Titel: Die hele storie
Skrywers: Karin Kortje en Lester Walbrugh
Selfpublikasie
Karin Kortje kon wees waar Tyla nou is. Nee, laat ek herfraseer: Sy moes wees waar Tyla nou is. Die talent ontbreek haar glad nie, ook nie die tipe charisma en sjarme wat so kenmerkend aan glanspersoonlikhede is nie. Maar tot nou het daai groot deurbraak wat haar na wêreldverhoë stu, haar ontwyk. Hoekom, is die vraag wat ek my al telkens afgevra het.
Heelparty kere het dinge gebeur wat opslae verwek het, maar dit gebeur tog ook met ander bekendes en hulle beroepe ly nie noodwendig skade nie.
Die hele storie: ’n memoir probeer om sin te maak uit hierdie vraag, en probeer om aan Kortje haar stem terug te gee deur verskeie kontroversiële voorvalle wat haar oor die jare bloots gery het, direk aan te spreek. Lester Walbrugh, bekende fiksieskrywer, het haar bygestaan om haar gedagtes neer te pen. Ingrid Jones, glanspersoonlikheid in eie reg, het die voorwoord geskryf.
Kortje skram nie weg daarvan om te praat oor haar drankmisbruik en te verwys na dwelmmisbruik by geleenthede nie. Sy is openhartig oor die gesinsgeweld waaronder sy gely het. Sy vertel sonder omhaal hoedat sy as kind seksueel misbruik is. Sy praat oor die maniere waarop sy, gemeet aan haar eie strawwe standaarde, tekort geskiet het. Sy vertel hoedat sy met haar biologiese ma herenig is. Haar romantiese verhoudings, en die kompleksiteite daarrondom, beslaan ’n groot deel van die memoir.
........
Sy skryf oor die moord. Ek hoef nie eens in detail te gaan nie. Enigeen wat Karin Kortje se verhaal ken, weet van die moord.
........
Sy skryf oor die moord. Ek hoef nie eens in detail te gaan nie. Enigeen wat Karin Kortje se verhaal ken, weet van die moord.
Die hele storie is ’n aangrypende verhaal, met al die elemente van ’n Hollywood-sprokie. Daar is die talentvolle heldin wie se talent nie na behore geskat word nie. Daar is nie ’n bose stiefma nie, maar daar is wel ’n aanneemma wat nie regtig die kind wat sy aangeneem het, kan vertroetel nie. Daar is die pa wat sy bes probeer om die kind geborge te laat voel, maar dan hopeloos te vroeg sterf en haar ontredderd laat. Daar is die verkeerde keuses en die Aspoestertjie-bestaan as appelpakker. Daar is die deurbraak, wanneer dit lyk asof die heldin se lewe ’n positiewe wending neem, maar onvermydelik is daar ook die val, wanneer die heldin om die bos gelei word deur iemand met bose bedoelings.
Die enigste probleem is, in Karin Kortje se lewe is daar heelparty mense met bose bedoelings en sy wat blindelings vertrou. Ek kon nog nooit verstaan hoekom mans voor die televisie sit en skree as hulle sportspan ’n fout maak nie. Hoe kan hulle die uitkoms beïnvloed? Maar terwyl ek Die hele storie gelees het, het ek ook by tye saamgesels. Kliphard.
Die feit dat die gebeure in die verlede is en daar aan die uitkoms glad niks meer gedoen kan word nie, maak geen verskil nie.
Is dit die hele storie soos wat die titel aandui? Ek twyfel. Daar is sommige goed waaroor Kortje baie openhartig praat, maar ander waaroor sy self nog in ontkenning is, dink ek. Op bladsy 159 skryf sy byvoorbeeld: “Cheslyn het basically homself oorgegee. Hy’t vir hulle gaan wys waar hy die bakkie ge-abandon het en hulle het van haar belongings op hom gekry. Hy het weer toe nou sy story gechange agterna. So ek weet nie. Is net die Here wat weet.” Ek moet erken, toe ek dit lees moes ek eers die boek neersit en ’n draai gaan loop. Hierdie man het haar loopbaan en haar reputasie vernietig en sy wil hom nog steeds die voordeel van die twyfel gee? Hy het uitwysings aan die polisie gedoen en sy wil hom nog steeds die voordeel van die twyfel gee? Hy is skuldig bevind daaraan dat hy ’n vrou se lewe geneem het en ’n gesin in die proses vernietig het, en sy weet nie?
Dit kos moed om oor jou lewe te skryf, veral wanneer daar soveel oppe en awwe was. Moed is die een ding, behalwe talent, wat Kortje in oormaat het. Daarvoor haal ek my hoed af.
........
Ek was bekommerd dat redigering nie noukeurig gedoen sal wees nie, of dat die gehalte van die papier nie na wense sal wees nie – algemene probleme wanneer boeke self uitgegee word. Kortje spring hierdie probleme vry. Tussen die proefleser en die skrywer het hulle ’n fenomenale boek saamgestel.
........
Kortje het besluit om die boek self uit te gee, eerder as om deur ’n tradisionele uitgewer te werk. Daar is altyd risiko’s aan. Verspreiding is ’n uitdaging, maar selfs voordat dit versprei kan word, kan produksie problematies wees. Ek was bekommerd dat redigering nie noukeurig gedoen sal wees nie, of dat die gehalte van die papier nie na wense sal wees nie – algemene probleme wanneer boeke self uitgegee word. Kortje spring hierdie probleme vry. Tussen die proefleser en die skrywer het hulle ’n fenomenale boek saamgestel.
Dis jammer dat daar geen foto’s ingesluit word nie. Dit kon die boek soveel verryk het. Daar is wel in die omslag ’n aantal foto’s in ’n agtergrondmosaïek saamgestel. Dit sou soveel toevoeg aan die boek indien dit eerder duideliker sigbaar in die liggaam van die boek geïnkorporeer is.
Antwoord hierdie memoir enige vrae? Nie soveel soos wat dit nuwe vrae ontlok nie. Karin Kortje se verhaal is nog ver van oor.
Soos die toeskouer-skeidsregter wat uit sy huis opdrag gee, wil ek ook net hier van die kantlyn af skree: Asseblief, Karin, moenie mense so maklik vertrou nie! Asseblief, Karin, omring jou met mense wat nie ja-broers is nie, maar wat jou onder die alie sal skop as jou keuses tot jou eie nadeel is. Asseblief, Karin, kry ’n life coach en gaan in langtermyn terapie. Ons wil jou sien Grammy’s ontvang. Ons wil jou sien op wêreldtoere gaan. Maar jou kop en jou gemoed moet reg wees daarvoor.
Die hele storie kos R250 en bestellings kan geplaas word by karinkortje@gmail.com. Dis ook in Engels beskikbaar as The whole story.
Lees ook:
Waarom by ’n uitgewer aanklop eerder as om self te publiseer?