Charl-Pierre Naudé (1958–)

  • 0

Gebore en getoë

Charl-Pierre Naudé is op 27 Augustus 1958 in Kokstad in die Oos-Kaap gebore. Sy pa was ’n patoloog en sy ma ’n nooi Dönges, uit huis uit Engels, ’n onderwyseres van beroep, maar meestal ma en huisvrou. Hy het ook ’n suster. Hy stam van beide sy ouers se kant uit sendeling-voorouers met Hugenotewortels – dus, wat temperament betref, dra hy soms die toga, en soms loop hy kaal.

Totdat Charl-Pierre sewe was, het hulle in Durban gebly. Daarna verhuis hulle na die voormalige Transvaal, bly vir ’n rukkie in Londen in Engeland en daarna in Oos-Londen in Suid-Afrika, waar hy die grootste deel van sy grootwordjare deurbring en matrikuleer.

In ’n biografiese skets vir NALN gedateer 1997 vertel Charl-Pierre dat die Oos-Kaap vir hom ’n soort droomwêreld is, "’n somnambulistiese strook harde depressie-wêreld en Hiernamaals. Ek sal altyd daar wil gaan stap." Sy pa was ’n patoloog in Oos-Londen tot sy dood.

Charl-Pierre begin al in standerd drie "boeke" skryf en wou ’n bibliotekaris word – maar besluit gou: "Boggher ander mense se reëls, ek gaan al die boeke in mý biblioteek self skryf, dan weet ek sommer waar hulle is nog voor hulle geskryf is. Ek't gehou van die idee dat my maatjies by my boeke uitneem: dan kan ek hulle 'beboet'." (Biografiese skets, 1997)

Hy vertel aan Theunis Engelbrecht (Die Burger, 28 Februarie 1996) dat sy grootste invloede in daardie dae Jasper, Rooijan en Tarzan was. "Ek het twee boeke geskryf in my laerskooljare op Rustenburg, albei sonder paragrawe. Die een se naam was Agter die terroriste aan en die ander was ’n plaasboek, Sononder, waarop ek prentjies uit die Landbouweekblad geplak het. Maar nie een van my maats wou dit uitneem nie." Daarna het seerowerboeke en Karl Kielblock hom geïnspireer en het hy ook ’n seerowerboek vir sy biblioteek geskryf.

Op hoërskool in Oos-Londen het hy in ernstige letterkunde begin belangstel nadat hy die werk van die Sestigers ontdek het. Hy begin in standerd nege in erns gedigte skryf. "Die Xhosa-misterie van die Oos-Kaap – daardie woordeloosheid – het ’n groot vormende invloed op my gehad." (Biografiese skets, 1997)

Charl-Pierre erken dat hy nie ’n besonder goeie leerling of student was nie – meestal onvergenoegd rebels of neurotiese luiaard. "Ek het reeds vroeg in my hoërskoolloopbaan ’na binne geïmmigreer', na waar dit meer demokraties was. Ek het ook die president van my eie republiek geken." Die belangrikste keerpunt in sy jong lewe was om te besef dat apartheid onmenswaardig is – "my besef was miskien ’n bietjie naïef en selfingenome – maar ek het geleer dat waardes ononderhandelbaar is." (Biografiese skets, 1997)

Charl het weer teruggegaan na sy geboortedorp, vertel hy aan AJ Opperman (Die Burger, 8 Januarie 2019): "Maar ek moet vir jou sê, toe ek weer teruggaan, het dit vir my gevoel of ek weet waar elke afdraaitjie is. Dit was asof ek deur ’n glas kon kyk na ’n ander lewe wat ek gehad het.

"Ek het sommer instinktief geweet waar die hospitaal is. Ek het gaan kyk na die hospitaal waar ek gebore is. Ek het gaan kyk na waar my pa gepraktiseer het in Franklin, ’n klein dorpie wat vandag ’n spookdorp is. Net soos die dorpie in die Lyksovlakte in Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey (2019)."

Verdere studie en werk

Na skool is Charl-Pierre na die Universiteit van Stellenbosch, waar hy ’n honneursgraad in filosofie verwerf. Hy beskryf sy universiteitsjare as wonderlik vormend. Hy het hom gou met groot blydskap aan die koshuislewe in Stellenbosch onttrek nadat hy dit ervaar het as ’n kweekhuis van onverbloemde fascistiese houdings. Hy was ook ’n weieraar teen militêre diensplig.

Hy is joernalis van beroep en het op gereelde basis vir die kunsblad van die Vrye Weekblad artikels en resensies gelewer, en het daar en by ander koerante as subredakteur gewerk. "Maar die professie waarop ek die trotsste is, is dié van droster. Dis ’n ou Suid-Afrikaanse tradisie wat terugloop na die matrose van die VOC." (biografiese skets, 1997)

Charl-Pierre beskou die tydperk wat hy in Kaapstad gebly het, 1983-87, as die belangrikste vormingsjare vir hom as skrywer. Dit was jare waarin hy niks op papier geskryf het nie, en dít wat hy wel geskryf het, het hy weggegooi. Hy vertel self dat hy homself op ’n baie toegewyde manier "geslyp" het en dat die "weggooi" van sy skryfwerk deel was van ’n leef-vir-die-oomblik ingesteldheid wat in daardie tyd aan die orde van die dag was. (biografiese skets, 1997)

In 1990 verhuis hy na Johannesburg – ’n stap waaroor hy bly is, anders kon hy dalk oor Tafelberg begin skryf het. Hy beskou Johannesburg tot redelik onlangs nog as die sentrum van die boheemse. In Mail & Guardian van 17–23 Oktober 1997 sê hy aan Richard Jürgens: "This concept of bohemia isn't quite the one most people have in mind. It's got to do with the degree of fracturedness in a society and how that makes people live."

Hy beskryf die besef dat daar lewe na "aktivisme" is, as die belangrikste ontwikkeling in sy skryfloopbaan. "Dat die soort letterkunde wat iets 'anders' nodig het om teen in opstand te wees, nie die hoogste prestasie is nie. Ek het vervaard geskryf toe ek sewentien tot twintig jaar oud was en toe vir ’n ruk net opgehou. (…) Maar ek was altyd tog heimlik, hartstogtelik met woorde en idees besig." (Biografiese skets, 1997)

In 1995 word Charl-Pierre se eerste digbundel, Die nomadiese oomblik, by Tafelberg Uitgewers gepubliseer. En onmiddellik trek hy die aandag. Die bundel word in 1997 met die Ingrid Jonker-prys bekroon. Die beoordelaars, Barend Toerien en Ronel de Goede (Vrydag, 23 Mei 1997), sê in hulle verslag dat die bundel ’n mens ruk met plesier en voldoening: "Hier is verse van ’n wye inslag en insig, fyn afgerond soos deur ’n bedrewe vakman, maar digter genoeg om tegnies sy gang te gaan as dit hom pas. Wat opval, is die wye verskeidenheid onderwerpe, toonaarde, stemme. (…) Die meesterskap van die sonnetvorm in al sy variasies beïndruk die leser deur die sekerheid van segging en siening daarin. Dit is gedigte wat ryk is aan swart humor en ironie. Verstegnies is Naudé ’n bedrewe skrywer; sy hantering van die rym is vlot en flink; sy beeldspraak verrassend. Naudé is deurgaans in beheer van sy gevoelens en weet presies wat en hoe hy sy sê wil sê. Vir ’n debuutbundel is dit amper te afgerond, te beheers, maar die man is glo oor die dertig en ryk aan lewenservaring, dus hoef sy rypheid ’n mens nie te verbaas nie. ’n Debuutstem soos hierdie het ons lank laas gehad."

Op Afrikaans Stereo sê George Weideman (23 Junie 1996) dat dit lekker is om ’n nuwe stem in die koor van digters te hoor – veral as daardie stem ’n heel eie kwaliteit het. "Meer nog so as daardie stem uitstyg bo ander. So ’n solostem behoort aan Charl-Pierre Naudé. Sy debuut, Die nomadiese oomblik, verras op baie maniere. Daar is die ryk verwysingsveld, die ineenvlegting van talle verbandhoudende én uiteenlopende motiewe. Dan is daar die besondere verbintenis tussen die vervlietende (selfs die tydgenootlike) en dit wat dúúr. (…) Dis loshande die sterkste debuut, tot sover in hierdie dekade, in Afrikaans." Barend Toerien beskou dit as ’n dik gerf pragtige, stimulerende, nadinkwaardige poësie. Die digter "speel met idees, so vernuftig, so boeiend, dat as jy met nadenke besluit dat die argumente, die abstraksies tog dikwels op niks uitloop, jy opgewonde is oor die nuwe insig, asook die knap uiteensetting."

Die surrealisme, meer as die magiese realisme, het sy liriese sy sterk beïnvloed en hy erken teenoor Jaco Botha op LitNet dat Breyten Breytenbach sy vroegste bepalende invloed was, wat hy toe later ingeruil het vir die invloede van Pablo Neruda, Cesar Vallejo en Jorges Luis Borges. Hy het alles gelees wat Uys Krige geskryf en "vertaal" het en vertel aan Bernard Odendaal (Tydskrif vir Letterkunde, Januarie 2008) dat sy poësie nooit eerste in Engels gebore kon gewees het nie. En dat Uys Krige dalk die rede daarvoor is. Vallejo het hom iets geleer van hoe "die verstand en die hart" kan saamdig. ’n Eietydse digter by wie hy aanklank vind, is die Hebreeuse digter Yehudah Amichai; en ’n ander Afrikaanse digter aan wie hy die naaste in terme van gees voel, is Eugène Marais met die klem op die hipnotiese, op die geheim as oopsluiter van moontlikhede.

Na ’n periode van amper tien jaar verskyn Charl-Pierre se tweede bundel, In die geheim van die dag, in 2004 by Protea Boekhuis. Hierdie bundel word in 2007 in Engels uitgegee onder die titel Against the light – ook by Protea Boekhuis. In die onderhoud met Jaco Botha (op OuLitNet) vertel hy dat hy hierdie manuskrip aan Tafelberg Uitgewers voorgelê het, maar dat die eerste voorlegging afgekeur is. "Tafelberg wou ’n tweede voorlegging hê, maar ek het gevoel die keurders projekteer verkeerd wat ek beoog. Vandag is ek bly dat die eerste weergawe afgekeur is, maar ek besef dat ek en daardie keurders in verskillende wêrelde skryf. Ondanks spanninge, nee, as gevolg daarvan, het ek net die hoogste agting vir Petra Müller. Sy is ’n wereldklas-digter en ’n naslaanbiblioteek vol geheime hoekies."

Hierdie bundel word in 2005 bekroon met die M-Net-prys vir ’n Afrikaanse Poësiebundel, sowel as met die eerste Protea-prys vir Poësie in dieselfde jaar.

Charl-Pierre het in die Karoo – in Nieu-Bethesda, om presies te wees – aan hierdie tweede bundel gewerk. Hy vertel aan Stephanie Nieuwoudt (Beeld, 16 Junie 2001) dat die Karoo die sentrale metafoor is van die Suid-Afrikaanse identiteit. "Daar is iets aan die stilte, die uitgestrektheid en die verlatenheid wat resoneer in die psige van Suid-Afrikaners. Die Karoo bevredig jou drang om by iets essensieel uit te kom. Daar is ook iets magies en misterieus aan Nieu-Bethesda. Miskien het dit te doen daarmee dat dit in ’n ou uitgeholde seebed lê." Na drie en ’n halwe maande daar was hy egter reg om huis toe te gaan.

Op ’n vraag van Bernard Odendaal (Tydskrif vir Letterkunde, Januarie 2008) of hy moeilik skryf, gesien die lang verloop van tyd tussen sy eerste twee bundels, sê Charl-Pierre dat dit afhang van die soort werk. "Die gedigte in Geheim en Against the light is ’n moeilike soort. (…) Van die gedigte het ek periodiek oor ’n tydperk van vier jaar geskryf. (…) Maar die laaste twee bundels het my nie tien jaar geneem om te skryf nie. Ek was besig met ander materiaal ook – ’n filmteks, ’n roman, en ek hou voortdurend notaboeke met idees, onder meer vir twee kortverhaalbundels, alles onvoorgelê. Die eerste gedigte vir die bundel is geskryf net voor 2000, ’n paar in 2000, en die res tussen Januarie 2001 en Desember 2004. Die hele bundel is gelyktydig in Engels gekonsipieer."

Danie Marais (Rapport, 22 Mei 2005) skryf in sy resensie van In die geheim van die dag dat dit ’n ambisieuse verbeeldingstog deur ons vreemde, alledaagse werklikhede is. "In die hande van ’n onervare digter rafel vrye vers dikwels uit in vermoeiende pretensieuse inkantasies. Naudé vermy sulke slaggate. Sy lang verse word deur verhalende elemente tot ’n eenheid gebind. Binne ’n narratiewe raamwerk skep hy ruimte vir filosofiese mymerings sonder dat die gedigte halfpad verdwaal saam met ’n digter wat te lief is vir sy eie stem. [...] Dit is ’n literêre gebeurtenis om te vier – ’n komplekse maar toeganklike bundel wat hart en verstand laat tintel."

In Alfred Schaffer se resensie in Die Burger van 16 Mei 2005 skryf hy: "Gedigte wat elke poësieliefhebber op die boekrak behoort te hê, om oor en oor te lees, ook hardop. Dit is ’n bundel waarin met verwondering gekyk en beskryf word, altyd met deernis vir ons tekortkomings." "Naudé herdefinieer die begrip 'poësie'."

Bernard Odendaal (Volksblad, 27 Junie 2005) meen dat die dekade lange wag op Naudé se tweede bundel dubbel en dwars die moeite werd was. "Dis ’n merkwaardige, unieke werk wat leesgenot verskaf, maar ook poëtikaal en aanskoulik boei. En heel waarskynlik lánk sal boei."

Met die verskyning van Against the light verduidelik Charl-Pierre dat hierdie bundel nie vertalings is nie, maar eerder "omdigtings", want hy wil die ervaring van die Afrikaanse gedig in Engels aan die leser oordra. Hy vertel aan Marius Crous (Rapport, 8 Februarie 2008) dat wat hy as "direkte, eweredige korrelasie" bestempel, dikwels nie moontlik is in ’n ander taal nie. "Die volgorde van die gedigte in die Engelse bundel is ook nie dieselfde as in die Afrikaanse een nie. Die ou Afrikaanse volgorde skep blokkasies – ek wou juis ’n ander storie in Engels vertel."

Crous skryf verder: "Omdat Charl-Pierre se werk so ’n sterk verhaalelement bevat, dit ’n bepaalde digtheid veronderstel wat hom nie noodwendig deur die digter se geneigdheid tot beeldryke taal laat inperk nie. Dis dié dat hy gelyktydig in Afrikaans en Engels kan dig – oor en weer. Tog erken hy dat wat die verfyning van die klankaspekte betref, hy op net een taal op ’n slag fokus. (…) In my idee van gedigvertaling moet twee gedigte, wanneer hulle langs mekaar lê, ewe lank wees en dieselfde bladspieël hê. Maar volgens Naudé hoef dit nie so te wees nie. Die lengte van sy eie gedigte en die vertaalde weergawes verskil, maar dit is vir hom belangrik dat die Afrikaanse en Engelse weergawes onmiddellik in mekaar herkenbaar is – en hy wil tevrede voel met die grammatikale en selfs idiomatiese sinergie. Sulke vertalings is goed en nodig, want deur ’n teks te vertaal, word ’n internasionale gesprek tussen digters en tale aangeknoop."

Aan Bernard Odendaal (Volksblad, 6 November 2007) verduidelik Charl-Pierre die rede hoekom die Engelse Against the light eers in 2007 verskyn het: "Die eerste fase was oor en weer: Ek sou die Afrikaanse weergawe skryf, en onmiddellik daarna die Engelse; of die Engelse, en dan die Afrikaanse. Heeltemal op gut feel. In hierdie fase het dit gegaan oor die inhoudelike: die idee, die emosie, die drama. Tydens die tweede fase het die tale 'geskei'. Ek het eers volledig die Afrikaanse bundel tot stand gebring. Dis toe die metriese en klankaspekte voorop kom staan het, en dit kon beslis net in een taal op ’n slag gebeur. Toe, daarna, het ek die Engelse weergawes by die Afrikaanses aangepas, en volledig net in Engels gewerk om die Engelse produk te kan 'hoor', te kan 'voel'. By die verskyning van die Afrikaanse bundel was die Engelse een dus nog nie klaar nie."

In 1999 word Charl-Pierre deur Gerrit Komrij genooi om saam met vier ander Afrikaanse digters ’n toer deur Nederland en België te onderneem waartydens hulle van hulle gedigte voorlees. Vertalings van sy gedigte verskyn sedertdien in verskeie Nederlandse en Belgiese letterkundige tydskrifte. In 2000 was hy deel van die 31ste jaarlikse Poetry International-fees in Rotterdam, waartydens sy gedigte ook deel was van die vertaalprojek. Die Turkse digter en vertaler Ilyas Tunc het onlangs van Charl-Pierre se gedigte in ’n Turkse vertaling gepubliseer.

In 2008 word Charl-Pierre se volgende bundel, Sien jy die hemelliggame, gepubliseer. Dit is ’n klein versameling verse wat hy in 2007 tydens ’n verblyf in ’n kunssentrum in Vlissingen, Nederland, geskryf het. Twee van die verse, "Inisiasie" en "Die brand", het al in vorige bundels verskyn. Die bundel is deur die Centrum Beeldende Kunst Zeeland uitgegee in die Slibreeks. Die twaalf gedigte word vergesel van ’n Nederlandse vertaling. Die bundel bevat ook tekeninge en sifdrukke wat ontstaan het uit die uitwisselingsprojek E-POS tussen Belgiese en Suid-Afrikaanse kunstenaars.

Louise Viljoen skryf in Die Burger van 15 Desember 2008 dat Naudé met die kombinasie van woord- en visuele kuns beweeg in die rigting van "dubbelkunstenaars" soos Breyten Breytenbach en Sheila Cussons, hoewel die visuele aspek by hom nog nie so sterk ontwikkel is nie. "In sy werk as resensent en polemikus blyk dit Naudé verwag van digters om grense te verlê. Die vernuwende en eksperimentele van sy eie werk lê in die wyse waarop hy die grense van begrip en samehang toets met sy verhalende en filosofiese gedigte wat gebind word deur sterk metafore, subtiele klankbindings en ’n liriese verbeelding. So bevat die bundel ’n prosateks, 'Demokrasie', wat ’n gedig word deur die wyse waarop metafore en klank gebruik word."

Charl-Pierre vertel self oor bogenoemde projek dat die E-POS 2-program tussen België en Suid-Afrika die interessantste "vertaal-ervaring" was waaraan hy nog deelgeneem het. "Twee beeldende kunstenaars en twee digters van elke land het saamgekom, mekaar met idees beïnvloed en mekaar vertaal, alles met die doel om ’n samebindende, samelopende kollektiewe produk te kry. Verskeie soorte 'vertaling' en komplekse kruisbestuiwing kom ter sprake – van een taal na ’n ander, van idees in ander idees in en van genre na genre. Drie tale was ter sprake: Afrikaans, Nederlands en Engels. Drie genres: konseptuele kuns, grafiese kuns en die poësie."

Bernard Odendaal (Volksblad, 21 Oktober 2008) skryf dat die bundel se hart steeds die gedigte is. "Hulle illustreer myns insiens veral drie van die uitstaande kenmerke van Naudé se besondere digwerk. Eerstens die vindingryke beeldingsvermoë, as verfynde werktuig om die skeidslyne tussen realiteit en droom- of verbeeldingswêreld – en byvoorbeeld tussen hede en verlede – te vervaag (tweede kenmerk). (…) As derde kenmerk wil ek Naudé se soms opvallende benutting van aanwysende woorde, aanspreekvorme en retoriese vrae en uitroepe noem. ’n Sekere dramatiserende en daardeur konkreet-verlewendigende effek is die gevolg, wat die sterk fantasie-element in (speelse) balans hou. Die speelsheid (en meermale humorvolheid) ten spyt, is daar feitlik deurgaans ’n bewustheid van hoe prekêr die mens se lewe en strewes is, hoe nietig in historiese en kosmiese terme – of dit nou in die politiek, die kuns of die liefde betref. Vandaar die bundeltitel as relativering van die doen en late wat in die bundel verwoord word."

In 2014 is Charl-Pierre op ’n jaar lange skrywersbeurs na Berlyn in Duitsland. Dit het deel uitgemaak van die Berliner Künstlerprogram van die Deutschen Akademischen Austauschedienst.

Ses jaar ná die publikasie van Sien jy die hemelliggame verskyn Al die lieflike dade in 2014 by Tafelberg-Uitgewers. Oor sy nuwe bundel vertel Naudé aan Deborah Steinmair (Die Burger, 18 Augustus 2014): "Sommige verse is liries, ander narratief, ander het ’n nadenkende en besinnende inslag. Laasgenoemde soort vers is baie algemeen in byvoorbeeld die moderne digters van Pole. Dis liriese gedigte waarin die private en die eie ervaring voorop staan, maar op dieper lae is dit ’n gesprek met die geskiedenis en die spiritualiteit.

"Die beeld het meer staanplek as in my vorige bundel, en in daardie opsig is hierdie bundel meer 'liries'. Die klankaspekte is meer op die voorgrond, maar steeds probeer ek ’n matter of fact 'onpoëtiese' toon handhaaf."

Wat vir Steinmair stom slaan van Naudé se vorige bundels was hoe hy daarin kon slaag dat die "saaklike, ondigterlike toon ’n hoë poëtiese akkoord" kon raakslaan. Vir haar goël hy "met konsepte en beelde, in taal varser as songedroogde wasgoed".

In Rapport (16 November 2014) is Gilbert Gibson die resensent. Hy verduidelik dat die titel ontleen is aan Montesquieu, die Franse filosoof, wat geskryf het:

"[Soms] beoordeel jy dade nie as goed of sleg nie maar as mooi;
nie as regverdig nie maar groots; en nie as redelik nie maar buitengewoon."

Gibson skryf verder: "Dit is ’n poësie van gebeurtenisse in stilte, uitdagend, in plek. Naudé werk in die tegniese apparaat en ritmiese instink van ’n inheemse digter, sy gewig dié van historiese en literêre verwysing wat in die omvang van poëtiese filosofie hom onderskei.

"Die basis van alle poësie, sê Aristoteles, is metafoor. Hierdie gedigte herinner oor en weer aan ’n metafoor buite die gedig, geïsoleer van elke beeld. En anders as in ander digters se werk staan hierdie metafoor búite die gedig as simbool vir die leser se private druk van sterftes, verliese, mislukking, verraad – die hele konglomeraat van menswees wat oor begeerte en misplaaste hoop waak.

"Die gedigte hou koers deur die persoonlike verlede, die visioenêre oog, die afgodediens van taal, die slimmige liriek. Hierdie bundel is ’n filosofiese ondersoek in die tema van modernisering en geheue wat spoor nie net deur die woorde in die gedigte nie, maar ook deur die manier hoe Naudé die metafoor buite sy gedigte bou en behou. (…)

"Dit is asof daar ’n klem of ’n aandag kom wat nie net op abstrakte waarhede fokus nie, maar subtiel ook op bestaande werklikheid, die hier en nou. In Naudé se gedigte vind die kilheid van hierdie gegewe dikwels uitdrukking in ’n selfverband, ’n byna paniekbevange behoefte aan insig. So asof enige afwyking van hierdie gegewe nie net die bundel nie, maar ook die leser en die skrywer in vlamme sal laat opgaan. Dit is die drama van Al die lieflike dade. (…)

"In Naudé se gedigte word die oomblik van staar ’n outentieke poëtiese geleentheid wat die leser in staat stel om binne-in die gedig ’n flits van verligting (wat Gerard Manley Hopkins 'inscape' noem) te ervaar. Die gedig lei dan die leser om die problematiese aard van sy eie modus van bestaan te bevraagteken.

"Om hierdie rede word Charl-Pierre Naudé gevestig as die filosofiese digter in Afrikaans, waar nie net woorde nie, maar ook die idees weerklink net soos die hare op jou vel regop staan voor die aankoms van ’n elektriese storm: die geweegde woord, om te praat ten volle."

Jannie Malan skryf in Beeld (6 Oktober 2014) dat die lees van die bundel aan hom die gevoel gegee het dat hy deur die gange van ’n museum loop waar "gestilde gebeure deur ’n onsigbare digter-kurator uitgebeeld word en jy net so naby kan beweeg as wat die glas jou toelaat. Die taferele wat aan jou voorgehou word, meestal met ’n besinnende inslag, dwing jou om – soms teen jou sin – stil te staan en die toneel gade te slaan.

"In Al die lieflike dade pleeg Naudé moontlik juis dit: Gedigdade wat op ’n gegewe oomblik nóg goed, nóg sleg is, maar wat ongetwyfeld 'lieflik' is."

Vir Louise Viljoen (LitNet) daag Al die lieflike dade die leser van die Afrikaanse digkuns uit "met sy omvang, kompleksiteit, beeldkrag en unieke poëtiese segging. Dit vra om ’n toegewyde lees, maar diegene wat volhard sal in alle opsigte beloon word."

In 2018 word Charl-Pierre se eerste roman, Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey, by Tafelberg uitgegee, en in 2019 word dit met die UJ-prys, die Jan Rabie-Rapport-prys en die Sala-toekenning bekroon. Dit was ook op die kortlys vir die WA Hofmeyr-prys vir 2019.

Die paneel beoordelaars skryf as volg oor Dirkie Verwey: "Op ’n uiters vernuftige wyse ondermyn hy die hele konsep van chronologie. Aangesien drome in die roman as werklike wesens aangebied word, speel Naudé met die idee dat hierdie lewe ook net ’n droom kan wees. Hy bied swyes as geskiedskrywing aan. Hy daag die aard van menslike bestaan uit deur die moontlikheid te ondersoek dat ons gelyktydig op verskeie plekke in verskillende tye kan bestaan" (Beeld, 11 April 2019).

Ná die ontvangs van die UJ-Prys het Charl-Pierre Naudé as volg gereageer (Volksblad, 8 Mei 2109): "Dit is vir my ’n eer om hierdie prys vir my eerste roman te ontvang, juis omdat die UJ-prys sinoniem is met die idee van ’n werk wat miskien die potensiaal het om te verras. En dit was nog altyd vir my ’n belangrike beginsel. (…)

"Ek het die boek met die ewewêreld as leitmotief geskryf. Dit is omdat die idee my juis eerstens as metafoor aangryp. Omdat ek aan min scenario's kan dink wat in ’n neutedop meer aan die verwikkeldheid en veelvoudige aard van Suid-Afrika se landskap herinner. Fiksie is dikwels ’n vorm van feitelikheid, nie die teenoorgestelde vorm daarvan nie.

"Uiteindelik is ek meer geïnteresseerd in die implikasies van die ewewêrelde as in hierdie ondermaanse soos wat dit dag vir dag in ons manifesteer – dat elke mens in hom- of haarself baie mense ronddra.

"Nadat ek die storie geskryf het, dink ek weet ek minder van die wêreld, maar het ek tog meer daarvan gesien. En het ek minder oortuigings, maar glo ek in meer moontlikhede, want fiksie is werklikheid. Só leer die ewewêrelde ons. As iets voorstelbaar is, bestaan dit. Iewers deur die wiel van die tyd."

Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey begin in 1973 in die dorpie Lyksovlakte. Die koster kom een nag op die kerkbanke op twee jongmense, Dirkie Verwey en Anna Bandjies, af. Die polisie word ingeroep, maar die twee jongmense word beide in hul ouerhuise aan die slaap gevind – hoe hulle daar gekom het, weet niemand nie. Daar was selfs ’n foto wat bewys kon lewer dat hulle terselfdertyd in die kerk was. Later verskyn ’n motel op ’n afgeleë stuk grond en weer weet niemand waar dit vandaan gekom het nie.

Naudé vertel aan AJ Opperman (Die Burger, 8 Januarie 2019) meer oor die verhaal en roman wat hy "ontdek" het: "Ek wil juis daardie dubbelvisie hê dat dit ’n fiksie is, miskien nie. Die karakter Hermanus Verdomp het ’n bepaalde stem en styl. Hy word die stem van die storie. My gevoel is dat die leser die heeltyd moet dink, maar kan dit waar wees? Of nee, dit is waarskynlik fiksie. Dis wat ek wil hê die leser moet ervaar.

"Dit was my reaksie toe ek die heel eerste keer hierdie tegniek teëgekom het – in ’n ander boek. Dit is al gebruik, maar ’n mens moet natuurlik die gebruik van die tegniek in elke boek op sy eie beoordeel."

Dirkie Verwey het ’n lang aanloop gehad voordat dit gepubliseer is. Naudé het die eerste weergawe in 2011 begin skryf. "Dit het so 11 maande geneem," vertel hy aan Opperman. "Ek het toe ’n derde daarvan gesny en ’n ander derde bygeskryf. Die res van die ses jaar het ek gebruik om die regte struktuur daarvoor te kry."

Dit is ook aanvanklik voorgelê vir ’n M-graad aan die Universiteit van die Vrystaat met die Vrystaatse dosent en skrywer Francois Smith as sy studieleier. Kerneels Breytenbach het die "komplekse" (soos Naudé dit self beskryf) roman reeds in 2012 vir publikasie aanvaar.

Aan AJ Opperman vertel Naudé verder oor hierdie "dikke" boek met baie karakters: "Hulle speel almal teen mekaar af," sê hy. "So dit is eintlik almal een karakter op ’n manier. Al die Annas byvoorbeeld. Alle moontlikhede. Dis nie ’n storie wat op die gewone manier lynreg is nie.

"Kerneels (Breytenbach) was mal oor die idee van ewe-lewens, wat Hermanus se nuutskepping is vir parallel lives, wat eintlik die karakter Maria se woord is.

"Daar is breedweg twee stories in die boek. ’n Liefdesverhaal – tussen Maria en Dirkie. En die ander is van Hermanus en Anna. Maar die hele storie wil vir my metafories wees van aspekte van die apartheidsbestaan.

"’n Plek wat so werklik was as jy daarin grootgeword het en wat glad nie meer bestaan nie. Oukei, mense sal sê daar is baie aspekte wat nog bestaan. Maar op ’n baie interessante manier was dit ’n totaal ander planeet."

Charl beskryf Dirkie Verwey as ’n "boek van inspirasie": "’n Mens kry die indruk dat die hele boek vir Hermanus ’n verbeeldingsvlug was. Die idee het my absoluut geïnspireer. En ek hoop dit kan so gelees word. Die idee van ewe-lewens en om metafore te vind vir lewens wat anders is, maar ook dieselfde. Die ewe-lewens is ’n spektrum. Dis soos om in ’n spieël te kyk waarin daar eindelose afbeeldings is van die lewens wat jy kon gelei het."

Naomi Meyer (LitNet) wou by Naudé weet hoe hierdie storie by hom "beland" het. Só verduidelik hy: "Soos my Vorwoord dit stel, is die manuskrip aan my aangestuur deur ’n vriendin van die skrywer. Haar naam is Rentia Melck. Die Voorwoord suggereer dat die skrywer, Hermanus Verdomp, die gebeure eerstehands amper vyftig jaar gelede as joernalis ervaar het. Die Voorwoord sê verder dat die roman onder my naam, die naam van die annoteerder, gepubliseer word omdat Verdomp niks meer met sy manuskrip te doen wil hê nie. Skerpsinnige ingeligte lesers sal dié inligting miskien as ’n literêre blufspel eien, as iets wat die oogmerk het om die waarheidsgevoel van die gerapporteerde gebeure by die leser te verhoog, en ek gaan hulle nie weerspreek óf in hul kwaad sterk nie. Ander lesers sal my Voorwoord op sy letterlike woord neem. En waarom nie? Soms is daar meer as een vertolking van ’n situasie, van ’n geskiedenis, wat ewe waar kan wees. En dit geld hierdie boek ook. Die hooftema, ewewêrelde, begin reeds hier, by die opset en samestelling van die boek."

Naudé verduidelik verder aan Meyer waaroor Dirkie Verwey werklik gaan: "[D]ie onwaarskynlike gebeurtenis wanneer die moontlikhede naas die aanvaarde werklikheid as alternatiewe werklikhede sigbaar begin word, en selfs by hulle oorneem. In die storie is daar meestal ʼn verband tussen ʼn bepaalde werklikheid en sy alternatief wat realiseer. Gewoonlik gebeur dit as ʼn soort foltering omdat dit dikwels ʼn verband is wat eerder versweë moes gebly het." 

Op LitNet begin Marni Bonthuys haar resensie van die boek só: "Charl-Pierre Naudé se Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey is dié bekende digter se eerste roman. Dit word in die voorwoord aangebied as die manuskrip van ’n 'amateurskrywer', Hermanus Verdomp, wat een van die hoofkarakters en die vernaamste verteller in die roman is. Die verteltegniek is ongewoon, aangesien Verdomp duidelik die storie aan die leser vertel soos hy dit meegemaak het (in die voorwoord word dit ’n 'dokumentêre roman' genoem), maar soms ander karakters se stemme/perspektiewe verbeel om gebeure wat hy tweedehands gehoor het, aan die leser oor te dra. As leser is jy dus deurgaans bewus van die feit dat jy ’n oorvertelde verhaal lees – via die 'C-PN' (’n verwysing na Naudé?) wat oënskynlik die voorwoord, nawoord en verskeie voetnote skryf; Verdomp, die eensame oujongkêrel-joernalis; en/of een van die talle mense met wie Verdomp onderhoude gevoer het om die groter verhaal aanmekaar te stik. Soos dit maar met oorvertelde stories gaan, veral oorvertelde stories op ’n klein dorpie soos die (fiktiewe) Lyksovlakte, weet die leser dus instinktief dat ons hier moontlik met net soveel stertjies as stories te make gaan hê. Verdomp (wie se naam assosiasies oproep met woorde soos 'verdamp' en 'verdomde' – sy karakterisering deur die loop van die verhaal maak wel hierdie assosiasies helder) kom ook uit die verf as ’n man wat nie altyd die mees neutrale waarnemer is nie. Boonop speel die roman af tydens die hoogty van apartheid, waar veiligheidspolisiemanne enige geluide (in een geval, letterlik) kan uitluister wat die staat in ’n slegte lig stel. Rekords en bewyse word dan ook telkens in die roman verwoes om mense en geheime te beskerm. Die leser maak dus die afleiding dat die sprekers 'die waarheid' nie sommer so kan oordra nie, maar as vervlegte stories vertel om hulleself te beskerm. Die duidelike impak wat die trauma van intimidasie op die betrokkenes het, veroorsaak natuurlik verder dat die leser nie altyd oortuig is aangaande die akkuraatheid van die verhale wat Verdomp opteken nie.

"Dié metaroman (oftewel: ’n roman-binne-’n-roman waarin die skryfproses sentraal staan) speel met verskillende genres – wetenskapfiksie (reeds in die voorwoord lees ons dat die verhaal oor 'ewelewens' of 'doppelgängers' gaan waar 'identiese weergawes van sommige mense gelyktydig in dieselfde omgewing gesien is'), die plaasroman of selfs die kontreiverhaal (die plattelandse milieu waar dit afspeel, staan sentraal in die storie), die liefdesverhaal (eintlik liefdesverhale), psigologiese roman (diegene wat bekend is met die psigoanalise sal gou agterkom dat die roman wemel van die argetipes, simbole en drome; asook ’n paar psigiaters), en les bes, as magies-realistiese verhaal (’n soort verhaal waar die bonatuurlike of magiese naatloos met die reële vervleg word)."

Bonthuys sluit af: "Hoewel die digterlike kwaliteit van die roman ’n sterkpunt is, bring dit mee dat dit stadiger lees en die teks redelik dig is. Ek het egter gevind dat dit juis ’n roman is wat nie oor ’n lang periode in veelvuldige sarsies gelees moet word nie, maar in enkele sittings. Daar is gewoon te veel besonderhede, asook te veel karakters en verwysings wat veroorsaak dat mens maklik die draad kan verloor. Hierdie faset skakel dan ook met my enigste werklike punt van kritiek: die roman kon sterker gewees het met die nodige redigering. Sekere tonele dra nie genoeg tot die verhaallyn of atmosfeer by om die bestaan daarvan te regverdig nie. Ander beklemtoon weer ’n waarheid/tema/idee wat reeds goed gekommunikeer is. Die roman is ryk en kompleks. Van hierdie toevoegings raak oorbodige vet wat eerder afgesny kon gewees het.

"Ten slotte is Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey ’n fassinerende roman. Een wat lesers om verskeie redes sal bybly lank ná hulle dit gelees het."

In nog ’n resensie skryf Willie Burger in Beeld van 19 November 2018 dat die leser in hierdie boek te staan kom voor baie verbeeldingryke konfrontasies, "soos die 'mis-voor-die-son-hoed' wat in ’n yskas bewaar moet word omdat die mis waaruit dit gemaak is teen hoë temperature kan verdwyn. Enige vrou wat hierdie hoed opsit, ongeag hoe sy lyk, word onweerstaanbaar vir mans."

Burger skryf verder dat Naudé se bekroonde digbundels by die leser die verwagting kan skep dat ook sy debuut as romanskrywer ’n toonbeeld sal wees van sy tegniese vernuf en eksperimentering en dat die filosofiese onderbou van die roman sterk sal wees.

"Dalk verwag mens ook buitengewone metafore, treffende beelde, en Naudé se kenmerkende sin vir ironie en humor," skryf Burger verder.

Vir hom kan die leser al hierdie dinge en nog meer in Dirkie Verwey vind. "Die lywige roman (470 bladsye) vermaak en boei met ’n sterk spanningslyn asook die betowering van ’n soort magiese realisme wat mens wil-wil herinner aan Murakami. Dit beteken egter nie dat dit sonder meer ’n maklike roman is om te lees nie. (…)

"In die roman word die idee van parallelle lewens, van 'ewewêrelde', op verskillende maniere ondersoek. (…) Aan die een kant is die parallelle wêrelde ’n metafoor vir die parallelle lewens, die aparte wêrelde, wat mens van verskillende rasse tydens apartheid ervaar het. Maar die ewewêrelde bied ook meer.

"Dit maak die ondersoek na die aard van fiksie moontlik. Fiksie behels immers die skep van alternatiewe wêrelde, en soos die kruiedokter, Oom Willempie, aan Verdomp verduidelik: 'Die wêreld bestaat oorlat die mense hom so dink.' Hy verduidelik dat dinge tot bestaan gedink word, en dat dit ook weer weggedink kan word. Dit is asof mense net kan sien wat hulle glo.

"Ewewêrelde hef grense op. Die wêrelde sluit mekaar uit, is teenstrydig, maar oorvleuel terselfdertyd op ’n tipiese postmodernistiese wyse. Sodoende word die aard van ons eie wêreld, ons kennis oor die wêreld ondersoek. (…)

"Onbetroubare vertellers onthuts die leser. Hulle maak vaste kennis onmoontlik. Een van die polisiemanne word as '’n man van enkel emosie' beskryf. Enkel emosies en enkel verklarings vir wat 'regtig' gebeur het, word ten spyte van C-P Naudé se 'verhelderende' aantekeninge, nie verduur nie.

"Die klem val op verskillende weergawes van ’n onkenbare werklikheid en die leser se onskuldige geloof in ’n vaste greep op die wêreld, word ondermyn."

Jean Meiring (Rapport, 4 November 2018) is eweneens beïndruk met Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey. Hy skryf dat die skrywer aan die een kant die sentrale tema ("van als wat elders afgespieël word") gebruik om aan te toon hoe absurd apartheid was, asook die nasleep daarvan: "Eweneens, die stommiteit van ’n outoritêre lewensuitkyk wat geloofs- en kennisstelsels ongetoets ervaar.

"Derhalwe skuif hierdie boek stilletjies by Mark Behr se Die reuk van appels (1993) in gelid en by die linie niefiksietekste wat onlangs die lig begin sien het wat die derms van die dekades 70 en 80 van die vorige eeu in die son blootlê.

"Ook is dit natuurlik ’n speurverhaal wat die loep skerp oor die konsepte van verantwoordelikheid en aandadigheid plaas. Die dubbelsinnigheid in die titel – is Dirkie se gewaande onskuld ooit globaar? – suggereer dit natuurlik reeds.

"Dan is dit ook ’n spookstorie én ’n teer liefdesverhaal én ’n boek oor stories – die mens se oeroue behoefte aan die metamorfose wat stories in die hand kan werk. Maar bowe als is Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey ’n knallend vermaaklike en slim boek. Dikkedensie wat sy is, lees sy soos ’n uitasem-sjoebroekie."

Naomi Meyer wil by Naudé weet of en hoe die boek sy lewe verander het: "Naomi, ek dink so, ja. Die boek was vir my soos om deur ’n sleutelgat te kyk na ʼn ander wêreld. Die mense wat ek so afgeloer het, ek bedank hulle uit die diepte van my hart: Anna, Hermanus, Dirkie, Maria en die ander. Dit was bevrydend vir my om my 'self', daardie selfingenome trapkar van die digkuns, agter te laat en ánder lewens te beskou. Ek dink die boek het my gehelp om te groei."

Charl-Pierre vertel aan Willemien Marais (Volksblad, 9 Februarie 2006): "Ek hou in die eerste plek van lewe. Om te sit en filosofeer en argumenteer met goeie vriende is wonderlik. Daarna lees ek graag – prosa, poësie – en kyk af en toe ’n rolprent. Wat prosa betref, hou ek byvoorbeeld van Yann Martel. Ek hou van Breyten se poësie." En in sy agterkop dryf idees vir ’n meestersgraad in filosofie. Hy wil graag werk oor die gedigte van die Duitse digter Paul Celan. "Helaas, poësie en musiek, al is dit naby mekaar, kan nie gelyktydig aandag kry nie. Dus skryf ek in relatiewe stilte. Dis oor die metrum. ’n Mens moet ’n gedig in jou binne-oor kan hoor terwyl jy skryf of hom lees. Musiek meng in daarmee."

Charl het ’n laai vol notaboekies in sy studeerkamer, vertel AJ Opperman. Die boekies is vol idees wat hy met die hand geskryf het: "Dit is idees waarvan die meeste nooit gebruik is nie. Die hele ding van ’n notaboek … dit help jou om die idees te vorm," brei Naudé uit.

"Ek skryf nooit met die hand nie. Op skool, ja. Maar my hand het altyd vreeslik seer geraak. Van daardie jare – ek het nog steeds hierdie eelte wat my nooit verlaat nie. So selfs met gedigte sal ek ook allerlei komposisies op die rekenaar self probeer."

Publikasies

Publikasie

Die nomadiese oomblik

Publikasiedatum

1995

ISBN

0624034127 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Ingrid Jonker-prys 1997

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

In die geheim van die dag

Publikasiedatum

2004

ISBN

1869190866 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

  • M-Net-prys vir Afrikaanse Poësiebundel 2005
  • Protea-prys vir Poësie 2005

Vertalings

Sien volgende publikasie

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Against the light

Publikasiedatum

2007

ISBN

9781869191849 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Sien jy die hemelliggame

Publikasiedatum

2008

ISBN

9789063541279 (sb)

Uitgewer

Middelburg (Nederland): CBK Zeeland

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Al die lieflike dade

Publikasiedatum

2014

ISBN

9780624069386 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

  • Sala-prys
  • Kortlys vir ATKV-Woordveertjie vir poësie 2014

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey

Publikasiedatum

2018

ISBN

9780624084341 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • Wenner 2019 UJ-prys
  • Sala-toekenning 2019 vir Afrikaanse roman
  • Jan Rabie-Rapport-prys 2019
  • Kortlys vir WA Hofmeyr-prys 2019

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Charl-Pierre Naudé as samesteller

’n Keuse van artikels en gedigte van Charl-Pierre Naudé op die internet beskikbaar

* Lesers moet asseblief daarop let dat weergawes van gedigte wat op die internet verskyn soms nié die korrekte weergawes is nie, veral as dit voor die publikasiedatum van die bundel op die internet geplaas is. 

Artikels oor Charl-Pierre Naudé beskikbaar op die internet

Charl-Pierre Naudé se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2009-06-02 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Bron:

  • Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie. 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top