Die goorste week ooit (Woensdag) deur Eva Amores en Matt Cosgrove: ’n onderhoud met Kobus Geldenhuys

  • 0

NB-Uitgewers

Die goorste week ooit (Woensdag)
Matt Cosgrove, Eva Amores (Kobus Geldenhuys, vertaler)
Human & Rousseau
ISBN: 9780798184298

Kobus Geldenhuys praat met Naomi Meyer oor sy vertaling van Die goorste week ooit (Woensdag). Die boek is onlangs deur Human & Rousseau, ’n druknaam van NB-Uitgewers, gepubliseer.

Kobus, ek wil jou graag vra oor jou vertaling van Eva Amores en Matt Cosgrove se Die goorste week ooit (Woensdag). Ingeval daar enige ouers van laerskoollesers is wat hierdie onderhoud lees: Die titel beskryf die dag dalk as die goorste dag ooit, maar die boek sal deur die kinders beleef word as die oulikste storie ooit. Het jy die vertaling van die boek geniet en wat onthou jy van hierdie spesifieke een se vertaalproses?

Ek geniet dit baie om hierdie uiters oorspronklike en kreatiewe reeks te vertaal. Elke boek handel oor ’n dag in die hoofkarakter se rampspoedige, maar terselfdertyd baie snaakse lewe. Die humor is soms subtiel en soms skreeusnaaks en absurd. ’n Gewone skoolseun se lewe ontplof en hy word meegesleur deur die vreemdste avonture bo én onder die grond en in die lug. Hy word selfs ook ’n moderne internetsensasie.

Dis ’n lekker uitdaging om hierdie reeks te vertaal en ek wonder teen die einde van elke boek waarmee die skrywers in die volgende dag s’n vorendag gaan kom. Ek moet liedjies vertaal – en dan ook die antiheld se spottende weergawe daarvan, wat nogal heelwat kopkrap kan verg. Daar is raaisels, woordspeletjies, pittige byskrifte en allerhande taalkundige uitdagings wat my op my tone hou. Soms vind ek interessante oplossings vir "onvertaalbaarhede" deur die illustrasies te bekyk en daarvolgens iets uit te werk wat in gemoedelike, idiomatiese Afrikaans sal werk wat nie klink asof dit vertaal is nie.

...........
Soms vind ek interessante oplossings vir "onvertaalbaarhede" deur die illustrasies te bekyk en daarvolgens iets uit te werk wat in gemoedelike, idiomatiese Afrikaans sal werk wat nie klink asof dit vertaal is nie.
...............

Hierdie storie begin met ’n seun wat op ’n Woensdagoggend op ’n ongewone plek wakker word. Is dit nodig dat lesers eers Maandag en Dinsdag se stories ook moet lees om te verstaan wat Woensdag gebeur?

Ek dink ’n jong leser kan die reeks begin lees op enige dag in hierdie tuimeltreinrit deur ’n week wat nimmereindigend voel, want die skrywers maak seker dat elke boek/dag ’n volledige storie vertel. Maar wees gewaarsku: Lesers gaan die ander boeke/dae ook wil lees, want hoewel daar ’n progressie in die karakters se verhoudings met mekaar is, staan elke boek/dag ook deeglik op sy eie bene, met sy eie avonture.

Die storie of die aard van waaroor die boek handel. is nie soos Dagboek van ’n wimp nie, maar dalk kan voornemende lesers of ouers weet dat Die goorste week ooit se aanbieding daarmee vergelyk kan word. Minder gretige lesers sal weet hier is heelwat prente en boonop is die storie opwindend. Maar die ouers kan ook kennis neem daarvan dat daar nie swak of oppervlakkige Afrikaans hier te lese is nie: "Geniet die holografiese ligvertoning en geanimeerde seerowerpantomime. Onthou om jou sakke vol buit te pak." Die kinders sal presies weet wat dit beteken – binne die konteks van wat op die ander bladsye plaasvind en ook omdat die illustrasies dit help verduidelik. Ondervind jy prenteboeke nog steeds as leesstof en nie net as kykstof nie? Die moeite werd, dus, vir ouers om vir hul laerskoolkinders te gee? 

Ek is bly dat prenteboeke deesdae in soveel verskillende kulture en tale die leesproses "oopskryf" vir lesers wat as kinders (soos ek ook was!) gou verveeld raak tussen die een lang paragraaf ná die ander. Die illustrasies "dra" soms die teks en maak ’n grap selfs snaakser, of lewer op ’n humoristiese manier kommentaar op die teks. Verskeie Australiese jeugskrywers behaal groot sukses in hierdie genre. En almal ken teen hierdie tyd seker al Dav Pilkey se topverkoperreekse soos Kaptein Onderbroek en Hondman. Hierdie genre is ’n goeie oorgang van TV en rekenaarspeletjies na ’n gepubliseerde boek.

Ek dink altyd jou vertalings en die woorde wat jy gebruik, is kraakvars en oorspronklik – maar nie onvanpas nie. Om een van die karakters te laat dink dat iets "betowerend mooi" is, en om te skryf oor karakters se "vaardighede" gaan sommer Afrikaanse kinders wat woorde soos “awesome” of “skills” gebruik, help sien daar is alternatiewe woorde hiervoor in Afrikaans beskikbaar. Hoekom vertaal jy boeke in Afrikaans, of hoekom dink jy dis hoegenaamd nodig om kinderboeke in Afrikaans te vertaal? As die kinders in Engels lees, is dit tog goed genoeg, of hoe?

Dis veral vir jongmense belangrik om boeke in hulle moedertaal te lees. Daar is ’n bekendheid aan jou eie taal, ’n gevoel van gemak en maklike(r) begrip. Met klassieke werke sou ’n mens kon sê Suid-Afrikaanse lesers moet dit eerder in byvoorbeeld Engels lees, maar hopelik sal die Afrikaanse weergawe daarvan makliker toeganklik vir jong lesers wees en hulle aanmoedig om dit later wel in die oorspronklike taal te lees en te verstaan. Verder dra vertalings van jeugboeke hopelik by tot ’n liefde vir lees, iets wat ’n mens jou hele lewe lank kan doen om jou ervaringsveld en kennis uit te brei.

...........
Verder dra vertalings van jeugboeke hopelik by tot ’n liefde vir lees, iets wat ’n mens jou hele lewe lank kan doen om jou ervaringsveld en kennis uit te brei.
..............

Wanneer jeugdiges met mekaar praat, sal ek woorde soos “skills” gebruik, maar wanneer dit ’n verteller, volwassene of kennisgewing is, gebruik ek die "langer”/“groter" woorde soos vaardighede, wat hulle in elk geval in vakke soos lewensoriëntering raakloop.

As jy nie hoef te vertaal nie, wat lees jy graag? 

Ek werk ook as skrywer en teksredakteur in die TV-bedryf, so ek lees gereeld moderne verhoogtekste, asook filmdraaiboeke. Die een medium voed die ander, en die kruisbestuiwing wat plaasvind, is belangrik en opwindend. Verder lees ek graag plaaslike jeugskrywers se werk om my taalgebruik en styl van vertaling aan hulle hoë kwaliteit te meet. Ek geniet ook die romans van opwindende plaaslike skrywers soos Willem Anker en SJ Naudé.

Lees ook:

Om ’n boomhuis te vertaal: ’n onderhoud met Kobus Geldenhuys

Die vierde Suid-Afrikaanse kinderboekfees: ’n oorsig

In memoriam: Maritha Snyman

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top