Die wêreld van die skrywer: skrywersnetwerke

  • 0

In 2018 het PEN Afrikaans by kenners aangeklop oor regskwessies wat skrywers raak. Hul deelname en kundige insette het tot gevolg gehad dat ons maandeliks nuttige artikels met ons lede kon deel oor praktiese en wetlike sake wat hul raak. Kyk gerus na ons webportaal om die artikels na te gaan of soek op Facebook en Twitter met die hutsmerk #WatElkeSkrywerMoetWeet.
 
Hierdie jaar beplan ons ’n nuwe reeks artikels waarin skrywers self aan die woord is. Ons sien uit om te lees oor ’n verskeidenheid onderwerpe wat met die wêreld van die skrywer te doen het.
 
Die eerste skrywer aan die beurt is PEN Afrikaans-bestuurslid, bekroonde digter, resensent en nou ook romansier, Charl-Pierre Naudé.  Hy skryf hierdie maand oor die rol van netwerke en netwerkskepping in sy loopbaan as skrywer, en brei uit oor skrywersresidensieprogramme waaraan hy al deelgeneem het.

Foto van Charl-Pierre Naudé: Alet Pretorius

Ek vind dat skrywerskap ’n individualistiese aangeleentheid is. Maar tog speel allerlei faktore – kultuurorganisatoriese praktyke, modegiere, en media – ook ’n rol in hoe die skrywerskap van ons tyd in die praktyk daar uitsien.

Skrywersnetwerke, soos residensies, is meestal aan die orde van die dag in die noordelike halfrond. Daar is vele veral jonger Europese en Oos-Europese skrywers wat in hul vrye tyd tussen residensies beweeg. Een skrywer het aan my gebieg dat hy van residensie tot residensie leef, hy het nie ’n huis nie. 

My eie ervaring van kollektiewe inisiatiewe is eintlik beperk. Ek het wel deur die jare vriende gemaak met sommige skrywers, maar ek is nie deel van kringlope nie. Ek het byvoorbeeld nog net eenmaal op die program van die KKNK verskyn – in die middel negentigerjare.

En tog het skrywersresidensies in Europa my te beurt geval, gewoonlik via die Nederlandse roete. Kunste-organisasies in Nederland is om watter redes ook al invloedryk in Europa. Nederlanders sal altyd praat oor hoe klein hul landjie en taal is, maar dis oormatige nederigheid.

As skrywer was my tweede blootstelling aan die plaaslike toneel by ’n kunstefees waar ek vir ’n medeskrywer, wat by die fees ’n skryfkursus aangebied het, in haar gastehuiskamer tee gemaak het. Dis wonderlik dat sulke solipsistiese wesens soos skrywers darem tee vir mekaar aandra.  

In Rotterdam het ek gesien hoe ’n beroemde digter in ’n verfladderde waas vir ’n hele tafel digters koffie aanbring. Hy het die enigmatiese persoonlikheid van ’n bries gehad. Een van die digters aan daardie tafel, die beroemde Anne Carson, het ’n hele rukkie geneem om agter te kom dat die laaste geborduurde porseleinkoppie op die skinkbord vir haar bedoel was. Sy kon dit skaars glo, en hoe verdien sy dit nie.

Die bestaan van skrywersresidensies stel skrywers aan mekaar voor.

Verblyfbeurse in sy huidige vorm is ’n ná-tweedewêreldoorlogse verskynsel. Die kunste der eeue het wel hul beskermhere en -dames gehad, maar dit was iets wat op persoonlike vlak tussen gasheer en begunstigde beklink is – nie, soos vandag, deur staatsondersteunde stigtings nie.

Daar is verskeie Nederlandse en Belgiese verblyfkringlope (oftewel skrywersresidensies). Laas toe ek op die internet gekyk het, was daar byvoorbeeld die Het Beschrijft- en Passa Porta-residensies. Beide programme bied ’n huis op die platteland óf in die stad aan, waaruit jy kan kies.

Weens die swyende Nederlandstalige invloed op die Europese toneel, waarskynlik omdat hulle so energiek vertaal en beskou word as kenners van “die vreemde”, is dit nie ’n slegte plek vir ’n Afrikaanse skrywer om te begin nie. As meer as een Nederlandse residensie op jou CV staan, behoort dit in jou guns te tel as jy ’n residensie in Europa buite Nederland wil opsoek.  

In Duitsland is daar die skrywersresidensies van die DAAD se Künstlerprogramm. Dit het aanvanklik ontstaan as ’n toenaderingsinisiatief tussen oostelike en westelike Europa, maar deesdae kan enige skrywer aansoek doen. ’n Beurs van hierdie program het my te beurt geval, en ek is baie dankbaar daarvoor. Weereens, so glo ek, het Nederlandse verwysings my die hupstoot gegee.     

Nog ’n beurs wat vir my veel beteken het, was die Sylt-stigting se skrywersbeurs. Die Sylt-stigting staan onder leiding van die wonderlike Indra Wussow. Sy en haar komitee het my naam op die Rotterdamse Poetry International-webtuiste gevind en my gedigte daar gelees en my deur middel van daardie stigting gekontak. Jy slyt enige iets van drie weke tot twee maande op daardie afgeleë, pragtige eiland, ry op kronkelpaaie fiets, en loop ure lank op ongerepte strande.

Op een plek is die eiland ’n handbreedte wyd tussen die plat Waddensee en die onstuimige Noordsee aan die ander kant. Buite seisoen is die eiland, ’n rykmanstoevlug, onbevolk. Heerlik. Dit lyk of ’n virus die plek getref het maar jy het oorleef. Heelparty Suid-Afrikaanse skrywers het al hierdie beursverblyf benut. Maar me. Wussow moes in onlangse tye die beursie ongelukkig toeknip – ’n gevolg daarvan dat residensies se staatsondersteuning ingekort word. 

Die belangrikste van ’n beursverblyf is nie om op ’n eksotiese plek aan die leer te gaan oor “die ander” nie, dit ook.  Belangriker is wat jy oor jouself leer deur weg te wees van jou heimat, met die voordeel van afstandelikheid.

Dit is die ontberings van die skrywers van die eerste helfte van die twintigste eeu, wat iewers buite hul eie land moes skuiling soek teen politieke vervolging, wat deels aanleiding gegee het tot die skep van residensies in hul huidige vorm. Dis hulle wat hierdie gawe vir ons, skrywers van die 21ste eeu, moontlik gemaak het. Die vroegste vorm van die huidige netwerk was iets van ’n vlugteling- of toevlugsnetwerk.

Om op ’n verblyfbeurs te wees, behels dus om ook ’n bietjie na te dink oor skrywers wat dit ongelukkiger as jy getref het, die skrywers wat Suid-Afrika in die apartheidstyd moes verlaat, byvoorbeeld, veral swart skrywers, of die skrywers wat in die huidige tyd vermoor word in Irak, Iran, Rusland. Daar is dus iets in die benutting van ’n skrywersverblyf wat ’n band van meelewing met ander skrywers skep.

Een van die probleme rondom die benutting van residensies is die feit dat meeste Suid-Afrikaanse skrywers ’n werk het. Skrywers wat voltyds kan skryf, is meer ’n verskynsel van die noordelike halfrond. Maar vir plaaslike skrywers wat ook akademici is, is daar sabbatsverlof wat ingespan kan word vir ’n beursverblyf. Sommige residensies maak dit moontlik dat jy jou verpligtinge elders kan nakom terwyl jy die residensie benut met ’n kom-en-gaan skedule.

Daar is meestal geen ouderdomsbeperking nie. Afgetrede skrywers is in ’n goeie posisie om aansoeke te loods. Sommige residensies het enkele voorskrifte, soos ’n opstel wat jy moet skryf of die gee van lesings. Ander residensies het geen voorskrifte nie. Soms kan jy jou metgesel en kinders saambring, indien nodig. Jy kan hulle ook by die huis los, indien meer nodig.

Skrywers, wat ’n verbintenis tot vrye denke behoort te hê, word uitgenooi om ’n verskil te maak aan heersende insigte. En tog: mense se kennis oor Suid-Afrika kan baie tendensieus of ideologies-gedrewe wees.

Enige tydperk het sy slaggate vir vrye denke. In vandag se tyd is die aanwesigheid van netwerke nie slégs positief in hul uitwerking nie. Dink maar aan Facebook. Mense is wesens wat hou van magsuitoefening, en daarom is jou onafhanklikheid as skrywer so welkom vir ander plekke soos wat dit “onwelkom” is.

Ek het as Suid-Afrikaner wat bleek aandoen op die oog, by geleentheid bad vibes gekry gewoon oor hierdie histories geseënde, erg relatiewe blekerigheid van my. Maar dit was regtig die uitsondering. Meestal was my verblywe bruinbrood na beide kante toe.  

So dis hoe daardie spesie lyk wat apartheid geskep het?! Totdat ek sê ek kom van Flook Island, ja, nee, min of meer, is. Dis iewers aan die Suid-Afrikaanse kus, ja. Not South Africa? No, I am a Flook Islander. Is it some place like Belize? Absolutely not, more like Pitcairn. How come you are on the programme? Well, Flook Island was only recently discovered, now the programme is making amends. I see, very strange, has your country got a website?

Ensovoorts. Totdat ons eindig sonder vooroordele. Daardie gesprek maak ek nie op nie. Dit was met ’n jong Somaliese skryfster. Netwerke kan vooroordele afbreek of versterk. En dit kan internasionale humor aanhelp.  

Die voortbestaan van residensies kan nie sonder meer as ’n feit beskou word nie. Die ekonomie van die wêreld is baie onseker.

Die Afrikaanse skrywer geniet nie die beskerming en promosie van die staat soos in die geval van die Nederlandse skrywer nie (indien dit nog so is). Daar is jare gelede aan my vertel die Nederlandse en Vlaamse ministeries van kuns en kultuur maak regstreeks kontak met internasionale letterkundefeeste en residensies en stel skrywers by name voor. Iets van hierdie funksie word wel vervul op bilaterale vlak deur organisasies tussen Nederlands en Afrikaans.

Die getal residensies in Europa is te talryk om op te noem. Suid-Afrikaanse skrywers van alle rasse het al Nederlandse, Sweedse, Switserse en ander Europese residensies benut. Maar plaaslike skrywers weet te min van hierdie geleenthede.

Die skrywer kan self navorsing doen deur op te lees op die internet.

Die Engelstalige plaaslike skrywer het via die wêreldwye Engelse letterkunde waarskynlik makliker toegang tot Britse en Amerikaanse netwerke, en dis dalk tyd dat ons twee sfere hul voordele met mekaar deel.  Jonger swart plaaslike skrywers is in ’n goeie posisie, veral vir stigtings wat ’n noodsaaklike ontwikkelingsaspek in hul agenda het.

Residensies is gesubsidieer. Meeste bied ’n stipend aan wat al jou uitgawes en vlugkostes dek. By ander moet jy ’n bybetaling maak.

Spring terwyl die springplank wip het. Jy wil nie aansoek doen vir die Illuminate-beurs in Trump Towers nie.  

 

Lees ook

Woon en skryf vir ’n maand in Somerset-Oos: die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans loods ’n skrywersresidensie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top