Nuwe boekefees vier die suksesse van selfpublikasie

  • 1
..........
Die stigma wat dikwels aan selfgepubliseerde boeke kleef dat dit noodwendig van mindere gehalte is, is die afgelope naweek behoorlik die nek ingeslaan en verkeerd bewys tydens ’n splinternuwe boekefees in Somerset-Wes.
..............

Die stigma wat dikwels aan selfgepubliseerde boeke kleef dat dit noodwendig van mindere gehalte is, is die afgelope naweek behoorlik die nek ingeslaan en verkeerd bewys tydens ’n splinternuwe boekefees in Somerset-Wes.

Die boekefees, wat sy debuut in die Helderbergdistrik gemaak het, staan bekend as Fringe Fireside Chats. Dit is ’n baanbrekerboekefees waar bibliofiele kennis kan neem van klein en ongeaffilieerde skrywers en digters sowel as ernstige en eksentrieke skrywers se kreatiewe werk.

Fringe Fireside Chats is die breinkind van Leslie Downie en Katherine Gray, en is geïnspireer deur die Edinburgh-randfees wat elke Augustus in die Skotse hoofstad plaasvind.

Die nuwe boekefees ondersteun selfgepubliseerde skrywers en konsentreer daarom op daardie skrywers en hulle boeke met die slagspreuk “Independent authors rise up”. Dit bied ook ’n platform vir selfpublikasiediensverskaffers om hul dienste te verduidelik en te bevorder.

Die belangrikste aspek van die afgelope Saterdag se gesprekke het gehandel oor die nuwe tegnologie wat beskikbaar is. Dit is nou moontlik om selfs net een hardekopie van ’n boek op ’n keer te druk en plaaslik en internasionaal beskikbaar te stel. Daarom is dit glad nie meer so buitensporig duur soos in die verlede om self ’n boek uit te gee nie, want dit is nie nodig om groot oplae op ’n keer te druk nie.

’n Potensiële JK Rowling hoef nie meer op moedverloor se vlakte te sit wanneer uitgewers hul neus optrek vir ’n manuskrip soos wat met haar eerste Harry Potter-boek die geval was nie.

Rowling het haar manuskrip van Harry Potter and the philosopher’s stone aan verskeie uitgewers aangebied, maar dit is herhaaldelik afgewys voordat Bloomsbury dit aanvaar het. Dit was ’n uitdagende tyd in haar lewe. Sy was ’n enkelouer en het finansiële probleme beleef.

Die proses om ’n boek self uit te gee was tot betreklik onlangs baie duur. Die meeste aspirantskrywers het nie die finansiële middele of kennis gehad om dit self uit te gee nie. Bloomsbury was uiteindelik bereid om Rowling ’n kans te gee, en die res is geskiedenis. Was dit nie daarvoor nie, het die wêreld dalk nooit vir Harry Potter leer ken nie.

Fringe Fireside Chats beoog om te groei tot ’n jaarlikse geleentheid wat die hele Helderberg dek. Dit is ’n unieke konsep, en een wat geskik is vir ’n wintergeleentheid waar die weer onvoorspelbaar is en daar baie min is om te doen in die Kaap, sê die organiseerders.

Die eerste Fringe Fireside Chats-fees is bygewoon deur verskeie kreatiewe geeste in die skryf- en publikasiewêreld. Storieverteller Rob Caskie het feesgangers aan sy lippe laat hang met staaltjies oor die Anglo-Zoeloe-oorlog. Hy is ook die skrywer van A day on the Anglo-Zulu battlefelds.

Hoewel die fees afgeskop het met ’n piepklein begroting, het dit oorgeloop van kreatiwiteit, eksperimentering, verbeelding en ’n entrepreneursgees.

Daar is by verskeie plekke in Somerset-Wes praatjies deur spesialiste gelewer vir aspirantskrywers hoe om self te publiseer, asook gesprekke met skrywers wat reeds suksesvol self gepubliseer het.

Leslie glo dat die Helderberg ’n wêreldklas bestemming is om ’n gehaltefees van dié aard aan te bied.

Dorian Haarhoff

Die gesprekke in die Playhouse Theatre is afgeskop met ’n gesprek deur Dorian Haarhoff, wat oor die voorbereiding van ’n boek gepraat het.

Haarhoff is ’n skrywer en digter met ’n lang, suksesvolle loopbaan op die gebied van kreatiewe skryfwerk en kreatiwiteitsonderrig. Hy het al by heelwat universiteite en instellings onderrig oor kreatiewe skryfwerk en kreatiwiteit gegee.

Daar is verskeie boeke uit sy pen, insluitend digbundels en werke oor kreatiewe skryfwerk. Een van sy bekendste boeke is The writer’s voice: a workbook for writers in Africa, wat as ’n nuttige bron vir aspirantskrywers in Afrika en elders beskou word. Hy het ’n passie vir die ontwikkeling van kreatiwiteit en skryfvaardighede en is bekend vir sy slag om mense te help om hul stemme deur die skryfkuns te vind.

In die loop van sy loopbaan het Haarhoff verskeie werkswinkels en kursusse aangebied om mense te help om hul kreatiewe potensiaal te ontgin en hul skryfvaardighede te verbeter.

Hy glo om te kan skryf is nie soseer ’n talent as wat dit ’n kuns is wat bemeester moet word nie. “As jy geletterd is, kan jy skryf,” sê hy.

“Die eerste stap is om net te begin skryf, hoe chaoties dit ook mag wees.” Die skaafwerk en herskryf kom eers later. Wanneer iemand ’n boek lees, vergeet hulle dikwels dat dit waarskynlik die skrywer se hoeveelste weergawe is en glad nie so vloeiend en foutloos was toe dit die eerste keer neergepen is nie, sê Haarhoff .

Die finale produk kos werk en vele keer se herskryf. Hy sê baie mense skryf, al is dit net vir hulself, om sin te probeer maak uit die lewe. Dit is waar alles begin. “Wanneer ons skryf, begin ons om te behoort. So ontsluit dit die verbeelding wat die basis van alle goeie skryfwerk is.”

Haarhoff sê in al die jare dat hy mense help skryf, het hy nog nooit ’n persoon teëgekom wat nie kan skryf as hy of sy regtig wil nie. Daar is wel enkele mense wat sy raad gevra het en dan vir hom vies was as hy dit gee.

Tersius van Eeden (middel)

Tersius van Eeden, die uitvoerende hoof van Print on Demand, het gesels oor die ontwerp van boeke en die  fynere kunsies hoe om ’n goeie boek professioneel uit te gee. Van die titel en buiteblad van ’n boek tot die ontwerp en lettertipes vorm alles deel van ’n suksesvolle boek, sê hy.

Sy reis met selfpublikasie het agt jaar gelede begin. Hy het die ingewikkelde uitdagings wat die uitgewersbedryf in die gesig gestaar het, besef en die unieke behoeftes van die digitale landskap ontdek en aangegryp.

Die uitgewersbedryf sukkel met oorproduksie, pakhuiskwessies, begrotingsbeperkings en die onvoorspelbaarheid van markaanvraag.

Dit het alles aanleiding gegee tot die vestiging van Print on Demand, wat begin het met een swart-en-wit drukker en uitgebrei het tot ’n betroubare vennoot vir uitgewers regoor die wêreld.

Tersius se maatskappy help voornemende skrywers op elke vlak van publikasie. Dit sluit in die redigering van manuskripte in feitlik enige van die land se amptelike tale totdat die finale produk op die rak en binne die bereik van elke voornemende koper is.

Sy span hanteer alles, van ontwerp tot aflewering, om te verseker dat die boek in rekordtyd op die mark kom. Daar is ook ’n gids oor selfpublikasie op hulle webwerf beskikbaar om af te laai.

Die opkoms van tegnologie en digitale publikasieplatforms maak dit baie makliker as voorheen vir skrywers nie net om hul eie boeke te publiseer nie, maar ook om dit te versprei. ’n Deel van Print on Demand se dienste is om te sorg dat selfpublikasies op al die belangrikste platforms regoor die wêreld beskikbaar is om te bestel. Hierdie platforms stel skrywers in staat om hul boeke direk aan die publiek te bemark sonder om ’n tradisionele uitgewer te gebruik.

Dave Henderson, stigter en eienaar van MYeBook, het verder uitgebrei oor die moets en moenies van selfpublikasie. Hy het wenke gegee oor die bou van ’n suksesvolle skrywerswebwerf. Sy maatskappy gee ook raad aan aspirantskrywers wat selfpublikasie oorweeg.

Soos van die ander sprekers het hy klem gelê op die noodsaaklikheid van bemarking. Die onus rus op die skrywer se skouers om sy of haar boek self deur onder andere sosiale media en webwerwe te bemark indien hulle suksesvol wil wees.

Sylvia Strauss

Een van die suksesverhale van iemand wat self ’n boek in Afrikaans uitgee en bemark, is die samesteller van die resepteboek Trouvrou, Sylvia Strauss.

Die eerste uitgawe van Trouvrou is in 2016 uitgegee. Binne drie jaar is meer as 2 000 boeke verkoop sonder enige formele bemarking deur ’n uitgewer. Die tweede uitgawe is in 2020 uitgegee en daar is al reeds meer as 8 000 van die boeke verkoop.

Wat dit so merkwaardig maak, is dat die samesteller daarvan nie ’n kok óf ’n skrywer is nie. Sylvia is eintlik ’n bloemiste. Sedertdien het sy haar beroep as bloemiste vaarwel geroep. Trouvrou is nou haar voltydse werk.

Een van die  grootste klagtes wat skrywers dikwels het, is dat hulle boeke nie in boekwinkels beskikbaar is nie en dat die uitgewer dit nie goed genoeg bemark nie.

Sylvia se boek is glad nie in groot boekwinkels soos Exclusive Books of selfs op aanlyn winkels soos Takealot beskikbaar nie. Tog kan sy nie voorbly met die verkope nie. Sy gaan self na geskenkwinkels, markies en padstalletjies en bemark haar boek daar, asook op haar eie webwerf en sosiale media.

Wat begin het as ’n hoërskooldroom is nou vir haar ’n realiteit. Sy sê dit bewys dat dit moontlik is vir ’n "onafhanklike skrywer" om suksesvol te wees. Sy het reeds meer as 60 000 volgelinge op Facebook, waar sy ook van haar resepte deel en heeltyd in kontak bly met haar lesers. Sy bemark ook haar boek op ander sosialemediaplatvorms soos Instagram en Pinterest.

Een van die voordele wat selfgepubliseerde skrywers het, is dat hulle volledige kreatiewe beheer oor hul werk behou. Hulle kan self besluit oor die inhoud, ontwerp, bemarking en alle ander aspekte van die boek. Hierdie kreatiewe vryheid kan baie aantreklik wees vir skrywers wat ’n spesifieke visie vir hul werk het, soos in Sylvia se geval.

Selfgepubliseerde skrywers kry gewoonlik ook ’n groter persentasie van die boekverkope se inkomste as tradisionele skrywers, wat ’n kleiner persentasie van elke verkoop ontvang.

Vir skrywers wat meer beheer oor hul werk en die publikasieproses wil hê, is selfpublikasie dus ’n gewilde opsie. Dit gaan egter ook met sy eie stel voor- en nadele gepaard.

Dit is belangrik vir skrywers wat self wil publiseer om te besef dat professionele redigering, omslagontwerp en bemarking alles kritieke faktore is om ’n hoogstaande produk te skep.

Alles hang af van die toewyding en die inspanning van die skrywer ten opsigte van die publikasie van sy of haar boek. Daar is talle suksesvolle selfgepubliseerde skrywers wat hierdie stappe met sukses deurloop het en boeke van hoë gehalte lewer.

Boeke wat self uitgegee word, hoef nie meer van swakker gehalte te wees as boeke wat deur ’n uitgewer uitgegee word nie. Daar is baie selfgepubliseerde werke van hoë gehalte wat professionele redigering-, ontwerp- en produksieprosesse deurloop het.

Hoewel daar steeds by baie mense ’n stigma mag wees dat selfgepubliseerde boeke van mindere gehalte is, is dit glad nie meer ’n universele waarheid nie. Die afgelope naweek se boekefees het bewys dat selfpublikasies met die regte toewyding, hulpbronne en professionele ondersteuning van uitstaande gehalte kan wees.

Lees ook:

Uitdagings en voordele van selfpublikasie: ’n onderhoud met Francine Beaton

Waarom word ons opgelei om nét skrywers te wees en nie entrepreneurs nie?

Waarom by ’n uitgewer aanklop eerder as om self te publiseer?

  • 1

Kommentaar

  • Jurina Aucamp

    Dit was nou regtig wonderlik om die artikel te lees. Ek gaan nou binne die volgende twee weke my agste kinderboek uitgee waarvan die eerste paar deur 'n uitgewer gedoen is. Ek het egter besluit, om verskeie redes, om liewers dit self uit te gee. Ek het 'n uitstekende illustreerder en ook 'n bekwame persoon wat die proefleeswerk doen. Bemarking is beslis die grootste uitdaging. Ek is baie trots (spog nie) om te kan sê dat sedert Ronnie die renostertjie einde 2020 verskyn het, het ek al oor die 500 eksemplare verkoop. Dit is baie bevredigend en opwindend, maar verg ook vasbyt.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top