
Prent: Franklin Alvear op Pixabay
- Bettina Wyngaard skryf ’n gereelde rubriek op LitNet.
........
Ek was nog altyd ’n uitgesproke voorstander van nasionale gesondheidsorg. Geen persoon behoort gehalte mediese sorg ontneem te word, omdat hulle nie die geld het om daarvoor te betaal nie.
........
Ek was nog altyd ’n uitgesproke voorstander van nasionale gesondheidsorg. Geen persoon behoort gehalte mediese sorg ontneem te word, omdat hulle nie die geld het om daarvoor te betaal nie.
Na feitlik twee maande en drie verskillende staatshospitale is ek selfs meer oortuig hiervan, en hierdie keer op grond van getuienis wat ek aan eie bas gevoel het. Begin Oktober vanjaar is ek as noodgeval in Tygerberg-hospitaal opgeneem en ’n paar dae later geopereer. Die minutiae van my geval is irrelevant. Wat wel relevant is, is dat anders as in privaatsorg, waar ek waarskynlik dieselfde dag van opname geopereer sou word, ek eers vier dae later in die teater beland het. Dit word nog steeds as ’n rekordtyd beskou en ek is steeds dankbaar dat ek so relatief vinnig die sorg ontvang het wat ek nodig gehad het.
Oor die volgende ruk sou ek tyd deurbring in Worcester Provinsiale Hospitaal en in Caledon Hospitaal. Staatshospitale het baiekeer en onregverdiglik ’n slegte reputasie. Uit my ondervinding kan ek die volgende sê: Die kleiner hospitale sukkel geweldig met infrastruktuur en hulpbronne. Al drie hospitale waar ek was het tekorte aan personeel. Al drie hospitale sukkel om die getalle pasiënte wat hulle moet behandel, te hanteer. Maar nege uit die tien keer is die probleem nie op grondvlak nie.
Die meeste van die verpleegsters met wie ek te doen gekry het, was hulpvaardig, het met die beperkte bronne tot hulle beskikking hulle beste gedoen om ’n goeie diens te lewer en het regtig ’n edele diens gelewer.
Die meeste. Daar was ’n paar wat regtig nie kon omgee vir pasiëntesorg nie, en wat veel meer belang gestel het in politieke griewe en om magspeletjies met pasiënte te speel. Dis die mense wat eintlik net daar is vir die salaris en vir die mag wat hulle het oor (meesal) arm, eenvoudige mense. Dis die verpleegsters wat sal “vergeet” om jou antibiotika toe te dien, of wat maak of hulle jou nie hoor wanneer jy hulp vra nie, of wat “vergeet” om iets te doen wat hulle tydens jou versorging moes doen.
Ek moet dadelik byvoeg dat ek dit nooit in Worcester of Caledon teëgekom het nie.
Caledon was die hospitaal wat die swakste toegerus was. Hulle is besig om die hospitaal te herbou nadat daar ’n paar jaar gelede ’n verwoestende brand was. Heelwat van die toerusting wat as standaard by ander hospitale aanvaar word, is nog nie in Caledon beskikbaar nie. Maar Caledon is ook die hospitaal waar die wondsorg van die heel beste was wat ek by al drie hospitale gesien het. Dis ook die enigste hospitaal waar die pasiënt se dieet aangepas word om hul siekte te probeer genees. Nou praat ek nie van diabete wat nie suikerprodukte kry nie; ek praat van aanvullings vir persone met spesifieke tipe wonde, ensovoorts.
Worcester is sekerlik die model van wat kan gebeur as daar gefokus word daarop om gehalte, bekostigbare sorg beskikbaar te maak. As ek nie van beter geweet het nie, sou ek kon sweer dis ’n privaathospitaal. Ek het nie een keer gehoor dat daar tekorte aan handdoeke, hospitaaljurke of enige ander toerusting is nie. Linne is skoon en heel, iets wat nie noodwendig as vanselfsprekend aanvaar kan word nie.
By al drie hospitale het ek gesien hoedat verpleegsters informeel kennis oordra aan mekaar. As een iets doen waarmee ’n ander een nie bekend is nie, sal hulle kyk en vrae vra en tegnieke deel.
........
Die oorweldigende indruk waarmee ek wegstap van die hospitale? As die Nasionale Gesondheidsorg-wetgewing nie werk nie, kan die skuld nie aan die deur van personeel op voetsoolvlak gelê word nie. Hulle werk hard.
........
Die oorweldigende indruk waarmee ek wegstap van die hospitale? As die Nasionale Gesondheidsorg-wetgewing nie werk nie, kan die skuld nie aan die deur van personeel op voetsoolvlak gelê word nie. Hulle werk hard. Dis ondankbare werk; hulle kry te kampe met allerhande soorte mense wat ongeskik is en wat dalk nie belang het daarby om gesond te word nie. Hulle kry te kampe met interne politiek, en seer sekerlik eksterne politiek. Hulle moet werk met te klein begrotings, te min mannekrag, nie genoeg hulpbronne nie en met reëls wat glad nie sin maak nie. Tog, ten spyte van alles, daag hulle op en doen hulle werk.
Ek erken ruiterlik. Ek sou lankal moed opgegee en iets anders gaan doen het as ek in hulle skoene was.
Enige probleme wat daar in Wes-Kaapse hospitale is, moet die politici voor verantwoording doen. Selfs terwyl ek dit sê, besef ek dat ons hospitale steeds myle voor ander hospitale in ander dele van die land is. Die antwoord, glo ek egter, is in elke geval dieselfde: politieke wil om dinge te laat gebeur en die regte leierskap in elke hospitaal. Dis al wat die verskil kan maak.
Ons mense, van die armste na die rykste, verdien gehalte mediese dienste sonder om bankrot te raak. Ons het die kennis. Ons het die mannekrag. Ons moet dit net reg aanwend en ontslae raak van korrupte politici wat ons rot en kaal steel.
Lees ook:
Wat sê Bettina? Die probleem met nasionale gesondheidversekering


Kommentaar
Worcester se hospitaal is 'n opleidinghospitaal en pasiënte kry goeie sorg. Oor die algemeen is staatshospitale in die Wes-Kaap nie te sleg nie. Hulle grootste probleem is personeelvoorsiening.