Die Breytenbach Galery se kinder- en jeugliteratuurskryfskool: Madeleine Venter se terugvoer

  • 0

Is dit maklik om ’n kinderboek te skryf? Wat moet mens doen as dit jou droom is? En wat leer mens by ’n slypskool wat spesiaal hierop toegespits is?

’n Kinder- en jeugboekskryfkursus is onlangs by die Breytenbach Galery aangebied.

Naomi Meyer het voor die skryfkursus vir Mia Oosthuizen 'n paar vrae gevra gevra oor redes waarom sy die skryfkursus aangebied het.

 Mia, hoekom is dit belangrik om hierdie kursus aan te bied? Is dit iets waaroor julle self passievol voel – en waarom?

Kinder- en jeugliteratuur is my passie. Dit is waarom ek hierin gespesialiseer het. Om effektiewe en geloofwaardige hulp te kry in hierdie genres, is egter skaars. Hoeveel keer daag moedelose skrywers nie by my op omdat hulle net nie sukses behaal by ander kursusse nie. Vir my en Anne-Ghrett (Erasmus, van die Breytenbach Galery) is dit ’n absolute skande en dus het ons besluit om kragte saam te span vir ’n intensiewe skryfskool wat jou neem van storie-idee tot afgeronde manuskrip wat jy aan uitgewers kan voorlê. Die uitgewers is ook konstant op soek na nuwe skrywers wat hulle kan publiseer, maar die gemiddelde manuskrip wat op hul tafels beland, is net nie goed (genoeg) nie.

Vir my skakel die skryf van kinder- en jeugboeke ook by ’n groter sisteem van geletterdheid in. Hoe meer boeke en stemme daar is, hoe beter is die kans dat elke kind ’n storie of stem gaan kry waarvan hulle hou. Dit is krities belangrik by die ontwikkeling van lees, leeslus en leessmaak. Hoe meer boeke en hoe meer lesers, hoe beter dien dit geletterdheid, ’n teer punt wat almal maar te goed van weet. Daar is wonderlike organisasies wat die boeke wat op die rakke is, versprei, wat kinders help lees, wat projekte het om geletterdheid aan te spreek. My en Anne-Ghrett se doel binne hierdie sisteem is om meer boeke en stories en skrywers by uitgewers en hierdie organisasies uit te kry.

Wat kan mense verwag as hulle hierdie kursus bywoon? Miskien kan jy in breë trekke vertel wat elke maand gebeur.

Ons werk met kinder- en jeugboeke, so beslis baie pret! Maar ons is ook baie ernstig oor wat ons doen. Die laaste Saterdag van elke maand kom ons by die Breytenbach Galery bymekaar vir ’n kontaksessie. Hier kry jy jou kursusmateriaal en werk ons deur teorie, skryfoefeninge, kreatiwiteitsoefeninge en terugvoer. Skrywers kan vir my vrae vra en van medeskrywers se ervarings leer. Aan die einde van elke kontaksessie gee ek ’n groter opdrag vir die maand. Hierdie opdrag word aan my geë-pos en ek gee deeglike terugvoer voor die volgende kontaksessie. Elke oefening en opdrag werk mee om die storie wat jy wil skryf te vind en stelselmatig aan te werk. Ons eet op elk van daardie Saterdae ook te lekker aan sjefs van Wellington se kos. Die atmosfeer is baie rustig en die idee is om al die angs en vrese rondom skryf aan te spreek en uit die weg te ruim sodat jy die fantastiese proses van skryf vir kinders en tieners kan geniet.

Lees die volledige onderhoud oor die slypskool hier.

Na afloop van die skryfkursus het Naomi Meyer het Mia Oosthuizen gevra of enige van die skrywers wat die geleentheid bygewoon het, iets daaromtrent wou vertel.

Madelein Venter skryf wat die aspek van kinderboekskryf is waarvan sy die meeste geleer het.

Foto van Madeleine Venter: verskaf; foto van boeke: https://pixabay.com/photos/books-bookstore-book-reading-1204029/

............
Ek kan met alle eerlikheid sê dat ek nou baie meer vertroue in myself as skrywer het, en sal enige iemand wat graag kinder- en jeugboeke skryf of wil skryf aanmoedig om hierdie skryfskool te voltooi.
.............

Madeleine Venter

Daar is te veel om op te noem. Maar as ek iets moet uitsonder, sou ek sê dat die module oor verskillende plotstrukture en beplanning van kinder- en jeugverhale vir my baie beteken het. Waar ek in die verlede meestal ’n manuskrip halfpad gelos het – omdat ek net nie meer geweet het watter kant toe verder nie – skryf ek nou baie meer doelgerig.

Dit beteken nou nie dat Mia vir ons ’n reseppie gegee het waarvolgens mens kinder- en jeugboeke moet skryf nie; inteendeel, sy het ons aangemoedig om ons eie skrywerstem te ontdek. Dit geld ook vir die manier waarop jy wil beplan en tot watter mate.

Ek kan met alle eerlikheid sê dat ek nou baie meer vertroue in myself as skrywer het, en sal enige iemand wat graag kinder- en jeugboeke skryf of wil skryf aanmoedig om hierdie skryfskool te voltooi.

Lees ook:

Die Breytenbach Galery se kinder- en jeugliteratuurskryfskool: Deidré Victor se terugvoer

Die Breytenbach Galery se kinder- en jeugliteratuurskryfskool: Elsibé McGuffog se terugvoer

Die Breytenbach Galery se kinder- en jeugliteratuurskryfskool: Troula Goosen se terugvoer

 

Die Breytenbach Galery se kinder- en jeugliteratuurskryfskool: Pieter van Zyl se terugvoer

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top