Cliff-hanger: Een jaar as meestersstudent

  • 0

Prenterkenning: Canva

  • Cliffordene Norton skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.
........
Dit is weer daardie tyd van die jaar. Die tyd wanneer ’n mens terugkyk en vra: Wat het ek hierdie jaar geleer?
.........

Dit is weer daardie tyd van die jaar. Die tyd wanneer ’n mens terugkyk en vra: Wat het ek hierdie jaar geleer?

Vir baie mense is ’n jaareinde net ’n oorsig van hoogtepunte. Vir ander is dit ’n eerlike boekevat: van seëninge én struikelblokke, van oorlewing en groei. 2025 was vir my laasgenoemde.

Nie net ’n jaar wat gebeur het nie, maar ’n jaar wat my gedwing het om aandag te gee. Om te kies om nie weg te hardloop nie. Om te leer hoe om stadig, soms struikelend, iets te “bemeester”.

My eerste jaar as meestersstudent in Kreatiewe Skryfkuns was alles waarvan mense jou waarsku voordat jy die stryd aanpak: anders, moeiliker en ryker as wat jy verwag.

Die idee waarmee baie begin

Toe ek vir die graad aansoek doen, het ek ’n eenvoudige maar ernstige doel gehad: om te verstaan hoe ’n roman akademies aanmekaar gesit word. Ek wou meer as instink hê. Ek wou taal hê vir wat ek reeds doen, en argitektuur vir wat ek nog wil leer.

As skrywer werk ek intuïtief. Ek is gemaklik met onsekerheid, met ontdekking, met plot wat ditself onthul. Die besluit om dit onder die vergrootglas van akademiese denke te plaas was doelbewus – en ongemaklik.

Die vrees

Een van my grootste vrese was dat die akademie my stem sal oorheers. Dat analise instink sal stom maak. Dat tegniek hart sal vervang.

Ek skryf jeugverhale. Ek skryf met empatie, met emosie. My droom is om lekker stories te vertel wat mense geniet en wat hulle hopelik bybly. My grootste hoop was dat my stem sou bly staan – dat ek steeds eerlike, oorspronklike stories kan vertel wat aanklank vind, maar my vaardighede beter verstaan en verskerp.

Gelukkig vir my, het ek ’n wonderlike studieleier gekry wat my nie in homself wil verander nie, maar my eerder oplei om ’n beter skrywer te wees.

Wanneer ’n projek op jou hande sterf

Halfpad deur die jaar het die roman waaraan ek gewerk het op my hande gesterf. Dis moeilik om daardie ervaring te verduidelik aan iemand wat dit nog nie beleef het nie. Dit was ’n projek waaroor ek opreg opgewonde en passievol was – en ek begryp steeds nie ten volle wat die dood veroorsaak het nie.

Toe hierdie projek gesterf het, het dit my laat twyfel aan alles: my vermoë, my skryfproses, my talent.

.........
Toe hierdie projek gesterf het, het dit my laat twyfel aan alles: my vermoë, my skryfproses, my talent.
.........

Ek weet dat nagraadse studente dikwels belangstelling verloor in hul navorsing – en miskien was dit naïef om te glo dit sal nie met my en hierdie projek gebeur nie. Maar dit het, en dit was die oomblik dat ek gewonder het of ek nie dalk ’n fout begaan het nie.

Skryf uit vrees, en tog aanhou

Maar the show must go on ...

Die volgende verhaal het ek uit ’n plek van vrees geskryf. Vinnig. Intens. Ek was vas oortuig dit is die swakste werk wat ek nóg gelewer het.

En tog het ek bly werk daaraan, want opgee is die makliker opsie – en geen skrywer kies die maklike opsie nie. Met toe oë en gelate aanvaarding dat dit as ’n bloedbad gaan terugkeer, het ek dit na my studieleier gestuur.

’n Paar weke het verby gegaan en ek het begin notas maak. Vrees het plek gemaak vir inspirasie – vir oomblikke van: Ek behou hierdie; hierdie toneel werk nie; hoekom het ek nou weer dié geskryf? en laastens, ek hou van die karakter.

Toe my studieleier bel en ons daardeur werk, het sy terugvoer perspektief gebring. Hierdie projek kan steeds ’n goeie boek wees.

Wat 2025 my geleer het

2025 het my geleer dat groei selde sag is. Dat instink en tegniek mekaar nie hoef uit te kanselleer nie. Dat ’n doodgemaakte projek nie die einde van ’n skrywer beteken nie.

........
2025 het my geleer dat groei selde sag is. Dat instink en tegniek mekaar nie hoef uit te kanselleer nie. Dat ’n doodgemaakte projek nie die einde van ’n skrywer beteken nie.
........

Vir enigiemand wat nagraads studeer – of dit oorweeg – hier is ’n paar dinge wat jy gaan nodig hê en wat min studiegidse noem:

  1. Iemand om saam mee te huil: Verkieslik iemand wat ook swot, want jy soek iemand wat verstaan en wat jy nie gaan verveel as jy in-diepte begin bespreek nie.
  2. Die vermoë om jou ego by die deur te los: Terugvoer voel persoonlik, maar die werk is nie jy nie.
  3. Die bereidwilligheid om te misluk: Daar is altyd ’n les, maar jy sien dit eers later.
  4. Die moed om nee te sê: Ek moes vanjaar vir mense en projekte nee sê, wat ek gewoonlik met beide hande sou aangryp, maar my eerste prioriteit bly my studies en die beloftes aan my voltydse werk en uitgewers. Enigiets anders moet wag tot 2027 of dit is nie vir my (of jou) bedoel nie.
  5. ’n Nuwe verhouding met tyd en rus: As ’n werkverslaafde – om jou “dood te werk” is nie die trofee wat jy dink dit is nie. Rus; jy sal beter boeke skryf.
  6. Vertroue in onsigbare vordering: Soms is een goeie sin genoeg vir ’n dag.

Lees ook:

Neville Alexander-gedenklesing: Afrikaans se erfenis – verlede, hede en die volgende 100 jaar

Cliff-hanger: Life is ’n biets deur Faeed Amardien

Cliff-hanger: Knal deur Bettina Wyngaard

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top