- Cliffordene Norton skryf ’n gereelde boekrubriek vir LitNet.
Titel: Gif
Skrywers: Annerle Barnard en Franco V Heyn
Uitgewers: LAPA
ISBN: 9780637005500
Joe Schutte en sy pelle, Nathe en Thabo, lewe vir rugby. Al die ander aspekte van Joe se lewe is so vars soos verlede jaar se brood. Maar skielik verander iets in die rugbyspan. Dit voel asof hulle spanmaats oornag groter, sterker, beter is. Joe en Thabo verloor hulle plekke in die span, terwyl Nathe onseker is oor sy plek. Die drie beraam ’n plan, maar dis onwettig en die risiko is groot. Joe wíl nie, maar besef dat hy nie anders kan as om te help nie. Asof die drek in sy lewe nie genoeg is nie, moet hy hom ook bekommer oor Sticks en Nina, sy ouer suster. Dan is daar Joanne. As Joe en Joanne se sterre mekaar gevind het, waarom kan sy ma haar nie verdra nie?
Ek is nie iemand wat maklik oor my afkeer van ’n hoofkarakter praat nie, maar toe ek Joe, die protagonis van Gif ontmoet, het ek nie dadelik van hom gehou nie. Selfs minder van sy vriend Nathe.
.......
Dit het my laat wonder hoe dit sou wees om ’n storie vanuit die perspektief van ’n boelie te lees. Interessant, of net frustrerend?
.......

Gif deur Annerle Barnard en Franco V Heyn (LAPA, 2024)
Die eerste keer dat ek hulle teëkom, is hulle besig om een van hul rugbyspanmaats uit te tart om ’n reaksie uit te lok. Hulle het my herinner aan boelies. Tog was daar iets aan dié toneel wat my nuuskierig gemaak het. Dit het my laat wonder hoe dit sou wees om ’n storie vanuit die perspektief van ’n boelie te lees. Interessant, of net frustrerend?
Namate ek die storie ingedrink het, het ek egter agtergekom daar’s meer aan Joe en Nathe as hul aanvanklike roekeloosheid. Joe se frustrasie en woede word later duideliker en, in sommige opsigte, verstaanbaar.
Joe word in die eerste hoofstuk as eerstespansenter deur Henk, ’n rugbyspanmaat, vervang, want hy is groter en vinniger. Joe en sy vriende vermoed dat Henk en ’n paar van die ander spelers “djoes” (of “juice”) – ‘n steroïde – gebruik. Hulle besluit om dit te bewys sodat hulle hul plek in die span kan terugkry.
Die rimpeleffek van seer
Een van die boek se sterkste punte is hoe dit wys wat Alzheimersiekte aan ’n gesin kan doen. Joe se oupa, na wie Joe vernoem is, het dié siekte. Joe sukkel om sy oupa se siekte te aanvaar.
Die emosionele impak is tasbaar. Daar’s die hartseer van iemand liefhê wat steeds daar is, maar terselfdertyd nie meer ten volle teenwoordig is nie. Dit is ’n rou realiteit wat Barnard en Heyn met deernis en insig uitgebeeld het.
Sterk spanne, swak besluite
........
Dit is nie die eerste keer dat ek ’n boek lees oor die morele en fisieke gevolge van dwelmmisbruik nie, maar Gif stel opnuut belangrike vrae.
........
Die sentrale storie oor steroïdegebruik in ’n rugbyspan is ewe treffend. Dit is nie die eerste keer dat ek ’n boek lees oor die morele en fisieke gevolge van dwelmmisbruik nie, maar Gif stel opnuut belangrike vrae. Het ons as samelewing steroïdegebruik so genormaliseer (selfs ouers en skoolpersoneel moedig dit in die storie aan) dat dit amper aanvaarbaar geword het? Dit is vir my sinvol hoe die boek hierdie etiese grense ondersoek, veral as dit op jonger lesers gemik is.
Joe se verhouding met Sticks, ’n spanmaat wat steroïdes gebruik, is een van die sterkste verhoudings in die boek. Dit is genuanseerd, met oomblikke van empatie en begrip wat die karakter Sticks menslik maak. Dit kon maklik vlak gewees het, maar hierdie aspek van die storie gee Gif ’n verrassende diepte wat die boek beter maak as net ’n gewone riller oor steroïede.
Verlore geleenthede
Hoewel die boek sterk begin, is daar geleenthede wat verlore gegaan het. Joe se pa werk by ’n intelligensie-agentskap, iets wat byna skree vir konflik, maar dit bly grotendeels in die agtergrond. Hoe interessant kon dit nie gewees het as Joe se pa se werk ’n groter invloed op die gesin gehad het nie? Hoeveel spanning kon dit nie bygevoeg het nie?
Joe se suster Nina en meisie Jo-Anne voel vir my onderontwikkel. Nina sukkel met alkoholisme, en omdat die leser nooit ’n goeie insig in die oorsaak daarvan gegee word nie, is haar besluite en optrede irriterend.
Daar’s heelwat los drade deur die boek – soos die span se dinamiek voor en ná die steroïede-insidente – wat teen die einde vinnig en oppervlakkig afgehandel word. Waar ek ’n dramatiese klimaks verwag het, het die einde ietwat gejaag gevoel.
Ten spyte van hierdie tekortkominge is Gif die moeite werd om te lees. Dit bied nie net ’n blik op die gevolge van steroïede nie, maar spreek ook temas soos familieverhoudinge, verlies, en die kompleksiteite van menslike verhoudings aan. By jonger lesers sal die boek beslis aanklank vind.
Is Gif perfek? Nee. Maar dit is uitdagend, goed geskryf, en gelaai met genoeg drama om jou aan die lees te hou.
Lees ook:
Cliff-hanger: Quinn se jaar van kwik deur Zelda Bezuidenhout – ’n resensie
Cliff-hanger: "Afrikaanse boeke is net so goed soos Engelse boeke"
Cliff-hanger: Foto’s & fairy lights deur An-Mari do Carmo – resensie en onderhoud