Om ons beeld te soen

  • 0

Wat is hierdie lippoets,
die mondlak
wat ons aanplak
om mekaar as burgers
te soengroet?

Dit skyn te veel.
Soos dolke.

Soos die vel
van ’n slang wat afgedop het in die spieël.

Die tande van die gryns
is ’n lang dun geraamte
wat naderhand
soos die grate van ’n paling deur ons blikke seil

singende van gevoel
vir voormalige fame

van seedieptes.
Dit weet die beste skans
is ’n bietjie flikkerende glans.

En die driedimensionele
silwer glinstering,
die lyksak
(ons geskiedkundige spieëlself) –

hierdie administratiewe peul,
girts oop

het oopgekraak –

o, Trojaanse perd –

om ’n ry grinnikende sade
soos die god
van ’n primitiewe geloof
te ontbloot.

Ons aanmekaar gestikte saamheid,
die saamgeperste soen,
het losgetorring.

Dit is die versaakte papie
van ’n idee deur lug gebaar,
wat ons nou ontgaan.

Geen polsslag aan die slagoffer nie.
Selfs gevaar bestaan nie meer nie.

En mens kan die spieël gade slaan slegs
as jy so dood is soos die beeld daarin.

 

Lees al die Mondig-gedigte hier:

Mondig

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top