Ek staan gereeld in verwondering oor hoe soepel taal kan wees. Hierdie naweek, byvoorbeeld, is die woord raygun gebore.
Om te raygun is om klaaglik te misluk in iets wat jy met groot selfvertroue aanpak. Net iemand wat in afsondering en sonder enige digitale toegang tot die wye wêreld lewe, ken nie teen hierdie tyd die naam van die persoon wat heel laaste gekom het in die Olimpiese Spele se breaking-kompetisie nie. Daar is heelwat gewag gemaak van die feit dat breaking, of breakdance soos dit meer algemeen bekend is, nie ’n Olimpiese sport behoort te wees nie. Indien dit reg gedoen word, is dit ’n atletiese vertoning wat swaartekrag probeer fnuik. Die beste breakers laat mens oopmond van bewondering vir die absolute beheer oor hulle liggame, die atletiese toertjies, die getol, die ritme, alles. Dit wys hoedat die menslike liggaam tot sy uiterste gedruk kan word, en dan selfs verder. Dalk is dit hoekom die atlete self verkies om van breaking te praat en nie van breakdancing nie. Dit is soveel meer as net ’n dansroetine.
........
Om te raygun is om klaaglik te misluk in iets wat jy met groot selfvertroue aanpak.
........
Rachael Gunn het dit alles in die grond vertrap en ’n bespotting daarvan gemaak met haar Olimpiese roetine. Sy het dit gedoen wetend dat sy nie die beste persoon op die mat gaan wees nie. Na berig word, was sy ook nie die beste persoon om aan die Australiese uitdunne deel te neem nie, maar dit help natuurlik as jy getroud is met die beoordelaar wat Australië se beste moet aanwys. Om alles te vererger, is sy ’n akademikus wat haar PhD in breaking gedoen het. Natuurlik was dit algeheel teoreties met geen praktiese komponent nie, anders sou sy waarskynlik nooit haar doktoraat behaal het nie.
Wat het by die Olimpiese Spele gebeur? Gunn het aan drie wedstryde deelgeneem. By elke wedstryd is daar nege beoordelaars. Sy het dus 27 geleenthede gehad om punte aan te teken terwyl sy haar roetine uitgevoer het. Sy het ’n totaal van nul punte aangeteken oor al drie wedstryde om aan haar die heel laaste plek te besorg. Dit wil gedoen wees.
Wanneer gewone mense soos ek na die atlete in die Olimpiese Spele kyk, is dit met absolute verstomming oor hul bomenslike vermoëns. Ek kyk nie na Simone Biles en dink dat ek dieselfde kan doen nie. Natuurlik nie. Maar terwyl ek na Gunn se vertoning gekyk het, was my eerste gedagte: Ek kan beter doen. Die feit dat nie een enkele beoordelaar bereid was om ’n punt aan haar toe te ken nie, bevestig die kyker wat haar deur memes bespot, se oordeel dat sy nie van Olimpiese gehalte is nie. Nie dat dit haar pla nie. Gaan google haar gerus. Die eerste resultaat wat nou kom, is dat sy ’n Olimpiese atleet is. Selfs as jy heel laaste kom met nul punte, is dit nou deel van jou biografie.
Dit maak ’n bespotting van elke ander persoon wat hard gewerk het om te kan deelneem aan die Spele, elke atleet wat hul liggame en hul wilskrag tot die uiterste beproef het om die heel beste in hul sport te wees. Dit maak ’n bespotting van elke Australiese breaker wat hope talent het, maar nie die finansiële vermoëns om te kom tot by die plek waar die uitdunne gehou is nie. Dis nie die Olimpiese komitee se skuld nie. Reeds by die keuring in Australië het dinge verkeerd geloop.
Dit maak ’n breër gesprek oop oor die wyse waarop talent nog steeds ondergeskik gestel word aan ekonomiese welvaart, ook hier in Suid-Afrika. Dis nie die heel bestes wat deelneem aan sport nie, dis diegene wat die beste kan bekostig. Partykeer gebeur dit deur beurse, maar meesal omdat atlete se ouers die ekonomiese vermoë het om hul kinders die beste te gee. Ten minste het ons in Suid-Afrika mense wat na die sogenaamde agtergeblewe gemeenskappe gaan om talent te ontdek en te ontwikkel. Wat sou gebeur het indien Siya Kolisi nie “ontdek” is nie? Sy familie kon nie bekostig om hom te stuur na die skole waar sy talent ontwikkel sou kon word nie.
Uit my eie skooldae onthou ek ’n atleet met die naam Patrick Cloete. Hy kon hardloop soos die windjie. Maar dit was apartheid en sy ouers was plaaswerkers. Indien Patrick vandag op skool was, sou hy met gemak op nasionale vlak kon hardloop, dalk selfs internasionaal. Hy het nie daai geleentheid gekry nie.
Netso is daar in Australië talentvolle breakers wat ontneem is van ’n geleentheid om op gelyke vlak deel te neem, omdat hulle nie kon bekostig om te reis na waar die uitdunne gehou is nie. Maar selfs al kon hulle dit bekostig, sou hulle net hul geld gemors het. Uit die snitte wat ek kon opspoor oor die uitdunne, is dit duidelik dat die danser wat tweede gekom het, ene Molly, strate beter was as Raygun. Sy is nie gekies nie. Natuurlik nie.
........
Maar daar is iets veel donkerder aan Gunn se hubris. Sy is bereid om talentvoller atlete uit die pad te stoot sodat sy op die internasionale verhoog kan deelneem. Haar vertoning is ’n absolute bespotting, maar sy het geslaag daarin om bekend te word.
........
Die Olimpiese komitee het selfs voor die einde van die Spele (maar ná Raygun se vertoning) aangekondig dat dit nie op die volgende twee Olimpiese Spele aangebied sal word nie. Ek is seker hulle hoop dat sy daarna te oud sal wees om deel te neem, maar ek dink hulle onderskat haar absolute gebrek aan selfondersoek. Sy sal nog in ’n rolstoel daar ingestoot word om deel te neem.
Maar daar is iets veel donkerder aan Gunn se hubris. Sy is bereid om talentvoller atlete uit die pad te stoot sodat sy op die internasionale verhoog kan deelneem. Haar vertoning is ’n absolute bespotting, maar sy het geslaag daarin om bekend te word. Niemand weet wie die kompetisie gewen het nie. Niemand weet eers van die fantastiese vertonings van ander deelnemers, beide manlik en vroulik, nie. Die Japannese atleet, Ami Yuasa, het goud gewen, met Dominika Banevič van Lituanië wat silwer verower het en Liu Qingyi van Sjina wat die brons medalje geneem het. Die mans het veral beïndruk, met die Kanadees Phil Kim wat met goud weggeloop het, Dany Dann van Frankryk met silwer en die Amerikaner Victor Montalvo met brons.
Australië se Eerste Minister het Gunn ondersteun en gesê dis die Australiese manier “to have a go”. Die meeste gewone Australiërs sou waarskynlik veel eerder wou hê dat iemand met ’n modikum talent moes deelneem.
Ek het oor die naweek ’n gesprek gehad met ’n vriendin wat van mening is dat breaking eerder deur swart mense gedoen behoort te word. My reaksie was toe, en is nou, dat die kleur van die danser nie ’n verskil behoort te maak nie, solank as wat hulle die tradisie respekteer en die dissipline eer, en solank as wat hulle die beste is in breaking. Maar wanneer die patetiese vertoning van ’n arrogante wit vrou wat duidelik geen konsep het van wat sy doen nie, inbreuk maak op die vertoning van atlete met talent, dan kan ek nie anders as om die woord toe-eiening te gebruik nie. Sy het eiehandig daarin geslaag om ’n ernstige gesprek oor breaking as sport te ontspoor in ’n bespotting oor haar gebrek aan talent. Sy het eiehandig geslaag daarin om breaking as Olimpiese sport te breek.
Ek is nie ’n voorstander van lyfstraf nie, maar ek kan nie help om te wonder of dinge anders sou uitgedraai het as sy net een keer as kind gewiks is nie. En ek sou bitter graag ’n vlieg teen die muur wou wees as sy ná hierdie fiasko in ’n klaskamer instap om breaking te doseer.
Lees ook:
Kommentaar
Kan die bron vermeld word wat beweer dat haar man 'n beoordeelaar is/was tydens haar uitdunrondte? Ek het dit as fopnuus. Tree met haar vertoning in gesprek, maar wanneer sulke "feite" aangehaal word, raak die meningstuk met menige suggestief-seksistiese diskoerse vervleg.
Ek weet te min van Breaking of Australië om 'n ingeligte opinie te kan lug oor die onderwerp. Uit my beperkte blootstelling kan ek egter sê dat ek volmondig met Me Wyngaard se opinie saamstem en dat ek dit geniet het om te lees.
Een regstelling egter: Me Dominika Banevič se land van herkoms is "Litaue"
Ek vertel soms vir mense my storie van die 1992 Barcelona oulimpieks. Daardie jaar was ek so 7 jaar oud en Brakkenjan en die 3 musketiers was my helde. Toe ek een dag weer voor die kassie inskyf, toe kondig hulle aan dat Brakkenjan nie sal wys nie. Dit moet plek maak vir die Spele. My hele wêreld het inmekaar getuimel... Dit was onbeskryflike emosies wat deur my gegaan het. Ek het die SABC as absolute verraaiers beskou. Die hoogste verraad!
Nietemin, dit het spoedig oorgewaai. En teen 1996, was ek saam met almal in vervoering oor Penny Heyns en al ons ander atlete en sterre. En vir baie jare het ek elke 4 jaar ook in die gees van die oulimpieks gedeel. Ek was daai outjie op Facebook wat elke medalje gretig geshare het en saam gejuig het. Maar iewers het die aktiviste 'n saadjie geplant. Ek het besef dat die Olimpiese Spele heel dikwels op 'n ekonomiese verlies uitloop. Begrotings vir basiese dienste word gesny. Skole. Klinieke. Behuising. Ens. Die armstes word die hardste daardeur getref, terwyl hulle nooit eens die binnekant van die stadion sal kan sien nie, weens die kostes van die kaartjie.
My ontnugtering met professionele sport strek verder. Ook na my mees geliefde sport, rugby. Ek volg nog die rugby, want ek is so lief vir dit. Maar ek onthou altyd dat dit alles maar net vermaak is, en dis veral vermaak vir die rykes. Self het ek nie televisie nie, en nog minder Naspers TV (wat die rugby gekolonialiseer het). Die Springbokke het op 'n tipiese dag weinig tot nul spelers uit arm skole. Professionele sport word maar op daardie manier bestuur. Diegene met die konneksies kry die geleenthede. Dis grotendeels maar vermaak vir die rykes. Ons treat onsself soms so bietjie met 'n kaartjie stadion toe. Ek is ook bly vir elke medaljewenner, maar my eie entoesiasme het merkbaar gedaal die afgelope klompie jare.
Ek druk nog die like-knoppie met elke medalje of oorwinning oor die All Blacks of Aussies. Maar ek share dit nie meer self nie.
Die mooiste rugby is in elk geval skolerugby.
As Raygun vir FatBoy Slim se hilarious "Praise you" as ironiese klankbaan gebruik het, het sy goud gekry.
Die besluit om breaking uit die Los Angeles Olimpiese-program weg te laat, is al in 2022 geneem.