Die gawe van groen: ’n onderskatte erotiese fabel

  • 0

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Titel: Die gawe van groen
Skrywer: Elmarié Dercksen

Uitgewer: LAPA
ISBN: 9781776358335

Ek het reeds Elmarié Derksen se tweede boek gekoop, maar wil graag eers Die gawe van groen se lof besing voor ek Wat die witbors wou sê lees.

Die gawe van groen is ’n onderskatte erotiese fabel. Dit moes meer aandag gekry het.

Erla Diedericks het reeds ’n uitstekende resensie oor die teks geskryf. Ek gaan dit nie probeer nadoen nie.

Ek wil kortliks na drie ander goed kyk:

  • die belang van die fabel in die letterkunde,
  • die gawe as gebrek/die gebrek as gawe, en
  • die noodsaak dat mansmense beter seksueel opgevoed moet word.
Die fabel in die letterkunde

Ek het onlangs Kazuo Ishiguro se fabel The buried giant gelees. Dis ’n moeilike teks vol oënskynlik vermaaklike verhale, maar onder die oppervlak word rowwe politieke kommentaar gelewer – en dan is daar ook die reis van ’n geliefde wat aan die dood afgestaan word, om te verwerk.

Die gawe van groen is veel makliker om te verstaan, maar die eenvoud van die storie moenie veroorsaak dat die leser ophou soek na die dieper betekenis nie.

Sati se gawe is om water diep uit die aarde op te roep elke keer as sy ’n orgasme kry. Gelukkig leer sy reeds op twaalfjarige ouderdom dat die knoppie tussen haar bene daar is om haarself te vermaak en sy gebruik dit oorvloediglik; soveel so dat ’n koning in ’n baie droë land haar koop om haar orgasmes in sy land – en aan sy hand – te beleef.

Sati besef dikwels dat die water diep lê – sy het dus ’n deeglike orgasme nodig om daardie water op te roep. Net so moet die leser die diepe genot van die teks gebruik om ook in hierdie lieflike feministiese verhaal die dieper betekenisse op te roep.

Daar is genoeg leidrade wat Sati self vir ons gee om oor te gesels: Vroue kan verkoop word; vroue kan nie gewoon hul pa se besigheid oorneem nie; vroue kan nie kies wie hulle wil liefhê nie. Sy besef egter dat ’n aardskuddende orgasme en liefde nie noodwendig saam hoef te loop nie, maar dat sy wel genoeg respek nodig het om haar gawe te laat werk.

Wanneer sy dan wel kortstondige liefde ervaar ... nou ja. Lees maar self.

Dis ’n boek wat baie sê oor seks, seksuele ervaring en die gebrek aan openhartige gesprekke rakende seks, poliverhoudings (of nie) en manlike mag.

In TT Cloete se dikke boek Literêre terme en teorieë vertel DH Steenberg dat daar talle fabels in die Bybel voorkom. Die inligting klop, want Elmarié Derksen is immers ’n dominee wat, ná haar meestersgraad, besluit het om nie bloot ’n D te skryf wat deur enkele mense gelees gaan word nie, maar om liewer ’n roman aan te pak wat mense sou lús maak om meer te weet.

So ’n dominee mag maar preek! Dié erotiese fabel, wat juis nie preek nie, is ’n besonder slim manier om ’n lesende gemeente aan die dink te sit.

’n Gawe as gebrek/die gebrek as gawe

Hier moet ek versigtig werk, want dis ’n moeilike terrein. Tog is dit deesdae al hoe belangriker om nie mense se andersheid gewoon af te maak as ’n gebrek nie, maar juis om te vra hoe kan anderswees gebruik word om iemand as mens te help?

Dié soort gesprekke word byvoorbeeld gevoer met mense op die outismespektrum. Sommige mense se vermoë om intens op iets te fokus kan mense ontsenu, maar kan aangewend word om diegene wat só erg kán fokus, juis te help om sukses te behaal in wat hulle doen.

Ander het weer ’n totale gebrek aan fokus, maar kan verbande trek wat nie vir alledaagse sterflinge so eenvoudig is om raak te sien nie. Met die regte leiding kan daardie “probleem” soms vir lyers aan aandagafleibaarheid leiers maak in die sakewêreld, die letterkunde, of selfs die politiek.

Die teenpool is dikwels dan ook waar. Baie uiters suksesvolle mense kan soms ly aan ’n erge probleem wat maak dat hulle nie maklik inpas in alledaagse gesprekke of hulle werkplekke nie. Hulle is uiters suksesvol, maar voel dikwels alleen, omdat “gewone” mense hulle nie verstaan nie.

Sati se gawe is lieflik, maar ook problematies. By tye weet sy dat sy mense sou help, maar dan moes sy iewers heen kon gaan waar sy rustig haarself tot ’n orgasme kan bring. Dink nou net hoe die gemiddelde, alledaagse persoon sou reageer op sodanige hulp! Dink dan aan die mense om jou met wie jy sukkel om oor die weg te kom: Het hulle dalk ’n wonderlike gawe wat maak dat hulle aanstoot gee?

Die noodsaak dat mansmense beter seksueel opgevoed moet word

Op skool het niemand my vertel hoe belangrik ’n klitoris is vir ’n man óf ’n vrou nie. Demmit. Ek was later bevoorreg om by geleentheid ’n baie ervare seksgenoot as begeleier te hê om my handvaardig te maak en is sedertdien diep dankbaar daarvoor.

Maar ons praat mos nie oor dié goed nie. Ons moedig nie seuns aan om te leer hoe om ’n vrou plesier te gee nie.

Vroue word ook nie aangemoedig om mans op te voed hieroor nie.

In Die gawe van groen het die koning gelukkig al ’n paar vroue in sy lewe gehad, so hy weet presies wat hy doen. Maar is dit genoeg om ’n vrou net elke nou en dan tot ’n wonderlike orgasme te bring? So handvaardig soos hierdie koning is, soveel het hy nog te leer oor vroue se behoeftes. Dié fabel se water is dieper as wat ons dink!

Mag Die gawe van groen meer en meer gelees word – en mag dit ons almal help om meer te praat oor die gawes van seks, liefde en luister.

Lees ook:

Die gawe van groen deur Elmarié Dercksen: ’n resensie

Die gawe van groen: ’n onderhoud met Elmarié Dercksen

Wat die witbors wou sê: ’n onderhoud met Elmarié Dercksen

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top