
Nous vivions côte à côte, Alexandre Devecchio, Fayard (Editions), EAN 13: 9782213734378
Oor Alexandre Devecchio se Nous vivions côte à côte (Parys: Fayard, 2026)
Inleiding
Die tema van die oënskynlike afgang van Frankryk en die Weste word die afgelope dekade en meer intensief in die Franse media, letterkunde en niefiksie bespreek. Net in vanjaar tot dusver sien onder meer drie opspraakwekkende publikasies in dié verband die lig, naamlik die konserwatiewe populistiese joernalis Alexandre Devecchio se Nous vivions côte à côte (“Ons het langs mekaar gewoon”), Parys: Fayard, 2026; die linkse filosoof Alain Finkielkraut se Le cœur lourd (“Die sware hart”), Parys: Gallimard, 2026; en die liberaal-konserwatiewe filosoof Chantal Delsol se La tragédie migratoire et la chute des empires: Saint Augustin et nous (“Die migrasietragedie en die val van ryke: sint Augustinus en ons”), Parys: Odile Jacob, 2026).
In hierdie eerste van drie opstelle oor dié drie boeke word Devecchio se boek bespreek.
Ten regte of ten onregte staan Frankryk sedert die Franse Revolusie (1789–1791) bekend as die land van burgerregte; die republiek gebaseer op vryheid, gelykheid en broederskap. Dit is nie vergesog om aan te voer dat die politieke denke en tradisie van Frankryk sedertdien – tesame met dié van Engeland en Duitsland die afgelope drie eeue – toonaangewend in die opkoms en uiteindelike wêreldoorheersing van die Weste die afgelope eeue was nie. Ofskoon Frankryk baie beslis nie meer die invloedryke moondheid is wat dit eens was nie, is dit nogtans so dat wat polities en filosofies in Frankryk gebeur, steeds aanduidend van die wel en wee van die Weste is.
Dit is welbekend dat die kwessie van immigrasie die afgelope 10 jaar en meer miskien die grootste brandpunt in die Westerse politiek geword het – en dit is die afgelope maande in Suid-Afrika ook die geval. Immigrasie is een van daardie kwessies wat sig leen tot instrument vir politieke mobilisasie. In die proses word die kwessie dikwels oorvereenvoudig. Aan die regterkant van die politieke spektrum word immigrante dikwels tot die sondebok vir ’n land se probleme gemaak. Aan die linkerkant word die handhawing van landsgrense ikabod verklaar en word geredeneer dat lande vir immigrante (en vlugtelinge) moet oopstaan, ongeag.
Om sake verder vir die Weste te kompliseer – en dit is nie ’n kwessie in Suid-Afrika nie – kan die Weste weens ’n krimpende geboortesyfer onder Westerlinge eenvoudig nie meer in sy arbeidsbehoeftes voorsien nie, met die gevolg dat Westerse lande op een of ander manier probeer om dié probleem die hoof te bied met immigrante uit ander, meesal nie-Westerse lande. Bowendien is daar ook nog ander ingewikkelde kwessies hier ter sprake. Een hiervan is die feit dat gebore Westerlinge dikwels en toenemend in spanning met nie-Westerse immigrante verkeer; nog een is die onderskeid tussen wettige en onwettige (im)migrante – soms word die argument gevoer dat eersgenoemde nie die probleem is nie, maar wel laasgenoemde.
Dit is teen hierdie agtergrond dat die veertigjarige Franse joernalis en standpunteredakteur van Frankryk se leidende konserwatiewe dagblad Le Figaro, Alexandre Devecchio, enigiemand wat ’n genuanseerde insig in die kwessie van immigrasie in die Weste wil ontwikkel, ’n groot guns bewys het met sy mees onlangse boek, Nous vivions côte à côte: Itinéraire d’un “petit Blanc” de banlieue (“Ons het langs mekaar gewoon: die lewensverhaal van ’n ‘wit zef’”). Die genialiteit van Devecchio se boek is die wyse waarop hy as wit zef wat in ’n Paryse voorstad (banlieue) in ’n laemiddelklas wit immigrantegesin grootgeword het, sy ervaring plaas langs dié van die nuwer soort, veral Noord-Afrikaanse immigrante wat hulle toenemend in voorstede soos syne, Epinay-sur-Seine, begin vestig het. Devecchio kan dus as immigranteseun nie slegs eerstehands oor die lewens van Franse immigrante praat nie, maar as produk van so ’n voorstad eweneens eerstehands praat oor die lewe in sulke plekke wat tipies buite die Franse politieke en ekonomiese hoofstroom staan. Terwyl die meeste Franse joernaliste uit ’n stedelike middelklasagtergrond kom, dikwels geen benul van die lewe in die voorstede of op die platteland het nie, en ewe dikwels neersien op veral wit Franse wat daar grootgeword het, of werk met polities bruikbare karikature van immigrante wat daar woon, is Devecchio ’n unieke stem in die Franse media – gevoelig vir die snobisme jeens of ontkenning van die probleme van die Franse voorstede, steeds diep lojaal aan sy komvandaan, dog geensins blind vir wat in hierdie plekke skeefgeloop het en hanteer moet word nie.
Devecchio se boek is om ’n ander rede belangrik: Dit gee ’n stelselmatige, besonder simpatieke verduideliking van die toenemende gevoel van tuisteloosheid in eie land van soveel Westerlinge vandag, wat so belangrik geword het in die groei van konserwatiewe populistiese politieke partye in vele Westerse lande. Soos Devecchio die saak uiteensit, is dié gevoel van tuisteloosheid in eie land nié die fout van nie-Westerse immigrante nie, maar eerder dié van die tradisionele politieke klas in Westerse lande wat voeling met die burgery op voetsoolvlak verloor het en dié mense toenemend aan hul eie lot oorgelaat het. Dit is hierdie gaping wat politici soos Donald Trump in die VSA, Nigel Farage in Brittanje, Alice Weidel in Duitsland en, les bes, Marine Le Pen in Frankryk slaan om aanleiding te gee tot ’n politieke grondverskuiwing in die Weste en die geopolitiek waarvan die einde nog nie naastenby in sig is nie. Wat Devecchio ter ere nagegee kan word, is dat hy verbind bly tot ’n hernude Frankryk waarin sowel gebore as ingekome burgers in vrede en samehorigheid met mekaar kan saamleef.
In die res van hierdie essay word die leser begelei deur die verhaal wat Devecchio vertel.
- Nahel Merzoek se tragiese dood en Devecchio se vertrekpunt
Om mee te begin, verduidelik Devecchio in die inleiding van sy boek wat die onmiddellike aanleiding daartoe gegee het, naamlik die dood van ’n jong man van Noord-Afrikaanse afkoms, Nahel Merzoek, wat op 27 Junie 2023 in polisievuur gesterf het nadat hy die spoedgrens oortree en geweier het om spoed te verminder. Sy dood was die vonk in die kruitvat wat daarna tot hewige oproer en geweldpleging in Frankryk gelei het, veral in die voorstede. Die wyse waarop Devecchio hieroor besin, dui reeds aan dat hy nie die tipies eietydse linkse Franse reaksie het om die skuld eensydig op die polisie te pak nie, terwyl hy eweneens geruk was deur Nahel se lot:
Nahel Marzoek se dood op 27 Junie, wat ek feitlik regstreeks meegemaak het in die gemak van ’n lugversorgde televisieateljee, was ’n skok. Die beelde van die polisieman wat op die jong man skiet, het my hewig ontstel. Wat ’n mens ook al kon dink van Nahel se profiel en sy vorige botsings met die gereg, bly die feit dat sy dood absurd en wreed was. Terwyl ek regstreeks daaroor uitgevra is, het ek my nietemin daarvan weerhou om die polisielede te beskuldig, want hoe onthutsend die beeldmateriaal ook al was, het dit niks gesê van wat die gebeurtenis voorafgegaan het nie. En ook omdat ek alte bewus was van die geweld wat die veiligheidsmagte daagliks in die voorstede die hoof moet bied – geweld wat hulle trotseer om die skyn van burgerlike vrede te bewaar en om die gewone Franse wat in of naby hierdie buurte woon, se alledaagse lewens minder ondraaglik te maak. Ek het geweet dat die gewig op hulle skouers enorm is en dat die scenario van ’n tragiese reeks van gebeure ’n geloofwaardige verklaring was. (13)
Voorts is Devecchio gevoelig daarvoor dat in die gesiene pos wat hy tans in die Franse media beklee, sy lewe geensins verskil van die lekker lewe van die einste Franse joernaliste wat uit ’n gemaklike stedelike agtergrond kom en oor wie hy so krities is nie. Hiervan het hy al tydens sy opleiding aan die elite Paryse joernalistiekskool, die Franse Sentrum vir Joernalistiek, bewus geword, en het destyds aan homself ’n belofte gemaak wat dit nou tyd geword het om met die skryf van hierdie boek na te kom: “... om die storie van my mense te vertel, en deur hulle te verduidelik hoe ons op dié punt beland het” (17).
Onmiddellik hierna verduidelik Devecchio waar hy vandaan kom – en vir vele lesers van hierdie essay sal die Springbokke se verowering van die Rugbywêreldbeker voel soos wat Frankryk se verowering van die Sokkerwêreldbeker vir ’n tienjarige Devecchio in 1998 gevoel het, en waarvan die idealisme vir sy land steeds dit is waaraan hy hardnekkig bly vashou:
Ek is in 1986 gebore. Ek het grootgeword [aan die buitewyke van Parys – JR] in Seine-Saint-Denis, in Épinay-sur-Seine en in Saint-Denis. In die loop van vier dekades het ek die landskap sien verander. Toe ek ’n kind was rondom die Sokkerwêreldbeker van 1998, was hierdie buurte nog “black, blanc, beur” [oftewel “swart, wit, botter” in die destydse speelse verwysing na die Franse span bestaande uit swart spelers, wit spelers en spelers van ’n Arabiese agtergrond – JR]. In hierdie buurte was die verskille en die spanninge reeds groot, aanrandings en geweldpleging was nie seldsaam nie, maar vreedsame naasbestaan het steeds moontlik gelyk danksy ’n betreklike diversiteit. Terwyl “lekker saamwoon” reeds nie meer bestaan het nie, het ons nog langs mekaar gewoon en nog nie téén mekaar nie, soos die eertydse Franse minister van binnelandse sake, Gérard Collomb, dit gestel het [met sy uittrede in 2018]. (18)
Die konteks van Collomb se toespraak was dat hy sy kommer uitgespreek het dat namate “radikale Islamiste en dwelmhandelaars die plek van die Franse Republiek oorneem ... die wet van die sterkste toenemend gaan geld”, wat onvermydelik volgens hom die spanning tussen burgers op voetsoolvlak sou laat styg.
Devecchio bevestig onmiddellik dat die eertydse minister se kommer nie ongegrond was nie, en wel deur te beskryf hoe sy komvandaan reeds gedurende sy jeug en jongvolwassenheid verander het:
As tiener en jong volwassene het ek gesien hoe Épinay en veral Saint-Denis in ghetto’s verander het, en in die proses ware kontrasamelewings geword het. Wat by die misdaad en geweldpleging van die “skollies” gevoeg is, is ’n ongesonde verknogtheid aan die eie etniese gemeenskap (communautarisme) en die Islamisme. Halaalwinkels het toegeneem, tradisionele slagterye het verdwyn. Die Suger-lycée [hoërskool – JR] waar ek gematrikuleer het en wat in my tyd nog betreklik vreedsaam was, is met ’n mortier aangeval en aan die brand gesteek. By die Universiteit van Parys-8, wat destyds onder die naam Vincennes rondom die studenteopstande van 1968 met geesteswetenskappedepartemente gestig is en waar ek voorgraads studeer het, is die linkse, Marxistiese militante vervang deur die “inheemsers” (indigénistes) en hul “dekolonialistiese” obsessies. Joodse kinders het padgegee uit al die skole van Seine-Saint-Denis en die Joodse bevolking in die munisipaliteit is gehalveer. Talle gewone Franse – gebore of aangenome – wat nie meer veilig gevoel het nie en geweier het om ’n minderheid te wees, het eweneens verder uitgewyk, na verder afgeleë voorstede (la France périphérique) of na landelike Frankryk. (19)
Devecchio beskryf die gevolge van hierdie omwentelinge vir veral gewone Franse wat nie meer hul komvandaan herken nie:
Die geskiedenis van hierdie groot ontwrigting is al dikwels vertel, maar meestal laat die verhaal wat vertel word, die mense wat die meeste geraak word, weg. Diegene wat in die eerste linie dié groot demografiese, maatskaplike en kulturele omwenteling moes verduur. Die miljoene gewone Franse wat aan die buitewyke van die groot stede woon – in die sogenaamde minderbevoorregte buurte en omstreke – wat werk, die wette van die republiek respekteer en op ’n daaglikse basis die agteruitgang van hul alledaagse omgewing meemaak. Tot op die punt dat hulle van hul identiteit ontneem voel, vreemdelinge in Frankryk. “Die eintlike ballingskap is nie om van jou land ontruk te word nie; dis om daar te woon en niks meer daarin te vind van dit waarvoor jy dit liefgehad het nie,” skryf die geskiedkundige, Edgar Quintet. Dit is dié ballingskap wat talle gewone Franse vandag ervaar, mense wat dikwels uit die lae of middelklasse kom. (20–1)
Devecchio maak dit ook duidelik dat sy standpunt jeens dié klas waaruit hy afkomstig is, sterk verskil van dié wat linkse skrywers soos die wenner van die Nobelprys vir Letterkunde, Annie Ernaux en andere, soos Édouard Louis, teenoor dieselfde klas inneem:
Soos dié skrywers, wat uit ’n beskeie agtergrond kom, beoog ek om deur middel van my sintuiglike ervarings en persoonlike herinneringe ’n groter politieke en maatskaplike tafereel te skets. Maar waar Édouard Louis sy mense ontken, beoog ek eerder om die lof van my mense te besing. Waar Annie Ernaux verklaar dat sy skryf om “wraak op haar ras te neem”, beoog ek om eerder my skuld af te los. Waar albei meeding om armsaligheid (misérabilisme), eis ek my populisme op. Vanaf die Universeit van Parys-8 van Saint-Denis na die [prestigeryke Paryse] Sentrum vir die Opleiding van Joernaliste, van die Bondy Blog na Le Figaro, van die onluste van 2005 na die wanorde van 2023 getuig hierdie boek van binne oor dertig jaar van disintegrasie. Nie om die kole van die huidige verdelings verder aan te blaas nie, maar om die lesse uit ons mislukkings van die verlede af te lei en die kontoere van ’n moontlike versoening te voorsien. Om die era van teenoor-mekaar agter te laat en te hoop om eendag weer langs mekaar te woon. (25)
- Die immigrante van vroeër
Soos reeds gemeld, berus ’n groot deel van die trefkrag van Devecchio se boek op die kontras tussen ’n vroeëre era van Franse immigrante en die destydse Franse nasionale identiteit en wat die geval tans is. Devecchio begin dus in die eerste hoofstuk van sy boek om sy eie immigrante-agtergrond te ontgin. Aan vaderskant was sy oupa Italiaans, terwyl Italië vir Devecchio se pa sy voorkeurvakansiebestemming was. Aan moederskant is sy ma ’n Portugees wat eers in die ouderdom van 10 in 1965 in Frankryk aangeland het. (27)
Terwyl dit vandag aan die orde is om in Frankryk te fokus op die verlies en pyn wat immigrante jeens hul land van herkoms voel, herinner Devecchio sy leser daaraan dat dit selfs vir suksesvolle immigrante soos sy Italiaanse oupa nooit emosioneel maklik was nie – ofskoon dié nooit ’n bohaai daarvan gemaak het nie:
Wanneer dit by sokker gekom het, kon ’n mens sy sagte plekkie en sy voorkeur vir sy land van herkoms waarneem. Die verskeurdheid wat hy as jonger man moes gevoel het en wat miskien weer laat in sy lewe aan hom geknaag het. ’n Verskeurdheid wat hy besluit het om te verswyg en diep in homself te begrawe uit lojaliteit teenoor sy aangenome land ter wille daarvan om sy geliefdes se integrasie te vergemaklik. In so ’n mate dat hy nie sy moedertaal aan sy kinders oorgedra het nie – wat ongetwyfeld vir hulle ’n aanwins sou wees – en sy afstand van Italië geneem het. Ná die dood van sy ma het hy op beslissende wyse bande verbreek met sy familielede wat hy nog daar had. Ofskoon hy nie skaam vir sy wortels was nie, het hy gekies om dit te verdoesel en nie daarvan gehou om daaraan herinner te word nie. (30)
Devecchio gebruik sy Italiaanse oupa se ervaring van immigrasie om te beklemtoon dat immigrasie ten ene male moeilik bly, en dat vandag se nie-Westerse Franse immigrante dit nie noodwendig moeiliker het nie:
Ondanks die aardrykskundige en kulturele nabyheid van die Franse en die Italianers aan mekaar, was die assimilasie van laasgenoemde in Frankryk allesbehalwe eenvoudig en het dit met pyn gepaard gegaan. “Daar is geen breuk wat groter, pynliker of meer dramaties is nie as dié van emigrasie uit jou geboorteland ter wille van immigrasie in een of ander vreemde land,” verduidelik die sosioloog Abdelmalek Sayad. “En dít geld alle immigrantebevolkings, ongeag hulle herkoms of wanneer hulle in Frankryk aangekom het,” skryf die steeds gemiste Daniel Lefeuvre, wat my dosent was toe ek geskiedenis aan die Universiteit van Parys-8 in Saint-Denis studeer het. Die wydverspreide opvatting waarvolgens arbeiders afkomstig uit Europa – synde wit en Christene – maklik in die Franse samelewing kon wegsmelt, terwyl die sogenaamde “koloniale” immigrantebevolking, wat grootliks Moslems was of is, die slagoffers van ’n besondere soort rassisme sou wees wat met hul velkleur en hul godsdiens saamhang, word deur die geskiedkundige werklikheid weerspreek. (31–2)
Devecchio herinner sy leser ook aan ’n ander belangrike feit, naamlik dat ’n negatiewe houding teenoor nuwe Franse immigrante glad nie nuut is nie. As een onder meer voorbeelde hiervan meld hy dat van die vyf miljoen Italianers wat in die 20ste eeu na Frankryk verhuis het, slegs ’n derde uiteindelik aangebly het, terwyl selfs tot in die 1950’s te midde van die destydse ekonomiese opbloei die Franse afkeer van immigrante sterk was (33). Devecchio is van mening dat suksesvolle immigrante soos sy Italiaanse oupa – wat nie, soos vandag die geval is, homself graag as slagoffer gesien het nie, selfs al is sy pa vroeg oorlede – in Frankryk kon assimileer danksy ’n afruiling met betrekking tot ’n sterk Franse nasionale identiteit wat destyds nog aan die orde was:
[A]ssimilasie het nuwe aankomelinge gedwing om ’n deel van hul menswees prys te gee en die wette, taal, waardes en gebruike van hul aangenome land toe te eien. As teenprestasie het laasgenoemde aan hulle die geleentheid op ekonomiese en maatskaplike opgang, die bevrediging om hul gesinne te vestig en die hoop om vir hul kinders ’n beter toekoms as vir hulself te verseker, gebied. (35)
Devecchio herinner met verwysing na sy Portugese ma sy leser daaraan dat ondertrouery nog ’n belangrike middel tot assimilasie was, wat helaas nie vandag meer so geredelik die geval is nie:
My ma het vir haar aangenome land gekies. Haar liefde vir Frankryk was waarskynlik vermengd met haar liefde vir my pa, wat sy op hoërskool ontmoet en met wie sy in die ouderdom van negentien getrou het. Ondertrouery was nog altyd ’n kragtige integrasiemiddel. ’n Middel wat lyk of dit nie vandag meer werk nie, omdat huwelike tussen Moslems en nie-Moslems skaars bly, aangesien dit deur Islam en tradisie verbied word. (40)
Devecchio wys daarop dat tussen 1957 en 1974 nie minder nie as 750 000 Portugese hulle suksesvol in Frankryk gevestig het, wat van hulle die grootste “gemeenskap van buitelandse afkoms” in Frankryk gemaak het. Hy skryf dit toe aan wat hy die goue era van die Franse model noem, toe ’n gevoel van behoort en nasionale samehorigheid ’n werklikheid was (42–3). Dit bring hom egter by ’n triestige waarneming waarmee hy sy eerste hoofstuk afsluit:
Ons het opgehou om inspanning en vasberadenheid van nuwe immigrante en hul nasate te vra, om hulle te verskraal tot die vernederende status van ewige slagoffers en hulle sodoende in die tronk van haat en wrewel op te sluit, pleks van waar ons aan hulle ’n liefde vir Frankryk moes gegee het. Die afgelope vier dekades het die multikulturalisme en militante antirassisme gekoppel aan massa-immigrasie, die verskraling van ons geskiedenis tot sy “donkerste ure” en – tans – die aanslag van ’n nuwe rasbehepte linkse politiek, die ou assimilasie sodoende gekompromitteer, die vlam van identiteit aangeblaas en ’n verdeelde Frankryk uitgelewer aan afpersing deur minderhede na vore gebring. My oupa Mario was van die geslag van assimilasie, my ouers van dié van integrasie. Op my beurt behoort ek tot die geslag van disassimilasie en disintegrasie. (42)
- ’n Verlore jeug in ’n vergane voorstad
In die tweede hoofstuk val Devecchio weg met ’n roerende beskrywing van die voorstad van sy jeug – heel verrassend iets waarmee vele Afrikaners van my geslag, vir wie se ouers die hemel in die voorstad pleks van op die platteland was, ook sal kan identifiseer:
Wanneer ’n mens aan die voorstad dink, dink jy gewoonlik aan die torings en relings van munisipale woonstelblokke, asook aan “jonges” in kappiebaadjies en kletsrym. Die mediaprentjie het inderdaad die voorstad verskraal tot die wêreld van “stedelike ghetto’s”. Des te meer omdat die mikrofoon gewoonlik aangebied word vir diegene wat in “les quartiers” [letterlik “die buurte”; in Engels “the hoods” – JR], soos hulle sê, die mees militante, veeleisende betoog voer. Dog in die skaduwee van die munisipale woonstelblokke bestaan daar ’n ander werklikheid, naamlik dié van losstaande huisies van braamsteen of sement waarvan die inwoners maatskaplik skaars meer bevoorreg is, maar wat nie motors aan die brand steek nie en bloot vra om in vrede te leef. Dis in dié voorstad dat ek grootgeword en gewoon het tot met my sewe-en-twintigste lewensjaar, in ’n klein skakelhuisie met houthortjies en ’n regstreekse uitsig op die groot woonstelblokke, een of twee strate vanaf die sogenaamde minderbevoorregte areas. Ver genoeg, ja, om nie ál die probleme daarvan te ken nie, maar naby genoeg om alles te weet van die moeilikhede wat hulle skep.
Wanneer hulle nie volkome onsigbaar is nie, word die voorstedelike huisbewoners geminag of ’n karikatuur van gemaak. In die bobo- (boheemse middelklas-) media word hulle op kwalik bedekte wyse voorgehou as “takhare” of “gomtorre”, soms as “wit zefs”. ’n Mens word daaraan herinner dat laasgenoemde gunstig teenoor die regses is en heel dikwels bekeerd tot “die populistiese verregses”. Die spot word gedryf met hulle mooi gesnoeide heinings of hulle blokkiesgras, hulle voorliefde om te braai. (43–4)
Dat dié woonbuurte nie die bekoring van die Franse stede of platteland het nie, word nie deur Devecchio ontken nie. Tog het dit volgens hom ’n eie bekoring:
Die voorstedelike huisbewoner is so gelukkig om redelik gespaar van die verkeersknope, geraas en besoedeling van die groot stede te wees. In ’n tyd van pandemie en inperking, verlustig hy hom in die feit dat hy oor ruimte beskik, asook ’n grasperk waar die kinders kan speel met ’n stukkie tuin. Dis in laasgenoemde wat hy een of twee vrugtebome of mooi blomme geplant het, ’n groentetuintjie kweek wat glad nie so “anti-ekolo” is [as wat die bobomedia dit wil hê nie]. Dit mag selfs wees dat die voorstedelike huise met smaak versier is! (47)
Volgens Devecchio begin die onweerswolke bo hierdie voorstedelike paradysies egter saampak nadat vanaf 1974 die Franse ekonomie en die aard van die immigrantebevolking begin verander het:
Die eintlike breuk vind ná 1974 plaas, wanneer die bedeling aanbreek waarvolgens nuwe immigrante se gesinne by hulle mag aansluit, juis wanneer Frankryk ná die oliekrisis die era van deïndustrialisering en massawerkloosheid betree. In die loop van die volgende twintig jaar, in pas met verskillende migrasiegolwe, word die demografiese balans versteur. Immigrasie van buite Europa, ’n reservoir van goedkoop handearbeid wat sorg vir die basiese dienste van die inwoners van die groot stede (kinderoppassers, kokke, skottelgoedwassers, veiligheidswagte, skoonmaaksters, siekeoppassers, en later Deliveroo-afleweraars en Uber-bestuurders), word die meerderheid in die nabye voorstede, wat die “gebore Franse” en Europese immigrante al hoe verder uitdwing na die semistedelike areas, dié van die verder afgeleë Frankryk van verkeersirkels waar die Geelbaadjie-beweging [rondom 2018] ontstaan het. In Épinay-sur-Seine was die proporsie van die jeug van buitelandse afkoms in 1968 12%. In 1999 was dit 56,5%, en vanaf 2005 word die jeug van Noord-Afrikaanse, Afrika suid van die Sahara, of Turkse afkoms die meerderheid in die munisipale gebied. Die etniese en kulturele konsentrasies begunstig ’n lewe afgesny van die breër wêreld; die torings en relings begin wemel van satellietskottels; geweld ontplof; die polisie, die brandweer en dokters word nie meer toegelaat om sekere areas te betree nie; nie-etniese besighede sluit; Islamistiese enklawes begin verskyn. Miljarde euro opgeslurp deur stedelike beplanning is magteloos om die proses te stuit, want die vloei van migrante bly konstant. Die immigrante wat uit “les quartiers” trek, word onmiddellik vervang deur nuwe aankomelinge wat die euwels wat die staat voorgee om te beveg, kom versterk. (50–1)
Uit die aard van die saak beleef die gevestigde inwoners van hierdie gebiede aansienlike veranderinge in hul omgewing – Devecchio se ma is byvoorbeeld een herfsaand op pad terug van die winkel met haar volgelaaide kruidenierstrollie deur ’n skollie op die sypaadjie platgeloop en van haar beursie beroof. Maar die ontheming van gevestigde inwoners strek veel verder:
Afgesien van fisieke onveiligheid is die pynlikste vir my ouers om toe te kyk hoe hulle van hul leefwyse, hul kultuur, hul waardes ontneem word. ’n Detail wat ver van anekdoties is, som dit alles op: my ma se verbystering toe sy die opening van ’n hidjabwinkel in die bouvallige winkelsentrum van haar hipermark ontdek, terwyl die nie-etniese winkels die een ná die ander sluit en om ’n niehalaalslagter te vind al hoe meer in ’n skattejag verander. Party mense sal vra waarom soveel emosie oor ’n stukkie lap? Maar die banalisering van so ’n simbool van onderdanigheid vervoeg met die verdwyning van konvensionele winkels is een van die simptome van die uitwissing van ’n lewenskuns tot voordeel van vreemde, argaïese sedes. My ma het in die 1960’s en ’70’s grootgeword in Deuil-la-Barre, ’n buurvoorstad van Épinay-sur-Seine. Op agtien had sy lang hare en het sy ’n minirompie gedra. Sy sou haar nooit destyds kon voorstel dat ’n hoofbedekking die voorland van jong meisies in die voorstede sou wees nie. My ma reaksionêr? Rassisties? Eerder nostalgies vir ’n era van vryheid, vir ’n tyd nie so lank gelede nie toe vroue in die voorstede enige tyd van die dag of die nag kon uitgaan sonder om op straat beroof te word, of om ’n minirompie te dra sonder om as ’n “hoer” beskou te word. (52–3)
Soortgelyk aan hoe sommige Suid-Afrikaners hul vervallende komvandaan teësinnig moet verlaat, is Devecchio se ouers ook met pynlike keuses gekonfronteer:
Diegene wat hulle nie daarby berus om te woon in ’n wettelose, Frankryklose area nie, verkies om te verhuis terwyl daar nog tyd is. Dis die keuse wat my ouers oplaas gemaak het. Hulle wou voordeel trek uit hulle “aftrede” deur die huis in die mark te sit. Vaarwel losstaande voorstedelike huis. Dit was met ’n sware hart dat my pa sy bome en sy tuin agtergelaat het: Om sy pruimboom te versorg en die suurlemoengeur van sy begonia te ruik het sy alledaagse lewe opgehelder. Op haar beurt het my ma haar afgevra waar sy plek vir die tallose boeke in haar biblioteek gaan kry. ’n Nuwe vertrek? Eerder gedwonge ballingskap. Die lastigheid was dat hulle nie geweet het waar om vir asiel aansoek te doen nie. Anders as die Jode wat Épinay om dieselfde redes in groot getalle verlaat het, had my ouers nie ’n Israel vir hul aliyah nie. Natuurlik het hulle gedink aan Portugal, waar my ma nog heelwat familie het en waarheen heelwat van die Frans-Portugese vir hul oudag teruggekeer het. Maar my ouers wou naby hul kinders bly – aan my en my suster – asook naby aan hulle kleindogters, my niggies. In 1978 het hul huis na ’n winskoop gelyk. Vier dekades later het die waarde daarvan saam met die reputasie van Épinay in duie gestort. Indien hulle nader aan Parys sou trek deur ’n meer welaf buurt te kies, sou my ouers geen ander keuse hê nie as om ’n beknopte woonstelletjie te betrek. As hulle nog ’n bietjie ruimte wou hê, sou hulle moes trek na die dieptes van semistedelike Frankryk. Naby ’n verkeersirkel sou hulle miskien een moerige dag hul vlag plant. (54–5)
Enige woonomgewing waarvan die aard so radikaal verander, se verandering sal ook in sy skole en universiteite weerspieël word. Devecchio besin ook hieroor met verwysing na die instellings waar hy skoolgegaan en voorgraads studeer het in sy omgewing. Dit bied ook aan hom die geleentheid om eer te betoon aan die ouer geslag linksgesinde, republikeinse onderwysers wat nog vir hom skoolgehou het – en hulle verdwyning te betreur:
In die era toe ek self op skool was, het die onderwysers ... tot die ou wêreld behoort. Hulle het nie ’n uniform gedra nie, maar had die toewyding van die swart ruitersoldate van die Republiek soos beskryf deur Charles Péguy. Elkeen het elke leerling op die voornaam geken, selfs dié wat nie in hul klas was nie. Om skool te hou was vir hulle ’n roeping gebaseer op die oortuiging dat die mees formidabele aangebore ongelykheid ongelyke onderwys is, en dat die skool ons in staat moet stel om dit te bowe te kom. Die oorgrote meerderheid van hulle was links. Sommige het hulle op die sosialisme beroep, ander op die kommunisme, maar hulle patriotiese, maatskaplike linksheid was nóg die liberale, vryheidsugtige weergawe waaraan Mei 1968 geboorte geskenk het, nóg die valse “antirassistiese”, waarlik verskilbehepte weergawe van die 1980’s. Elkeen was bewus daarvan dat om sy bevrydingstaak te volvoer, moes die skool ook met die eenvoudigstes streng wees en aan hulle eweseer grondslagkennis as ’n smaak vir inspanning oordra, sowel kultuur as geskiedenis vir hulle oopmaak. Laasgenoemde aspek was des te belangriker vir kinders van ’n immigrante-agtergrond, omdat soveel van hulle nie in hul gesinsomgewing toegang tot hierdie skatte had nie. (58–9)
Devecchio betuig ook sy skatpligtigheid vir die joernalis wat hy geword het aan die linkse monsieur Bort, wat vir hom in sy laaste laerskooljaar skoolgehou het – en wat blyke gee van die gemene republikeinse grond tussen links en regs toe Frankryk nog ’n sterk nasionale identiteit had:
Ek het waarskynlik my roeping as joernalis aan hom te danke, omdat hy die redakteurskap van die skoolkoerant aan my toevertrou het. Dié leser van [die kommunistiese dagblad] L’Humanité kon hom nie voorgestel het dat ek jare later ’n joernalis by Le Figaro sou word nie! Terwyl ek vergeet het waaroor my eerste artikels gegaan het, is die waardes en idees wat ek vandag verdedig, nie so verskillend van dié waartoe hy bygedra het om dit aan my oor te dra nie: respek vir die eenvoudigstes; ’n geloof in meriete en inspanning, asook in werk en kultuur as instrumente van bevryding; ’n bepaalde sekulêre antiklerikalisme, wat in my geval die vorm aanneem van ’n instinktiewe weersin in politieke korrektheid, aangesien die eiegeregtige hovaardiges in my oë die nuwe priesters van ons era is. (61)
Ondanks Devecchio se gunstige ervaring van ’n openbare laerskool was hy een van vele wie se ouers nie langer vir die openbare skoolstelsel kans gesien het nie, en hom toe na ’n privaat hoërskool gestuur het. Wat hy oor daardie besluit skryf, sal weerklank vind by Afrikaanse ouers wat daarvan beskuldig word dat hulle hul kinders in ’n monokulturele, niediverse skool wil opvoed:
Met diversiteit het my ouers verstaan ’n meerderheid wat ’n minderheid ontvang en waarby die minderheid moet aanpas, pleks van die omgekeerde. In werklikheid was hul keuse vir die privaat stelsel bepaal ... deur die verdwyning van dié vermenging. Soos die ouers van tallose gemiddelde gesinne was my ouers bang vir die toenemende eenvormigheid en etnosentrisme (communautarisme) van die openbare hoërskole van die voorstad waar arm immigrantebevolkings vandag saamgetrek is, en waar die Franse kultuur moet plek maak vir ’n voorstedelike subkultuur wat vandag met die Islamisme getint is en al die leerlinge na ’n laer vlak aftrek. Anders as wat die konvensionele siening dit wil hê, is die vlug na die private die gevolg pleks van die oorsaak van die afwesigheid van diversiteit in openbare skole. Dié strategieë van ontvlugting versterk bloot ’n reeds bestaande beweging waarvan die ware oorsake niks anders as die ontploffing van die migrantestroom en hul sametrekking in die voorstede is nie. (67)
Devecchio betreur hierdie toedrag van sake in die Franse openbare skoolstelsel en daarom bepleit hy ’n aantal stappe om weer die Franse nasionale identiteit via diversiteit te versterk:
Om weer vermenging te vestig, is dit noodsaaklik om die integrasie van nuwe aankomelinge moontlik te maak en verdere verdeling te voorkom. Dit sal nie gebeur deur middel van ’n vergesogte, polities teenproduktiewe beleid van maatskaplike behuisingskwotas nie, maar wel op twee voorwaardes – enersyds die drastiese beperking van die migrasiestroom wat verantwoordelik is vir die sametrekking van immigrantebevolkings en die opkoms van etnosentrisme; andersyds die hervestiging van gesag, die rehabilitasie van intellektuele strengheid en prestigeryke vakke (soos Latyn en kuns) in die skole wat veral deur arm en middelklas kinders bygewoon word, asook die terugkeer van oriënterende vakke wat die gevoel van behoort versterk, soos letterkunde, die aanleer van ’n taal, geskiedenis en aardrykskunde. Dis die enigste manier waarop maatskaplike en etniese gemengdheid eendag na die skool kan terugkeer ... (69)
- ’n Veranderende hoërskool
Devecchio sit in die vierde hoofstuk sy vertelling voort van hoe die ou, betreklik geïntegreerde Frankryk van sy laerskool gedurende sy hoërskooljare begin kantel het na die nuwer, disintegrerende Frankryk van vandag. Hy open die hoofstuk met sy gelukkige herinneringe aan ’n diverse Franse span se verowering van die Sokkerwêreldbeker in 1998 en kontrasteer dit met ’n herinnering aan die aand toe Algerië Brasilië in 2014 se kompetisie geklop en hy daarna na sy ouerhuis gestap het:
Langs die pad kom ek toe ’n groep jong meisies teë met hoofbedekkings en in die Algerynse vlag gedrapeer. Hulle het my venynig aangegluur en toe soos een weggetrek met ’n “Lank lewe Algerië! Lank lewe Algerië!” Een van hulle het op die grond gespoeg. ’n Spoegbol gerig aan Frankryk en die Franse? Nietemin sou hierdie jong meisie, wat sonder twyfel Franse burgerskap had, in haar land van herkoms as ’n buitelander beskou word. Binne my het dit gekook en was ek lus om terug te werp: “Lank lewe Frankryk!” Maar alleen op straat, omring deur “ondersteuners” van Algerië en haastig om by die huis te kom, het ek verkies om nie so laag te daal as om op hul uittarting te antwoord nie en aangestap sonder om te stop, deeglik bewus daarvan dat geen dialoog moontlik was nie en dat die verkeerde soort oogkontak in dié situasie tot geweldpleging kon lei of jou selfs jou lewe kon kos. Terwyl ek die laaste paar meter na die huis afgelê het en nie baie trots op myself was dat ek my blik neergeslaan het nie, het ek gedink aan die slagspreuk wat die destydse verregse Nasionale Front-party uitgeroep het: “Ons is by ons huis!” ’n Slagspreuk wat ek ’n bietjie dof gevind het, maar wat rou uitgedruk het presies dit wat ek begin voel het: die gevoel van om ’n buitelander in jou eie stad en in jou eie land te wees. (77–8)
Devecchio skiet die tipiese “antirassistiese” hoofstroom vertolking hiervan vinnig af:
Vir waarnemers wat in die bobobuurte onder mekaar woon, sou my gevoel ’n “paniekerige vrees van irrasionele aard” wees, aangevuur deur ’n “rassistiese of xenofobiese verbeelding” wat twee bevolkingsegmente teenoor mekaar stel, naamlik “die wit zefs en die ander”. Nietemin is om in jou komvandaan die meerderheid te wees ’n universele verlange: Marokkane en Algeryne reageer op presies dieselfde wyse wanneer hulle te make kry met die aankoms van buitelanders in hul eie dorp, herhaal die aardrykskundige, Christophe Guilly, graag.
Maar die eintlike verdeling in die voorstede is nie van etniese of selfs godsdienstige aard nie; dit stel nie die “wit zefs” teenoor die “Moslems” nie, maar diegene wat verlang om ’n gemeenskaplike Franse model te handhaaf waarin nuwe aankomelinge hul plek kan inneem, en diegene wat weier om te integreer en deur intimidasie of geweld hul eie godsdienstige of identiteitskodes wil afdwing. En dit teen die risiko om Frankryk te verander in ’n laslappie van onderling vyandige gemeenskappe waar, om nou weer ’n sokkermetafoor in te span, ’n Franse span saamgestel sal word waar elkeen van die spelers nie langer ’n blou trui sal dra nie, maar ’n trui met sy eie kleure en volgens sy eie reëls sal speel. (78–9)
Via hierdie sokkerverwysings begin Devecchio fokus op wat hy beskou as ’n kernkwessie van nuwer, veral Noord-Afrikaanse immigrante wat nie wil integreer by ’n (verswakkende) Franse nasionale identiteit nie, naamlik dié van ’n innerlike verskeurdheid tussen twee nasionale identiteite:
Onder die jong Franse van Noord-Afrikaanse afkoms met wie ek soms uitgehang het, ervaar talle ’n soort toutrekkery. Aan die een kant het hulle grootgeword en ontwikkel in die Franse kultuur met sy sedes en waardes; aan die ander kant, onder druk van hul gesinne of die buurt, wou hulle nie hul gemeenskap van afkoms en hul godsdiens verraai nie. Weens die koloniale verlede is die lojaliteitskonflik vir kinders van Algerynse immigrasie dalk nog feller en die gevoel van verraad teenoor hulle eie nog sterker. Om Frans te word, is in baie van hulle se oë om oor te gaan na die kamp van “die onderdrukker”, dié van die “kolonis”. (80–1)
Tekenend hiervan is hoe Devecchio in hoofstuk 5 na aanleiding van die Islamitiese terreuraanvalle op die VSA op 11 September 2001 beskryf hoe jong Moslems dié identiteit duideliker begin vertoon:
In die maande ná die aanvalle het ek hierdie nuwe mode op straat opgemerk. Die hoofbedekking het sodanig in die voorstad versprei dat dit binne ’n paar jaar die hoofmode in my voorstad en my streeksdepartement geword het. Die burka en die niqab het eweneens minder seldsaam voorgekom. Veel meer as ’n simbool van vroomheid, was om so aan te trek vir baie vroue ’n vaandel, ’n politieke simbool. ’n Mens sou dink dat die slagtings van 11 September daartoe sou gelei het dat “die Moslems”, veral in vrye lande, hulle sou afgrens van die radikaalste uitdrukkings van hul godsdiens ten einde nie met die Islamistiese terroriste verwar te word nie. Presies die teenoorgestelde het egter gebeur. Die ineenstorting van die Twin Towers is deur ’n gedeelte van hulle as ’n oorwinning ervaar – nie slegs oor die VSA nie, maar ook oor die Weste, en dus oor Frankryk. ’n Oorwinning wat hulle trots aangevuur het en hulle aangemoedig het om hulle verskil van affiliasie te bevestig. In werklikheid het 11 September die etnosentristiese dinamika in die voorstede versterk en die herislamisering van talle jong Moslems, van wie sommiges van die tweede of derde geslag van immigrasie is, versnel. (90–1)
Soos haas elke stad en dorp in Suid-Afrika eenmaal ’n Kerkstraat had, so is dit steeds die geval met “avenue de la République” in Frankryk. Devecchio beskryf hoe die een in sy woonbuurt vanaf die vroeë 2000’s verander en die gevestigde inwoners – insluitend vroeëre immigrante van ’n Arabiese Moslem-agtergrond – se gevoelens van onteiening verdiep het:
Die avenue de la République, die voetganger-aar met die meeste winkels in die buurt, het evolueer tot ’n Champs-Élysées van kebabs, Islamitiese kleredrag, godsdienstige boekwinkels en haarkapsters slegs vir vroue met hoofbedekkings. Die aanbod daar is amper so ryk en uiteenlopend soos in die Dubai Centre van ’n ander straat, rue Gabriel-Péri, waarheen mense van oor die hele streeksdepartement kom om eweseer vir hulle ’n pelgrimstog na Mekka te koop as halaalskoonheidsprodukte. Sommige lesers van hierdie reëls sal beweer dat ek dit alles versin, of, meer subtiel, dat moontlike onjuisthede inglip. Die [linkse nuuswebwerf] Mediapart sal my moontlik die eer van ’n teenondersoek aandoen; “kodebrekers” sal verduidelik dat as ’n mens lank genoeg soek, jy steeds niehalaalvleis in Saint-Denis sal kry, en dat dit nie so sleg met die ideaal van vreedsame naasbestaan gaan nie, want daar bestaan steeds kafees wat nie slegs vir mans is nie! Die feit bly egter dat hierdie teenvoorbeelde nie die werklikheid kan verdoesel van ’n lopende Islamisering wat deur talle van die gevestigde inwoners – insluitend van ’n Arabiese Moslem-agtergrond – as ’n soort onteiening, oftewel ’n soort kolonisering ervaar word nie. (92–3)
Die filosoof Bernard Stiegler, wat beslis aan die linkerkant van die politieke spektrum was, het in die vroeë 2000’s die manjifieke frase simboliese ellende ontwikkel om te verwys na jongmense wat toenemend sonder geestelike en kulturele oriëntasiepunte grootword vanweë ’n krisis van kulturele oordrag wat veroorsaak word deur die skade wat nuwe tegnologieë aanrig aan instellings van oordrag soos die gesin, die skool en selfs die universiteit. Devecchio kon net sowel dié begrip in gedagte hê wanneer hy skryf oor ’n dubbele gebrek aan kultuur van vele van sy tydgenote van ’n Arabiese Moslem-agtergrond op hoërskool – en hoe dit ’n teelaarde vir die omarming van ’n radikale Islam word:
Dis in die ouerhuis waar alles staan of val. Maar die ouerhuise van die meeste van my tydgenote op hoërskool was ’n geslote omgewing. Vanaf die tyd toe die “Gaulois” [gevestigde ouer soort Franse – JR] uit die omgewing vertrek het, trek buitelandse bevolkings van ’n dikwels Moslemkultuur saam in die voorstede en funksioneer as mikrosamelewings waar ’n mens selfgenoegsaam in jou gemeenskap woon, deur ’n satellietskottel regstreeks geskakel met jou land van herkoms. Heelwat jongmense wat in hierdie buurte woon, is heeltemal onkundig oor Frankryk, sy landskappe, sy aardrykskunde, sy geskiedenis, wat hulle tot “kolonisasie” en “slawerny” verskraal terwyl hulle oor ’n “rassistiese” en “Islamofobiese” Frankryk fantaseer. Van die Westerse beskawing het vele van my skoolgenote slegs kitskosrestaurante en selfone geken, ’n verbruikersamelewing sonder ideaal waarby hulle gesukkel het om in te skakel. Om die waarheid te sê, van hul land van herkoms, waarheen hulle slegs een maal per jaar vir vakansie is, weet hulle ook nie veel nie ... Jong Franse van Algerynse afkoms idealiseer byvoorbeeld ’n verbeelde Algerië wanneer hulle “one, two, three, viva Algérie” uitroep, maar hulle is volkome onkundig oor die ellende, korrupsie en diktatuur waarvan daardie land vrot is. Nog meer as die gewig van hulle dubbele kultuur, hang die identiteitsonbehae van talle jongmense van die voorstede saam met hulle dubbele gebrek aan kultuur: Hulle is [ernstig] verskeur – nie soseer tussen twee kulture nie, as tussen twee subkulture. Hulle voel nêrens tuis nie, soos in die sanger Renaud se lied oor tweedegeslag-immigrante, “Deuxième génération”, se woorde “ni d’ici, ni de là-bas” (“nie van hier nie, nie van daar nie”). Dié verlies aan kultuur veroorsaak ’n frustrasie wat uitdrukking mag vind in geweld en haat van Frankryk, en kan strek tot by ’n kanteling na die Islamisme. Die radikale Islam bied inderdaad ’n pasklaar antwoord op die aanpassingsprobleme van sekere jongmense deur Frankryk in die besonder en die Westerse samelewing in die algemeen tot sondebok te maak. Die Islamisme bied ’n toevlug wat jongmense van die voorstad in staat stel om hul identiteitsdilemma te bowe te kom deur aan hulle ’n plaasvervangende affiliasie te bied (nóg “Arabier” nóg Frans, maar Moslem), maar ook oriëntasiepunte en waardes, ’n ideaal wat aantrekliker as dié van die verbruikersamelewing is, en einde ten laaste ’n groot verhaal waarby hulle kan integreer. Ek is oortuig dat ’n aantal van die djihadiste wat rondom 2015 afgesit het na Sirië om daar te gaan veg, gelyk het soos sekere van my skoolgenote. Nie “ongebalanseerdes” nie, maar ongeïntegreerde individue op soek na hul plek in ’n dodelike ontvlugting. (101–3)
Devecchio wys op nog ’n aspek wat in sy tyd op hoërskool en sedertdien die integrasie van vele jongmense uit ’n Arabiese Moslem-agtergrond bemoeilik het, naamlik die seksuele:
Die kulturele breuk kon ook in my hoërskool waargeneem word aan die hand van verhoudings tussen seuns en meisies. ’n Mens se hoërskooljare is dikwels dié van jou eerste flirtasies, jou eerste vryery en eerste liefde. Dit was egter nie die geval in Saint-Denis nie. Van my drie jaar by die lycée Suger het ek nie ’n enkele herinnering aan mense wat soen in die ontspanningsarea nie, of selfs van ’n seun wat ’n meisie se hand gemaklik vashou nie. Asof ’n mens nie op 17 in die voorstad verlief was nie. Asof liefde aan die ander kant van die stedelike verbypad geëindig het. Speletjies van verleiding, wat so tipies van dié ouderdom is, was afwesig.
Wat seks betref, was dit doodeenvoudig taboe. Die meeste van die meisies het nie grimering gedra nie en vormlose sweetpakbroeke bo minirompies verkies. Hulle het vir hul “reputasie” in die buurt of hul “gemeenskap” gevrees. Ek onthou dat ek eendag per ongeluk ’n gesprek tussen twee van my jong klasmaats in graad 10 gehoor het. Ek het agter die twee meisies op die bus gesit en ek moet bieg dat ek my klein gehou het om hulle af te luister. Leila, ’n mooi brunet, het haar vriendin, Alison, in haar vertroue geneem oor haar vrees om verlief te raak en geil te voel. “Om jouself vir ’n seun te gee?” Sy het verkies om nie daaraan te dink nie, want dit was vir haar verbode voor die huwelik. En om van haar kuisheid seker te maak, het haar pa sedert sy vyftien geword het, haar gereeld aan ’n maagdelikheidsondersoek onderwerp. As sy nie “suiwer” sou bly nie, het sy dit betreur, sou haar gesin “onteer wees” en sou sy deur haar ouers “verloën” word ... Later, tydens ’n klasbesoek deur vrywilligers van Gesinsbeplanning oor die voorkoming van vigs, het ons ’n lang verduideliking oor die verhoogde besmettingsrisiko’s van anale seks gekry. Hulle het opgemerk dat heelwat jong meisies van Noord-Afrikaanse agtergrond dié praktyk opgeneem het, omdat dit hulle in staat gestel het om seksuele verhoudings te hê en terselfdertyd “tegnies” voor die huwelik steeds ’n maagd te wees. Op paradoksale wyse het sommige seuns dié meisies as “goeie meisies” getakseer, want aangesien hulle nie “normale” seksuele verhoudings had nie, het hulle hul “suiwerheid” bewaar. In die oë van talle jongmense van die voorstede is “’n goeie meisie ’n meisie wat nie saam met seuns slaap nie”, wat “haarself vir haar toekomstige man oppas”, terwyl ’n vrye meisie “’n slet”, “’n hoer” ... ’n “Franse meisie” is. Dié argaïese siening van verhoudings tussen mans en vroue, wat uit Moslemlande ingevoer is en te selde deur die feministe gekritiseer word, is sonder twyfel een van die sleutels om ’n geslote identiteit en die onmoontlike integrasie van talle jongmense van die voorstede te begryp – sowel seuns as meisies. Vir baie jong vroue van Noord-Afrikaanse agtergrond is die dilemma pynlik: die keuse tussen om gou te trou met ’n man van hulle “gemeenskap” op gevaar daarvan af om haar van die Franse samelewing af te sny en haar onafhanklikheid te verloor, en om die lewe van ’n jong, bevryde Westerse vrou te lei maar gedwing te wees om bande met haar gesin en haar milieu van afkoms te verbreek. (103–5)
Dis natuurlik geen verrassing nie dat die gevoelens van ontheming en onteiening wat gevestigde Franse teen hierdie agtergrond ervaar – met name die “wit zefs” – tot grondverskuiwings in die Franse politiek lei, veral in die toename van steun vir die konserwatiewe populistiese party wat deur die Franse hoofstroommedia as “verregs” beskryf word, oftewel Marine Le Pen se party, Nasionale Samekoms, voorheen bekend as die Nasionale Front toe dit nog onder leiding van haar oorlede pa, Jean-Marie Le Pen, gestaan het. Dieselfde gekussingde Franse hoofstroommedia aan veral die linkerkant is alte geneig om die “wit zefs” se stem vir dié party as rassisties af te maak.
Devecchio bied egter ’n ánder verklaring:
’n Xenofobiese, rassistiese stem? Die alledaagse werklikheid van gewone Franse is minder Manicheaans – besonderlik dié van hulle wat naby aan of in die “gebiede verlore vir die Republiek” woon. Baie van hulle is self immigrante, insluitend uit Noord-Afrika of elders in Afrika. Hulle almal het bure of vriende van diverse afkoms; kultureel gemengde huwelike word deur hulle aanvaar; en nie een van hulle is ten gunste van ’n volkome geslote samelewing nie. Hul gevoelens jeens die Ander is dikwels gemengd, afwisselend tussen verfoeiing en broederlikheid. “Ons is nie rassisties nie, maar is besig om rassisties te word,” is ’n sin wat ek al dikwels in die voorstede gehoor het. Want die wanordelikhede wat met massiewe migrasie en die mislukking van integrasie saamhang, word as ’n eksistensiële bedreiging ervaar. Besonderlik deur diegene wat soms op minagtende wyse “wit zefs” genoem word. Omdat hulle hul nou bevind in ’n minderheidsposisie, gekonfronteer deur aggressiewe etnosentrisme en alledaagse geweld, voel hulle onteien. Gister se stem vir die Nasionale Front en vandag s’n vir die Nasionale Samekoms is vir hulle ’n manier om hulself hoorbaar te maak vir “die elites”, wat hulle – dikwels met rede – beskou as afgesny van en ongevoelig teenoor hulle lot. ’n Manier om uit te kreet dat hulle nie wil verdwyn nie. (114–5)
Dié grondverskuiwing in die Franse politiek het ook ’n ekonomiese oorsaak, naamlik globalisering. Devecchio vertel hoe hy sy ouers soms vergesel het as hulle voorraad vir hul winkel gaan koop het in Troyes, ’n stad wat eens 25 000 werkers in die tekstielbedryf had en in sy kinderjare nog een van die Europese hoofstede van die vervaardiging van gebreide onderklere was:
Ek het daar saam met my ouers die fabrieke van Petit Bateau besoek. Dit was net voor die tsoenami van globalisering oor Frankryk gespoel en duisende poste en ’n bepaalde bedryfskundigheid na ander lande geneem het. My ouers het toegekyk hoe ’n groot deel van hul klante hulle tot groot winkels en Chinese tekstiel gewend het. Rondom die eerste dekade van die 2000’s het deïndustrialisering en die agteruitgang van die kleinhandel versnel. Vir my ouers was dit die einde van die vet jare en die begin van die maer jare. Dié maatskaplike afgradering het gepaardgegaan met die kulturele disintegrasie van hulle woonbuurt. (117)
By terugblik op die betreklike apatie onder die inwoners van die Saint-Denis van sy hoërskooljare onthou Devecchio dat betogings teen die opkomende party van die Le Pens eintlik min steun gekry het – terwyl ’n mens juis sou verwag het dat dit anders moet wees met immigrante van Noord-Afrikaanse afkoms. Devecchio het wel ’n verklaring hiervoor, wat ’n verdere aanduiding van die sklerose van die eens gesonde Franse politiek is:
[E]k het die gevoel gekry dat die meeste van my skoolgenote nie deel van die nasionale gemeenskap gevoel het nie, al was hulle in Frankryk gebore. In hul oë het die Franse presidentsverkiesing hulle nie aangegaan nie. Die voorstad was nou in alle opsigte vir Frankryk ’n vreemde heelal, geregeer deur ander sosiokulturele kodes waar die gemeenskaplike kodes nie meer toegepas is nie. Hul gebrek aan belangstelling in die presidentsverkiesing was volgens my bowenal ’n simptoom van stille afskeiding. (120)
- Die onluste van 2005
Die grondverskuiwings in die Franse politiek weens massamigrasie van mense wat nie meer belanggestel het om te assimileer nie, en terwyl die Franse nasionale identiteit begin disintegreer het, sou neerslag vind in die ongekende onluste van 2005 en die hoofstroommedia se eensydige nuwe opvatting van hoe die ideale slagoffer lyk. Devecchio behandel hierdie kwessie in die sewende hoofstuk van sy boek, wat hy soos volg inlei:
Om in of naby ’n voorstad te woon, is om soms die indruk te hê dat jy swem in ’n swembad vol petrol omring van mense wat met vuurhoutjies speel. In die alledaagse lewe probeer die inwoners van die voorstede nie te veel daaraan dink nie ten einde nie in vrees te lewe nie. Maar hulle weet dat ’n vonk vroeër of later die vuur gaan aansteek. So was die onluste van 2005 in Épinay-sur-Seine verwelkom met ’n mengsel van fatalisme en blinde woede. (125)
Een van die slagoffers van die 2005-onluste wat vergete geraak het omdat hy nie gepas het by die hoofstroommedia se beeld van die ideale slagoffer nie, is Jean-Claude Irvoas. Nadat hy vroeër die dag van 27 Oktober 2005 met sy verpleegstersvrou en hul sestienjarige dogter op die oewer van ’n nabygeleë rivier piekniek gehou het, het hy deur Épinay-sur-Seine huis toe gery. Hy was ’n konsultant van ’n beligtingsfirma en stop toe in Rue de Marseille om die straatligte van die firma, wat in die area geïnstalleer is, vir die firma af te neem. Hy gee toe aan sy vrou en dogter opdrag om in die motor te wag en gaan neem gou die straatligte af. Op pad terug motor toe moes sy vrou en dogter aanskou hoe hy skielik deur drie mans agtervolg en daar en dan aangerand word – in so ’n mate dat hy uiteindelik in ’n nabygeleë hospitaal aan sy wonde beswyk het (128–9).
Devecchio skryf verder:
Nie een van die tientalle getuies op die toneel sou uit eie beweging ’n verklaring gaan aflê nie. Sonder die beeldmateriaal van die munisipale veiligheidskameras sou die moordenaars dalk nog op vrye voet wees. Die toneel, wat deels op film vasgelê is, sou negentig sekondes duur. Dit is gedeeltelik vertroebel deur ’n enkele treurwilger binne beeld. Die motief van die aanvallers was ewe vaag. Nie in staat om hul daad duidelik te regverdig nie, sou Jean-Claude se moordenaars tydens hul verhoor na hom verwys as ’n “indringer”.
In dié omgewing, wat bekend was vir sy dwelmhandel, was hulle ongetwyfeld “bang” dat die polisie hulle oplaas sou raaksien ... Irvoas sou [volgens hulle] voorgegee het om “’n polisieman van Nanterre” te wees. Dit was by die aanhoor van dié woorde dat Benoît Kusonika, wat die noodlottige hou toegedien het, sou “uitgehaak het”. Dit was in elk geval ondenkbaar vir ’n “indringer” om sonder begeleiding te stap in ’n gebied wat onder die beheer van skollies en dwelmhandelaars is. Wat nog te sê met ’n kamera. “In Orgemont kan jy dit nie eens waag om na die ouens te kyk nie, so as jy hulle afneem speel jy met jou lewe,” het ’n inwoner van die area dit destyds opgesom. Uit vrees dat dit as godslasterlik beskou kon word, is geen blomme of kranse destyds neergesit waar Irvoas gesneuwel het nie. Ná die drama het slegs twee winkeliers van die straat die munisipale doodsberig in hul vensters opgeplak. (129–30)
Devecchio verwys na nog twee mans wat in die 2005-onluste vir niks met hul lewens geboet het – die 52-jarige Alain Lambert, ‘n veiligheidswag van ’n hoërskool in die buurt wat dood is van rookinaseming nadat vier motors op die skoolterrein, waaronder sy eie, om 3.45 die môre aan die brand gesteek is en hy die brande tevergeefs probeer blus het; en die 60-jarige Jean-Jacques Le Chenadec, na wie die jongmense van die omgewing as “die oubaas” verwys het, en wat met ’n vuishou doodgeslaan is toe hy probeer het om ’n asblik wat deur oproeriges voor sy woonstelgebou aan die brand gesteek is, se vuur te blus. Devecchio skryf:
Die name van [twee jong Moslemmans wat op vlug van die polisie in ’n elektriese transformator doodgeskok is] Zyed en Bouna is vermeld in honderde artikels, hul verhaal in tientalle berigte vertel, maar ook in verskeie films of reekse; ure se lugtyd is aan hulle bestee. Twee dekades later, op 27 Oktober 2025, was dit hul gesigte wat [die linkse dagblad] Libération gekies het om op die voorblad van hul uitgawe vir die twintigjare herdenking van die onluste te plaas. Die voorname van Jean-Claude, Alain en Jean-Jacques het nêrens of feitlik nêrens gefigureer nie. Hulle word stelselmatig verdoesel. Die rede waarom ek hul lewens en hul geskiedenisse in hierdie boek in herinnering wou roep, is nie soseer om dubbele standaarde uit te wys nie, al sy dit heel werklik. Nog minder om ’n wedywering tussen slagoffers te voed, wat in my oë verfoeilik sou wees. Nee, dis omdat ek glo dat dit gebiedend noodsaaklik is om die gewone Franse se stemme te hoor en te antwoord op hul bekommernisse. Dit is die Franse wat deur hulle onsigbare teenwoordigheid en hul stille weerstand ’n sweem van beskaafdheid (civilité), indien nie beskawing (civilisation) nie, in sekere voorstede en buitewyke handhaaf. Deur hulle leefwyse te verdedig, bewaar hulle ’n vorm van die gemeenskaplike goeie en rem hulle ons gemeenskaplike verbrokkeling. As ons na hulle geluister het in 2005, as ons met hulle diagnose rekening gehou het, sou Frankryk nie in 2023 nuwe onluste beleef het nie. (132-3)
Om sake te vererger, is die Franse regering se reaksie, naamlik om die oorsake van dié probleme te verskraal tot ’n kwessie van beter stadsbeplanning, volgens Devecchio ’n verdoeseling van die werklikhede op voetsoolvlak. Hier verwys hy na ’n onderhoud wat hy aan die begin van sy joernalistieke loopbaan in ongeveer 2011 gevoer het met ’n voormalige linkse aktivis wat destyds al meer as 30 jaar in die voorstad Bosquets gewoon en die eintlike kwessie helder onder oë gesien het:
“Dis nie omdat die woonstelblokke opgeknap word, wat die inwoners se leefwyse verander nie. As ’n mens die dekor verander sonder om die rolverdeling ook te verander, beteken dit niks nie,” het Michel, ’n ontnugterde voormalige kommunistiese aktivis wat al meer as dertig jaar in Bosquets woon, vir my gesê. Sy verwoording het in my geheue vasgesteek. Met ’n paar woorde het Michel alles gesê. Die munisipale beleid was gefokus op stadsbeplanning, kwessies van toeganklikheid of die stryd teen rassisme, maar dit het die onderwerp van migrasievloei en die problematiek van kulturele verdelings gesystap. (137)
Devecchio verwys na ’n ontstellende gesprek wat hy destyds in dieselfde omgewing met ’n jong inwoner gevoer het as aanknopingspunt om deur te dring tot die kommerwekkende uitdagings van die jeug in die voorstede, wat volgens hom ’n groot bedreiging vir Frankryk se maatskaplike en politieke stabiliteit inhou:
Tydens my verslaggewing in die woonbuurte van Clichy-Montfermeil het ek voor elke woonstelblok jongmense teëgekom wat soos zombies ronddwaal of dagga rook. Die meeste van hulle het hulle gereedgemaak om die nag daar deur te bring onder bleek neonligte wat veronderstel was om soos kolligte te lyk. Ek onthou die vreesaanjaende sin van een van hulle, Marcus, wat soos ’n jong Amerikaanse kletsrymer gelyk het: “Die volgende onluste sal ’n oorlog wees. ’n Oorlog tussen diegene wat geld het en die res. Tussen ons en die Jode.” Jean-Claude Irvoas se moordenaars was nie slagoffers van maatskaplike ellende nie, maar ontbeskaafde jong mans wat stamreflekse gehoorsaam het. Die onluste van 2005 was ook nie ’n “populêre opstand” nie, maar die begin van ’n gebiedsoorlog gelei deur ’n ongeïntegreerde jeug wat met moedersmelk haat vir wit mense, Jode en Frankryk ingekry het. Die teikens wat hulle kies, naamlik polisiestasies, skole, munisipale kantore of brandweerwaens, getuig van hulle minagting vir die Franse staat en hul wil om dit die stryd aan te sê. Hulle haat het oor dekades gedy op die prysgawe van assimilasie en die bevordering van ’n multikulturele model wat nie by die naam genoem is nie en nie anders kon nie as om te lei tot die ontploffing van etnosentrisme. So het dit eweneens gedy in die vrugbare grond van wetteloosheid (anomie), van die afwesigheid van oriëntasiepunte, van verbruikerisme, van kulturele relativisme. Dié proses van ontbeskawing het nie slegs die jeug van die voorstede geaffekteer nie, maar helaas ook groot gedeeltes van die jeug in die algemeen; dog dié verskynsel is dikwels omvangryk onder immigrantekinders wie se ouers nie altyd die Franse taal of sosiokulturele kodes bemeester nie. Tydens my gesprekke met die jeug van die voorstede is dit wat my mees dikwels getref het, hulle armoedige woordeskat, hul gebrek aan woorde om hul gedagtes of emosies uit te druk. Waarskynlik ontstaan die geweld in die voorstede in ’n mate uit hierdie onvermoë om hulself in woorde uit te druk. “Dis in die leegte van denke en die onvermoë om geroer te word, dat die Bose ingeskryf word,” skryf Hannah Arendt.
Die onluste van 2005 was ongetwyfeld die produk van die ontmoeting tussen die era van leegheid en die Islamisme. Woede en haat is gevoed deur die retoriek van die Moslembroederskap en die dryfkrag van die radikale Islam. ‘n Kenner van die politieke Islam, Gilles Kepel, wat ek die eerste maal ontmoet het toe ek nog ’n beginnerjoernalis by die Bondy Blog was, beklemtoon al sedert 2005 die rol van die Islamisme in die verspreiding van die onluste. Die dood van Zyed en Bouma was die element wat dit ontketen het, maar aanvanklik was die onluste beperk tot Clichy-sous-Bois en Montfermeil. Dit was die afvuur van traangas deur die polisie naby ’n moskee terwyl Ramadan in volle swang was wat tot die verspreiding van die beweging deur die hele Frankryk gelei het. Wat niks anders as ’n eenvoudige voorval was nie, is deur Islamistiese predikers voorgehou as “die vergassing van die Bilal-moskee” en gelykgestel aan ’n oorlogsverklaring teen Islam. Dié polities-religieuse instrumentalisering is destyds deur die oorgrote meerderheid waarnemers met stilte begroet en dit word vandag nog grootliks geïgnoreer. Die onluste van 2005 het egter ’n wending verteenwoordig. Die jong djihadiste wat vanaf 2015 aangesluit het by die Islamitiese Staat is grootliks die kinders van die 2005-onluste. Op ’n meer onregstreekse wyse word die sogenaamde reaksionêre geslag wat van die Nasionale Samekoms ’n party grootliks ondersteun deur en bestaande uit jongmense sou maak, óók uit dié hoofstuk van die geskiedenis gebore. Toe ek [Marine Le Pen se regterhand en opvolger] Jordan Bardella die eerste maal in 2014 ontmoet het toe hy nog bloot ’n jong partyaktivis van die Paryse buitewyke was, het hy vir my gesê dat die 2005-onluste die begin van sy politieke betrokkenheid was. Tien jaar later sou hy daarna terugkeer in een van die hoofstukke van sy 2024-boek, Ce que je cherche (“Wat ek wil hê”; Fayard). (137–40)
- Dekolonisasie, Amerikaanse kritiese rasteorie en die Franse universiteite
Vir die leser wat die Suid-Afrikaanse studente-opstande van 2015 en 2016 (“Rhodes must fall”, “Fees must fall”) onder invloed van Amerikaanse “kritiese rasteorie” en in die naam van “dekolonisasie” onthou, mag dit ’n verrassing wees om te verneem dat soortgelyke gebeure reeds vanaf 2005 in die Franse universiteitswese begin afspeel het. Ofskoon die regse Nicolas Sarkozy sy verkiesing tot Franse president onder meer te danke had aan sy beloftes om veiligheid en die Franse nasionale identiteit ná die 2005-onluste te herstel, wys Devecchio op ’n ander belangriker oorwinning wat in dieselfde tyd behaal is:
Maar terwyl Nicolas Sarkozy die slag op die politieke terrein gewen het, sou dit die multikulturalistiese linkses en spesifiek die dekoloniale linkses wees wat die kulturele slag sou wen. Dit was in die eerste plek in die universiteit, in die gedrang ná die 2005-onluste, dat die dekoloniale denke ontwikkel is en bietjie vir bietjie deur al die instellings versprei het. Ek was destyds besig met my studie in geskiedenis aan die Universiteit van Parys-8 van Saint-Denis. Destyds het ek nie voorsien dat dit enkele jare later die middelpunt van die dekolonialisme en die Islamo-linksisme (islamo-gauchisme) sou word nie. Daar was egter wel enkele aanduidings van wat sou gebeur. (145–6)
Devecchio beskryf die oomblik toe die ideologiese wind aan sy universiteit begin draai het, die dag toe hy in die saal waar politieke partye en bewegings normaalweg hul stalletjies had, ’n pamflet in die hand gestop is oor ’n nuwe, onbekende groep wat almal die tradisionele Bedoeïense hooftooisel, die keffiyeh, gedra het:
Terwyl ek verwag het om die soveelste Marxistiese variasie op die tema van die klassestryd te lees, was ek verras om ’n teks op ’n ander trant te ontdek. Dit was die stigtingsoproep van die Inheemses van die Republiek (PIR)! Dit was Januarie 2005, kort ná die aanvaarding van die wet wat die Moslem-hoofbedekking in die skool verbied het en ’n paar maande voor die voorstede deur die onluste verswelg sou word. “Frankryk was en is steeds ’n koloniale staat waarvan die dekolonisasie steeds aan die orde van die dag is!” het die pamflet verklaar. En voortgegaan om ’n prentjie te skilder van ’n rassistiese Frankryk wat die praktyke van die kolonialisme in die stedelike buitewyke reproduseer, met name “die koloniale praktyke om Islam te bestuur”. “Die bevolkings van die ‘voorstede’ is ‘verinheems’ [oftewel behandel soos die inheemse inwoners van voormalige Franse kolonies] en uitgeskuif na die rand van die samelewing. Terwyl hulle bloot op grond van hoe hulle lyk deur die polisie op straat voorgekeer word, allerlei provokasies toeneem en allerhande soorte vervolgings, wat soms ekstreem is, bly groei, word polisiebrutaliteit selde gesanksioneer deur ’n tweevlakkige regstelsel,” het die leiers van die PIR geskryf. (148)
In dieselfde dae word Devecchio bewus van die Frans-Algerynse aktivis wat as teoretikus van die PIR na vore tree, Houria Bouteldja. Dieselfde soort binêre denke en essensialisme wat die opstande van 2015 en 2016 in Suid-Afrika dikwels ontsier het, is ook by haar vaardig:
In die binêre denkstelsel van die inheemses, wat later saamgevat is in die titel van ’n 2016-boek deur Bouteldja, Les Blancs, les Juifs et nous (“Die blankes, die Jode en ons”), word die “blanke Westerse man”, waarby die “Jood” ingesluit word, vir tyd en ewigheid omhein in die status van die onderdrukker, terwyl die minderhede vir altyd die slagoffers is: die “inheemses”. Die PIR, wat sy teoretiese inspirasie gedeeltelik kry van die “rasstudies” wat op Amerikaanse kampusse in die mode is, is radikaal vyandig teenoor die Franse universalistiese, assimilasionistiese republikeinse model, wat voorgehou word as ’n slenter wat die blywendheid van diskriminasie verdoesel. (149)
Volgens Devecchio het die radikale PIR se idees intussen inslag gevind in die Franse radikale linkse politiek, met name Jean-Luc Mélenchon se invloedryke party, La France Insoumise (LFI, “Frankryk ongeboë”) (149). Devecchio wys meewarig daarop hoe sy destydse universiteit gedien het as laboratorium vir die nuwe linkses wat klas met ras vervang en wrewel kweek:
Die dekoloniales het daar ’n bondgenootskap gesluit met die linkse bewegings in agteruitgang en bygedra tot hul ideologiese herkonfigurasie deur die klassestryd en geveg teen die kapitalisme te vervang met die “rassestryd” en die geveg teen die “Sionistiese imperialisme”. Die Inheemses was ook bewus daarvan dat die universiteite in die algemeen, en Parys-8 in die besonder, masjiene vir die vervaardiging van ontklassing en wrewel is. Terwyl ek ’n student daar was, het die universiteit met sy afgeleefde mure en sy oorlaaide lesinglokale en amfiteaters ’n mens nie juis laat droom nie. Daar was nie eintlik keuring van studente nie en studente kon tot soveel as tien jaar lank studeer sonder om uiteindelik enige werksvooruitsig te hê, veral in die sosiale-wetenskappe-departemente. Nietemin het vele van hulle die illusie gehandhaaf dat hul graad hulle uiteindelik tog in staat sou stel om toegang tot ’n beter lewe te verkry. Niemand hoef verbaas te wees dat dit uiteindelik sou uitloop op frustrasie en dat sommiges daarmee geradikaliseer is nie. (152–3)
Devecchio sluit dié hoofstuk oor sy voorgraadse jare by Parys-8 af met verwysing na die profetiese voorspelling van die studieleier van sy skripsie in geskiedenis, Daniel Lefeuvre, wat ’n kenner van die Franse kolonialisme was en in ’n boek daaroor reeds in 2006 skryf:
Die risiko is groot dat ’n deel van die Franse, oortuig daarvan dat hulle vir altyd die inheemses van die Republiek sal wees wat onherroeplik deur die koloniale skande gestempel is, met ’n skoon lei wil begin en terselfdertyd ontslae wil raak van ons instellings en die beginsel waarop hulle berus, naamlik die gelykheid van individue in beginsel. ’n Mooi omwenteling van perspektief, wat miskien reeds onderweg is en daartoe sal lei dat daar in Frankryk ’n laslappie van gemeenskappe met hul eiesoortighede, hul eie reëls, hul eie regte, hul eie polisie en hul eie regstelsel tot stand gebring word, en waarvan die lidmaatskap aan individue toegeken sal word, met of sonder hul instemming. ’n Frankryk waar ’n mens wit, swart of Arabies; Christen, Jood of Moslem – uiteindelik ateïsties – sal wees alvorens jy Frans is. Kortom, ’n Frankryk van apartheid.” (159–60)
- Nagraadse studiejare: Wat van diversiteit?
In die volgende hoofstuk het Devecchio dit oor die eerste deel van sy nagraadse studie aan ’n joernalistiekskool in Lille as deel van ’n sonderlinge program wat ontwerp is as alternatief vir die benadering van regstellende aksie, en met die oog daarop om belowende studente van uiteenlopende maatskaplike en – belangrik – aardrykskundige agtergronde vir ’n loopbaan in die joernalistiek op te lei. Dit bied aan Devecchio die geleentheid om sy kritiek op regstellende aksie te verwoord:
[N]iemand in ons jaargroep wou gesien word as deel van ’n “kwota” nie – ook nie diegene wat later vaandeldraers van ’n sekere etnosentrisme sou word nie. Ons sou so iets vernederend vind en ons het geweet dat so ’n etiket op lang termyn sou bly kleef. Vandag, in die era van die wokisme, is ek meer as ooit gekant teen enige vorm van regstellende aksie, ongeag of dit gebaseer is op etniese, religieuse of “gender”-kriteria. Begunstigdes van sodanige beleide ly aan ’n gevoel van illegitimiteit, selfs al mag hulle goed gekwalifiseerd wees. Diegene wat nie deur sulke beleide begunstig is nie, voel ingeloop en onregverdig benadeel. Uiteindelik vererger hierdie beleide bloot die verdelings wat hulle voorgee om te beveg, word individue ingeperk in identiteite waarvan hulle verondersteld is om deel te vorm, en word die wedywering om slagofferskap tussen verskillende groepe vererger. (167–8)
Dit bring Devecchio by die bespreking van een van die interessantste en mees tragiese aspekte van sy boek, naamlik dié van die innerlike verdeeldheid van sommige van sy tydgenote uit ’n migrante-agtergrond. Die persoon wat hy hiervan as voorbeeld voorhou, was een van sy klasmaats by Lille, die Marokkaans-Franse joernalis Nassira El Moaddem, wat die beroepsleer in die Franse media vinnig sou bestyg:
Hoekom het Nassira, wat in Frankryk gebore en getoë is en werklik maatskaplik uitgestyg het, uiteindelik daartoe gekom om haar land te verwerp? Haar trajek wys dat die maatskaplike faktore wat dikwels voorgehou word as die vernaamste oorsaak van die afskeiding van die immigrantejeug, nie alles verklaar nie. In weerwil van haar beroepsukses en haar maatskaplike integrasie, hou Nassira vol om wrewel (ressentiment) jeens Frankryk uit te druk. My hipotese is dat haar onbehae van ’n kulturele en oplaas eksistensiële inslag is. Ondanks die feit dat sy haar dubbele herkoms as ’n skat voorhou, is Nassira verskeur deur ’n lojaliteitskonflik wat des te diepgaander is omdat sy sowel ’n kulturele as ’n klasseoorloper is. Soos soveel jongmense van Noord-Afrikaanse afkoms van haar geslag bly sy lewe onder die waaksame oog van haar ouers, broers en susters in die buurt waarin sy grootgeword het. In haar oë is om haar Franse identiteit op te neem om haar naasbestaandes te verraai: haar ma wat die kopdoek dra, haar werkerspa in die Matra-motorfabriek wat sy werk verloor het; haar vriende van die buurt wat nie so gelukkig soos sy was om op dieselfde wyse uit te styg nie; die gemeenskap waarvan sy weier om haar afstand te neem. Haar getrouheid aan haar maatskaplike en kulturele agtergrond sou haar geheel en al tot eer gestrek het as dit nie uiting gevind het nie in ’n diskoers van haat gerig teen Frankryk en die Franse nie. Asof om Frankryk van alle euwels te beskuldig vir haar ’n manier is om borg te kry, om kwytskelding vir haar sukses en haar integrasie te kry. Asof Nassira haar identiteitsdilemma uitdryf deur haar twiets en haar wraakartikels. Andere wat nie so goed soos sy opgelei is nie, het oorgehel na die Islamisme of na geweldpleging in die nagte van die onluste. Dis vanselfsprekend nie vergelykbaar nie, maar hul wrewel en die meganismes wat tot hul radikalisering gelei het, is soortgelyk. (175)
Daarteenoor, in ’n hoofstuk waarin hy nostalgies terugkyk na sy jare verbonde aan die Bondy Blog toe dit nog werklik divers was, en voor die wokesekte die oorhand gekry het, kom Devecchio tot die slotsom dat die gunstige trajek wat eens vir ’n wit zef soos hy self moontlik was, nou iets van die verlede is:
Ná dekades van ’n slagofferdiskoers en ’n verworde antirassisme is ’n teenreaksie voorspelbaar en in sekere mate nodig. Dit kan egter ongelukkig die werklike inspanning van talle kinders uit ’n beskeie agtergrond ongeag hul kulturele herkoms in die gedrang bring. Die diversiteitsideologie het onteenseglik dieselfde proses van fragmentering wat dit voorgee om te beveg, vererger. (203)
Dit bring Devecchio by ’n hoofstuk waarin hy terugkyk op sy jare as student aan die Paryse eliteskool vir die joernalistiek, die Centre de formation des journalistes (CFJ). As wit zef uit die voorstede het hy beslis nie ingepas by die tipiese studenteprofiel van die CFJ nie, wat hy soos volg beskryf, en wat veel verklaar van die ideologiese eenvormigheid in die Franse hoofstroommedia:
Toe ek aan die CFJ studeer het, was die meeste van die studente taamlik eenvormig: kinders van dosente, landdroste, beroepslui, uitgewers ... Op enkele uitsonderings na, waarvan ek een was, was hulle almal die produkte van die Paryse Science Po (Hoëre Skool vir Politieke Wetenskap) of een van sy variante in die groot plattelandse stede ... Maar wat in my oë nog meer problematies as die maatskaplike eenvormigheid was, was die ideologiese eenselwigheid. Nog meer as die joernalistiek van ’n sekere klas, produseer die CFJ ’n joernalistiek van samespanning. Die meeste van my klasmaats het inderdaad dieselfde wêreldbeskouing, dieselfde politieke idees, dieselfde kulturele verwysings, dieselfde minagting vir die gewone mense, en dieselfde blik op die internasionale gedeel. Die CFJ is dus eweseer ’n ideologiese as ’n sosiologiese borrel. (212)
Dit was in dié fase van sy lewe dat die Franse presidentsverkiesing van 2012 plaasgevind het, en waartydens die sosialistiese kandidaat, François Hollande, verkies is. Ondanks dié oorwinning merk Devecchio op dat dit ook die era was waarin die tradisionele organiese band tussen die Sosialistiese Party en mense op voetsoolvlak tot ’n einde gekom het – en vervang is deur die groeiende organiese band tussen die Nasionale Samekoms en die mense op voetsoolvlak:
Dit was tydens hierdie veldtog dat die Sosialistiese Party sigself geskaar het by die invalshoek van die progressiewe dinkskrum Terra Nova. Laasgenoemde het aanbeveel dat die linkses moet steun op ’n nuwe stedelike kieserspubliek bestaande uit “gegradueerdes”, “die jeug”, “minderhede” en “vroue” – almal verenig deur “progressiewe kulturele waardes”. Met ander woorde, die sosialistiese werkersklaslinkses moes verdwyn om plek te maak vir die “antirassistiese”, diverse linkses. Tydens dié veldtog het François Hollande voorspraak gemaak vir selfdegeslaghuwelike terwyl hy eweneens sy Bourget-toespraak teen die markte gelewer het. Maar in werklikheid was dit veral die invalshoek van Terra Nova wat die pas aangegee het. Terwyl die strategie op kort termyn gewerk het, het dit op lang termyn die etnosentriese, woke afwyking van die linkses ingelui, asook die skeiding tussen die progressiewe kamp en die lae klas. Die ontkoppeling van die linkses en die mense was ’n ou, diepgaande beweging wat lank tevore begin het, soos reeds gesien kon word met die uitskakeling van die sosialistiese voormalige premier, Lionel Jospin, uit die eerste ronde van die presidentsverkiesing in 2002, maar dit was in 2012 dat dit versnel is. Dit was inderdaad in 2012 dat Marine Le Pen haar opmars begin het deur ’n wesenlike deel van die lae klas te verlei, besonderlik in die werkersgebiede in die noorde van Frankryk. (231–2)
Dit bring Devecchio by die nuwe verdeling in die Franse politiek, wat alte maklik voorgehou word as steeds tussen links en regs:
In weerwil van François Hollande se verkiesing en die goeie vertoning deur Jean-Luc Mélenchon, sou Marine Le Pen nie lank neem om dominant onder die werkers te word nie, en geleidelik sou die links-regs-verdeling vervang word deur ’n nuwe, meer frontale botsing tussen die “elites” en die mense, tussen die anywheres (mense van waar ook al), wat ten gunste is van die globalisering waaruit hulle munt slaan, en die somewheres (mense van iewers af), wat die verloorders van globalisering is. (234)
Ten slotte: Waarheen Frankryk?
Devecchio vertel naby die einde van sy boek van ’n ysingwekkende vraag wat Yves de Gaulle, die kleinseun van Frankryk se grootste 20ste-eeuse president, Charles de Gaulle, in Desember 2025 by ’n swierige banket aan tafel vir hom gevra het: “Waarheen is ons op pad?”, te midde van die chaos waarin president Emmanuel Macron Frankryk gedompel het toe hy middel-2024 ’n blitsverkiesing uitgeroep het wat tot ’n erg verdeelde, verlamde Franse parlement gelei het (251). Devecchio sluit sy boek met sy antwoord op dié vraag af:
Ons proses van disintegrasie en verdeling hang saam met die ontploffing in migrasievloei en die demografiese ontwrigting wat daaruit volg, maar dit is ook en veral die gevolg van die breuk tussen die “elites” en die lae klas. Dít is die ander trompop botsing wat Frankryk vernietig. In die loop van die laaste dekades is die volk ontneem van sy vermoë om met betrekking tot wesenlike vraagstukke oor sy lot te besluit, beginnende by die migrasievraagstuk. Die volk is ook simbolies gestroop van sy gesag deur voorgehou en behandel te word as ’n massa dommerds wat wantrou moet word ... Hy is ekonomies verswak deur ’n soort globalisering waarvan die anywheres die vernaamste begunstigdes is. Ten slotte is van hom verwag om homself weg te maak ten gunste van nuwe aankomelinge. Dié agteruitgang van mense op voetsoolvlak kan nie anders as om te lei tot die ontwrigting van ons samelewing nie, wat bowendien geskied binne die konteks van ’n opening waarin van ons verwag word om steeds meer mense van vreemde bevolkingsgroepe te verwelkom. Hoe kan die lae klas as model van integrasie dien as dit self ontklas en agtergelaat word? Die les wat hieruit geleer moet word, is dat ons nou die gerusstellende, gemaklike sneeubal waartoe ons ons toevlug geneem het, moet breek ten einde met die vergetenes te versoen. Indien nie, sal dié sneeubal in elk geval vroeër of later gebreek word deur ’n uitbarsting van geweld wat die mense eweseer as die elites sal tref. (253–4)
Lees ook:
Die Johann Rossouw-gespreksreeks: ’n onderhoud met Ria Winters, skrywer van Daardie lewe


Kommentaar
Ek moes eenvoudig twee keer lees wat hier aangebied word. Baie dankie, dr. Rossouw vir u (vaderlike) arbeid. My voorland word hier uiteengesit. Ontuis in eie huis. Die eufemistiese "afgang" van die Weste ontken swakkies die onverbiddelike skrif aan die muur, en moet eerder as "ondergang" gekwalifiseer wees.