Cliff-hanger: Knal deur Bettina Wyngaard

  • 0

Titel: Knal
Outeur: Bettina Wyngaard
ISBN: 9781779880505
Uitgewer: Penguin Random House Suid-Afrika

  • Cliffordene Norton skryf ’n gereelde boekrubriek vir LitNet.

Nicci de Wee is op die spoor van ’n nuwe booswig en hierdie keer is dit persoonlik. Een van haar eie spanlede word vermis. Die ondersoek sirkel egter sonder sukses rondom wie die misterieuse skim is wat talentvolle vroue so koelkop in openbare plekke teiken. Hy laat hulle oënskynlik in die niet verdwyn ... met afgryslike gevolge. En hoekom bly die klokke so onheilspellend lui?

Skakel dit enigsins in met die silwer klokkies wat hulle by die misdaadtonele vind? Nicci word deur angswekkende gebeure nog dieper by die saak ingesleep en haar spanlede word in ’n verbete wedloop teen tyd vasgevang. Is hulle op die spoor van die regte duiwel, of is daar iemand selfs meer sinister agter die gruweldade wat almal tot hul uiterste beproef?

Wyngaard is ’n meester storieverteller en het geen probleem daarmee om die karakters in haar boeke af te maai nie. Kan hierdie dalk Nicci de Wee se finale speursaak wees?

........
Wat ek die meeste van Knal waardeer, is dat dit nie dramaties probeer wees nie. Dis eerlik. Dis deeglik nagevors, maar die navorsing staan nooit in die pad van die storie nie.
........

Ek het Knal deur Bettina Wyngaard al ’n paar keer in boekwinkels raakgesien. Die omslag is moeilik om te ignoreer. Maar ek het dit eers onlangs opgetel, en binne die eerste paar bladsye het ek besef: Ek gaan dit nie sommer weer neersit nie.

’n Misdaadroman wat mens nie toelaat om weg te kyk nie

Bettina trek jou onmiddellik in Nicci, Henk, Blackie, Steyn en Stella se wêreld in – en in die donkerte van die saak wat hulle ondersoek. Wat my eerste opgeval het, was hoe realisties en gegrond die storie voel. Daar’s nie daardie Hollywood-haastigheid wat mens soms in misdaadfiksie kry nie. Die tempo pas die Suid-Afrikaanse werklikheid: stadig, gefrustreerd, menslik. Dit voel eerlik, asof sy vir my sê: So lyk dit regtig.

Ek was veral beïndruk deur die balans tussen die held en die misdadiger se perspektiewe. Jy beweeg moeiteloos tussen die kop van die taakspan en die krimineel – sonder dat dit ooit pla of steur.

’n Boek wat staan – selfs sonder konteks

Hoewel Knal deel is van ’n reeks, is dit selfstandig genoeg om alleen te lees. Ek het nie eers nodig gehad om die vorige boeke te ken om hierdie een te waardeer nie. Dit sê baie van Wyngaard se vermoë om jou vinnig tuis te laat voel in haar taakspan se wêreld.

Realisme met ’n skok van herkenning

Daar is ’n toneel – as jy nog nie die boek gelees het nie, skiep hierdie paragraaf – waar Nicci by ’n hospitaal kom en uitvind dat die slagoffers wat sy sopas gered het, dood is. Ek het my asem opgehou. Nie net oor die brutaliteit daarvan nie, maar oor hoe moontlik dit voel.

Dis dalk Knal se grootste trefkrag: Dit gee jou nie ’n fantasie van geregtigheid nie, maar ’n weergawe van die werklikheid waarin ons almal leef. Die misdaad in hierdie boek is nie daar om te vermaak nie, maar om te herken.

Hoekom Martins, Bettina? Hoekom?

My eerste kleiner kritiek is dat die dialoog tydens aksietonele by tye oorbodig is. Veral aan die einde het die besluite en gebare meer gesê as die woorde.

Dan, die grootste sonde van die boek: Martins.

Ek was lief vir Martins – en ek was hartseer toe hy sterf. Passievol. Jonk. Gereed om die werk te doen. ’n Polisieman wat voel soos hoop.

Maar dis juis hier waar ek effens teleurgesteld gevoel het: Ek wou meer van die span se emosionele reaksie sien. Stella se braking in die gras was rou en eg, maar ek wou weet hoe hulle voel daarna. Dink hulle aan hom as “die laaitie”? Dink hulle dat hulle hom kon red?

Daar was drie oomblikke waar ek gevoel het hiér wil ek in die emosies van Nicci en Stella klim. Dalk omdat ek hulle wil ontbloot en weet: As jy soveel misdaad, wreedheid en onmenslikheid gesien het, hoe behou jy jou eie menslikheid?

Hierdie druppels van verlies wat speurders daagliks ervaar, wou ek meer beleef. Ek het gevoel daar is ’n stuk menslikheid wat onder die oppervlak lê, maar nie heeltemal uitkom nie.

Ek hou van karakters wat voel. Wat ly. Wat nie altyd weet hoe om aan te gaan nie. En Nicci, ek glo, dra baie meer seer as wat sy wys.

’n Slot wat bly eggo

Wat ek die meeste van Knal waardeer, is dat dit nie dramaties probeer wees nie. Dis eerlik. Dis deeglik nagevors, maar die navorsing staan nooit in die pad van die storie nie.

Bettina Wyngaard herinner my met hierdie boek dat misdaadfiksie nie net oor bloed en spanning gaan nie – dit gaan oor mense. Oor die lyding wat soms in stilte gebeur. En dat hoop nie altyd lyk soos goud nie, maar eerder soos mense wat bereid is om alledaagse mense teen die ergste van ons samelewing te beskerm.

Lees ook:

Wat sê Bettina? Die stand van sake in Wes-Kaapse staatshospitale

Cliff-hanger: Die 13de dag in Chengdu deur De Wet Hugo

Cliff-hanger: Life is ’n biets deur Faeed Amardien

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top