Die beweging van bloed deur Pieter Stoffberg: ’n resensie

  • 0

Titel: Die beweging van bloed
Skrywer: Pieter Stoffberg
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781776380770

Dit gebeur selde dat ek tydens die lees van ’n boek ’n skrywer google en dadelik van sy vorige romans aankoop. Pieter Stoffberg is een van dié dun gesaaides.

Jip, hy wat ook die skrywer is van Tenk, wat verlede jaar by Penguin Random House verskyn het. Tenk was nie iets waaroor ek huis toe sou skryf nie, maar sy nuutste pennevrug, ’n sielkundige riller getiteld Die beweging van bloed, prikkel alles wat ek van ’n naelbytspanningsverhaal verwag.

Dit verbaas my glad nie dat Stoffberg suinig is met woorde nie; sy debuutkortverhaal, Sussie of nie Sussie nie, het al in 1982 in Tydskrif vir Letterkunde verskyn en sy eerste kortverhaalbundel, Die hart van ’n hond, het in 1991 die Eugène Marias-prys ingepalm. Sy woordsuinigheid verhoog uiteraard die spanningslyn, byvoorbeeld hier:

Fokus op. Die geluide – staal op staal ... Sleutel in die voordeurslot? Daar is ’n paar pogings en dan swaai die deur oop. Ek is vasgenael. Gevries. Verlam. (bl 63)

’n Minder ervare skrywer sou die paragraaf onnodig uitgerek het, maar hierdie deurwinterde kortverhaalskrywer weet dat minder soms meer is.

’n Nog duideliker voorbeeld van sy kuns om woorde te sny verskyn op bl 65:

Die tweede man stap nader sonder om weer te skiet. Troon bo-oor my. Teen die agtergrond van lig uit die straat, herken ek sy silhoeët. Staal my onwillekeurig vir ’n skop. Vorige ervaring. Dit gebeur nie. Die pistool in sy hand beweeg totdat ek reg langs die loop afkyk. Hy huiwer, want sy bewustelose kollega lê half bo-oor my en beur selfs my kop half onder hom in. Dan buk hy vooroor, bring die loop nader vir ’n trompop skoot teen my kop.

’n Staccato woordspel word ook ewe effektief in die spanning by dialoog aangewend.

“Miskien het hulle koffie gaan koop by die Wimpy of iets?” Desperaat. (69)

En:

“Wat gaan van ons word?” Histeries. (69)

Om hierdie skryfstyl met Mike Nicol s’n te vergelyk gaan dalk te ver, aangesien Nicol se boeke heeltyd meesterlik in kragtige kort sinne saamgeweef is. Dalk Karin Brynard? Sy is spaarsaam met woorde en skilder ook helder prentjies met deeglike oorweegde woorde.

Alhoewel ek nou lofpsalms oor sy snykunde sing, het ek wel gevoel dat sekere paragrawe gesnoei moes word om die aksietonele se tempo te versnel. ’n Voorbeeld hiervan is op bl 65:

Die swaar lyf van die man bo-op my demp die klank, maar omdat die skoot amper teen my kop afgaan, is dit steeds oorverdowend. Die man bo my steier terug, sy oë groot en wit. Dan staan hy doodstil. Hy kyk na my. Sy gesig is smaller as die van sy kollega, sy neus fyner. Daar is ’n klein wit litteteken op sy voorkop. Dit is die eerste keer wat ek behoorlik na hom kyk. Dan val hy vooroor. Op sy gesig. Hard.

’n Paar kort paragrawe sou baie vinniger gelees het as hierdie uitgerekte paragraaf. Verder voel die karakterbeskrywing midde van ’n aanval misplaas. Dit tem ook die tempo van die storielyn wat hier blitsig moes gevloei het.

Stoffberg hou sy lesers aan die raai met ’n deeglik geweefde storielyn waarin die teologieseprofessor Nico Everhard, verbonde aan die Universiteit Stellenbosch, wat ook betrokke is by gemeenskapsprojekte in Stellenbosch se informele nedersetting, op sy kombuisvloer wakkerskrik. Oral is bloed, en sy vrou, Willemien, is verkrag.

Wie het by hulle huis ingebreek? Hoekom hulle oorval is? Watter boodskap probeer die aanvallers oordra?

Vir interne konflik sorg Stoffberg dat nie net Willemien die verkragting moet verwek nie, maar ook die hoofkarakter, aangesien hy magteloos was om haar te beskerm, soos hy self op bladsy 21 bely. Ten spyte van sy skuldgevoel ontsnap hy steeds in internetpornografie. Hou dit enigsins verband met die aanval?

.......
Om die galgtou nog stywer om die leser se nek te draai, herwin Everhard sy geheue soos die storie ontvou. Robert Ludlum het reeds met sy ikoniese Jason Bourne-reeks bewys hoe effektief geheueverlies spanning opbou.
.......

Om die galgtou nog stywer om die leser se nek te draai, herwin Everhard sy geheue soos die storie ontvou. Robert Ludlum het reeds met sy ikoniese Jason Bourne-reeks bewys hoe effektief geheueverlies spanning opbou.

Everhard se speurtog loop deur Kayamandi en kruis swaarde met ’n korrupte politikus en ’n mensehandelkring. Was dit nie vir sy eie duiwels en herhaaldelike leuens nie, kon speurderluitenant Augustus die saak in ’n japtrap opgelos het.

Dit is juis sy verslawing aan pornografie en sy leuens om sy geheim te verbloem wat dit bykans onmoontlik maak om van hom te hou. Tog. Sy wil om te oorwin, sy speurtog, begin aan lesers groei. Dalk ontplof hy nog in ’n held.

Dit is juis hierdie menslike swakheid wat hierdie karakter driedimensioneel maak.

Om die inkoop in die hoofkarakter te vergemaklik, skryf Stoffberg sy storie in die eerste persoon. François Bloemhof voer in Donker veld, ’n bundel spanningskortverhale wat LAPA in 2002 uitgegee het, aan dat die gebruik van die ek-verteller die spanningselement kan versterk, en in Die beweging van bloed sien ek hoekom, al lees ek bykans nooit boeke met ’n ek-verteller nie.

Die skrywer het egter daarin geslaag om die irriterende “ek” te omseil, in so ’n mate dat dit nooit vir my gevoel het of ek ’n roman uit die eerstepersoonperspektief lees nie. ’n Mens kan die boek bykans op enige plek opmaak en begin tel – “ek” lê min gesaai. Op bladsy 63 kom dit 14 keer voor. Stoffberg fokus eerder op wat Everhard hoor, sien, ervaar, dink, ens.

Volgens Wikipedia se profiel oor die skrywer speel geloof die bepalende faktor in sy skryfwerk – ek kan sien hoekom, want hy weeg “integriteit” as tema meesterlik op teenoor “korrupsie” en “mensehandel”.

Die skrywer en resensent Emile Joubert skryf met reg vir Rapport (12 Mei 2024) dat selfs Deon Meyer die aksiegedrewe – sekuur geskryf – en tegnologiese besonderhede sou goedkeur.

Laastens: Francois Bekker lig in sy resensie vir Beeld (8 April 2024) uit dat benewens die hope senutergende aksie dit veral die verrassende kinkels van die verhaal is wat die leser enduit aan die raai hou en boei – ek beaam dit.

Die beweging van bloed is werd om gelees te word. En vir aspirantskrywers wat graag die kuns van die ek-verteller wil verfyn, ’n móét-lees.

Lees ook:

Kortliks met Stefaans: 1 Julie 2024

Nog lesersindrukke en idees oor genres wat ’n versadigingspunt bereik

Bloedsomer deur Sidney Gilroy: ’n lesersindruk

Al wat tel deur Irma Venter: ’n lesersindruk

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top