Om ’n boomhuis te vertaal: ’n onderhoud met Kobus Geldenhuys

  • 0

Kobus Geldenhuys praat met Naomi Meyer oor sy vertalings van die Boomhuis-reeks, wat in Afrikaans by Protea Boekhuis verskyn en waarvan die mees onlangse boek in die reeks, Die boomhuis met 52 vloere, onlangs gepubliseer is.

Die boomhuis met 13 vloere
Skrywer en illustreerder: Andy Griffiths en Terry Denton
Vertaler: Kobus Geldenhuys
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 978-1-4853-0954-3

Hallo Kobus! Jy is die vertaler van die prettige, kom ons noem dit Die boomhuis met veelvoude van 13 vloere-reeks. Die reeks waarin Andy en Terry in die beste boomhuis in die wêreld woon. Die jongste boek in die reeks, Die boomhuis met 52 vloere, het onlangs verskyn. Dink jy die boek vertaal so maklik soos wat dit lees? Hoe vind mens die regte woord vir die skrywer van die boek se nuutskeppings en idees?

’n Boek wat so maklik en lekker lees, vertaal beslis nie net so maklik nie – maar altyd lekker! 😉

Ek is bevoorreg om die Afrikaanse vertaler van hierdie reeks te wees. Dis snaaks, skreeusnaaks, en soms uiters takserend op die vertaler – waarvan ek hou. Die regte woord skuil altyd iewers en dis my werk om dit te vind. En dan is daar boonop heerlikhede soos dra-jou-onderbroek-op-jou-kop-dag! Ek kon gelukkig ook kanse waag, soos om die bekende Punch and Judy te vertaal as Boos en Roos. (En Carmen, my redakteur, het dit so deurgelaat!)

Die boomhuis met 26 vloere
Skrywer en illustreerder: Andy Griffiths en Terry Denton
Vertaler: Kobus Geldenhuys
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 978-1-4853-1097-6

Die boek sou nie so seepglad gelees het as daar nie baie denke in die vertaalproses ingegaan het nie. Wat is vir jou die belangrikste aspekte daarvan om ’n kinderboek vir jong lesers te vertaal? Wanneer jy die boeke vertaal, kies jy die woorde wat die skrywer se gedagtes die beste in Afrikaans weergee? Of ’n woord wat idiomaties die beste in Afrikaans lees, of wat jong lesers iets sal leer, of wat hulle maklik sal kan lees?

Die vertaler moet – veral in hierdie tipe komiese boeke vol strokiesprente – ’n balans vind tussen die bronteks en die teikenteks. Partykeer moet jy ’n uitdrukking/konsep anders stel as in die oorspronklike sodat lesers van die vertaalde werk nie verstrik raak in lomp sinne en uitdrukkings nie. Ek praat geensins van ’n verdommingsproses nie. Die begrips- en kommunikasievlak bly dieselfde, maar toeganklikheid vir die leser is uiters belangrik, veral wanneer dit by kinder- en jeugboeke kom. In strokiesprentdele en die spraakborrels moet die vertaler ook in ag neem hoeveel ruimte daar vir die setter is om die vertaling in te pas. Dit lei altyd, hoewel soms met ’n bietjie sweet, tot heerlike en bondige maniere van stel – waartoe Afrikaans hom gelukkig leen. Dan is daar ook nog al die byklanke en geluide wat karakters maak waarvoor ’n vertaler met eg Afrikaanse oplossings moet kom.

Die boomhuis met 39 vloere
Skrywer en illustreerder: Andy Griffiths en Terry Denton
Vertaler: Kobus Geldenhuys
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 978-1-4853-1091-4

Dis die begin van nog ’n pandemie-skooljaar. Kinders het, behalwe vir veiligheid en goeie skoolopvoeding, ook maar net vrolike ontvlugting nodig. In sommige van die ander Boomhuis-boeke is daar gaskoeldrankfonteine, antigravitasiekamers, stampkarretjiebane en doolhowe. In die jongste toevoeging tot die reeks is daar byvoorbeeld ’n slangetjies-en-leertjies-speletjie met regte slange en lere. Na watter vertrekke in die nuwe boomhuis sou jy self wou ontvlug?

Beslis die waatlemoen-mokerkamer – veral vir wanneer ek die volgende Boomhuis-boek moet vertaal en kopkrap oor bondige(r) maniere van stel, en slim ryme en woordspelings!

En dan die Vermom-o-maat 5000. Ek hou daarvan om ’n vlieg teen die muur te wees en mense “uit te luister”, want hulle is eintlik so geweldig kompleks en absurd– nes ek.

Die boomhuis met 52 vloere
Skrywer en illustreerder: Andy Griffiths en Terry Denton
Vertaler: Kobus Geldenhuys
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 978-1-4853-1124-9

Vir my, as volwasse leser: Die basiese stories in al die Boomhuis-boeke handel gewoonlik oor die reis op pad na die storie. Die skrywer en illustreerder het gewoonlik ’n sperdatum om te haal. Hulle sukkel om die storie klaar te maak, maar alles wat in die pad staan van die skryf van hulle storie word dikwels die storie. Wat val jou op, as vertaler van die reeks – woordgebruike, tematiese ooreenkomste, verskille tussen die boeke? 

Vir my is die konsep van hierdie boeke briljant. Die werklike skrywer en illustreerder is die hoofkarakters, en hulle uitgewer is die grommende meneer Grootneus. So leer jong lesers sonder ’n formele inligtingsessie die basiese konsep van hoe ’n boek tot stand kom en hoe ingewikkeld dit kan wees om een te skryf. Andy, die skrywer, praat byvoorbeeld meestal in “netjiese” sinne, terwyl Terry, die illustreerder, baie uitroepe soos “Jei!” en “Maggies!” gebruik. Die hoofstorie bly konstant in die meeste boeke – die twee moet ’n boek skryf en is reeds laat daarmee, wat altyd tot baie kinkels en komplikasies lei. In die dertiende hoofstuk, altyd met die titel “Die laaste hoofstuk”, word al die los drade dan altyd netjies saamgeknoop. In die jongste een (52 vloere) werk dinge egter effens anders. Meneer Grootneus bel nie die twee om hulle uit te skel nie, want hy het spoorloos verdwyn.

Daar is altyd ’n fyn draadjie wat deur die stories loop. Verder steek stories uit die eerste boek byvoorbeeld weer in ’n latere boek kop uit. Lesers wat al die boeke lees sal hierdie snaakse “toevallighede” geniet.

Verder is daar ook gereeld iemand – of meer as een iemand! – wat uitsluitlik in rym praat. Weer eens ’n lekker uitdaging vir die vertaler om kort, bondig en komies te werk te gaan.

Jy het al soveel boeke in Afrikaans vertaal, en boeke deur verskillende skrywers. Het jy as kind sekere skrywers se boeke in Afrikaans gelees wat nuwe wêrelde vir jou geopen het? Watter boeke het jy as kind geniet?

Ek het grootgeword in die tyd van Jasper, Trompie en Die Uile, wonderlike oorspronklike Afrikaanse boeke vir seuns wat intussen verskeie kere herdruk, herbewerk en weer uitgegee is. Verder was daar Enid Blyton se Famous Five … Kan nie onthou dat ek vertalings gelees het nie, afgesien van die Konsalik-boeke wat soms langs my ouers se bed gelê het!

Wat my egter as kind gefassineer het, was die Afrikaanse vertalings van koerantstrokiesprente wat ek ook in Engels geken en gevolg het, soos Andy Capp. Hy en sy skellende vrou, Flo, was my gunstelinge en ek het altyd probeer om die Engelse en Afrikaanse weergawes met mekaar te vergelyk.

Lees ook:

Kobus Geldenhuys: Oor drakies, kinderboekvertaling en die proe aan woorde

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top