeine verwys het] van die laaste Romeinse eeue om ekonomiese en politieke redes dikwels nie slegs aanvaar was nie, maar ingenooi en selfs gesog was. En dit terwyl hulle terselfdertyd gevrees en soms gehaat was. In albei gevalle het ons te make met n ontmoeting, soms met n skok van baie verskillende kulture – te verskillend om te ontkom aan die gevoel van vreemdheid waar die gevaar op die loer lê. Om dít te verstaan moet natuurlik vooronderstel word dat mense n kulturele identiteit besit en dit opeis ...

Dit is weens kulturele faktore dat die samelewings van die Romeinse Ryk, asook ons Europese samelewings, te midde van hul einde voel asof hulle letterlik onder beleg is. Want dit is waar dat vanaf die punt waar n sekere persentasie (wat nie vasgestel kan word nie) van die bevolking ánder gebruike en sedes as die oorspronklike deel van die bevolking het, laasgenoemde soos vreemdelinge in hul eie land mag voel. Hier kom alle situasies voor, en wat veral bepalend is, is die aard en graad van die verskil tussen die oorspronklike kultuur en die gaskultuur. Ongeag wat die hoofstroommedia ons vertel van Frankryk wat al sedert [koning] Clovis I [466–511] n land van immigrasie sou wees, ontvang ons eers sedert die 19de eeu opeenvolgende golwe buitelanders. En heel natuurlik was dit heelwat makliker om Pole in die 19de eeu, en Italianers en Portugese in die 20ste eeu te ontvang as wat dit vandag die geval is met Moslems van verskillende nasionaliteite: eersgenoemde, van n Christelike kultuur, had sedes wat nader aan ons sn is [as dié van laasgenoemde]. (38–9)

Die liberale, postmoderne benadering tot immigrasie lê die klem op inklusiwiteit, maar Delsol is krities daarteenoor:

[V]anaf die tydstip wat die postmoderne oortuiging inklusiwiteit vereis, oftewel die reg vir elke groep van elders om sy oorspronklike kultuur as gelyk met ander kulture in die gemeenskaplike samelewing te verdedig, kan ons seker wees dat daar nie meer n “samelewing” is nie. Dis die aanspraak op inklusiwiteitwat in die Verenigde State die reaksie ontlok wat tot die verkiesing van Donald Trump lei. (40)

Laastens is daar nog n belangrike ooreenkoms tussen die Romeine en die Westerse Ryke, naamlik die feit dat mense juis gekies het om soontoe te migreer en nie na ander plekke nie (41). Die vraag is natuurlik waarom? Hierna word hier onder teruggekeer.

Delsol gaan vervolgens dieper in op die ooreenkoms tussen die Romeinse en Westerse Ryke met betrekking tot immigrasie. Sy wys eerstens op n Romeinse verandering in benadering tot bevolkingsgroepe van buite die Romeinse Ryk:

Gedurende die eerste eeue het Rome nuwe gebiede verower en die bevolkings wat hulle verower het, probeer integreer. Maar vanaf die derde eeu en die groot invalle van buite die Romeinse Ryk moet Rome die buitelanders wat hulle op sy grondgebied vestig, integreer. En dis n ander benadering. Die verowerde bevolkingsgroepe was voorheen op hul geboortegrond, dog onder die oorheersing van Rome ingeperk en verneder. Maar vanaf die derde eeu sou die bevolkingsgroepe wat in hulle massas oor die Romeinse provinsies verspreid was, rykdomme in besit neem wat hulle nie elders kon vind nie en voordeel trek uit situasies wat benydenswaardiger as dié van hul geboortelande was. Selfs al was hulle arm en nie eintlik aanvaar nie, het hulle hul steeds in n veroweraarsposisie bevind. (47)

Vir Delsol verteenwoordig die Edik van Caracalla (212) die draaipunt, en die begin van die einde van n oorkoepelende Romeinse identiteit:

In 212, deur die Edik van Caracalla, ontvang alle vry manne van die Ryk van meet af Romeinse burgerskap. Hiervandaan loop die aspirasie om Romeins te word, en die inspanning wat met hierdie aspirasie gepaardgaan, ten einde. n Mens word n Romein terwyl jy jouself bly, terwyl jy jou kultuur en jou identiteit behou. Hiermee verskyn n saamgestelde samelewing, wat n voorteken van die einde is: In die vyfde eeu sal koningshuise van die barbare in die Romeinse provinsies opgebou word. Die vestiging van vreemde bevolkingsgroepe in die Ryk, soms kragdadig en soms per uitnodiging, word so dwingend dat ... Rome sy stede moet begin fortifiseer nadat tientalle van hulle gevandaliseer word – ’n teken dat die beleg van binne kom. Vanaf hierdie tydstip kan nie meer van assimilasie gepraat word nie, en word vreemde enklawes van verskillende kulture geskep. (49)

Hiermee kan Delsol dan bostaande vraag van waarom juis na die Romeinse en Westerse ryke gemigreer is, beantwoord:

Die geval van die Romeinse Ryk wat burgerskap aan al die vry manne van die Ryk toeken, of van die moderne Weste wat oor die algemeen eerder teen diskriminasie veg pleks daarvan om dit te bevorder, is buitengewoon. Dit is waarom hierdie twee geskiedkundige gevalle soortgelyke kenmerkende situasies gaan meebring, naamlik dié van n kragtige en invloedryke, dog gasvrye ryk wat bewe voor die nagevolge van sy eie openheid.

Ook die Westerse kulturele ryk, wat nadat dit deur verowering die grootste gedeelte van die volke van die aarde onderwerp het, sien tans hoe voorheen verowerde bevolkingsgroepe hulle in sy gebiede vestig. Dit is nie krygersleërs nie maar kolonisasies van bevolking wat voordeel wil trek uit die rykdom en gemak van die ryk. Al beskik die Indiër wat vandag in Groot-Brittanje gevestig is, nie noodwendig oor meer materiële middele as sy oupagrootjie wat destyds in sy eie land aan Britse verowering onderworpe was nie, bevind hy hom nietemin in n positiewe situasie: Dit is hý wat “beset”. So is dit ook die geval met n Algeryn in Frankryk, en die voorbeelde is legio. Soos die Romeine in die era van Augustinus sien die Westerse lande talle voordele in die situasie, omdat ons lande hande kort en omdat heelwat van die essensiële beroepe nie bereidwilliges onder ons vind nie (wat sal ons hospitale sonder Afrika-immigrante wees?). En net soos in die vierde eeu is dit vandag eerder die elites wat immigrasie goedkeur en die mense wat dit verwerp. (49–50)

 

2. Van veroweringsryk na toevlugsryk

Delsol gaan vervolgens verder in op dié veranderende aard van die Romeinse Ryk, wat sy beskryf as die oorgang vanaf n veroweringsryk na n toevlugsryk:

Vir Rome in die eerste eeue of vir die Weste in die voorafgaande paar eeue, verower die Ryk eerstens buitegebiede en brei sy beheer tot na sy mees afgeleë dele uit; waarna hy, tweedens, in sy sentrum, in sy wieg, bevolkingsgroepe afkomstig uit die voorheen onderworpe verafgeleë gebiede versamel. Die veroweringsryk word die toevlugsryk. n Mens kan hierdie proses nie beskryf sonder om te verwys na die beweging van begeerte nie. Wanneer hy verower, gebruik die ryk sy krag brutaal, hy dwing sy wil af op die groepe wat hy onderwerp, en hy kan selfs so ver gaan as om hulle uit te wis, waarvan ons ook uit die onlangse eeue voorbeelde het. Wanneer hy egter n toevlug word, val die ryk daarteenoor begeerte ten prooi. Dieselfde bevolkingsgroepe wat hy voorheen gekoloniseer het, wat hulle eie gebiede agtergelaat het, dring hom binne en dreig vanweë hul massa om sy balans te versteur. n Mens kan sê dat die veroweringsryk in die eerste plek brute krag gebruik – en vervolgens is die toevlugsryk met soft power (sic - JR) bewapen. Volgens Joseph Nye se klassieke omskrywing is soft power die aantrekkingskrag, oftewel verleiding wat sonder die gebruik van mag op andere uitgeoefen word. Om dit te verstaan kan ons verwys na die beeld van “om met hul voete te stem”. Die mense wat hul lot wil verbeter deur te emigreer, gaan vestig hulle nie in Panama, die Kongo of Indië nie. Hulle gaan na die Verenigde State, Duitsland, Italië, Kanada, Groot-Brittanje of Frankryk. Kortom, hulle sal na die Weste gaan omdat die Westerse leefwyse aantreklik is. Laat ons ons nie misgis nie. Alle menslike kulture is elk op hul eie wyse beskaafd, en almal is ewe waardig om geliefd te wees. Nietemin word sommiges objektief as leefbaarder beskou, en dis slegs daarin dat die verleiding van soft power bestaan. (51–2)

Delsol lig die spesifieke aantrekkingskrag van die Weste vir nie-Westerse migrante verder toe:

Hulle streef na n beter lewe. Die soft power van die Weste is n beskawingsverleiding: Die enigste kriterium is die stem met die voete – ’n mens gaan altyd na die mees beskaafde, wat so lyk of wat n mens dink so is. Waarom? Omdat mense – en dis heel natuurlik – gebiede verkies wat bevry is van oorloë en swerwende rowers, waar gemak en kultuur asook netheid en hoflikheid heers; kortom, hulle verkies meer beskawing bo meer onbeskaafdheid. Dit is waarom daar vandag vir die hele wêreld n Amerikaanse droom is, en ook n Europese droom vir die bevolkings van Afrika, Noord-Afrika en die Midde-Ooste. Ons kan verklaar dat alle kulture ewe veel waarde dra, wat uit die streng gesigspunt van waardigheid waar is. Maar dat sekere kulture benydenswaardiger as ander is, is iets waarvan migrante getuig deur met hulle voete te stem. (52–3) 

Delsol gee verdere toeligting oor die verandering van n veroweringsryk na n toevlugsryk:

Vandag, noudat die era van verowerings en kolonisasies verby is, kom nie-Westerse kulture slegs deur betowering in die mag van die Weste, deur n toekomsverwagting wat hulle laat glo dat hulle, soos ons, tydlose beperkinge kan ontkom. Die Weste het sy beginsels en sy maniere van doen eers deur verowering neergelê, oftewel deur mag, soos toe dit nog onlangs ganse samelewings gedwing het om ingeënt te word, om bevry te word, om geboortes eerstens deur middel van gedwonge sterilisasie te reguleer en later deur gesinsbeplanning. So voordelig as wat sy ontdekkings is, was sy geloofwaardigheid soveel dat dit ook daarin geslaag het om sy nagmerries te versprei: Tydens die 20ste eeu tot 1990 leef bykans n derde van die mensdom onder kommunistiese regimes wat deur die Weste uitgevind is.

Die geskiedkundige geval van dié twee ryke, wat eers veroweringsryke en dan toevlugsryke is, is uitsonderlik. Die meeste ryke volstaan met verowering, soms deur te weier om hulself n ryk te noem. Die voorwaardes vir die verskyning van n toevlugsryk dui op n aantrekkingskrag wat saamhang met die verleidelikheid van n beskawingsmodel.

Terwyl die Chinese leiers die afgelope twintig jaar van n “Chinese droom” praat, verstaan hulle daarmee die hoop van n volk wat al hoe magtiger word, die hoop van n ryk van verowering en nie n toevlugsryk nie – ons sien ronduit nie dat die Chinese model aantreklik is nie. Onder soft power verstaan hulle die vermoë om sonder wapens te verower deur nieregstreeks middele soos finansiële hulp (die syroetes) of n wurggreep op inligting, wat iets heeltemal anders as kulturele aantreklikheid is. (56–7)

 

3. Wat van kultuurverskille en integrasie?

Die ooglopende vraag, en trouens een van die kernvrae waarom die Franse en Westerse debatte oor immigrasie vandag wentel, is die kwessie van kultuurverskille. Dit is binne die kader van haar begrip van die toevlugsryk dat Delsol die kwessie aan die orde stel: 

Dit sal ... naïef wees om te glo dat die ontmoeting tussen die twee dele van die bevolking [in die toevlugsryk] van sulke uiteenlopende afkomste maklik sal wees. Hier kom ons te staan voor die welbekende probleem van hoe om sosiale en kulturele groepe wat nie slegs baie verskillend is nie, maar bowenal baie ongelyk wat betref grade van beskawing, heg met mekaar te laat saamleef. Ons kan dit vergelyk met daardie groot ou huise waar meesters en huishulpe deurlopend met mekaar skouers skuur te midde van n spektrum van minder of meer verdoeselde sentimente wat nie altyd baie glorieryk is nie – enersyds minagting, ydelheid en arrogansie, met soms erbarming; andersyds afguns en wrewel (ressentiment), met soms haat.

Tussen die inheemse bevolking en die bevolkingsgroepe aangelok deur die verleidelikheid van die toevlugsryk blyk verhoudinge uiters ingewikkeld te wees, verweef met teenstrydige sentimente wat dikwels skandalig is – met dubbelsinnige verhoudinge wat daaruit voortvloei. (59)

Die kwessie van kultuurverskille stel natuurlik die vraag na assimilasie en integrasie van die migrante by die toevlugsryk aan die orde – van toeka tot nou: 

Die pynlike vraag na integrasie en assimilasie word in Rome gestel vóór dit vandag by ons gestel word. Dit is eie aan n ryk om kultureel diverse bevolkingsgroepe te verenig, omdat dit sy roeping is om andere te verower – eerstens deur wapens en later uiteindelik deur fassinasie. Of dit nou n veroweringsryk of n toevlugsryk is, lyk dit altyd na n mosaïek van diversiteite. Laasgenoemde integreer egter slegs wanneer daar iets is om by te integreer: wanneer die ryk n impetus (élan), n einddoel, n bestaansrede bied. (60–1)

Dog presies so n dryfkrag vir integrasie ontbreek vandag in die Weste:

Wat die Europese lande in die algemeen en Frankryk in die besonder vandag ontbreek, is n vlag met eietrots wat die diverse kulture wat deur die toevlugsryk verwelkom word nadat hulle voorheen verower is, kan federeer – met name die bevolkingsgroepe afkomstig uit Noord-Afrika. Die melting pot (sic – JR) funksioneer slegs onder een betekenis gemeenskaplik aan almal – so nie, is dit eerder n chaos van teenoorstaande wille. Die fout van ons elites is om te glo dat diversiteit in sigself voldoende is om n gemeenskaplike lewe te bemoontlik – wat hierbenewens nodig is, is dat die toevlugsamelewing bewus is van dit wat dit kan bydra pleks daarvan dat dit verval in uitgebreide selfkastyding omdat dit eers veroweraar was voordat dit toevlug geword het. (61–2)

Delsol is nog meer spesifiek oor waar presies die spanningspunt met betrekking tot kultuurverskille lê. Soos die Romeine blykbaar geoordeel het dat die Gote makliker as die Hunne in die Romeinse Ryk geïntegreer het (63), voer sy dieselfde aan met betrekking tot Chinese en Moslem-immigrante in die eietydse Weste:

Die Chinese pas by die Westerse samelewings aan sonder dat hulle die aandag ooit op hulle vestig, in so n mate dat dit alle antidiskriminasiebeleide misplaas laat lyk. Hulle vaar so goed met hul studies in hul gasheerlande dat dit eerder teen húlle is dat kwotas ingestel moet word ... Dit is bowendien betekenisvol dat daar nooit in gesprekke oor gelykheid na hulle verwys word nie. Hulle organiseer hulself as gemeenskappe in hul gasheerlande om hul kultuur en onderwys te handhaaf, maar woon soos Westerlinge in die toevlugsryk. Dit mag wees danksy die nieproselitiese, pragmatiese aard van hul kultuur – hulle arriveer nie met groot beginsels wat verdedig moet word nie en hul spiritualiteite is verbind met hul families; andersins stel hulle belang in sake, en sakebelange maak dit altyd moontlik om te onderhandel. n Mens onderhandel egter nie oor jou geloofsoortuigings nie en die Arabiese Moslems arriveer met sterk oortuigings wat bowendien proselities is. Laasgenoemde kom dus in botsing met die gasheerkultuur wat ander oortuigings het – die bevryding van die Verligting, wat vandag tot soms debatteerbare uiterstes gevoer word. (64)

 

4. Moslem-immigrante

Kort hierna gee sy verdere toeligting oor die spanning met Moslem-immigrante weens die rol wat die Moslembroederskap vandag in dié geledere speel – en wat ook na haar mening n ooreenkoms met die Romeinse Ryk vertoon: 

Dit gaan oor n Moslem-fundamentalisme gewyd aan plaaslike aksie met die oog daarop om uit te kom by n wêreldwye kalifaat deur te werk om samelewings pasbaar met die sjaria te maak. Op pragmatiese wyse en deur te steun op die Moslems wat in die Weste gevestig is, islamiseer die broederisme (frérisme) voeding, kleding en kennis. Dit gaan inderdaad om n ideologiese verowering, wat al hoe groter gebiede oorheers en Moslembevolkings affekteer wat reeds goed gevestig is en in die vorige generasie daarna gestreef het om by die gasheerkultuur te integreer. Hierdie fundamentalistiese oorenting speel, namate dit daarin slaag om uit te brei, dieselfde rol as die barbarekoninkryke in die laat Romeinse Ryk deur dit van binne te ondermyn. Anders as wat sommige mense glo, is dit nie regtig ondermyning deur migrasie wat die Ou Vasteland [Europa – JR] bedreig nie, maar eerder die leiding wat geneem word onder diegene wat reeds in die Ryk geïntegreer is. (69)

Met verwysing na die beroemde Franse geskiedkundige van die Oudheid Paul Veyne beskryf Delsol die houding van die minderheid onder Moslem-immigrante wat nie by die Weste wil integreer nie:

n Disharmonie, n interne breuk word gevestig by die immigrante wie se gees met moeite verdeel word tussen twee uiteenlopende kulture, die benydenswaardigste synde nie die mees geliefde nie – ’n aaklige paradoks. Paul Veyne roep hierdie ... verskeurdheid op met n sin wat die destydse [Romeinse] barbare beskryf en ewe geldig vir vandag se migrante is: “Dié Barbare, wat afgunstig is op, bewonderaars is van, asook nabootsers van en gierig vir die Romeinse beskawing is, wou hulself bly én terselfdertyd n deel daaraan hê.” Dít kan ons vandag soos volg vertaal: n Minderheid onder hulle haat ons tot op die punt waar hulle ons wil vernietig, maar hulle trek almal met vreugde voordeel uit ons hospitale. (70)

Delsol wys in dié opsig op iets soortgelyks in die laat Romeinse Ryk van Augustinus se tyd:

Afgesien van die vreedsame welwillendheid van Augustinus wat die saak uit die oogpunt van die elite beskou, moet die teenoorstaande neiging ook oorweeg word, naamlik woede wat meer van die Romeinse volk gekom het, en wat ergerlik en woedend was oor die buitensporige eise van die barbare en toegewings wat aan hulle gemaak is. In 382, toe die Gote, wat as plunderende massa die Ryk binnegedring het, met [keiser] Theodosius n fœdus onderteken het wat hulle toegelaat het om subsidies en grond te ontvang, het die murmurering toegeneem onder die Romeine van die Ooste omdat hul belasting gebruik sou word om die barbare te finansier. n Mens kan inderdaad praat van die koop van kalmte, wat so ver as afpersing gegaan het toe die Romeine later gedwing was om tribute te betaal aan die Hunne wat plekke verwoes en al hoe meer eise gestel het. Die bevolking het hierdie verwoestings en afpersings moeilik verduur. (72)

Voorts wys Delsol op die boeiende ooreenkoms tussen destydse Romeinse en eietydse Westerse verdeelheid oor hierdie laat immigrante:

Hierdie situasie, wat in alle opsigte ingewikkeld is, verklaar waarom samelewings grondig verdeeld is oor watter standpunt ingeneem moet word en waarom daar soms dramatiese twiste hieroor uitbreek. Selfs al het hulle nie gewoon in demokratiese samelewings wat gewoond was aan openbare debatte nie, het die mense van die Oudheid oor dié onderwerp lewendige woordewisselings ervaar. En soos dit ook vandag die geval is, was dit destyds mees dikwels – dog nie altyd nie – die elites wat immigrasie verdedig het en die mense wat dit verwerp het, en dít omdat die elites in bevelsposte teorieë ontwikkel het, terwyl die mense die probleem op voetsoolvlak ervaar het. Dog op n meer algemene wyse is n proses waargeneem wat ons ook vandag aan die werk sien: Buitelanders word weens ekonomiese belang opgeroep, maar dan word hulle teenwoordigheid bekla. In al die gevalle is dit n hutspot van haat en vrygewigheid, van pragmatisme en drome, van gelatenheid en opstand. Die hele landskap van n onoplosbare vraagstuk. (72–3) 

Soos die spanning tussen die gasheerkultuur en die gaskultuur uit die oogpunt van eersgenoemde verstaan kan word, so kan dit natuurlik ook uit die oogpunt van laasgenoemde verstaan word. In aansluiting by haar vergelyking tussen Rome en die Weste doen sy dit soos volg:

[D]ie bewuste meerderwaardigheid van die Romeinse kultuur het die barbare aangemoedig om te integreer, en tog het talle van hul gemeenskappe nie na integrasie gestreef nie. Die Romeinse Ryk het oplaas geëindig daarby om sigself in ’n veelheid op te los. Ongetwyfeld wás die verskillende volkere ook te veel en het hulle in die laaste eeue te vinnig gearriveer om in die Romeinse samelewing in te smelt. Die gasheerkultuur sluk die nuwe aankomelinge in, maar hy slaag selde daarin om hulle te verteer. Hulle verset hulle daarteen, en n mens kan dit verstaan. In die meeste gevalle verkies hulle om hul sekulêre kultuur te behou terwyl hulle terselfdertyd voorheen “Romeine” en vandag “Westerlinge” word. Anders gestel, hulle kom nie om weg te raak nie, maar om [kultureel] verdubbeld te word, wat op sy beurt mooi menslike karakters kan voortbring wanneer die oorenting slaag. Dit gebeur ook te dikwels dat die gasgemeenskappe skat dat hul kulture te min in ag geneem word en nie aanvaar om hele dele daarvan te moet prysgee om die kultuur van die toevlugsamelewing aan te neem nie. Dit gebeur dat hulle uit hul getalle en hul kragte voordeel wil trek om hulle te vestig as parasiete in die toevlugsamelewings en hul eie forte daarbinne wil bou. Maar hulle is veral gereeld die slagoffers van teenstrydige frustrasies: Diegene wat so graag wil integreer maar nie heeltemal daarin slaag nie, is in die versoeking om hierdie gasheerkultuur wat hulle terselfdertyd weerstaan en tart, te vernietig. (76)

Voorts is daar ook nog ander spesifieke vorme van spanning tussen Islam en die moderne woke Weste:

n Antieke, eerbiedwaardige kultuur soos die Islam kan aanpas by vorme van gewetensvryheid en die emansipasie van vroue. Maar wanneer dit waarneem dat die emansipasie geskied deur ideologiese en soms ronduit waansinnige ideologiese maatskaplike hervormings, sal dit sigself verdedig deur sy eie buitensporighede af te dwing. Ons het gesien hoe die Moslemkultuur binne die bestek van n halfeeu oorgaan van n rustige ontvangs van die Westerse kultuur na die somtyds radikale weiering daarvan: Dit is ook omdat indien ons die Moslems kan oorreed om hulle dogters skool toe te stuur, ons daarteenoor van hulle vyande gaan maak as ons hulle wil oortuig dat God beledig moet word, of dat seuns in meisies verander. Weens n gebrek aan gesonde verstand en n morele sin is ons die argitekte van ons eie ongeluk. (77)

Anders as wat linkse ontledings dit wil hê, kom Delsol tot die slotsom dat die spanning tussen die eietydse toevlugsryk en sy immigrante nie op ras berus nie:

[D]ie vraag na die te dikwels omstrede verhoudinge tussen die inwoners van die toevlugsryk en die gasmigrante is nie van n rasseaard nie (is gelukkig nie langer van n rasseaard nie), maar van ’n kulturele aard. Die vrees vir ostrasering, wat die gaste voel, teenoor die kulturele onsekerheid, wat die inheemse bevolking voel, is n reaksie op die uiteenlopendheid, selfs breuke van beskawing. (78)

Laastens is daar nog n ander ooreenkoms tussen Rome en die Weste vandag, waarin regeringslui van n immigrante-agtergrond n interessante houding inneem:

Die barbare wat na die Romeinse Ryk gestroom het, het aanvanklik voordeel getrek uit die Romeinse orde, gemak en paideia [opvoeding – JR], maar hulle kon nie daarin slaag om dit te handhaaf nie, en hul getalryke teenwoordigheid het die ryk uiteindelik in chaos gedompel. Terwyl massas gesinne wat nie daaraan gewoond is om hulle kinders vir vryheid op te voed nie, hulle vandag in Westerse lande vestig, bevind ons ons voor n misdaadgolf weens kulturele breuke, en die ou liberale orde is daardeur geskud. Dit is juis waarom dit gebruiklik is dat regeringslui van immigrante-afkoms die eerstes is wat immigrasie wil beperk, wat so te sê die deur agter hulle wil toemaak: Hulle weet dat wanneer dit op groot skaal versprei word, hul eie kultuur van herkoms die begeerlike, voordelige kultuur van die toevlugsryk verweer. (78)

 

5. Augustinus se durende relevansie

Dit is op hierdie punt van haar breë argument dat Delsol begin om Augustinus en sy durende relevansie aan die orde te stel. Met verwysing na sy Belydenisse (397–400) skryf sy:

As poëtiese skrywer van selfontleding wat hom daarop instel om persoonlike foute aan die lig te bring, word hy terselfdertyd die politieke skrywer wat daarop mik om sy vinger op die sondes van die Romeinse Ryk te lê. Om skuldig te voel, sê die geskiedkundige Stéphane Ratti, is nie n emosie wat die heidense letterkunde ken nie. Die Christelike sonde, wat verbind is met die selfstandige, verantwoordelike persoon, is iets anders as die fout van die antieke tragedie wat met die noodlot verband hou. Vanaf Augustinus gaan mense om hul tyd te verstaan delf in die geskiedenis van die sondes van die volkere – dit is die begin van om skuld uit te wys, waaraan ons vandag so gewoond is. (88)

Dog tussen die tyd van Augustinus en die tyd van die moderne Weste het iets skeefgeloop, wat veroorsaak dat die moderne Weste, anders as Augustinus, n hipermoralistiese blik op die aardse ontwikkel:

Augustinus, wat in die geopenbaarde Waarheid geglo het en ferm geglo het aan die ontluiking van die Stad van God in die menslike geskiedenis, het hom nietemin daarvan weerhou om die stad van die mens te verban na die diaboliese duisternis. Inteendeel, hy het dit gekoester vir die ongekunstelde deugde en die menslikheid wat dit vertoon het. Maar ons, ons wat oortuig daarvan is dat ons die postmoderne, antikoloniale, antiimperiale Waarheid in pag het, is nie in staat om met die nederigheid van n geskiedkundige ingesteldheid te kyk nie. (95) 

Delsol boor verder op dié post-Christelike hipermoralisme van die eietydse Weste in:

Ons is vandag die erfgename van n godsdiens wat deur skuld gevorm is en ons selfverwyt voor die tafereel van ons imperiale barbaarshede is sonder dat ons dit besef van n Christelike oorsprong. Nietemin, sonder transendensie, en dus sonder die genade wat veronderstel is om altyd daar te wees om die sondaar op te tel en weer hoop te gee – ’n almagtige selfverwyt, dus, wat die ganse ruimte vul en die weg open vir wanhoop en straf sonder vergifnis of pleitbesorger. Ons houding staan in die verlenging van dié van Augustinus, maar dit word deur die einde van geloof geradikaliseer: Nadat al die dinge waarop ons hoop eens gevestig was, hul misdadigheid getoon het, bly daar nie meer n uitkoms om n nuwe weg te open nie. Al wat oorbly, is om self van skaamte te sterf deur plek te maak vir diegene wat deur ons verower is. Daar is nóg verjaring nóg vergifnis van skuld vir die eietydse Weste: Sy foute is as brandmerk aangebring op sy ganse verlede en sy ganse toekoms. (96)

 

6. Apokalips

Nog n belangrike tema wat Augustinus en die moderne Weste met mekaar deel, is dié van die apokalips. Dog ook met betrekking tot dié tema is daar beduidende verskille tussen toe en nou:

In kulture wat bestemd is tot n sikliese tydsbeskouing, open die einde van die wêreld – byvoorbeeld die Ragnarök van die Skandinawiërs – op n hergeboorte. In die Christelike kultuur dui die Apokalips op die openbaring van n ander wêreld. Die einde is altyd die verwagting van n ander avontuur. Maar die eietydse apokalips is sonder hergeboorte of openbaring. Dit vertel van die komende dood van n ryk, naamlik die Westerse kulturele ryk wat, omdat dit die wêreld op sy eie gevul het, niks agter dit kan laat nie. In dié opsig stem dit ooreen met die vrees van die heidense Romeine voor die idee van die einde van Rome, wat veronderstel was om ewig te wees en die wêreld te omvat: n vrees voor die verdwyning van alles. Dit is dat ons nie meer n verhaal oor ons gemeenskaplike lot het nie; ons het nie meer n eskatologie nie. Die geskiedenis lê nou tussen die hande van die toeval en van die organiese wette. Maar ons weet dít: Dit wat gelyk het asof dit vir altyd moes duur, word onderbreek en verdwyn spoorloos. Dit neem n baie lang tyd om n mens, n kultuur, n samelewing voort te bring – en dit alles word so gou vernietig, en laat niks nie of so min agter. Agter die einde van die eietydse wêreld is daar niks nie; dis die einde van die einde en nie eens die herinnering aan die verlies sal bly nie – want waar sal dit wees? Ons sien nie meer daardie engel wat verskyn “met die sleutel van die afgrond in sy hand” (Opb 20:1) nie. Dit is die absolute afgrond. (124–5)

Afgesien hiervan is dit ook so dat die Weste vandag deurdrenk van die gevoel van die apokalips is:

Omdat die apokalips sedert ná die Tweede Wêreldoorlog beskryf word aan die hand van verskillende katastrofes (die atoombom, die aarde wat te vol is, die aarde wat te leeg is, aardverwarming), moet ons verstaan dat dit meer in ons koppe as in die werklikheid voorkom. Ons bevind ons van aangesig tot aangesig met n gevoel van die einde van die wêreld eerder as die realistiese voorsienbaarheid van n finale gebeurtenis. Dit is heeltemal seker dat die Westerse kulturele ryk volledig aan die verbrokkel is, maar dit sou heel provinsialisties wees om te dink dat die Weste gelykstaan aan die wêreld ... Miskien is dít juis waar die gevoel van apokalips vandaan kom. Ons ly moontlik aan die sindroom van die ou man wat dink die wêreld is in lyding weens die veralgemening van sy eie geval. Bowendien word ons gevoel van die einde van die wêreld nie gedeel deur die lande van die sogenaamde Globale Suide nie. (126) 

Nog n opsig waarin die post-Christelike Weste in teenstelling met sy metafisiese voorgangers lamgelê word, is dié van verantwoordelikheid:

Die wanhoop wat die eietydse Weste beetpak, word vererger deur sy teenswoordige totale verantwoordelikheid in n wêreld sonder gode of God. By die Oudheid het die apokalipse van die tydsiklusse nie werklik te make gehad met menslike foute nie. Die skemering en dood van die gode wat die orde van die wêreld onderhou het, is aangedui deur voortekens van wanorde: klimaatsgebeure asook die val van tradisionele waardes. Die Kali-joega word byvoorbeeld aangekondig deur n vernietigende egalitarisme van die Indiese kultuur. Wat die Christelike apokalips betref, is dit veronderstel om deur katastrofes aangekondig te word, maar dit word nie regstreeks deur ons sondes ontketen nie. As dit daarop aankom, kon mense katastrofes voorheen verstaan as goddelike strawwe vir hul foute. Maar vandag is dit menslike foute wat die katastrofes regstreeks veroorsaak – ’n mens sonder god is vir alles verantwoordelik. Ons Prometheïsme sal die einde van die wêreld meebring. Ons morele verantwoordelikheid – of dit nou gaan om die bom of die klimaat – is volkome en vererger ons wanhoop nog meer. (128)

Hier verwys sy na Emmanuel Mourier se insig in waarom die post-Christelike Weste apokalipties word:

Emmanuel Mounier skryf in La Petite Peur du XXe siécle (Die klein vrees van die 20ste eeu”) dat die ineenstorting van die twee Westerse religieë, naamlik die Christendom en die rasionalisme, lei tot die ineenstorting van waardeskepping self. As n ganse samelewing die vermoë verloor om waarde toe te ken, om betekenis te gee, word dit apokalipties. (129)

Op die koop toe word die metafisiese krisis van die eietydse post-Christelike Weste vererger deur die magsverlies van die Weste:

Dis asof ons nou ná die misdade van die Tweede Wêreldoorlog in staat is om afstand met betrekking tot onsself te neem – die dekolonialiseringsbeweging vra vir n desentrering. Ons hou op om te voel asof ons die sentrum van die wêreld is, en terselfdertyd kyk ons met n objektiewe oog, met die oog van n regter, na ons optrede in die verlede. Die gevolg is verskriklik. Die kulturele wêreldryk waarvan ons nie eens die werklikheid gevoel het nie omdat ons invloed in sy universele aantreklikheid so natuurlik gevoel het, laat eensklaps ál sy booshede verskyn. Skaamte en skuld volg daarop. Die ryk stort in duie onder sy eie skande. Sy aanstigters self, wat deur die fout verteer word, verheug hulle daaroor. (149)

Die uiteindelike lot van die Weste blyk nou selfontkenning te wees: Die Romeine het deur swakheid geval en ons Europeërs deur skaamte. Wie die gevoel het dat hy te veel geleef het, verloor die begeerte om nog te leef. Die afstanddoening van mag neem dus in die Weste die vorm aan van die afstanddoening van sigself, selfs van om verheug te wees oor die val soos deur selfbestraffing. Dit is nie slegs gelukkig dat die kulturele wêreldryk agtergelaat word nie, maar hy moet vir sy foute betaal deur self die slaaf van diegene wat hy voorheen onderwerp het te word. Ná sewentien eeue van die Christendom is ons nou gewoond daaraan om by die ingang van die bieghokkie op die bors te slaan. Die veelseggendste uitdrukking van ons selfontkenning is die weiering om die veroweringswil van die eietydse Islamisme te verreken. Diegene wat die Westerse kultuur wil verdedig in die aangesig van die aanhangers van n toekomstige Europese kalifaat, word vir Islamofobe uitgekryt. n Groot deel van ons bevolkings (in Frankryk en in Wes-Europa in die algemeen) verklaar dat hulle nie gesteurd is oor n uiteindelike magsoorname deur die Islam in ons samelewings nie – of bevestig eerder dat hulle dit nie glo nie, en diegene wat dit wel glo as rassiste beskou. (151)

Delsol lig die uniekheid uit van wat sy as die ineenstorting van die Westerse Ryk beskou:

Dit is ongetwyfeld die eerste maal in die geskiedenis dat n ryk weens n slegte gewete in duie stort. Die Romeinse Ryk het weens swakheid in duie gestort nadat dit nie meer in staat was om sigself te verdedig nie, terwyl ons in duie stort weens die weiering om ons mag te gebruik. (152)

 

7. Nihilisme nie die einde nie

Vir Delsol kan alles vir die Weste egter nie bloot by die nihilisme eindig nie. Sy begin dus deur n ander blik te bied op wat vele vandag as die einde van die Weste beskou: 

As dit by die Weste kom, moet ons dalk eerder praat van volwassenheid as van afgang. Ons situasie is soos dié van n gesin wat n kind verloor het (ek neem die voorbeeld van dit wat ek op hierdie aarde as die grootste ongeluk beskou): Die gesin weet hulle kan nooit weer gelukkig wees nie. Nietemin verstaan hulle algaande dat hulle in staat sal wees om n ander soort geluk te verwerf, naamlik dié van iemand wat sy onskuld verloor het. Want die onskuld is die enigste goeie ding wat nie twee maal gegee word nie. Die geluk van die onskuld, dié van die jeug wat nog nie deur die houe van die lewe getref is nie, geniet sy onkunde vreugdevol en wys sy beginnersmag wat aanspraak maak op die ewigheid, af. Maar die geluk van die beseerde ken die oorvloed en die diepte en die skoonheid van die menslike tragedie – en die menslike wese is daarvan gelukkig want hy aanvaar homself in sy onvolmaakthede en in sy dapper eposse op die rand van die afgrond van die ongeluk. Die Westerse kamp (ek sê “kamp” nie in die sin van n party tot n stryd nie, maar in die sin van n kamp waar jy jou tent opslaan) het nou daartoe gekom om sy geluk van onskuld te verloor deur sy voormalige hoogmoed te verstaan – soos ook die boosheid wat hy met sy mag as begaafde, onbewuste tiener gepleeg het toe die verowering van die aarde die Groot Spel genoem is. Deur die wanhoop van sy skuldgevoelens is hy geneig om homself by die bieghokkie in te werp en, wanneer hy daaruit kom, te hardloop om selfmoord te gaan pleeg. Hy sal beter vaar as hy die geluk van die gewonde sy eie maak, in staat om sigself te bevraagteken, dit wat gebreek is te herstel en die goeie dinge van die geskiedenis in die oë te kyk. Ons era vra om vorme van wysheid. (163)

Wat Delsol betref, bied Augustinus en sy benadering tot sý era vandag vir die Weste n voorbeeld van die gepaste vorm van wysheid:

Augustinus het nie daarna gestreef om aan hierdie wêreld “te glo” nie: Hy het die onvolmaaktheid daarvan geken omdat hy dit aanvaar het om dit in die gesig te staar, die korrupsie daarvan te oordeel en die skandes daarvan te verreken. Hy het byvoorbeeld nie geglo nie, maar geweet, dat wanneer daar van vrede gepraat word, dat “om vir so n grootse goeie in die tyd en op die aarde te wag, gek is”. Hierdie aanvaarding van die werklikheid van die wêreld, verwortel in nederigheid, is juis dit wat ons vandag van hom kan leer.

Augustinus se wêreld (monde) was gewis vuil (immonde), maar nie vervloek nie, omdat hy op die verlossing daarvan gewag het. Gewis n “ellendige lewe”, maar nie n vervloekte lewe nie. Teen watter prys kan die eietydse wêreld wat sigself as vervloek sien – dit wil sê vir altyd verdoem – sy verlossing bekom, oftewel ophou om letterlik vervloek te wees? Hoe sal hy, om dit so te stel, sy genade kry, soos wat ons praat van die begenadiging van n veroordeelde? Teen die prys daarvan om nederigheid aan te leer. Ons tydgenote is gekroonde gode met die dringende taak om af te daal vanaf die berg Olimpus en teenoor hulself te erken dat die kroon slegs die vermomming van n karnaval was, n persoonlike truuk wat oplaas dodelik genoeg was dat nostalgie nie daaraan mag kleef nie. (178) 

Dit bring Delsol by die vraag wat ná die einde van die Westerse Ryk kom. Van watter moontlike soort vernuwing kan gepraat word?

Die gebeurtenis van Christus se Opstanding slaan n bres in die geskiedkundige tyd waardeur die ewigheid betree kan word, soos in daardie utopieë waarin n heel werklike portaal uitloop op n buitengewone parallelle wêreld. In dié sin is dit dié gebeurtenis by uitstek, waardeur die radikaal Nuwe aanbreek. Die apostel Paulus praat van die nuwe mens en “om jou met die nuwe mens te beklee”, oftewel om n ou kleed agter te laat en n nuwe een aan te trek. Die Christendom word gevestig in n breuksituasie en dit is juis wat Augustinus se werk aandui: Hoe gaan ons in hierdie heeltemal ander tye leef?

Die eietydse era is deurdrenk van die idee om alles oor te begin. Die kommunistiese ideologie, wat die Westerse denke n eeu lank gestempel en talle ander kulture beïnvloed het, word ingestel met n skoon lei en proklameer die spoedige koms van die nuwe mens. Vandag, ontslae van die kommunisme, jaag ons die droom van die skoon lei meer as ooit na, van die begin vanaf nul: Stunde Null, die uur nul, het die Duitsers in 1945 gesê. Soos eens met die kommunisme, gaan dit oor die uitwissing van die aaklige verlede, om die geskiedenis op n heeltemal nuwe basis te herskryf. Onder die kommunisme was dit ter wille van die uitvinding van die beter dae wat sou kom, sonder elites of klasse. Onder die moderne demokrasie wat volg op die ruïnes van die totalitarisme, gaan dit om die uitvinding van n samelewing van oorvloed en universele vrede. Sedert die Tweede Wêreldoorlog spook die idee om die geskiedenis nuut te begin, om n nuwe bladsy om te slaan, in die Westerse bewussyn. “Nooit weer nie,” is die leitmotief van ons era.

Dit is heel moontlik dat hierdie heel Westerse wil om n nuwe, vars dagbreek te laat begin, sy inspirasie vind in die breuk wat met die Opstanding plaasvind. Die nuwe mens van die kommunisme erf die een van die Franse en Amerikaanse revolusies, “We have it in our power to begin the world over again” (Thomas Paine, 1776), wat sý nuwe mens op sy beurt van Paulus erf. Die meeste van ons denkwyses is in n lang tydsin ingeskryf en ons merk op dat die idee van n skoon lei nie by ander kulture voorkom nie, tensy dit onder die invloed van die Weste is – die Chinese Kulturele Revolusie, die jaar nul van Pol Pot. Al Augustinus se werk mik daarop om nuwe denke te ontwikkel vanuit die formidabele gebeurtenis wat die wêreld letterlik verander. En óns leef sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog met die vurige wil dat niks meer soos tevore sal wees nie. 

Tog is die verskil tussen dié twee breuksituasie groot. Om die waarheid te sê, daar is twee groot verskille, met die een wat die ander voortbring. 

Eerstens is daar in die Christendom daardie formidabele breuk verteenwoordig deur die opening in die tyd van n bres na die ewigheid, en die oproep om die koms van die nuwe mens kom geensins neer op n skoon lei nie. In geen opsig gaan dit daaroor om die ganse verlede ongedaan te maak ten einde nuut te begin op heeltemal nuwe weë nie. Dit gaan wel oor die hervatting van die oue om dit te verhef, te veredel, te heilig. Nie om dit bo die aarde op te lig en dit na ander wêrelde te voer nie, maar om die mens te laat sien dat die aardse bestaan van élders af gesien kan word, en sodoende n heel ander omvang en n heel ander geur kan verwerf. Wanneer die modernes hulle op die nuwe mens beroep, sien hulle n mens wat heeltemal ontslae is van sy slegte neigings en letterlik “hermaak” is. (181–3) 

Delsol kom tot die gevolgtrekking dat hierdie post-Christelike Westerse benadering tot die mens en die geskiedenis daartoe lei dat die Weste en Europa nie daarin slaag om ingewikkelde geskiedkundige vraagstukke óf n realistiese toekoms te bedink nie:

[D]ie nuwe Christelike wêreld van Augustinus leef gedompel in die ou wêreld, die wêreld van nog altyd, wat dit transfigureer. Daarteenoor is die nuwe wêreld van die modernes om hoegenaamd te kan bestaan gedwing om die verlede te ontken, en dit is inderdaad wat ons heeltyd doen: om alles wat ons was, in die asblik van die geskiedenis te smyt. Dit is sodoende dat ons n gekke verhouding met die tyd ontwikkel. Want daar is nie so iets soos die asblik van die geskiedenis nie, in die sin dat die menslike geskiedenis nie soos n brief is wat n mens skryf en weer kan opskeur om van vooraf te begin nie. Die verlede volg en agtervolg ons ...

Besig daarmee om die verlede uit te wis, weet ons nie meer hoe om die toekoms te skryf nie. Wat ons ontbreek, is net die grond waarop ons moet loop om vorentoe te gaan. Mandelstam het gesê: “Die toekoms is n groot gat lug.”

Omdat ons daarop aanspraak maak om n heeltemal nuwe toekoms te skryf, is dit vir ons moeilik om ingewikkelde vraagstukke te begryp, vasgepen in hierdie eindige wêreld. (183–4)

 

8. ’n Realistiese blik op die migrasietragedie 

Ook as dit by die kwessie van migrasie na die Weste kom, moet die vraagstuk realisties bedink word – en nie aan die hand van twee onrealistiese oplossings nie:

Die migrasievraagstuk vorm deel van die kwessie van deelname aan die werklikheid. Ons kan nie voorgee om daarop te antwoord deur n gedroomde toekoms uit te vind in die “groot gat lug” van Mandelstam nie – deur ons byvoorbeeld te verbeel ons gaan al die migrante agter baie dik mure inperk (distopiese oplossing), of wel dat ons die hele wêreld gaan verwelkom sonder om ons ooit weer oor kultuurverskille te bekommer nie (n ander distopiese oplossing). (185)

Dit bring Delsol uiteindelik by die punt in haar breë argument waarop sy kan verduidelik waarom sy die migrasievraagstuk as n voorbeeld van n tragedie sien: 

Hier het ons n tipiese geval van n tragedie. Terwyl n drama n ongeluk is wat aanvaar moet word, is n tragedie n radikale teenstrydigheid tussen twee waardes wat tegelyk wesenlik én uitgeteer is. Hierbenewens laat die tragedie die noodlot intree: Dit is ingeskryf in ’n “noodlottige” geskiedenis: Gegewe die kenmerke van die Weste en die geskiedenis van sy koloniale ryk, pyl dit af op die migrasietragedie as sy noodlot en moet dit die gevolge daarvan aanvaar. Die migrasies word ingeskryf in die verantwoordelikheid van die koloniale lande en van diegene wat die laaste jare talryke migrante om ekonomiese redes laat kom het ...

Wanneer n mens volkere gekoloniseer en gebruik het, en wat nou Frans praat, is jy ook verantwoordelik vir hulle, en dit is onmenslik om mense wie se lewens daaruit bestaan om te werk om hul salarisse huis toe te stuur, alleen [sonder hul gesinne] te laat.

Die lang geskiedenis van die veroweringsryk verhoed ons om die koms van die toevlugsryk te vermy. Die kolonisasies wat links en regs uitgevoer is, het immigrasie in die vorm van n spoedige inval in hul kiem gedra. Maar die lang geskiedenis van die Ryk as soft power is miskien die grootste faktor. Mense emigreer nie na arm, diktatoriale lande nie. Mense emigreer na ons toe om gemak en vryheid te verkry. Die skitterende sukses van n kultuur is geluk met n valse bodem. Gedurende die laaste eeue van die Romeinse Ryk het ganse Gotiese bevolkings nie na die ooste van die Ryk afgesit nie, maar na die weste, na die gekultiveerde, gemaklike en ryk Romeinse gebiede. Vandag sit Moslembevolkings van oraloor nie af na Rusland, Afrika of Indië nie: Hulle stroom die Europese gebiede binne wat hospitale, skole en vryheid bied.

So kom dit dat die tragedie as blywende situasie en as kenmerk van ons identiteit gevestig word. (188–9)

Soos reeds hier bo vermeld, vind Delsol dieselfde spanning oor immigrasie tussen die elites en die mense op voetsoolvlak as wat dit destyds in die Romeinse Ryk die geval was. Sy brei uit op die implikasies hiervan vir die eietydse Weste:

Ons sien vandag soortgelyke prosesse [as in die Romeinse Ryk], dieselfde oorsake wat dieselfde gevolge het. In n tyd van groot immigrasie is dit die werkersklas wat bekommerd is oor wat hulle as n verlies aan identiteit beskou, terwyl die elites die vermenging [met immigrante] meer met n gunstige oog sien. Daar is verskeie redes hiervoor. n Sosiologiese rede: Die elites leef tussen mekaar op die internasionale vlak (dit was reeds die geval in Rome) en kry nie met die immigrante te doen nie, terwyl die mense op voetsoolvlak daagliks saam met hulle leef. n Ideologiese rede: Die elites verdedig n idee van vooruitgang wat neerkom op n al hoe uitgebreider universalisme, terwyl die mense op voetsoolvlak vashou aan hul besondere identiteit – kulturele identiteit is die enigste rykdom van diegene wat niks het nie; nóg n loopbaan, nóg konneksies. (189)

As Delsol die nihilisme van die post-Christelike Weste verwerp, is die vraag natuurlik wat haar alternatief is met betrekking tot wat sy die migrasietragedie noem, wat volgens haar sowel n morele as n politieke dimensie het. Sy antwoord soos volg: 

As n mens daartoe verbind is om tegelykertyd die politiek en die morele te verdedig, moet n reuse poging aangewend word om al die drade van hierdie tragiese situasie bymekaar te hou. Anders gestel, daar word tegelykertyd vereis dat die grootste helderheid (vir die politiek) en die grootste solidariteit (vir die morele) ingespan word. Helderheid: om te aanvaar dat onwettige immigrante wat nie hier welkom is nie (al die leiers sê dit, doen geen leier dit nie); om n integrasiekontrak te sluit (om ons taal en ons sedes aan te leer) met diegene wat hulle graag hier wil vestig, en dit werklik te laat eerbiedig; om die harde waarheid oor Islam te praat (ons is baie ver daarvandaan). Solidariteit: om op n regstreekse, menslike, solidêre wyse te werk te gaan met verwelkoming en integrasie (nie deur “per helikopter” geld na die voorstede te stuur nie). Die twee verg moed, en dit ontbreek totaal by ons leiers (hulle weet selfs nie eens dat dit bestaan nie – dis al baie lankal dat hulle hul van leë woorde bedien en die woorde van moed met moed self verwar). (192–3) 

Die moed wat die tragiese situasie volgens Delsol vereis, strek ook na hoe Islam hanteer moet word:

As ons dit aanvaar om te debatteer oor die deel van Islam wat by ons kan integreer pleks daarvan om enigiemand wat ons verskille met Islam aanroer as n Islamofoob af te maak, kan mense anders kyk. Dis net dat intellektuele fermheid moed vereis. Dis om die kwessie met sterretjies in die oë te benader, wat ekstremismes ontketen. Maar helderheid geskakel met n sterk morele sin kan wondere verrig. (194)

Dieselfde realistiese helderheid word ook vandag van Westerlinge vereis ten opsigte van die plek van die Weste in die wêreld:

Dit is tyd om dit eens en vir altyd te verstaan: Die ryk glip van ons weg. Dit is ons wat die ryk verlaat (weens skuld en skaamte oor die verlede) en die ryk wat ons verlaat (weens n algemene verlies aan belangstelling). Ons hou op om bo aan die lyste te verskyn, om die bakens of die hegemone te wees. Ons word weer n spesifieke kultuur soos alle ander kulture, wat worstel met ander se aggressie, gedoem daartoe om te midde van die geweld van die wêreld te oorleef. Sic transit gloria mundi (“So gaan die glorie van die wêreld verby”). 195–6) 

........
So kom Delsol se breë argument ten einde. Vir haar behoort die laaste woord aan Augustinus, oor die aardse en die Hemelse Stad.
........

So kom Delsol se breë argument ten einde. Vir haar behoort die laaste woord aan Augustinus, oor die aardse en die Hemelse Stad: 

Die Westerse universalisme, wat die belofte van bevryding bevat, wou verby die stadium van belofte gaan om sigself hier en nou te verwesenlik: n sekulêre manier om onmiddellik n Koninkryk (sic) te verwesenlik.

Ons kan die stad van bo egter nie hier en nou vestig nie, sê Augustinus. Hier op aarde is die Koninkryk slegs belofte, nooit vervulling nie. Vir ons vandag en op dieselfde wyse is vrede en die oppergesag van die reg onbereikbare beloftes wat ons nou moet leer om slegs op te hoop sonder om dit te verkry: om die utopie in die horison te verander. Ons moet leef in die twee stede wat soos die hemel en die wind met mekaar verweef is. (196)

Lees ook:

Die Johann Rossouw-gespreksreeks, die afgang van Frankryk en die Weste (2): Oor Alain Finkielkraut se Le cœur lourd

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Die afgang van Frankryk en die Weste (1): Immigrasie en die verdiepende Franse identiteitskrisis

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top