Binne die skool, buite die kurrikulum, vind jy jou doksa

  • 1

‘n Artikel getitel Doksa en verwerkliking van leeridentiteitspraktyke van hoërskoolleerders in ’n landelike werkersklasdorp deur Henry Fillies en Aslam Fataar het onlangs (2015) in LitNet Akademies (Opvoedkunde) verskyn.

Die volgende gesprek het hieruit voortgevloei: "Meneer, ek wil net iets word ..."

Met hierdie bydrae neem Izak de Vries die gesprek nou verder. Hy vestig ook lesers se aandag op produksies wat by vanjaar se KKNK nie misgeloop behoort te word nie.

***

Diegene wat gelukkig genoeg is om na die KKNK te gaan, moet beslis probeer bespreek vir twee toneelstukke. Die eerste is Die einde, en die tweede is Vyf: ’n dokumentêr.

As jy tieners het, moet hulle asseblief saamgaan. (Die einde dra wel ’n waarskuwing van niemand onder 16 nie; wees asseblief bewus daarvan.)

Ek was bevoorreg om onderhoude te kon voer met die spelers, en wil graag enkele insigte deel. Vir meer inligting oor die toneelstukke self, klik hier.

Twee totaal verskillende skole

Die twee skole wat hierdie toneelstukke opvoer, kan moeilik verder van mekaar verwyder wees – ons praat in afstand, maar ook agtergrond. Randfontein High School is ’n tegniese skool in ’n bitter arm buurt. Die leerders is oorwegend swart. Hulle ken geweld; die meeste ken iemand in die tronk. Die Hoër Meisieskool Bloemhof, in Stellenbosch, is geleë in een van die rykste distrikte in die land en trek dan ook gegoede leerders. Dit is lank nie meer oorwegend wit nie, maar daar is duidelik bevoorregting ter sprake. Tog is daar enorme raakpunte; dit is waarop ek wil konsentreer.

In albei skole word drama aangebied as ’n manier om aan jongmense ’n stem te gee. Drama, op hierdie vlak, word buite die kurrikulum aangebied; dit is addisioneel tot die leerders se skoolwerk.

’n Teoretiese raamwerk

In my gesprekke het ek jongmense ontmoet wat hulleself moes leer ken, wat hulle omgewings moes leer ken, die binne- en buite-ek moes versoen en toe eers kon hulle op die hoogste vlak toneelspeel. Dit is vaardighede wat nie binne die kurrikulum gedek word nie.

Daar is twee teoretiese kapstokke wat my eie ondersoek onderlê.

Die eerste is ’n artikel op die webruimte van Progressive Christianity; die titel is “9 Eternally Vital Life Skills (That They Don’t Teach You in School)”. Die skrywer, ’n onbekende blogger, maar heel waarskynlik ’n Amerikaner, is een van ’n groeiende aantal mense wat hul kinders tuis onderrig omdat hulle geduld verloor met die formele skoolstelsel. Die skrywer moedig uiteindelik mense aan om “unschooling” toe te pas. 

Die tweede is ’n akademiese artikel hier op LitNet. Die skrywers, Henry Fillies en Aslam Fataar, ondersoek maniere waarop arm, werkersklasleerders in ’n staatskool hulleself sien in ’n soeke na hulle identiteit. Die titel is “Doksa en verwerkliking van leeridentiteitspraktyke van hoërskoolleerders in ’n landelike werkersklasdorp”. Klik hier vir die artikel. 

Myns insiens het drama, wat buite die formele kurrikulum aangebied word, aan die leerders in die twee skole die weg gebaan om hulleself te leer ken – dus, om die doksa waarna Fillies en Fataar verwys, te bereik.

Die onbekende blogger wil die skoolsisteem ongedaan maak. Die probleem is dat sy uitweg, tuisonderrig, nie beskore is vir die grootste gros leerders nie. Selfs ouers wat dit finansieel kan bekostig, sou vele redes hê om steeds hulle kinders in ’n formele skoolsisteem te hou.

My onderhoude met die leerders van die twee skole, ryk en arm, het getoon dat die formele sisteem se gebreke aangepak, getoets en op ’n metavlak aangepak is deur die leerders. Nie net kon die leerders die gebreke identifiseer nie, hulle kon dit ook verwoord en met ander deel. Dit sou dus blyk dat “doksa” moontlik is binne ’n formele skoolstelsel, mits die leerders aangemoedig word om deel te neem aan iets soos die ATKV-tienertoneel wat buite die formele kurrikulum aangebied word.

Wat hier volg, is ’n kort opsomming van elke toneelstuk, asook my gesprekke met die leerders ná ek die stukke gesien het. Dit word vermeng met die teorie van Fillies en Fataar.

Oor Die einde

Die einde, deur Stephen Kotze, is ’n keiharde stuk oor die wrede bendekultuur in Suid-Afrika se jeugstrafstelsel. Dit is bitter eerlik. Die hoofkarakter, X, ook bekend as Generaal, is ’n genadelose, wrede leier wat vir homself ’n wyfie neem. Die wyfie, Cupcakes, misbruik sy posisie om die tronksel waarin die stuk afspeel, te polariseer.

Die Einde (foto: Izak de Vries)

In 2015 word Randfontein High School as die naaswenner van die 51ste ATKV-Tienertoneelkompetisie aangewys, ten spyte daarvan dat die stuk erg kontroversieel is en sommige mense selfs wonder of dit op die Tienertoneelplatform toegelaat moes gewees het.

Antonio Martin, wat Cupcakes speel, wen ook die toekenning vir die mees belowende speler.

Loyame Mlawuli, as Einstein, wen die toekenning vir die beste manlike akteur in ’n ondersteunende rol.

Vir sy gemene spel op die verhoog wen Cantona James, as X, die gesogte titel van die beste manlike hoofrolspeler.

Dit is het einde niet: Mokgadi Mabitsele wen ook die prys as beste beligtingsoperateur.

Ná die tyd het ek aan die span gevra hoekom hulle so ’n stuk gedoen het. Hulle was teen daardie tyd bewus van die kritiek, en het openlik oor hulle eie agtergrond gesels.

Die meeste van hierdie spelers ken mense in die tronk. Hulle skool is geleë in ’n arm gebied waar misdaad nie iets vreemd is nie. Tog – dit is een ding om misdaad om jou te hê, maar dit verg iets gans anders om daardie rolle op die verhoog te vertolk.

Nie een van die spelers was gemaklik met hulle karakters nie; hulle moes dus baie hard werk om daardie vlakke van tegniese beheersing te behaal. “Commitment” is die een woord wat die hele tyd voorgekom in ons gesprek. (Die leerders se skooltaal is Engels, ons gesprek het tussen Afrikaans en Engels gemeander.)

Cantona James, die wrede X, sien homself byvoorbeeld as ’n saggeaarde seun. Die ander stem saam. Maar hoe doen hulle dit dan?

Die leerders noem twee tegnieke. Harde werk en navorsing was een tegniek, maar om oortuigend op die verhoog te wees, moes hulle ’n woede diep in hulleself vind. Hulle is deur hul regisseur gehelp om die negatiewe in hulle omgewing op te vang, dit te internaliseer, en kwaad te word daaroor. Daardie woede, daardie bewussyn van die onreg waarmee hulle as skoolgemeenskap saamleef, was wat hulle vir 45 minute lank in monsters kon omskep op die verhoog.

Indrukwekkend.

Toe vertel die seuns my egter hoe hulle daarna, ná elke oefening en ná elke optrede, ook weer moes leer om die negatiewe neer te lê, om aktief uit daardie rol uit te klim, anders sou die woede hulle agtervolg.

As ons nou vir ’n oomblik na die baie teoretiese stuk oor doksa kan kyk: Fillies en Fataar beweer: “In hul woonbuurt is werkersklasleerders soos die spreekwoordelike vis uit die water, want die woonbuurt kan hulle nie die vereiste kulturele kapitaal bied om in die skool te presteer nie.”

In my gesprekke met die leerders van Randfontein High was die negatiewe omgewing waarin hulle skool geleë is, ook ’n kwessie. Dit het ’n geweldige “commitment” van elke leerder geverg om bloot by oefeninge te kom en daaraan deel te neem.

Die harde werk is beloon.

Hennie van Greunen, een van die beoordelaars, het tydens die eindronde opgemerk dat dit toneelspel van die hoogste standaard verg om in die ATKV-Tienertoneel te seëvier – spel wat volgens hom op professionele standaard moet wees.

Fillies en Fataar wys daarop dat leerders in ’n arm gebied dikwels droom en hard werk om bo uit te kom; hulle praat van ’n “belegging in die spel”. Die probleem is egter: “Hul idees van ’n gewenste toekoms word gegrond op realiseerbare prestasies. Hierdie aspirasies is gewoonlik buite die bereik van hierdie werkersklasleerders in hul strewe in die markte van hoofstroom skoolopleiding en verdere onderwys. Dikwels ontaard hul ‘wenslike toekoms’ in ’n fantasie, want hul habitus is nie bevorderlik daarvoor nie. Dit laat leerders verder twyfel in hul vermoë om hoëstatusberoepe te betree.”

Wat ek gesien het by die leerders van Randfontein High, was suiwer vasbyt. Tegnies het hulle geskitter. Daarvoor is hulle beloon. Hierdie leerders gaan binnekort op die KKNK se verhoë optree en met die land se heel beste akteurs meeding, danksy borgskappe van die ATKV.

Daarna?

Nie al die seuns wil akteurs word nie, maar hulle weet dat geweldig harde werk hulle wel bo kan laat uitkom. Die “belegging” waarvan Fillies en Fataar praat, is reeds gemaak. ’n Deel van die opbrengste sal op die KKNK gesmaak word, maar hierdie leerders het reeds aan hulself bewys dat hulle kan uitstyg. Wat ná skool gebeur, is in hulle hande, maar hulle CV’s lyk reeds indrukwekkend.

Vir Fillies en Fataar is dit belangrik dat leerders hulleself binne hulle omgewing moet plaas en daarvandaan die hindernisse oorwin. Hulle werk met “die aanname dat jongmense hulself op vindingryke wyses en briljante selfidentifiseringsmeganismes vorm deur oor hul private en publieke rolle te onderhandel, asook deur hul toekomste in die lig van die stresvolle omgewings waarin hulle hulle bevind, uit te kerf. Hierdeur sien kinders moontlikhede in wat andersins hindernisse sou wees; hulle is ontvanklik vir agentskap en genereer alternatiewe opsies.”

Die einde is, soos reeds gemeld, opgevoer deur kinders uit ’n brandarm buurt. Maklik was hulle pad nie. Talle uitdagings lê nog vir hulle voor, selfs ná hulle van die KKNK se verhoë afstap.

Dat hierdie kinders egter selfinsig en ’n innerlike krag, ’n geloof dalk, in hulleself het, en dat hulle die omgewing waarin hulle woon, kon bestudeer en op die verhoog kon uitspeel, was vir my duidelik. Ek sou vermoed die leerders van Randfontein High het hulle eie identiteit gevind. Hulle het ook maniere gevind om hulleself te omvorm na ’n geloofwaardige “ander” op die verhoog, en om dan weer hulle eie identiteit aan te neem.

Hulle omstandighede het hulle nie weerhou van die vind van ’n eie identiteit binne ’n groot, moeilike milieu nie, net soos hulle arm agtergrond hulle nie weerhou het daarvan om vanjaar met die land se beste toneelspelers mee te ding nie.

Fillies en Fataar waarsku: “Alhoewel sommige leerders die skool gemotiveerd verlaat, vind hulle dit moeilik om werk te kry of om verder te studeer. Hierdie skoolverlater-jeugdiges dra ook by tot die hoë werkloosheidsyfers van die woonbuurt.”

’n Mens se hart breek by die aanhoor van sulke stellings.

Die leerders van Randfontein High het egter ten tye van ons gesprek reeds ’n idee gehad wat hulle wou word.

Ek hoop, ek vermoed selfs, hulle staan ’n kans om die moeilike pad na professionele sukses aan te pak; hulle “commitment” sal hulle dra. Hulle het reeds besef: sukses is moontlik; realistiese teikens kán met harde werk en selfondersoek behaal kan word.

Oor Vyf: ’n dokumentêr

Wat gebeur regtig in ’n meisieskool? Vir die buitestander is dit ’n geheime plek. Bloemhof stoot die deur oop en nooi ons binne.

Vyf (foto: Izak de Vries)

Die vyf jaar wat die meisies in hierdie bevoorregte skool deurbring, word ondersoek en met humor opgevoer. Dit is nie altyd maklik nie, want hierdie leerders moet nie net met die kurrikulum, vriendinne, seuns, die onderwysers en die skoolreëls uithou nie, hulle moet ook egskeiding en ouers wat hopeloos te veel verwag, die hoof bied.

Elke liewe stukkie dialoog in hierdie drama is nagevors en kom direk uit onderhoude van hulle skoolmaats, onderwysers of ouers. Niks is versin nie.

In 2015 wen Hoër Meisieskool Bloemhof die 51ste ATKV-Tienertoneelkompetisie met hierdie produksie, asook die prys vir die beste ensemblewerk.

Inge Heyns wen ook die prys as die beste klankoperateur.

Bloemhof se leerders kom uit gegoede huise; sommige se ouers is selfs ryk.

Fillies en Fataar se kommer dat weens “die hoë werkloosheidsyfer beskik baie ouers nie oor die nodige hulpbronne om hul kinders na tersiêre instellings te stuur nie, want dit vereis gelde, sowel as reis- en/of verblyfkoste” geld nie hier nie.

Waarom dan soek na ’n begrip van “doksa” by hierdie skool? Dit is tog totaal anders as die paradigma waarmee die twee akademici gewerk het in hulle ondersoek na werkersklaskinders? Fillies en Fataar verduidelik dat dit vir hulle gaan oor “sowel die hoe as die wat van sosiale werklikhede. Dit wentel om hoe mense hul ervarings en hul wêrelde bou en die samestelling van betekenis wat hul beleefde aktiwiteite toelig en vorm.”

Hoogs teoreties, maar dit is presies wat die leerders van Bloemhof baie prakties gedoen het. “Doksale opvattings lei tot ’n sosiale konsensus oor hoe dinge in enige gemeenskap werk en behoort te werk”, aldus die akademici. Die leerders van Bloemhof het gaan uitvind wat die “sosiale konsensus” in ’n meisieskool behels.

Die spelers het by vriende en onbekende meisies gaan sit; hulle het vrae gevra, hulle het gesprekke opgeneem. Die spelers het ander leerders gevra om hulle ervarings van skoolgaan neer te skryf; sommige het weer klandestien hulle selfone aangeskakel om interessante gesprekke mee af te luister en later te transkribeer. Toestemming is wel daarna gevra om dit te kon gebruik.

Hierdie magdom inligting is uiteindelik deur die toneelspelers verwerk in ’n vermaaklike, energieke stuk wat die kyker vir 45 minute vasgenael laat sit. Ek was bevoorreg om dit twee keer te sien binne 24 uur, en ek sou dit weer kon kyk.

Goed. Wat is doksa en wat het dit met die meisies van Bloemhof te doen? Fillies en Fataar sê: “In die breër sin van die woord gee dit patrone van denke en taal weer, asook hoe om op te tree, te stap, aan te trek, en so meer, wat in ’n sekere groep as voor die hand liggend beskou word.”

Presies. Gaan kyk Vyf: ’n dokumentêr. “Dames” – ’n term wat dikwels met spot in die stuk gebruik word – het sekere stereotiepe rolle in die samelewing en die onderwysstelsel waarbinne die leerders hulle bevind, dwing hulle om volgens sekere reëls op te tree. Die leerders bevraagteken die rolle. Dit moet dan ook. Fillies en Fataar sê dat “doksale oortuigings nie deur doelbewuste propaganda op individue afgedwing” kan word nie; verder “onderwerp agente hulle nie outomaties daaraan nie”.

Gaan kyk Vyf: ’n dokumentêr.

Ek het ook tot hierdie leerders toegang gekry en kon ’n baie interessante gesprek met hulle voer. Om ’n meisie te wees, selfs ’n bevoorregte meisie, het vele uitdagings. Wat agter die hoë wit mure gebeur, is nie altyd eenvoudig nie.

Ook aanvaar hierdie leerders nie meer klakkeloos die orde wat op hulle afgedwing word nie.

Die woord doksa kom nie een keer voor in Vyf: ’n dokumentêr nie, maar as ’n mens Fillies en Fataar lees, sou ’n mens kon dink hierdie jong “dames” [sic] het op ’n metavlak hulle doksa gaan soek en in hierdie toneelstuk uitgespeel.

Vyf: ’n dokumentêr sorg vir baie vermaak. Die stuk is slim aanmekaar gesit, tonele wissel vinnig af en die spelers het geweldig baie energie op die verhoog.

As jy ’n tienerseun of -dogter het, of gaan hê, gaan kyk dit.

Dit werk ook vir seuns. Ek het onderhoude gevoer met van die gehoorlede. Twee seuns van ’n tegniese skool in Fraserburg wat die stuk gesien het, was dit eens dat dit baie goed was.

“Hoekom?” wou ek weet.

“Dieselfde issues, net verskillende geslagsdele,” was die een knaap se antwoord.

Unschooling?

Die ATKV spandeer jaarliks 'n fortuin ​​op onderwys. Besoek gewoon hulle webblad en kyk na die werk wat in formele onderwys ingaan – ook in skole en omgewings wat niks met Afrikaans te doen het nie.

Die ATKV kan egter nie die kurrikulum verander nie.

Talle van die probleme wat die blogskrywer het met skole in die VSA, sien ons daagliks ook in Suid-Afrika. Die blogger stel nege punte voor waar die skoolsisteem ons leerders faal. Hy sê leerders sukkel om:

  1. vrae te vra
  2. oplossings vir probleme te vind
  3. projekte aan te pak
  4. hulle passie te vind
  5. onafhanklik te wees
  6. gelukkig te wees op hul eie
  7. barmhartig te wees
  8. verdraagsaam te wees
  9. verandering te hanteer.

Klink dit bekend? Ja.

Is die antwoord egter tuisonderrig? Dalk juis nie.

Gaan kyk na die wenner en die naaswenner van die ATKV-Tienertoneel by die KKNK.

Gaan kyk hoe knap werkersklasleerders uit Randfontein die probleme in hulle omgewing verwerk en op die verhoog aanbied.

Gaan kyk hoe die meisies van Bloemhof hulle bevoorregte bestaan bevraagteken, dekonstrueer en uiteindelik in ’n prettige toneelstuk verwerk.

Hierdie leerders ervaar wel die frustrasie van ons formele kurrikulum; beide skole se leerders is vasgevang in sosio-ekonomiese rolle wat hulle uit eie oorweging kon bevraagteken. Dit is in die ekstrakurrikulum dat hierdie leerders die kans gegun is om die orde, of gebrek daaraan, van hulle bestaan te bevraagteken. Hier geskied kritiese denke. Hier word eie identiteit, binne in die groter samelewing, gekweek. Fillies en Fataar noem dit “doksa”.

Waar die blogger “unschooling” aanmoedig, bied ATKV-Tienertoneeel, en verskeie ander buitemuurse aktiwiteite in ons skole, hoop vir ons kinders buite die kurrikulum, maar steeds binne die formele skoolstelsels.

Feesgangers by die KKNK moenie hierdie twee professionele produksies, aangebied deur ATKV-Tiertoneel, misloop nie.

Meer oor Die Einde by die KKNK

Aangebied deur ATKV-Tienertoneel.

Met: Cantona James, Jamain Dickson, Loyame Mlawuli, Kyle Treasurer, Antonio Martin en Wade Ramsey
Vervaardiger: Randfontein High School
Regie: Stephen Kotze en Amanda Jankowitz
Teks: Stephen Kotze
Vertaling: Amanda Jankowitz en Jenine Henning
Klankoperateur: Tshiamo Segone
Beligtingsoperateur: Mokgadi Mabitsela
Kostuumontwerp: Gabriella Green en Jaqueline Makhatini.

Afrikaans | Geen o/16 GSDT | R90 | 45 min Griesselsaal | 29 Maart 15:30 | 30 Maart 12:00

Klik hier vir meer inligting.

Klik hier om kaartjies te bespreek voor die saal vol word.

Meer oor Vyf: ’n dokumenter by die KKNK
Aangebied deur die ATKV-Tienertoneel

Met: Alé du Toit, Andréa van der Merwe, Carla Bester, Jeani Heyns, Margeaux Goosen, Mieke van Schoor, Monique du Plessis, René Cloete en Suzann Beukes
Vervaardiger: Hoër Meisieskool Bloemhof
Regie: André Gerber
Assistentregisseur: Elizabeth Munro
Choreograaf: Gabriella Bishop
Klankontwerp: Erik Botes
Klankoperateur: Inge Heins
Beligtingsontwerp: Miranda Joubert

Afrikaans | OB | R90 | 45 min | Griesselsaal| 29 Maart 18:30 | 30 Maart 09:00 

Klik hier vir meer inligting.

Klik hier om kaartjies te bespreek voor die saal vol word.

Bronne

Anoniem: 2015. 9 Eternally Vital Life Skills (That They Don’t Teach You in School). ProgressiveChristianity.org. 26 August 2015. Te kry by http://progressivechristianity.org/resources/9-eternally-vital-life-skills-that-they-dont-teach-you-in-school/ (Laas gelees 21 Maart 2016.

Fillies, Henry en Aslam Fataar. 2015. Doksa en verwerkliking van leeridentiteitspraktyke van hoërskoolleerders in ’n landelike werkersklasdorp. LitNet Akademies (Opvoedkunde), 12(3). Te kry by http://www.litnet.co.za/doksa-en-verwerkliking-van-leeridentiteitspraktyke-van-hoerskoolleerders-in-n-landelike-werkersklasdorp/ (Laas gelees 21 Maart 2016.)

Kruger, Estelle, Henry Fillies en Aslam Fataar. 2015. Gesprek: "Meneer, ek wil net iets word ..." LitNet. 10 Desember 2015. Te kry by http://www.litnet.co.za/meneer-ek-wil-net-iets-word/ (Laas gelees 21 Maart 2016.)

 

 

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Marita Henning

    Ek het die artikel met groot belangstelling gelees. Dit is inderdaad 'n stuk wat jy nie by die KKNK mag mis nie Dit laat jou snak na jou asem en jy loop uit die teater met ' n vreemde hartseer in jou gemoed. Ek wil egter net meld dat al die inligting aangaande ons skool nie feitelik heeltemal korrek is nie. Ons mag dalk wel wat sosio-ekonomiese faktore betref van die wenskool verskil, maar hier eindig die verskil. Ons is geleë in 'n myngemeenskap, maar "bitter arm" is ons nie. Ons kinders is trots, selfstandig, verantwoordelik, talentvol en het geleer om die kaarte wat vir hulle gedeel is, tot hul voordeel te gebruik. Ons is nie 'n tegniese skool nie maar bied wel Musiek, Drama, Dans-Studies en Ontwerp aan as Gr 12 vakke. Ons kinders verteenwoordig 34 taal- en kultuurgroepe en elke leerling hier het 'n belangrike plek en maak 'n verskil. Ons kinders lag uitbundig, en is gelukkig. Ons skool 'n "happy space", mooi versorg en jy sal ver na so 'n besondere skool met sulke besondere kinders soek. Ons het die afgelope 8 jaar 'n 100% slaagsyfer en 'n 70% universiteitstoelating in die Gr 12 finale eksamen met Wiskunde die Wetenskappe en Rekeningkunde bo-aan die lys van top presteerders. Ons presteer ook uitsonderlik goed op sport- en kultuurgebied en is 100% digitaal. Bizztech plaas ons nasionaal in die 7e posisie in die top 10 staatskole-kategorie gebaseer op ons slaagsyfer, universiteitstoelating , aantal matrieks en skoolfonds - R8000 per jaar - dit maak ons die mees bekostigbare staatskool in die land. Die meeste van ons kinders praat nie Engels , ons voertaal , of Afrikaans tuis nie, tog vertolk hulle die stuk meesterlik. Ons beleef wel geweld, misdaad, werkloosheid en armoede soos baie Suid-Afrikaners, maar sien ons geensins as slagoffers hiervan nie. Ons kinders werk hard, gee net nooit op nie , glo dat niks onmoontlik is nie, is nie bang vir die toekoms nie, kry beurse, studeer aan Universiteite net soos ander kinders in ons land en maak Suid- Afrika 'n besondere plek. Besoek ons gerus as jy ooit in die omgewing is en beleef die bekende Red Bull "gives you wings" gevoel eerstehands.
    Groete
    Marita Henning, baie trotse skoolhoof van Randfontein High School of soos my kinders sê # Proudly RHSIAN.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top