Die Breytenbach Galery se kinder- en jeugliteratuurskryfskool: Jeanelde Mouton se terugvoer

  • 0

Jeanelda Mouton (foto: verskaf); foto van boekrak: https://pixabay.com/photos/books-bookstore-book-reading-1204029/

Is dit maklik om ’n kinderboek te skryf? Wat moet mens doen as dit jou droom is? En wat leer mens by ’n slypskool wat spesiaal hierop toegespits is?

’n Kinder- en jeugboekskryfkursus is onlangs by die Breytenbach Galery aangebied.

Naomi Meyer het voor die skryfkursus vir Mia Oosthuizen ’n paar vrae gevra gevra oor redes waarom sy die skryfkursus aangebied het.

 Mia, hoekom is dit belangrik om hierdie kursus aan te bied? Is dit iets waaroor julle self passievol voel – en waarom?

Kinder- en jeugliteratuur is my passie. Dit is waarom ek hierin gespesialiseer het. Om effektiewe en geloofwaardige hulp te kry in hierdie genres, is egter skaars. Hoeveel keer daag moedelose skrywers nie by my op omdat hulle net nie sukses behaal by ander kursusse nie. Vir my en Anne-Ghrett (Erasmus, van die Breytenbach Galery) is dit ’n absolute skande en dus het ons besluit om kragte saam te span vir ’n intensiewe skryfskool wat jou neem van storie-idee tot afgeronde manuskrip wat jy aan uitgewers kan voorlê. Die uitgewers is ook konstant op soek na nuwe skrywers wat hulle kan publiseer, maar die gemiddelde manuskrip wat op hul tafels beland, is net nie goed (genoeg) nie.

Vir my skakel die skryf van kinder- en jeugboeke ook by ’n groter sisteem van geletterdheid in. Hoe meer boeke en stemme daar is, hoe beter is die kans dat elke kind ’n storie of stem gaan kry waarvan hulle hou. Dit is krities belangrik by die ontwikkeling van lees, leeslus en leessmaak. Hoe meer boeke en hoe meer lesers, hoe beter dien dit geletterdheid, ’n teer punt wat almal maar te goed van weet. Daar is wonderlike organisasies wat die boeke wat op die rakke is, versprei, wat kinders help lees, wat projekte het om geletterdheid aan te spreek. My en Anne-Ghrett se doel binne hierdie sisteem is om meer boeke en stories en skrywers by uitgewers en hierdie organisasies uit te kry.

Wat kan mense verwag as hulle hierdie kursus bywoon? Miskien kan jy in breë trekke vertel wat elke maand gebeur.

Ons werk met kinder- en jeugboeke, so beslis baie pret! Maar ons is ook baie ernstig oor wat ons doen. Die laaste Saterdag van elke maand kom ons by die Breytenbach Galery bymekaar vir ’n kontaksessie. Hier kry jy jou kursusmateriaal en werk ons deur teorie, skryfoefeninge, kreatiwiteitsoefeninge en terugvoer. Skrywers kan vir my vrae vra en van medeskrywers se ervarings leer. Aan die einde van elke kontaksessie gee ek ’n groter opdrag vir die maand. Hierdie opdrag word aan my geë-pos en ek gee deeglike terugvoer voor die volgende kontaksessie. Elke oefening en opdrag werk mee om die storie wat jy wil skryf te vind en stelselmatig aan te werk. Ons eet op elk van daardie Saterdae ook te lekker aan sjefs van Wellington se kos. Die atmosfeer is baie rustig en die idee is om al die angs en vrese rondom skryf aan te spreek en uit die weg te ruim sodat jy die fantastiese proses van skryf vir kinders en tieners kan geniet.

Lees die volledige onderhoud oor die slypskool hier.

Na afloop van die skryfkursus het Naomi Meyer het Mia Oosthuizen gevra of enige van die skrywers wat die geleentheid bygewoon het, iets daaromtrent wou vertel.

Jeanelda Mouton skryf wat die aspek van kinderboekskryf is waarvan sy die meeste geleer het.

Klik ... Whooosh ...

’n Groot deur swaai oop. Vars lug woer en warrel deur al die hoeke van my brein. Ek is in my eerste skryfskoolsessie. Ek sit op die punt van my stoel en voel tot in die murg van my bene dat hierdie ’n avontuur gaan wees. Ek skraap al my moed bymekaar en tel my pen op. Eers versigtig en onvas, dan met bietjie meer selfvertroue en dan spring ek. Alles in. Nuwe inspirasie, idees en kennis. Die avontuur is oneindig. Soms is ons in die middel van ’n riller en ander kere sweef ons op die bedwelmende golwe van ons eerste liefde. Ek ontmoet karakters wat deur diepe waters loop, maar seëvier – ten spyte van hulle omstandighede. Karakters wat halsoorkop verlief raak en selfs, af en toe, ’n zombie-robot-KI-vampier wat die wêreld wil oorneem.

Ons skryf binne ons gemaksone en buite ons gemaksone. Ons leer bymekaar, bemoedig mekaar en absorbeer elke kriesel van Mia se diep en relevante kennis van die bedryf. Ek ontdek watter tipe skrywer ek is en my unieke manier van stories vertel. Ek verken nuwe skrywers en wenke en ontwikkel ’n verstaan van hoe die industrie werk.

Mia het ’n manier om jou deur die stappe en prossese te neem wat die GOUD in jou skryf uitbring. Die Skryfskool bied kennis, praktiese wenke en inpirasie. ’n MOET vir elkeen wie droom om eendag sy eie boek vas te hou.

Lees ook:

Die Breytenbach Galery se kinder- en jeugliteratuurskryfskool: Madeleine Venter se terugvoer

Die Breytenbach Galery se kinder- en jeugliteratuurskryfskool: Deidré Victor se terugvoer

Die Breytenbach Galery se kinder- en jeugliteratuurskryfskool: Pieter van Zyl se terugvoer

Die Breytenbach Galery se kinder- en jeugliteratuurskryfskool: Elsibé McGuffog se terugvoer

Die Breytenbach Galery se kinder- en jeugliteratuurskryfskool: Troula Goosen se terugvoer

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top