Kobus Geldenhuys: Oor drakies, kinderboekvertaling en die proe aan woorde

  • 0

Naomi Meyer gesels met Kobus Geldenhuys oor sy vertaling van Klapper die drakie, ’n kinderboekreeks wat deur Ingo Siegner geskryf is.

Hallo Kobus! Jy is baie bekend vir jou vertaalwerk en al dikwels bekroon. En toe ek onlangs die Klapper die drakie-reeks vir my dogtertjie begin voorlees, kon ek (opnuut) sien waarom jy maar mág vertaal.

Die Klapper die drakie-reeks is uit Duits vertaal. Watter tale kan jy nog alles praat?

Frans, bitter min Xhosa en Italiaans.

Jy is baie bekend vir jou vertalings van die David Walliams-boeke ook of Cressida Cowell s'n. As jy nou 'n skrywer soos Ingo Siegner (wat die skrywer is van die Klapper die drakie-reeks) se werk moet vertaal, voel jy dat jy die skrywer se ander werk ook moet ken, of kyk jy net na die boek in jou hande?

Ek lees op oor die skrywer in die algemeen, maar dan fokus ek spesifiek op die boek wat ek gaan vertaal. In die geval van Walliams en Cowell is ek gelukkig reeds vertroud met hulle styl, maar oor Siegner het ek navorsing gedoen.

Jy vertaal sekerlik baie dikwels in opdrag vir uitgewers. Maar watter boeke geniet jy die meeste om te vertaal, en ook watter skrywers en watter tale?

Ek geniet alle genres (ook Coelho!), maar kinder- en jeuglektuur is my gekose nis. Daar is 'n ligtheid en 'n vrolikheid – en dikwels ook donker ondertone –  wat ek baie geniet. Ek geniet en bewonder die manier waarop skrywers jongmense met humor “haak” om verder te lees. (Dit raak natuurlik moeilik wanneer jy iemand soos Jaco Jacobs se boeke in Engels vertaal, maar dis 'n heerlike uitdaging.)

Skep jy graag nuwe woorde of probeer jy so getrou moontlik 'n reedsbestaande Afrikaanse woord kry waarmee jy 'n woord kan vertaal?

Ek proe eers aan 'n bestaande woord, maar as dit nie geskik vir die konteks of styl van die skrywer is nie, geniet ek dit baie om kanse met nuutskeppings te waag. (Nie dat ek probeer oulik wees deur vertaler-verraaier te speel en my eie styl op 'n skrywer se werk af te dwing nie.) Baie jeugboeke leen hulle egter heerlik tot nuutskeppings en “kreatiewe” vertaling, sonder om bloot jou eie ding te doen.

Jou vertalings word in bekroningsverslae (pryse toegeken deur die Akademie, byvoorbeeld) tereg beskryf as "sprankelend". Maar hoe kry ’n mens dit reg dat 'n boek nie net vreemd en andersoortig en eienaardig klink, asof dit van 'n ander planeet af kom en nie tuishoort op hierdie bodem, as mens iets vertaal en steeds getrou bly aan die bronteks nie?

Ek glo vertaling is nes skryf, wat myns insiens baie herskryf vereis. Ek redigeer my vertalings indringend en maak altyd doodseker die eindproduk lees vlot Afrikaans – vreemde konstruksies en woordgebruik is ’n slaggat waarin mense wat byvoorbeeld uit Vlaams, Nederlands of Duits vertaal soms trap, aangesien Afrikaans so nou verwant aan hierdie tale is.

Wat was vir jou lekker van die vertalings van Ingo Siegner se Klapper die drakie-reeks en wat was vir jou moeilik?

Dit was van begin tot einde heerlik. En die stories het my geamuseer. Ek was ook gelukkig dat ek met benamings kon speel. Eenvoud lyk verraderlik maklik, maar dis soms nogal 'n uitdaging. Hierdie reeks is vir eerste lesers, daarom moet die vertaler dit in gedagte hou. In 'n boek vir kleiner kinders (byvoorbeeld met rympies) moet die vertaler, nes die skrywer, natuurlik ook die voorleser in gedagte hou en ag slaan op ritme, klanke en aspekte soos alliterasie (gereeld met betrekking tot naamgewing, wat altyd 'n lekker uitdaging is!)

Kobus Geldenhuys (foto: Naomi Bruwer)

Voel Klapper vir jou soos 'n Duitse drakie?

Nee wat, hy’s lankal internasionaal – en reeds op YouTube. Dis wat hierdie konsep so wonderlik en suksesvol maak. Die oerdiertjie wat moderne kinders (en ouers!) se verbeelding aangryp en dinge ervaar wat vir enige kind op enige plek ter wêreld bekend is.

Direk uit Duits vertaal is sy naam Kokosneut, maar dit val net nie so gemaklik op die oor of die tong nie. So: hoe gemaak met die vertaling van name?

Dis soms ’n dilemma. My beleid is om konsekwent te wees. As jy name begin lokaliseer en verafrikaans, moet jy dit regdeur doen. Dan is Klapper nie meer ’n Duitse drakie nie, hy is ’n drakie in watter taal die boeke ook al vertaal word. Maar wanneer jy ’n boek vertaal wat pertinent in Engeland afspeel, kan jy beswaarlik al die name Afrikaans maak. Ek en my twee redakteurs het baie gewik en weeg oor Klapper se naam, veral omdat die konsep reeds in Engels ook bekend en gewild is. Kokos is eers oorweeg, toe 'n menigte ander name, en op die ou end het Simone Hough al die boksies getiek met haar voorstel van Klapper, wat boonop nie net na die vrug klapper verwys nie, maar indirek ook na die vuurwerke uit jong drakies se monde.

Voel jy as vertaler asof jy 'n verantwoordelikheid het teenoor jou lesers en teenoor die tale waartussen jy navigeer? Wat weeg die swaarste van die verantwoordelikhede?

’n Vertaler het beslis ’n verantwoordelikheid teenoor die oorspronklike skrywer, die bronteks en die nuwe leser. Respek vir ander se werk is kardinaal. Jy skep op ’n ander manier as die skrywer – jy herskep eintlik – en jy moet seker maak jy laat die teks tot sy volle reg kom in die teikentaal.

Maar as jy dan so goed vertaal, is jy nie in die versoeking om self ook te skryf nie? Of is dit presies waar iemand wat nie vertaal nie, die fout maak?

Ek beperk my skryfwerk tot televisie, wat ’n heel ander medium is en daarom ’n totaal ander uitdaging. Ek is effens verslaaf aan afwisseling tussen genres, en dialoog is iets wat my na aan die hart lê.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top