Die einde van Standaardafrikaans en begin van Algemene Afrikaans

  • 11

Ria Olivier en Gerda Odendaal

.........
Standaardafrikaans het nie noodwendig tot stand gekom om sommige sprekers van die taal uit te sluit nie. In die praktyk het dit egter vir baie mense die betekenis van “wit” Afrikaans geword en is dit op verskeie vlakke problematies.
..........

Standaardafrikaans het nie noodwendig tot stand gekom om sommige sprekers van die taal uit te sluit nie. In die praktyk het dit egter vir baie mense die betekenis van “wit” Afrikaans geword en is dit op verskeie vlakke problematies.

Dié netelige kwessie ten opsigte van “Standaardafrikaans” is die afgelope week onder die vergrootglas geplaas tydens ’n paneelbespreking wat deur die Taalkommissie (TK) van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns aangebied is.

Die seminaar in Pretoria is vir die eerste keer as ’n hibriede TK-seminaar  aangebied waartydens mense regdeur die land ook via die internet kon inskakel en deelneem.

Die gesprek met 'n paneel kundiges is gelei deur Heindrich Wyngaard, voorsitter van die Afrikaanse Taalkommissie se adviespaneel. Die deelnemers was Ria Olivier van die Afrikaanse Taalraad, Rudolf Stehle van Netwerk24, en Gerda Odendaal, mederedakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT).

Odendaal het gesê haar verhouding met Standaardafrikaans is gekompliseerd. Sy het Standaardafrikaans gedurende haar skooljare en aanvanklike studiejare as ’n gegewe beskou. Dit is voorgehou as hoe Afrikaans moet lyk wanneer dit reg gebruik word. Eers later in haar lewe het sy krities daarna begin kyk.

In haar latere studiejare het sy tot die besef gekom dat taal nie in isolasie bestaan nie. Sy het begin vrae vra oor Standaardafrikaans, hoekom dit lyk soos dit lyk en wat die omstandighede is waaronder dit tot stand gekom het. Vandag word alle variëteite van Afrikaans in die WAT opgeneem.

Rudolf Stehle het ook met Standaardafrikaans grootgeword en dit as vanselfsprekend aanvaar dat dit is hoe Afrikaans geskryf en gepraat moet word.

Ria Olivier, wat net soos die res van die paneel grootgeword het met Standaardafrikaans, het gesê “Afrikaans” is nie vir haar gelyk aan “Standaardafrikaans” nie. Sy het geleer Afrikaans is ’n huis met baie wonings en was bevoorreg om die warmte van daardie verskillende wonings te ervaar.

.........
Ria Olivier, wat net soos die res van die paneel grootgeword het met Standaardafrikaans, het gesê “Afrikaans” is nie vir haar gelyk aan “Standaardafrikaans” nie. Sy het geleer Afrikaans is ’n huis met baie wonings en was bevoorreg om die warmte van daardie verskillende wonings te ervaar.
..........

Volgens Gerda Odendaal is standaardtaal eintlik ’n uitvindsel van die Middeleeue. Dit het tot stand gekom as gevolg van die boekdrukkuns toe daar ’n behoefte ontstaan het aan massakommunikasie op skriftelike vlak om eenvormigheid te kry wat in boeke gepubliseer word.

“Op ’n kliniese vlak kan dit beskou word as ’n kommunikasiemiddel tussen die verskillende variëteite van ’n taal.”

Nie net ten opsigte van Afrikaans nie, maar regoor die wêreld is dit algemeen dat diegene wat die mag gehad het en in bevoorregte posisies was, besluit het hoe die standaardtaal moet lyk, het Odendaal gesê.

“Die geskiedenis wys die konteks waarbinne standaardtale tot stand gekom het en dit geld nie net vir Standaardafrikaans nie maar regoor die wêreld.”

In die proses is sekere mense uitgesluit van die standaardtaal en was daar nie gelyke verteenwoordiging van die verskillende variëteite nie. Dit lei tot ’n onewe magsbalans in die standaardtaal.

Odendaal sê ten spyte van die nadele het Afrikanernasionalisme ook voordele ingehou vir die ontwikkeling van Standaardafrikaans en mens wil dit nie wegvat nie.

“Dit was nie noodwendig ’n geval van doelbewuste uitsluiting van ander of kwade gevoelens teenoor mense nie. Dit is egter belangrik dat daar nou, in ’n ander tydvak, met nuwe oë gekyk word hoe die standaard van die taal vandag lyk.”

Olivier sê wat vir haar vandag belangrik is, is dat die breër Afrikaanse gemeenskap saam eienaarskap van die taal sal neem. Om dit reg te kry moet ander variëteite  ook erken word as deel van die standaard. Sy sê dit kan nie lukraak gedoen word nie. Dit sal moontlik wees slegs as die standaardiseringsproses inklusief is en deur almal wat die taal praat, omarm word.

.........
Olivier sê wat vir haar vandag belangrik is, is dat die breër Afrikaanse gemeenskap saam eienaarskap van die taal sal neem. Om dit reg te kry moet ander variëteite  ook erken word as deel van die standaard. Sy sê dit kan nie lukraak gedoen word nie. Dit sal moontlik wees slegs as die standaardiseringsproses inklusief is en deur almal wat die taal praat, omarm word.
...........

Daar word dus al hoe meer gekyk na die “herstandaardisering” van Afrikaans en die proses wat daarvoor gevolg moet word.

Een van die vrae wat tydens die seminaar na vore gekom het, was waarom Standaardafrikaans lyk soos wat dit lyk. Odendaal sê die politieke problematiek van die standaard maak dit noodsaaklik dat daar gekyk sal word of al die wonings van die taal inderdaad in gedagte gehou is toe daar besluit is hoe die standaard moet lyk. “Dit wat skeefgetrek is in die verlede moet reggestel word.”

Herstandaardisering beteken nie daar word weggedoen met ’n standaard nie, sê Odendaal. “Ons sê kom ons staan net krities teenoor hoe hierdie standaard wat ons vandag het, gevorm is. As ons voel daar is ’n skeefgetrekte beeld, wil ons graag hê dat meer gemeenskappe inspraak sal hê om ook ander woorde en variëteite in te sluit as deel van die standaard.”

Voorbeelde daarvan is die byvoeging van woorde uit Oranjerivierafrikaans en Kaapse Afrikaans in die Afrikaanse woordelys en spelreëls, soos wat reeds gebeur. “Dit is vir my die regtrek van die standaard, om ook ander variëteite deel te maak van die standaard,” sê Odendaal.

Die benaming Standaardafrikaans is vir baie Afrikaanse mense problematies omdat dit by sekere taalgebruikers die indruk skep dat hulle taalgebruik nie op standaard is nie.

Olivier sê die term Standaardafrikaans pla haar ook. Dit impliseer dat die ander variëteite van die taal substandaard is. Sy wonder of die term Algemene Afrikaans nie dalk ’n beter benaming is vir gestandaardiseerde Afrikaans nie.

Die taalonderrigportaal VivA beskryf Algemene Afrikaans as die vorm van Afrikaans wat die wydste voorkom deur moedertaalsprekers. “Dit is die gesproke en geskrewe Afrikaans van moedertaalsprekers aan die begin van die 21ste eeu, wat oor die algemeen te lees en te hoor is in die hedendaagse hoofstroommedia.”

Odendaal stem saam dat daar Afrikaanse mense is wat uitgesluit voel van die taal. Daarom word daar vrae gevra oor die naam Standaardafrikaans en moet daar krities gekyk word hoekom daar mense is wat voel dat hulle niks te doen wil hê met Standaardafrikaans nie. “Taal word nie ter wille van taal gestandaardiseer nie. Taal is in die eerste plek daar vir die mense wat die taal praat.”

Conrad Steenkamp van die Afrikaanse Taalraad het verwys na die stigmatisering van sommige variëteite van Afrikaans en soms neerhalende verwysings daarna. Hy wou weet hoe verander mens daardie houdings teenoor Afrikaans.

Steenkamp sê die probleem is nie hoe mense praat nie, maar die voorskriftelikheid van hoe hulle “veronderstel is” om te praat. “Engels sit met dieselfde kwessie en het meer as een standaard.”

Odendaal sê wanneer die verskillende variëteite op skool behandel word, behoort dit as volwaardige Afrikaans behandel te word en nie net as “iets oulik” of “snaaks” nie. Sy sê dit gaan nie net oor wát aangebied word nie, maar ook hóé dit aangebied word. Almal moet aan al die variëteit blootgestel word as deel van die leerplanne op skool.

Suléne Pilon, voorsitter van die TK en 'n taalkundige by die Universiteit van Pretoria se Departement Afrikaans, het die gesprek afgesluit met ’n opsomming van die TK se huidige gedagtes rondom Standaardafrikaans.

Sy sê die TK het amptelik toegetree tot die gesprek rondom die standaardisering of herstandaardisering van Afrikaans. “Daar is ’n behoefte aan die demokratisering van Standaardafrikaans en om moontlik die term Standaardafrikaans te vervang met Algemene Afrikaans.”

Hierdie demokratiseringsproses word volgens Pilon nie net deur ’n klein groepie mense uitgedink en afgedwing nie. Dit is ’n inklusiewe proses. Die TK se adviespaneel is saamgestel uit belangstellendes van die breë Afrikaanse taalgemeenskap wat ook verteenwoordigend is van verskillende belangegroepe.

Standaardafrikaans word in die AWS van 2017 beskryf as die komplekse resultaat van taalverandering en wysigings oor ’n tydperk van meer as 100 jaar. 

Die standaardvorm van 2017 lyk volgens die AWS allermins soos die standaardvorm wat in 1917 deur die toenmalige Spelling-Kommissie van die Woordelijs-Kommissie beskryf is. Standaardafrikaans is volgens die AWS “die dinamiese, lewende produk van kontak tussen die verskillende variëteite wat in die Afrikaanse taalgemeenskap in den brede gebruik word”.

Pilon sê vir sommige mense beteken die term Standaardafrikaans wit mense se Afrikaans wat ander variëteite van die taal uitsluit.

Daarom is die term op verskeie vlakke problematies. “Sosiolinguisties behoort dit (Standaardafrikaans) gelykwaardig aan alle ander niestandaardvarieteite gestel te word,  maar die term standaard op sigself doen ernstig afbreuk aan hierdie ideaal,” het Pilon gesê.

Lees ook:

Lesing: Die herstandaardisering van Afrikaans

’n Reaksie op Gerda Odendaal se lesing tov die herstandaardisering van Afrikaans

  • 11

Kommentaar

  • "Almal moet aan al die variëteite blootgestel word as deel van die leerplanne op skool."
    Hoekom? Dit gaan mos nou 'n oorvol leerplan tot gevolg hê. Dink net as, in Duitse skole byvoorbeeld, die kinders aan al die variëteite van Duits blootgestel word, of Engelse kinders aan al die variëteite van Engels? Dit sal chaos wees.
    Buitendien, trek 'n sirkeldiagram wat die verdeling van die sprekers van Standaardafrikaans voorstel aan die een kant en sogenaamde Algemene Afrikaans aan die ander kant. Wie sluit vir wie uit?

  • Ek lees dat Standaardtaal moet ophou baasspeel in Afrikaans' in Die Burger (8/6), asook hier, maar ook dat die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se 'Taalkommissie' bestaan uit sewe wit lede.
    Ek kan nie glo dat in hierdie tye daar nog ENIGE landwye komitees / kommissies / panele of verteenwoordigende groepe is wat uitsluitlik wit is nie.
    En dit oor Afrikaans wat deur meer nie-wit mense gepraat word as witmense!
    Wat dink hierdie mense?
    Dink hulle Suid-Afrika is 'n wit enklave wat net bestaan uit een ras en kulturele groep?
    Diegene moet bykom en besef dat hulle absoluut geen legitimiteit het in die oë van die oorgrote meerderheid Suid-Afrikaners nie.

  • Charl, is jy seker die "oorgrote meerderheid" praat Afrikaans? Daar is 'n baie groot gedeelte wat 'n mengsel van Afrikaans en Engels praat; jy kan hulle nie as Afrikaanssprekers reken nie.

  • Kan ons asseblief wegbeweeg van rasgroeperinge. Ek beskou myself as Afrikaan wat oorwegend Afrikaanssprekend is. My spreektaal verskil van my formele gebruik van Afrikaans, net soos ek Engels formeel of informeel gebruik. Is dit nie doenlik om Afrikaans, net soos ander tale, in formele en informele terme te klassifiseer nie?

  • Fezela, jy som in een sin op wat 'kundiges' ure en ure en baie bladsye besig hou. Maar hulle probeer so hard polities korrek wees, hulle tas rond in die donker. Enige taal het 'n formele, gestandaardiseerde weergawe en vryer, inklusiewe weergawes. Mens kan nie elke dialek van 'n taal saamflans dat dit soos 'n smartieboks lyk nie. Formele en vryerweergawe spel- en taalreëls behoort in een bron saamgeneem te word met duidelike onderskeid sonder om geografiese, politieke of rasgrense te trek.

  • Johannes Dippenaar

    As Standaardafrikaans verdwyn, is dit die dood in die pot vir Afrikaans. Taal is vir kommunikasie, daarom moet daar 'n standaardtaal wees. Is dit werklik so moeilik om dit in te sien? Fezela vat dit mooi saam.

  • Koos Vollgraaff

    Uitmuntend gestel, Joan - en 100% korrek. Maar in SA gaan alles nou eerstens oor politiek en die huidige politieke narratief (ook taalpolities) vereis dat daar "wit enklav(?)es" (Charl Adams hierbo) van troglodiete bestaan wat verantwoordelik gehou word vir ongeveer alles wat nog ooit verkeerd geloop het vir almal in die land. Dit gee meriete (hoe vals ookal) vir die proses van "transformasie" - ongedefinieerd, maar op alle vlakke en in alle opsigte. Ek dink dis niks anders as 'n implisiete ontkenning en defleksie van selfverantwoordelikheid nie. 'n Eksterne vyand is nodig sodat mens nie self tioerekeningsvatbaar hoef te wees nie - daarom "liberation before education". Nog steeds en nog altyd.
    Ek is oortuig dat 'n mens nie die "uitgeslotenes" sal oortuig dat hulle, wat Afrikaans betref, nog nooit uitgesluit was nie -soos ek dit verstaan.
    (Jong taalentoesiaste kan 'n Saterdagoggendse begeleide toer vir "uitgeslotenes" na die diachronie-afdeling van Afrikaans in die J. S. Gericke-biblioteek op Stellenbosch oorweeg - en vir hulle VOOR TE LEES. Maar dit sal heel waarskynlik 'n futiele oefening wees).
    Feite en rasionaliteit is tans 'n doodskoot vir populistiese transformasie soos dit in SA beoefen word - soos op Stellenbosch bewys is tydens die onlangse konvokasiekonsternasie. Maar laat die transformasiete maar voortgaan (ons wil nie groter werkloosheid hê nie) en kyk of hulle dié wat "uitgesluit" voel, kan gaan "insluit" sodat werklike transformasie, dié in die kop, kan begin.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top