
Foto van Xiaoping Deng: https://en.wikipedia.org/wiki/Deng_Xiaoping; vlae van China en die VSA: wikipedia
Toe Deng Xiaoping, die eertydse Chinese president, gevra is wat hy van die Franse Revolusie dink, het Deng, wat allerweë as die vader van die moderne China beskou word en self in Frankryk studeer het, glo geantwoord: "Dis nog te gou om te sê."
My gedagtes het die afgelope tyd onwillekeurig na Deng teruggegaan terwyl die Weste sukkel met ’n ander jong konsep: die opkoms (en dalk mislukking) van die Westerse demokrasie. Hierdie regeringsvorm, wat nog net ’n paar honderd jaar oud is, is deesdae in ’n ernstige bestaanskrisis gewikkel. Amerika, wat as die bastion van die Westerse demokrasie beskou word en selfs ’n organisasie het om dit in die res van die wêreld te bevorder, steier met die jongste presidentsverkiesing daar van die een krisis na die ander.
.............
Soos ek die Westerse demokrasie verstaan, word daar elke paar jaar in ’n land wat dit aanhang, ’n verkiesing gehou waartydens die inwoners kan kies wie hul regeerders moet wees. Elke inwoner het ook die reg om daarteen beswaar te maak en vreedsaam teen enige besluit van die regering te betoog. Daar word ook vereis dat verkiesings in sulke lande vry van bedrog moet wees en dat die uitslae van verkiesings die ware wil van die inwoners van ’n land moet weerspieël.
..........
Soos ek die Westerse demokrasie verstaan, word daar elke paar jaar in ’n land wat dit aanhang, ’n verkiesing gehou waartydens die inwoners kan kies wie hul regeerders moet wees. Elke inwoner het ook die reg om daarteen beswaar te maak en vreedsaam teen enige besluit van die regering te betoog. Daar word ook vereis dat verkiesings in sulke lande vry van bedrog moet wees en dat die uitslae van verkiesings die ware wil van die inwoners van ’n land moet weerspieël.
Die onlangse presidentsverkiesing in die VSA plaas al hierdie aspekte onder die soeklig. Terwyl die media in Amerika meestal bevestig dat Joe Biden die verkiesing gewen het, beweer president Donald Trump dat daar grootskaalse bedrog was en dat hy eintlik gewen het. Erger nog, baie Amerikaners beweer nou dat verkiesingsbedrog in Amerika endemies is en dat dit al dikwels in die verlede gebeur het. Soos so dikwels in die verlede is daar ook betogings van beide kante en volgens berigte probeer Trump druk op verkiesingsamptenare uitoefen om sy bewerings van korrupsie te staaf. Hy kry dit nie reg nie en het die howe genader (wat gerieflikheidshalwe vol regters is wat hy aangestel het) om die uitslag in sy guns te probeer swaai. Hy het selfs van sy militêre bevelshoofde ontslae geraak en hulle vervang met mense wat hom goedgesind is. Die vraag is waarom?
Die talle Afrika-, Suid-Amerikaanse en ander lande dwarsoor die wêreld waar militêre juntas die regering oorgeneem het nadat daar ’n dispuut by die stembus was, moet die toedrag van sake met meer as die gewone belangstelling dophou. Militêre bevelshoofde in onder meer Libië, Egipte en Venezuela moet nou dink dat dit is soos die Westerse demokrasie werk: As Amerika weier om die uitslag by die stembus te aanvaar (en sê manipulasie was maar altyd daar), hoef hulle resultate wat nie na hul sin is nie, ook nie te aanvaar nie. Hoeveel lande was daar nie die afgelope tyd waar die opposisie na ’n verkiesing geweier het om die uitslag te aanvaar en derduisende betogers hulle na die strate gewend het nie (en sommige beweer dit word met die aansporing van Amerika gedoen). Dink maar aan Belarus (Wit Rusland), die Oekraïne, die Filippyne en andere. President Trump, moet hulle seker sê, moedig ook sy volgelinge aan om strate toe te gaan en die uitslag van die verkiesing te betwis.
Wat sake nog erger maak, is dat Amerika deesdae ’n land is wat in twee geskeur is: Byna die helfte (wat die oorgrote groepe Christene insluit) is fanaties aan Trump se kant. Sommige beweer dat hy ’n profeet van God is en om teen hom te stem daarop neerkom dat God verwerp word. Die ander helfte is net so emosioneel en bestempel hom as die Antichris. Wat ’n voorbeeld van die Amerikaanse en Westerse demokrasie vir die res van die wêreld!
Om dinge verder te kompliseer, het Amerika ’n organisasie (wat deur die staat befonds word) wat hom dwarsoor die wêreld daarvoor beywer om ander regeringsvorme met die Westerse manier van doen te vervang. Die National Endowment for Democracy is in baie lande hard aan’t werk, onder meer in Suid-Amerika, Hongkong, Rusland en China. Op sy webblad roem die stigting daarop dat hy in baie lande soos Tibet, Egipte en ander geld aan organisasies gee wat probeer om Westerse waardes te bevorder.
Nietemin, dis seker dat die toedrag van sake ook in China met belangstelling dopgehou word. Terwyl Amerika besig is om in te plof, gaan die Chinese ekonomie van krag tot krag. China, wat deur Trump daarvan beskuldig word dat hy met opset die COVID-19-virus in die wêreld versprei het, se groeikoers sal vanjaar dalk een van die weiniges ter wêreld wees wat sal styg. Nie dat China ongedeerd van Trump se anti-Chinese maatreëls en retoriek afgekom het nie. Amerikaanse onderwysers sukkel deesdae om daar werk te kry en daar is ’n groeiende anti-Westerse gevoel by gewone Chinese, volgens jong Suid-Afrikaners wat in China werk.
China het nog altyd Amerikaanse verkiesings met agterdog bejeën. Hulle was altyd van mening dat dit die kandidaat is met die meeste geld wat wen. In Amerika se geval, het hulle gesê, vat die wenner ’n jaar om sy werk te leer ken, en weer ’n jaar voor die volgende verkiesing om aan sy herverkiesingsveldtog deel te neem. Dit laat net twee jaar toe om die land effektief te bestuur.
China beskou Westerse demokrasie as ’n proefneming wat nog moet bewys dat hy kan slaag. In ’n beskawing van duisende jare wat nog altyd ’n outoritêre regering in een of ander vorm gehad het, is ’n paar honderd jaar nie genoeg tyd vir ’n oordeel oor die sukses daarvan nie. Kommunisme het nie die toets van die tyd deurstaan nie en nee, China het nie meer die klassieke kommunisme van Mao Zhedong nie.
Maar terug na Deng: Dis hy wat die eerste stappe gedoen het om die Chinese ekonomie oop te stel. Dis ook hy wat gepraat het van sosialisme met Chinese karaktertrekke en gesê het dis nie ’n sonde om ryk te word nie. Dit moet net nie ten koste van die samelewing gedoen word nie. ’n Kat mag maar wit of swart wees, solank hy net kan muise vang.
Dis egter ook hy wat tenks en soldate in die berugte Tiananmen-plein-slagting ontplooi het toe betogers gedreig het om "die sosiale orde te versteur", ’n frase wat gebruik word as daar vir politieke mag geagiteer word.
Wat verkies die wêreld as voorbeeld: Amerika of China? Of is daar ’n voorbeeld van iets tussenin?
Lees ook:
Presidentsverkiesing in die VSA: ekonomiese implikasies vir Suid-Afrika

