
Boekomslag: Life is ’n biets deur Faeed Amardien (Tafelberg, 2025)
Cliffordene Norton skryf ’n gereelde boekrubriek vir LitNet.
Titel: Life is ’n biets
Skrywer: Faeed Amardien
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624093374
.......
Ek dink elke leser moet hierdie boek lees. Ek wil nie oordeel uitspreek nie, maar ek dink die haweloses word steeds beoordeel – en hierdie boek laat jou in hul spore stap.
.......
Leonardo word groot in ’n arm, maar liefdevolle gesin. Wanneer sy pa en kleinboetie in ’n ongeluk sterf, verander alles. Leonardo loop weg en beland by ’n groep straatbewoners. Rodger, ’n ou Engelsman, word vir hom soos ’n vaderfiguur. Wanneer Rodger siek word en Leonardo hom in die hospitaal besoek, ontdek hy iets onverwags. (NB-Uitgewers)
Vier woorde het amper gemaak dat ek Life is ’n biets neersit en nooit weer optel nie: “Dai was nice gewies” (bl 29).
Op bladsy 66 het ek amper weer die boek neergesit ná die toneel: “Ek sê myself it kannie waa wil wies ie, maa ek kan sien hoe my ma my resent dai moment.”
Nee, die boek was nie sleg nie. Dit was só goed dat ek ’n paar karakters se dood in detail beplan het. God moet my asseblief vergewe.
Die dapper een
Die leser ontmoet vir Leonardo Blood drie weke na sy graad 10-jaar begin het. Hy woon saam met sy pa, ma en kleinboetie, Lathan. Hoewel hulle arm is, so arm dat hulle soms tydens aandete by die bure gaan kuier vir kos, is hy gelukkig en lief vir sy familie.
Hy presteer baie goed akademies. Hy het ’n beurs na ’n private skool in Bonteheuwel gekry en hy probeer oorleef deur voor te gee teenoor sy beste en enigste vriend, Manny. Hy nooi nooit vir Manny na hul huis nie, want hy kry skaam oor hul leë huis.
Leo is ’n lekker verteller. Sy stem is een van die lekkerste wat ek vanjaar gelees het. Hy het my onmiddellik aan sy kant gehad.
Sy eerste verlies
Leo verloor sy broer en pa, en dit verander sy lewe drasties. Die skrywer, Faeed Amardien, wys uitstekend hoe groot die druk van ’n begrafnis is op mense wat byna niks het nie. Jy wil steeds jou geliefdes met waardigheid begrawe.
Leo is vir my ’n ongelooflike karakter. Sy vertelstem is realisties, maar nie sonder hoop nie. Soos een van sy mede-bergies hom aankla, het hy ’n “sagte hart” en ek is bly hy behou dit, sonder om sy moeilike omstandighede te romantiseer.
Die alewige victim
Ek haat omtrent elke volwassene in die boek, behalwe Leo se straatgemeenskap. Dit skryf ek toe aan Faeed se pen. Hy skep karakters wat so na aan werklikheid voel dat dit maklik is om hulle te verkwalik. Ek verkwalik hulle beslis, veral vir Catheryn Blood.
My laaste woore innie brief is: Ek sien vi Mammie innie afterlife. Your failed son, Leo. (bl 66)
Catheryn, Leo se ma, is ’n karakter waarmee ek baie min simpatie het – al is hy ook lief vir haar. Haar verraad sit vir Leo op straat, en selfs wanneer hulle weer ontmoet, voel haar seer en pyn baie soos selfbejammering.
Ek kon nie verhelp om te sien hoe sy in elke vertelling die slagoffer is nie: op universiteit, met Lathan, haar jongste kind, se geboorte, selfs met die tragedie wat vir Leo op straat sit.
Die laaste streep was toe Leo haar gaan wys waar hy gebly het. Haar verbasing oor sy lewensomstandighede het my eindeloos kwaad gemaak. Waar het sy gedink bly Leo? Het sy ooit gewonder, bekommer oor waar hy woon?
Wat en waar is ’n huis?
Ek et bang geraak, van ek dink annie respect wat ek technically moet wys, maa oek ommat ek allien innie strange plek is waa ek practically niemand kennie. (bl 69)
Hierdie sin was een van die treffendste oomblikke vir my, want ek kon my in Leo se skoene plaas en vra: Sou ek onwelkom voel in my dorp as ek op straat moet leef? Sal hierdie plek, wat my veilig laat voel, steeds verwelkomend wees as ek sonder ’n dak sit?
Hierdie stukkie het my laat besef dat my gevoel van veiligheid uitkring vanaf my huis.
Waar is Manny?
Ek het twee kritiese aanmerkings oor Life is ’n biets. Een: die verdwyning van Leo se beste vriend, Manny. Nadat hy uitgevind het Leo jok al vandat hy hom ken, stap Manny uit sy lewe. Leo praat nog van hom, maar hy maak nooit weer sy verskyning in die storie nie. Ek het ’n toneel vir myself geskep waar Leo hom een keer “oppie skarrel” sien en vlug voor Manny vir hóm sien.
My tweede kritiek: Ek dink die boek het ’n waarskuwing nodig. Sommige gebeure kan baie triggering wees vir die leser. Ek moes self ’n slag of sewe die boek neersit en ’n draai gaan stap, maar andersins was hierdie boek ’n debuut waarop die skrywer en uitgewer kan trots wees.
Ek dink elke leser moet hierdie boek lees. Ek wil nie oordeel uitspreek nie, maar ek dink die haweloses word steeds beoordeel – en hierdie boek laat jou in hul spore stap.
Dankie, Faeed.
Tafelberg, ek stuur my terapierekening.
Lees ook:
Cliff-hanger: Ek skryf nie om bruin te wees nie – ek skryf vir my karakters
Neville Alexander-gedenklesing: Afrikaans se erfenis – verlede, hede en die volgende 100 jaar

