
Boekomslag: Die fantastiese verdwyning van Charlie Prins deur Jaco Jacobs (Pan Macmillan, 2024)
Titel: Die fantastiese verdwyning van Charlie Prins
Skrywer: Jaco Jacobs
Uitgewer: Pan Macmillan
ISBN: 9781779990594
- Madelein du Plessis is ’n graad 10-leerder van Stellenbosch.
Van warrelwinde gevul met nuuskierigheid tot borrelende vulkane van emosies ... Jaco Jacobs se Die fantastiese verdwyning van Charlie Prins is beslis ’n suksesvolle ramp!
Sy het ’n geheim. ’n Groot geheim.
Charlie Prins is wat jy noem ’n sokkie-freak. En nie op die manier dat sy slegs mal is oor sokkies nie. Sy steel hulle ook. Wanneer Charlie ’n nuwe lewe by ’n nuwe skool begin, voel als onheilspellend vreemd. Vasberade om weg te smelt, ongesiens, maak Charlie ’n deurdagte poging om te verdwyn tussen die see van kinders. Maar als verdwyn gou-gou wanneer Ethan Viljoen, ’n seun in haar klas, vir Charlie uitvang wat ’n paar sokkies in haar sak druk. Sy eienaardige fassinasie met die nuwe meisie begin toe net hier – die meisie wat sokkies steel. Wanneer die twee saam opeindig vir ’n Natuurwetenskappe-projek, tref Ethan se nuuskierigheid hom soos ’n vloed, nes ’n natuurramp. Wie is Charlie Prins? En wat maak haar so interessant? Watter geheim kruip diep onder haar vel weg? Saam met Ethan, wonder ons, wat nou die eintlike storie is met haar. Hy kry dit reg om diep in haar lewe in te grawe en uit te vind wat haar werklik so vreemd maak.
Die geheim word onthul. Maar is daar medisyne vir so ’n geheim?
........
Die vertelwyse gryp my absoluut aan en hou my op my tone. Ek het elke bladsy omgeblaai met ’n honger begeerte om dadelik meer te moet weet.
........
Die vertelwyse gryp my absoluut aan en hou my op my tone. Ek het elke bladsy omgeblaai met ’n honger begeerte om dadelik meer te moet weet. Charlie is ’n tipies geheimsinnige protagonis, wat beslis die grootste aandeel in my ontsettende gierigheid vir meer gehad het. ’n Diep, ronde karakter is altyd iets wat my lus maak om meer te lees en verder in die woorde te verdrink. Ethan word uitgebeeld as ’n gemiddelde tienerseun met ’n avontuurlustige geaardheid en ’n sagte hart. Dit was maklik om te kan resoneer met hom, siende dat hy ook foute maak en die nagevolge daarvan raaksien. Hy is realisties en nie moeilik om lief te hê nie.
Die storielyn verloop glad, met min afleidings of onnodige tierlantyntjies. Dit is sterk, op die man af en het my geheel en al beroof van tyd. Dis moeilik om ’n boek neer te sit wanneer al wat jy wil weet, is wat gebeur nou.
Aansluitend hierby is die intrige erg spannend. Ons word gelos met korrels van innerlike en uiterlike konflik wat op die ou einde mekaar vind. Niks maak dit verwarrend of moeilik om te verstaan nie. Charlie se geheimsinnigheid kriewel oor die bladsye en ek het gebewe om te ontsyfer wat haar storie is. Tussendeur die woorde lê vae leidrade – wat my aanspoor om aan te hou lees – sonder om die uiteindelike antwoord dadelik weg te gee.
Die fantastiese verdwyning van Charlie Prins was ’n wonderlike ramp wat ek oor en oor wil beleef. Charlie Prins, Ethan Viljoen en al die ander karakters het vinnig in my hart ingekruip en bly nou daar. Koebaai, almal! Ek is in Jaco Jacobs se verhaal. En ek is vasgevang in al die bittermooie woorde wat my omhels het in hierdie vreesaanjaende storie.
Lees ook:
Die fantastiese verdwyning van Charlie Prins deur Jaco Jacobs: ’n onderhoud