
Boekomslag en Instagram-prent met sokkies: verskaf deur Pan Macmillan South Africa; foto van die skrywer: verskaf deur Jaco Jacobs
Die fantastiese verdwyning van Charlie Prins
Jaco Jacobs
Pan Macmillan South Africa
ISBN: 9781779990594
Jaco Jacobs praat met Naomi Meyer oor sy boek vir vroeë tieners, Die fantastiese verdwyning van Charlie Prins.
Jaco! Gewoonlik vra mens ’n skrywer hoe hulle voel oor hul boek wat in ’n fliek omskep is. My vraag aan jou is: Hoe voel jy oor jou fliek wat in ’n boek omskep is?
Die fantastiese verdwyning van Charlie Prins het ’n vreemde pad geloop. Ek het pas aan die storie begin skryf en beplan – ek het een oggend vir my drafmaat gesê: "Ek gaan ’n storie skryf oor ’n meisie met rooi hare wat op ’n dag ’n paar sokkies steel, en ’n seun wat dit sien gebeur." Voor ek egter klaar was met die manuskrip, het Francois Nolte van Green Planet Productions my genader om weer ’n idee vir kykNET se Storiefilms-projek voor te lê. (Ek het vroeër ook ’n draaiboek daarvoor geskryf, In die Koninkryk van Korona.) Dus het ek die idee van Charlie Prins voorgelê, kykNET het daarvan gehou, en ek het my boek eers opsy geskuif en aan die draaiboek gewerk. Die fliek het regtig lekker uitgekom – ek was baie beïndruk met die eindproduk. Maar die vreemde ding was dat ek die manuskrip vir die boek lank eenkant laat lê het nadat ek die draaiboek voltooi het. Dit het ’n bietjie soos uitskryfwerk op skool gevoel om wéér aan daardie storie te werk. Maar Charlie en Ethan is twee karakters wat my verskriklik na aan die hart lê, en daarop móés ek op die ou end die storie in boekvorm voltooi.
Gaaf, jy het die filmteks geskryf en daarna die boek. Hoe het die proses verskil om ’n draaiboek vir die film te skryf teenoor die boek se skryf?
Daar is heelwat verskille tussen die fliek en die boek – dinge wat aanvanklik deel van die storie was wat ek uitgelaat het in die draaiboek. Ek dink nie ek is ’n natuurlike draaiboekskrywer nie; die formaat het my nog altyd ’n bietjie afgeskrik. Ek dink een van die redes daarvoor is dat die teks nie vir my mooi lyk nie – toneelteks ook nie. Al daardie aanwysings en die dialoogformaat lyk vir my so lelik op papier of op ’n rekenaarskerm, terwyl prosa of poësie mooi lyk. Simpel, ek weet! Die boek se manuskrip was vir my baie lekker om te skryf, veral omdat ek kon speel met visuele elemente soos speelkaarte en Instagram-plasings tussen die teks deur.
...........
Die boek se manuskrip was vir my baie lekker om te skryf, veral omdat ek kon speel met visuele elemente soos speelkaarte en Instagram-plasings tussen die teks deur.
...........
Wat is die kern van die storie? Waaroor handel dit, sonder om te veel aspekte van die intrige te verklap?
Charlie en haar ma trek na ’n nuwe dorp, en Charlie is vasbeslote om onder die radar te beweeg – sy wil nie raakgesien word nie en wil net haar gang gaan. Maar op ’n dag sien Ethan hoe sy ’n paar sokkies by ’n vlooimark steel, en hy is gefassineer deur hierdie meisie – hy kan aanvoel sy het ’n geheim. Dit is egter ’n gevaarlike geheim, soos hy weldra uitvind.

Prente uit die boek: verskaf deur die uitgewer
Wie is Charlie? Wie is Ethan? Vir watter een van die twee gee jy die meeste om?
Charlie is ontsettend slim en kunstig en kreatief; sy versamel sokkies en het ’n fassinasie met Alice in Wonderland en The Wizard of Oz. Ongelukkig is haar lewe op die oomblik baie deurmekaar, en sy probeer soos die Cheshire Cat stuk-stuk verdwyn. Ethan is ’n regte seun-van-langsaan – hy speel krieket, kom uit ’n doodgewone, liefdevolle gesin, speel naweke videospeletjies saam met sy pelle. Charlie en Ethan vertel om die beurt die storie.
Ek hou verskriklik baie van albei karakters, maar Ethan lê my baie na aan die hart – sy pa sê in ’n stadium vir hom dit vat iemand spesiaals om iemand soos Charlie raak te sien, al probeer sy so hard om onsigbaar te wees. Hy kan aanvoel hoe talentvol Charlie is, en daarom probeer hy knaend met haar vriende maak en tot haar deurdring. Hy pers Charlie af om saam met hom aan ’n skoolprojek te werk; hy vang ’n dom ding op Instagram aan wat ’n nare nadraai het, maar hy het ’n ongelooflik goeie hart, en hy’s ’n skerp waarnemer.
Hoe oud is hulle en wat maak die meeste vir hulle saak? As jy jou karakters skep, weet jy reeds wie hulle is en bou jy die storie rondom hulle? Of ken jy eers die intrige en dan bou jy die karakters om die storie?
Hulle is so om en by 13 jaar oud. Wat vir Charlie op die oomblik die meeste saak maak, is om stil-stil weer haar voete te probeer vind nadat dit voel of sy soos Dorothy in The Wizard of Oz deur ’n storm opgeskep en iewers op ’n vreemde plek neergesit is. Ethan is ’n tipiese tiener – sy lewe draai hoofsaaklik om sy vriende, sport en skoolwerk, maar dan ontdek hy vir Charlie, en hy is vasbeslote om tot dié geheimsinnige meisie deur te dring. Gewoonlik is my storie-idees redelik intrigegedrewe, maar in dié geval het die karakters eerste gekom. Ek het ’n prentjie in my kop gehad van ’n lekker aweregse rooikopmeisie wat, heel teenstrydig met haar persoonlikheid, op ’n dag ’n paar sokkies by ’n vlooimark steel. Ek wou weet waarom sy dit doen, en dis waar die storie begin het. Ethan sien dit gebeur, en hy wil ook weet waarom sy dit doen, want hy kan aanvoel dis heeltemal teen haar aard.
.............
Ek het ’n prentjie in my kop gehad van ’n lekker aweregse rooikopmeisie wat, heel teenstrydig met haar persoonlikheid, op ’n dag ’n paar sokkies by ’n vlooimark steel. Ek wou weet waarom sy dit doen, en dis waar die storie begin het. Ethan sien dit gebeur, en hy wil ook weet waarom sy dit doen, want hy kan aanvoel dis heeltemal teen haar aard.
............
Jy het self nou ’n amper-jong tiener in die huis, of hoe? Beïnvloed dit enigiets van hoe jy vir kinders skryf, iets wat jy nog altyd kundig gedoen het lank voordat jy ’n pa was, noudat jy self kinders het?
Snaaks, dis iets waaroor ek ook al gewonder het. Onbewustelik sit ’n mens seker maar altyd iets van jou eie leef- en ervaringswêreld in jou skryfwerk, maar ek kan aan min gevalle dink waar ek regtig my kinders se persoonlike ervarings in my skryfwerk gebruik het. Ek het wel nou die dag vir my vrou gesê ek steel gereeld my kinders se skoolmaats se name vir karakters!
Lees ook:
Persverklaring: Bekende skrywer Jaco Jacobs se Charlie Prins beloof om te bekoor en te verras

