Die Johann Rossouw-gespreksreeks, die afgang van Frankryk en die Weste (2): Oor Alain Finkielkraut se Le cœur lourd

  • 0

Le Cœur Lourd, Alain Finkielkraut, Gallimard, ISBN: 9782073145413

Inleiding

In die eerste opstel in hierdie reeks van drie oor die afgang van Frankryk en die Weste is stilgestaan by die blik wat die veertigjarige konserwatiewe populistiese joernalis Alexandre Devecchio as wit zef” van die Franse voorstede op dié kwessie bied. In hierdie tweede van drie opstelle val die kollig op n heel andersoortige figuur se siening van dieselfde tema, naamlik die linkse Joods-Franse filosoof, Alain Finkielkraut (1949–).

Finkielkraut is die enigste kind van twee Poolse Jode, en sy pa was n oorlewende van Auschwitz. Anders as die voorstedelike Devecchio, wat aan die spreekwoordelike “verkeerde kant van die spoorlyn” grootgeword het en n inkommer in die Paryse intelligentsia is, is Finkielkraut n gebore en getoë Parysenaar wat aan Paryse eliteskole en -universiteite studeer het en lewenslank n lid van die Paryse intelligentsia is. Waar Devecchio sy geslag afkomstig uit n immigrasie-agtergrond beskryf as die geslag wat by die Franse nasionale identiteit geïntegreer is, was Finkielkraut (en Devecchio se ouers) die geslag wat, in Devecchio se woorde, by die Franse nasionale identiteit geassimileer is.

Hy is sedert 1986 die aanbieder van die uiters gewilde weeklikse gespreksprogram Répliques op die bloubloed- Franse openbare radiostasie France Culture. In 2014 word hy verkies tot die geledere van die sogenaamde “40 onsterflikes”, oftewel die Académie Française. Finkielkraut lewer ook n besondere bydrae om die werk van die Joods-Amerikaanse romansier Philip Roth, asook dié van verskeie Middel-Europese romansiers, onder wie veral Milan Kundera, in Frankryk bekend te maak. Hy was ook met albei dié vermaarde skrywers bevriend.

Finkielkraut en my ou filosofiese leermeester, Régis Debray (1940–), is vandag waarskynlik twee van die bekendste Franse filosowe vanuit n linkse agtergrond wat hulle, ondanks hul protes tot die teendeel, nou eerder aan die konserwatiewe kant van die politieke en filosofiese spektrum bevind. Dít het in n mate te make met verskuiwings in hulle eie latere werk, maar veral met die reuse politieke en intellektuele grondverskuiwings waardeur Frankryk en die Weste sedert die vroeë 2000’s gaan, waaroor hier onder meer.

Nog n belangrike faset van Finkielkraut se werk is sy lojaal-kritiese bemoeienis oor dekades met Israel en die Joodse tradisie, soos onder meer versinnebeeld in die feit dat hy in die laat 1990’s ‘n medestigter van die Instituut vir Levinasiaanse Studies in Jerusalem, Israel was – ‘n instelling gewy aan die denke van die invloedryke Frans-Joodse filosoof Emmanuel Levinas (1906–1995).

Die jaar 2009 was die begin van n onwaarskynlike vriendskap tussen Finkielkraut en die huidige redaksiebestuurder van die konserwatiewe Franse dagblad Le Figaro, Vincent Trémolet de Villiers (1975–). Die twee mans het mekaar daardie jaar ontmoet toe Trémolet de Villiers met Finkielkraut n onderhoud oor die werk van Albert Camus gevoer het. Uiteindelik het dit gelei tot n reeks onderhoude wat Trémolet de Villiers in 2025 met Finkielkraut oor sy lewe en sy werk gevoer het, en wat vroeg in 2026 deur Frankryk se mees gesiene uitgewer, Gallimard, uitgegee is onder die titel Le cœur lourd (Die sware hart”).

Soos Régis Debray in Junie 2025 tydens ’n besoek aan sy aftreehuis met n sware hart vir my gesê het dat daar nie meer filosowe in Frankryk is nie, so het Finkielkraut ook vandag sy redes om n somber blik op Frankryk te hê – wat maak dat denkers soos hy en Debray vandag op die konserwatiewe kant van die spektrum geplaas word.

Só som Trémolet de Villiers dit in die inleiding van Le cœur lourd op:

Soveel eietydse Panglosse [ooroptimiste soos Voltaire se oorspronklike karakter, Pangloss – JR] dryf die spot met die somberheid van [Finkielkraut se] waarnemings sonder om raak te sien dat hy eerstens getrou bly aan die insigte van sy kinderjare. Sy nostalgie is so wyd soos die wêreld wat hy omarm het en waarvan die moderniteit groot gedeeltes geheel en al vermink het. Kleingeestiges sê ook dat hy regs geword het. Dis nie waar nie. Finkielkraut bly links, maar van ‘n verdwene linkervleuel ... Soos God die hemel verlaat het, dink hy, het die linkses vandag weens n mengsel van n gebrek aan kultuur en fanatisme sigself aan die lewe van die gees onttrek. (13)

In die res van hierdie opstel word kortliks stilgestaan by Finkielkraut se waarnemings oor die politieke en intellektuele grondverskuiwings waardeur veral Frankryk vandag gaan, en wat Finkielkraut grootliks as afgang beleef.

 

1. Universiteitswese

Om mee te begin, is daar Finkielkraut se afgryse oor die agteruitgang van die Franse universiteitswese, wat volgens hom aangevoor is deur die skuif van n sogenaamd diskriminerende stelsel van keuring na n sogenaamd inklusiewe stelsel. Hy verwoord dit so:

Om te verstaan wat gebeur het, moet ons teruggaan na die verskyning van die boek Les Héritiers (Die erfgename”) (1964) van [twee gesiene linkse sosioloë] Pierre Bourdieu en Jean-Claude Passeron. [Hulle] toon met stawende syfers aan dat die meritokrasie n slenter is. Die skool is sekerlik sedert Jules Ferry [se onderwyshervorminge in die 1880s] gratis en verpligtend in Frankryk, maar daar is nie gelyke kanse nie. Vanaf die begin van die wedstryd is die speelveld ongelyk. Die kulturele erfenis, oftewel daardie korpus van kennis, van bedrewenheid, van welsprekendheid wat n mens voor skool en buite die skool opdoen, bepaal jou sukses op skool. In plaas daarvan dat koöptering regstel soos dit voorgee om te doen, beloon keuring die kinders van die middelklas en druip dit dié van die lae klas meedoënloos. Die goeie leerlinge is dié van n gemaklike agtergrond. Hulle kry die beste punte, hulle kry die beste plekke, en so verander hulle danksy die skool hulle maatskaplike bevoorregting in n individuele gawe. Die onderwysstelsel het hierdie diagnose bekragtig. Dit het selfkritiek beoefen en sigself in hervorming ná hervorming ingespan om dinge reg te stel. Ten einde nie langer die erfgename te bevoordeel nie, het dit gekies om almal te onterf. Om klaar te speel met die oortreding van die ingewyde het die weggedoen met die algemene kultuur. In die eksamen vir toelating tot studie aan [die elite-universiteit vir studie in die politieke wetenskappe] Sciences Po, is die toets van algemene kultuurkennis vervang met n onderhoud wat dit moontlik maak om die motivering van die kandidaat, hoe oop sy gemoed is, sy smaak vir innovasie, sy intellektuele nuuskierigheid, sy kritiese gees, [...] sy vermoë om kritiese selfbesinning te ontwikkel” (Robert Redeker) te evalueer. In plaas van die bestudering van die groot boeke, word ál die clichés van ons era in die hoër onderwys gestort; die stryd teen stereotipes het gelei tot n nuwe Dictionnaire des idées reçues (Woordeboek van algemeen aanvaarde idees”), en Frankryk het die boek op diskriminasie toegemaak deur op te hou om n letterkundige vaderland te wees. Namate n nuwe volk die plekke beset, gee die Franse volk hul mees basiese reg prys, naamlik die reg op geskiedkundige aaneenlopendheid. Ons leef nie vir die toekoms nie, ons leef sodat daar vir ons n verlede bly,” het Nietzsche gesê. Die postnasionale Departement van Onderwys het die verlede noukeurig met n skoon lei vervang. Die pad na die hel is met goeie bedoelinge geplavei. Levinas had dit oor n volk waaraan n mens jou met hart en verstand eweseer as met wortels kan verbind”. Wortels geniet nie meer hul regmatige plek nie; die hart klop nou vir iets anders as die Franse genie; die verstand is ook nou elders besig.

Ek stel aan u die volgende eenvoudige oefening voor: Maak u oë toe en verbeel u Frankryk oor vyftig jaar. Sal dit nog herkenbaar wees? Wat sal die gemeenskaplike verwysings wees? Sal daar n gedeelde geheue wees? In watter toestand sal die taal gepraat deur die inwoners wees? Sal die kreolisering wat die radikale linkervleuel aankondig die oorhand oor die Franse taalaard kry? Watter onderrig sal diegene gee wat nie meer onderwysers genoem word nie? Wie sal die wet maak in die gebiede wat vir die Republiek verlore is? Hoeveel gebiede sal die Republiek behou het? Wat sal van die Jode word? Om Frans te voel, is te midde van dié vreemde land in my land om nostalgies vir Frankryk te wees. (26–8)

 

2. Taalvervlakking

Ewe bekend as wat die onthutsende eietydse obsessie met herkurrikulering, inklusiwiteit en toeganklikheid aan universiteite vir Suid-Afrikaners is, is dít wat Finkielkraut oor die agteruitgang en vervlakking van die Franse taal te sê het, ook vir n sekere geslag Afrikaanstaliges wat Standaardafrikaans geleer is:

My ouers het dikwels Pools met mekaar gepraat; ek kon hier en daar iets verstaan, maar daar was geen sprake daarvan dat hulle my sou inlei in dié gehate geboortetaal nie. Niks moes tussen my en Frans kom nie. Niks moes my integrasie verhinder nie. Ek is eerstens in die Franse taal verwortel. En dit is n seëning, want sonder dat ek n woordeboek benodig, het ek toegang tot die fabels van La Fontaine, Diderot se Neveu de Rameau, Stendhal se Le Chartreuse de Parma, Balzac se Illusions perdues, Baudelaire se Fleurs du mal, dAurevilly se Une vieille maîtresse, Proust se À la recherche du temps perdu, Péguy se Notre jeunesse en al die ander skatte van n skitterende letterkunde.

Maar kyk hoe hierdie vrugbare grond erodeer en selfs verbrokkel. Die woordeskat krimp, sinskonstruksie is aan flarde ... spelling word nie meer onderrig nie, maar word selfs beskou as elitisties, diskriminerend, stigmatiserend ... Soos Robert Redeker skryf: Die Franse taal het uit ons klanklandskap verdwyn. Dit antwoord nie meer as haar naam geroep word nie. Identiteitsbedrog het plaasgevind. n Ander taal gee nou voor om Frans te wees.” [Die Roemeens-Franse filosoof, Emil] Cioran het hom verwonder aan en bekommer oor dié ontwikkeling: Hierdie taal is vandag volledig in afgang. Wat my die hartseerste maak, is om tot die slotsom te kom dat dit nie lyk asof dit die Franse pla nie. En dis ek, ’n opdrifsel van die Balkan, wat hartseer is dat dit ondergaan. Nou ja, dan sal ek maar ontroosbaar saam met haar sink!”

As Poolse Jood gebore in Frankryk en op eenjarige ouderdom genaturaliseer, is ek ewe ontroosbaar as wat Cioran was. (38–9)

Later in die boek wei Finkielkraut verder oor die agteruitgang van die alledaagse gebruik van Frans en – nog iets wat Afrikaanstaliges opgevoed in Standaardafrikaans sal herken – die verbysterende vergoeiliking daarvan deur taalkundiges. Met verwysing na hoe Levinas destyds met sy vestiging vanuit Litaue in Frankryk die Franse taal sorgsaam aangeleer het, sê Finkielkraut:

Die grond val nou onder ons voete weg. Wat bly daar in die era van Globish en TikTok oor van die Frans wat Levinas so nougeset aangeleer het? Die aarde bewe. Slengtaal soos simpa”, super”, kiff” is reeksmoordenaars wat alle nuanse onderdruk. En nóg Corneille nóg George Sand geniet meer hul regmatige plek. Maar hoekom sal ons ons daaroor opwen? Negentien ontstelde taalkundiges verduidelik vir ons met n knipoog soos die Nietzscheaanse laaste mens dat Dit gaan baie goed met Frans, dankie.” Dit gaan baie goed omdat in die Ryk van Gelykheid niks van meerdere waarde as enigiets anders is nie en ons nie die reg het om n waardeoordeel daaroor uit te spreek nie. Dis nie n tasbare werklikheid nie, maar n wese in konstante metamorfose. Dis nie n kosbare erfenis nie, maar n aaneenlopende vloei. Daar is nie so iets soos goeie taalgebruik nie, maar bloot n wonderbaarlike verskeidenheid van uitdrukkings, uitsprake en grammatikale sinswendings. Taalkundiges is die wetenskaplikes van taal. As n mens n taalkundige is, vra jy nie of anglisismes, jongmenstaal, kletsrym, taaleienaardighede, gewysigde spelling of inklusiewe skryf goed of sleg is nie. n Mens neem bloot die taalgegewens waar.” [Aldus ’n groep van negentien taalkundiges, Les Linguistes Atterrés in 2023.] Dit gaan baie goed met Frans, want dit wat as sy afgang beskou word, is sy nuwe, dinamiese inkarnasie. Die taal blaas sy laaste asem uit, en hul geluksalige werklikheidsbeskouing verhoed hulle om selfs hierdie afleiding te maak. (83–4)

 

3. Kundera, identiteit en die Weste

Die vreemde werklikheidsbeskouing waarna Finkielkraut hier verwys, is natuurlik onderliggend aan die wokesekte, en vind ook uiting in die eietydse neiging om alles wat Frankryk is, te verskraal tot rassisme en boosheid. Finkielkraut betuig sy dank teenoor Kundera dat hy vrede met sy Franse identiteit kon maak:

Kundera het my ook met my [Franse] erfenis versoen – laasgenoemde kan nie tot slegs sy misdade verskraal word nie. Dit verdien om verdedig te word, met name teen die Islamisme. Met die teenstelling tussen die oorheersers en die oorheerstes wat onder die intellektuele linkses die plek van die klassestryd ingeneem het, is die Islamiste nou die ongelukkiges en word al diegene wat die werklikheid van die botsing van beskawings vierkant in die oë kyk, nou as Islamofobe, dit wil sê rassiste, voorgehou.” (76–7)

Aan die ander kant erken Finkielkraut dat hy Trump nie sien kom het nie, en vertolk hy Trump as simbool van alles wat nou met die Weste verkeerd is:

Wat ek nie sien kom het nie en wat my nog steeds oorbluf laat, is Trump. In 2017 skryf Philip Roth: Daar was nog nooit iets so armsalig soos Trump op die menslike terrein nie. Onkundig oor regering, die geskiedenis, die wetenskap, die filosofie, die kuns; nie in staat om die geringste subtiliteit of nuanse uit te druk of te herken nie, sonder die geringste ordentlikheid en in beheer van n woordeskat van sewentig woorde.” Vir Roth, wat kort daarna te sterwe sou kom, sou die presidentstermyne van Nixon en Bush toenemend lyk na ouderwetse bekoorlikheid. En hy het ook nog nie Trump gesien met n pet waarop geskryf staan Trump was right about everything” nie. Hy het ook nie die omskepping van die Withuis in n bliengpaleis meegemaak nie, ook nie die kunsmatige geskepte beeld van Trump wat oor New York vlieg en vragte stront stort op die massa wat teen sy monargistiese afwykings betoog nie. Ons moet vandag dié ondraaglike paradoks beleef van die Westerse beskawing wat verteenwoordig en verdedig word deur n ontbeskaafde, kultuurlose, brutale man sonder n superego. (77–8)

Finkielkraut betuig ook sy dank teenoor Kundera – wat Danie Goosen onlangs met  reg as n postmoderne konserwatis beskryf het – vir die wyse waarop Kundera Finkielkraut genees het van sy destydse jeugdige Westerse selfhaat, oftewel juis dit wat die wokesekte in die Weste kenmerk. Dit gaan hier om die kontras tussen die 1968-opstande in onderskeidelik Parys en Praag:

Toe ek jonk was, dit wil sê ryk aan aspirasies maar arm aan ervaring, was ek in die versoeking van die radikalisme. Ek het op die flouheid van die sosiale demokrasie vomeer. In 68 het ek dogmatiese slagspreuke geskree. Ek was n trotse inwoner van die stad waar die student die prins was en die oues, die ou wêreld, die ou kulture, die ou dosente op hulle plek gesit is. En toe lees ek Milan Kundera en danksy hom word ek bewus van die verskil tussen die Paryse Lente en die Praagse Lente. Mei 1968 was n jeugopstand. Die inisiatief van die [Praagse] Lente was in die hande van volwassenes wat hul optrede gebaseer het op hul geskiedkundige ervarings en teleurstellings. Daardie Paryse Meimaand was n ontploffing van revolusionêre lirisme. [...] Die Paryse Mei was radikaal. Dit wat die ontploffing van die Praagse Lente oor etlike jare voorafgegaan het, was n populêre opstand van gematigdes” (Kundera). Opstand en gematigdheid. Ek sou nooit kon dink dat ek dié twee terme met mekaar verbind sou sien nie. Kundera voeg by dat die Paryse Mei dit wat bekendstaan as die Europese kultuur en sy tradisionele waardes, bevraagteken het, terwyl die Praagse Lente “’n hartstogtelike verdediging van die tradisionele Europese kultuur in die wydste, verdraagsaamste sin van die term [was] (eweseer n verdediging van die Christendom as van die moderne kuns, wat albei op soortgelyke wyse deur die maghebbers misken is).” (92–3)

As dit klink asof Finkielkraut nostalgies aan dié twee opstande terugdink, is dit om n spesifieke rede, naamlik die feit dat dit nog n era was waarin die beoefening van die politiek n invloed op die gang van sake had. Op n vraag of hy dink dat hy vandag n invloed op politici het, antwoord hy: “Die vraag is nie of ek op die politici n invloed het nie, maar of die politici nog n invloed op die gang van sake het.” (100)

 

4. Politieke grondverskuiwings

Dit lei die gesprek met Finkielkraut na een van die sentrale temas van die boek, naamlik na grondverskuiwings in die politiek en die vraag hoe dit die betekenis van die begrippe links en regs beïnvloed het.

Finkielkraut antwoord soos volg:

Toe ek jonk was ... het ek gedink dat die linkses die enigstes met n hart was en ek kon nie glo iemand sou hulself as regs beskryf nie. Iemand wat sigself as regs beskryf het, het eintlik maar net bevestig hys n bliksem. Mettertyd het ek begin verstaan dinge is n bietjie ingewikkelder as dit. Ek het besef dat vir sommige mense ideologie die rol van die morele vervul het, soos die vrygewige program die plek van doeltreffende vrygewigheid. Bowenal het ek gesien hoe die linkervleuel die een ná die ander van sy kosbaarste sake laat vaar het: sekulariteit (laïcité), die skool, die reg op veiligheid en – om nie in die hande van die verregses te speel nie – die volk, oftewel dié bate van diegene wat niks het nie, soos [Jean] Jaurès gesê het. Ek sê dus vir alle welmenende mense wat oor my pad besorg is: Dis omdat ek links is dat ek nie meer links is nie. En, in ag genome die belangrikheid en die broosheid van ons erfenis, het ek nog n denker van Sentraal-Europa, Leszek Kołakowski, se slagspreuk ook myne gemaak: Hoe om sosialisties + konserwatief + liberaal te wees.

As konserwatiewe is ek besorg oor dit wat bestaan en bepleit ek n geïntegreerde ekologie – om die aarde te red, maar ook taal, kultuur, oordrag, die skoonheid van die wêreld. Die ervaring van die 20ste eeu het my ook geleer dat in menslike gemeenskappe waar individuele inisiatief aan bande gelê word, en in die naam van gelykheid weggedoen word met mededinging, stagnasie intree en wrewel opwel. Dus is ek liberaal. En as ek ook sosialisties is, is dit omdat n gemeenskap waar die mark die meester oor alle lewensterreine is, einde ten laaste ewe min lewensvatbaar is as “samelewings waar die aanmoediging van wins weens die regulasies wat produksie beheer geheel en al uitgewis is” (Kołakowski). As niks in die kapitalisme n uitsondering op die kapitalisme is nie, as daar nie ononderhandelbare waardes is nie, dreig die samelewing om in duie te stort. En soos Kołakowski ook nog sê: Dit is absurd en skynheilig om tot die slotsom te kom dat omdat n volmaakte samelewing vry van konflik onmoontlik is, ongelykheid in watter vorm ook al onvermydelik is en alle maniere om wins te maak geregverdig is. Dié tipies konserwatiewe pessimisme oor die menslike aard, wat gelei het tot die verbasende oortuiging dat n progressiewe belasting op inkomste afstootlik en onmenslik is, is ewe verdag as die geskiedkundige optimisme wat ten grondslag van die Goelag-argipel lê.”

Maar kan ek myself nog steeds links noem? Is dit moontlik om dié benaming nie as n belediging te beskou wanneer die amptelike Franse linkervleuel vandag onbeskaamd met die antisemitisme hande vat ten einde nie arm woonbuurte te stigmatiseer nie en hul stem te wen, en wanneer die regtervleuel, wat weier om terug te deins voor die verwysing na die donkerste uur van die [Franse] geskiedenis hul oë oopmaak vir dit wat tans gebeur? Ongetwyfeld nie. Wat nietemin van my n ontroosbare weeskind van die linkervleuel maak, is my onvernietigbare verbintenis tot die swart ruiters van die Republiek.

Dus, konserwatief-liberaal-sosialisties, maar in geen opsig progressief nie. Van kunsmatige intelligensie tot die alomteenwoordigheid van skerms het vooruitgang inderdaad n onbeheerbare, meedoënlose proses geword. Hoe kan dit gestuit word? vra al hoe meer mense. Die Prometheaanse dronkenskap op die oorskryding [van alle perke] word onverwags vervang met die vraag na perke en die onvermoë om perke vas te stel. Wat ons ook al sê of doen, dit gaan sy gang. Ek is nie n reaksionêr nie; ek is n verbysterde (catastrophé). (103–5)

 

5. Israel en die Jode

As daar een internasionale kwessie is wat al hoe swaarder op Finkielkraut se gemoed lê en sy sin van verbystering verdiep, is dit die ontwykende teiken van vrede tussen die Israelis en die Palestyne te midde van n steeds verslegtende situasie:

Die geskiedenis is nie n draaiboek wat by voorbaat geskryf is nie. [Die voormalige Egiptiese president, Anwar] Sadat het na Jerusalem gegaan en daarvoor met sy lewe betaal, maar Israel het vrede gemaak met Egipte, met Jordanië en, sedert die Abraham-verdrae, ook met ander Arabiese state. Daardie Israelis wat beweer dat hulle die voorhoede is van n wêreldwye stryd vir die oorlewing van die Westerse beskawing, wil nie praat oor onderhandelinge met die Palestyne nie, ongeag. Al wat metafisiese middel is, pas hulle om die geringste territoriale toegewing te maak. Die heldersiendheid waarop hulle hul roem, dien in werklikheid hulle saak. Hoe minder rede daar is om te hoop, hoe meer jubel hulle. Die radikaliteit van die vyand is vir hulle manna uit die hemel. Hulle hou die botsing van beskawings voor met die uitsluitlike oogmerk om die status quo te sanksioneer, dit wil sê: slegs een staat vanaf die rivier na die see. Groot Israel is die teenhanger van Hamas se manifes. (122)

Teen dié agtergrond het Finkielkraut harde woorde oor die huidige Israelse premier, Benjamin Netanyahu:

Waarvoor verkwalik ek Netanyahu? Vir dieselfde saak as sy voorlaaste minister van verdediging, Yoav Gallant: Om doelloos oorlog te maak, om nie n strategie vir die dag van môre te hê nie, om slegs aan die oorlewing van sy koalisie te dink en homself te geplaas het in die hande van die partye wat die risiko loop om Israel na sy morele en materiële ondergang te lei. Tussen die erfgename van Yitshak Rabin [wat vrede met die Palestyne wou maak] en die volgelinge van sy moordenaar, kan ek nie anders nie as om te kies. (142)

En dit is in die lig van die gevolge wat Israel se verswakkende morele aansien tans wêreldwyd vir Jode oral inhou dat Finkielkraut praat van die sware hart wat aan die boek sy titel gee, wanneer hy dit het oor die noodsaak van n verdiepende dialoog tussen Christene en Jode vandag:

Van my kant verbind ek my daartoe om deurlopend te stry teen die diskoers van diegene onder die Jode wat die nuwe demonisering van Israel vandag as voorwendsel gebruik om enige kritiek op Israeli-beleid as anti-Semities af te maak ... Vir die eerste keer in die [Joodse] geskiedenis moet ons haat trotseer sonder die vertroosting dat ons onskuldig is. En dit, dít is die sware hart. (166)

Lees ook:

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Die afgang van Frankryk en die Weste (1): Immigrasie en die verdiepende Franse identiteitskrisis

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top