Gesprek: "Meneer, ek wil net iets word ..."

  • 3

Een van die kernprobleme van Suid-Afrika is mense se sosio-ekonomiese omstandighede. Die situasie van minderbevoorregte jongmense as leerders speel 'n rol in hoe hulle presteer. Omstandighede kan nie noodwendig verander nie, maar denkwyse rondom die omstandighede kan wél.

Estelle Kruger gesels met Henry Fillies en Aslam Fataar oor die LitNet Akademies (Opvoedkunde)-artikel: 

Doksa en verwerkliking van leeridentiteitspraktyke van hoërskoolleerders in ’n landelike werkersklasdorp.

Hulle beantwoord albei die vrae gesamentlik, tensy anders aangedui.


 

henryfillies250Hoe sal julle die begrip doksa in hul eie jargon verduidelik ...

a) aan 'n maat op straat?

Doksa is die manier hoe jou denke jou keuses beïnvloed.

b) aan 'n onderwyser?

Hoe die leerder oor hom of haarself dink speel ʼn groot rol in wat hy/sy sal word.

c) aan 'n ouer?

My denke oor my huidige lewe en toekoms is ’n belangrike aanduider van wie ek is.

aslamfataar250d) in 'n gesprek met die persoon self in 'n dagboekinskrywing waarin hy/sy reflekteer oor hierdie ervaring en die betekenis daarvan vir hom-/haarself?

Die verwesenliking van my aspirasies binne moeilike omstandighede is tans ’n "wrede" ervaring. My ervarings tot die verwesenliking van my aspirasies is belaai met hindernisse wat die voortsetting van hul ideale stuit.

Julle het ’n interessante keuse gemaak om die Franse sosioloog, Pierre Bourdieu se term doksa (“doxa”) as teoretiese lens vir hierdie navorsing te gebruik. Hoe het dit gebeur dat julle hierby uitgekom het?

Ons het toevallig op die konsep afgekom.  Dis een van Bourdieu se minder-bekende konsepte.  Maar toe ons die verbintenis tussen die konsep, en die gedagtegang en idees van die leerders agterkom het ons die waarde van doksa gesien, dit opgevolg, ontwikkel, en toegepas om die analise haalbaar en uniek te maak. Ons wil die werkersklaskonteks voorhou as ’n mosaïek van praktyke en ervarings met betrekking tot hoe leerders in hul leefwêrelde leer. Volgens Bourdieu (1990) is dit deur middel van praktyke en diskoerse wat sekere oortuigings en aannames kragtig oor diverse aangeleenthede van die alledaagse lewe versprei word. Hoe mense hieroor dink bied hulle ʼn groter bewustheid.

Behalwe akademici, wie is jul teikenlesers van hierdie artikel?

Met hierdie artikel wil ons ʼn groter bewustheid kweek by beleidsmakers, die media, onderwysers, ouers en ander belanghebbendes betrokke by die onderrig van ons jeug, want dit is belangrik vir hulle om te verstaan hoe jeugdiges hul denkwyses oriënteer tot hoe en waarom hulle op bepaalde wyses by hul leer betrokke raak. Ons werk word gemotiveer deur die daarstel van ‘n ander oriëntering en verstaan van die onderwysproblematiek en hoe om dit aan te spreek.

Die term doksa is seker nie algemeen bekend by onderwysers nie? Dink julle dat dit onderwysers se verbeelding kan prikkel en hulle help om te identifiseer met die navorsingsgetuienis van jul artikel?

Alhoewel hierdie konsep nie algemeen bekend is by onderwysers nie, glo ons dat hierdie artikel die bestaande debatte omtrent die opvatting van werkersklasleerders se leerpraktykvorming kan bevorder. Opvoeders betrokke by die onderrig van werkersklasleerders in die spesifieke konteks soos ons dit bied kan ook baie maklik identifiseer met die navorsingsgetuienis, want dit bied hulle ’n blik op die sosiale en strukturele struikelblokke wat ’n effek het op die motivering van hierdie kinders om in die skool te bly. Dit kan hulle ook die begrip bied van waarom hierdie kinders hul sosiale lewe buite die skool as baie belangrik sien vir ’n begrip van hul ervarings van hoe hulle in hul leerpraktyke betrokke gaan raak en hoe hulle dienooreenkomstig hul leeridentiteite gaan posisioneer. Deur te fokus op die leerpraktyke wat hul konstrueer vanuit hul doksa in hul woonbuurte mag dit ’n direkte impak hê op hul skoolleerpraktyke en daarom sal dit belangrik wees dat onderwysers hiervan kennis moet neem.

Julle worstel met kernprobleme van Suid-Afrika in hierdie navorsing wat handel oor die situasie van minderbevoorregte jongmense as leerders. In watter mate dink julle dat hierdie navorsing ’n betekenisvolle bydrae lewer in die opvoedkundige skoolgemeenskap?

Ons wil argumenteer dat in die huidige klimaat waar daar ’n hoë prioriteit geplaas word op opvoeding, is dit belangrik om te verstaan dat leerders hulle vestig op terreine van opvoeding in hul lewens benewens formele onderwys. Ons wil ’n tipe "verklarende taal" daarstel wat dit vir onderwysers en skole moontlik sal maak om op ’n pedagogies-regverdige manier om te gaan met kinders vanuit benadeelde werkersklaskontekste ten einde hul interaksie met opvoeding positief te bemiddel. Dit dui ook daarop dat opvoedkundige verandering nóú verwant is aan sosiale verandering.

Hoop julle om beter toekomsverwagtings by die vyf leerders wat deelgeneem het te skep met die navorsingsgetuienis wat julle versamel het? Kan dit bydra tot meer gebalanseerde en realistiese doksa vir ten minste hierdie leerders wat lewe te midde van die chaos van mededingende doelwitte en verwagtinge?

Vir hierdie leerders is insig in hul leeridentiteite van kardinale belang om te verstaan hoe individue hulself sien, sowel as die manier waarop die samelewing status en beperkings op hulle plaas. Die manier hoe hulle met hul doksa omgaan was die oorsaak dat hulle ook nouer betrokke wou wees by hul skoolleer.

Dink julle dat daar ’n rimpeleffek kan wees in die ontwikkeling van hierdie vyf leerders se nuwe doksa, met ander woorde dat hulle (moontlik) nuwe siening van sekere kulturele aangeleenthede in die samelewing ’n effek kan hê op dié van hul naasbestaandes? Hul vriende het tog sekerlik uitgevra hieroor en vriende kan mekaar mos wedersyds beïnvloed ...

Almal was gesteld op watter voordele hierdie studie tot hul leefwêreld kan bring.

In watter mate het hierdie vyf leerders se identiteit ontwikkel? En hul wêreldbeskouing? Motiveer jul antwoord.

Vir hulle was die identiteit wat hulle ontwikkel het uiters noodsaaklik om skoolsukses te verseker. Indien hulle dit nie sou kon doen nie, sou hulle nie in staat gewees het om hul leerpraktyke effektief tussen hul harde maatskaplike omstandighede te kon navigeer nie. Dit sou kon meebring dat hulle ontkoppel raak van hul leer by die skool. Verder was hul aspirasies vir ’n middelklaslewe in gevaar, wat sou meebring dat hulle hulle uiteindelik sou moes wend tot lae-betalende werk. Die jeugdiges het geleer om uit die objektiewe strukture waarin hulle opereer, ’n subjektiewe selfheid te ontwikkel wat aan hulle hoop en momentum vorentoe bied. Hul refleksiewe ingesteldheid oor waarvandaan hulle kom en waarheen hulle op pad is, het hul doksa toegelaat om op ’n wyse te ontwikkel waarvolgens hulle dit ietwat binne die snel-veranderende objektiewe sosiale kontekste verskuif het.

Is dit jul mening dat die leerders se agentskap ontwikkel het, dit wil sê hul individuele keuse hoe om die kreatiewe ongestruktureerde aspekte van die sosiale lewe te sien?

Dit het telkens duidelik na vore gekom dat hul gesinne en die gemeenskapsomstandighede ’n merkwaardige rol in die vorming van hul onderskeie identiteite gespeel het. Hierdie leerders het ook die vermoë vertoon om deur middel van interaksies binne hul omgewing en ander omgewings met hul identiteit te onderhandel en dit effektief te posisioneer om suksesvol betrokke te wees by lewensaanpassings wat hul leerpraktyke kon toelig. Hulle het met verloop van tyd hul doksa bewustelik verander of by hul praktyke in spesifieke sosiale situasies en met verskillende groepe mense aangepas.

Die deelnemers was dit eens dat hulle, ten spyte van hul beperkte omstandighede, steeds produktiewe lewens gelei het. Ten einde hul leeridentiteite suksesvol te vestig, was dit interessant dat hulle nie, soos dit algemeen onder hul portuurgroep in hul gemeenskap voorgekom het, hulle aan anti-sosiale praktyke vergryp het nie. Aan ons het dit ook duidelik bewys dat hierdie vyf leerders se leerpraktyke gebou is op die dinamiese wisselwerking met hul immer-veranderende fisiese leefwêrelde en hoe hulle daaroor gedink het. Op grond van hul denke binne hul leefruimte kon ons verstaan hoe die leerders in hul woonbuurtkonteks vasgevang was, en hoe hulle hul omstandighede te bowe probeer kom het deur betrokke te raak in gepaste praktyke en sulke praktyke vir hulle te skep. Die leerders het hul leerpraktyke gevorm uit hul komplekse, vloeibare en onderliggende lewenservarings. Juis vanweë hul lewenservarings in hul woonbuurtruimte het die leerders hul opvoedkundige keuses gegrond op wat dié ruimtes hulle bied. Hul omgang met hul leefruimtes is dus die kerndryfveer en -organiseerder van hul leerpraktyke. Dit dien as katalisator vir die keuses wat hulle in hul lewens maak.

Etnografie veronderstel die (subjektiewe) betrokkenheid van die navorser. Brei bietjie uit hieroor en hoe dit julle positief en negatief beïnvloed het omdat julle vervleg was in jul deelnemers se sosiale werklikheid. Praat dus bietjie oor jul rol as betrokke buitestaander.

Henry Fillies: Jansen (2009:133) bied die argument dat "to craft a meaningful response is to first understand the speaker". Hierdie woorde het my rol as navorser duidelik gelei, want ek wou die leerders se ervarings verstaan sodat ek dit korrek kon interpreteer. Vir eers moes ek die rol van buitestaander aanneem, want ek het geweet dat dit besinning van my sou verg om my persoonlike posisie en identiteit binne die omgewing te behou.

Aslam Fataar: Om ’n buitestaander te wees het my die geleentheid gebied om die heersende  plaaslike kennis binne die woonbuurt waar te neem. Hierdie soorte kennis was vreemd en dieperliggend en soms aanstootlik. Dit was hierdeur wat ek toegang verkry het tot die aard van omstandighede ("doxa") wat die wêreld aanvaar het as ’n gegewe binne die woonbuurt. Ek het geweet dat ek geroer, en dikwels geïrriteerd sou wees deur die taal van die mense binne die woonbuurt met betrekking tot die alledaagse denke en praktyke wat daarbinne geheers het. As buitestaander was ek egter vasberade om ’n "binnestaander" tot die prosesse en ambisie van die mense binne die woonbuurt te word. Ek het dus probeer om my verhouding met die gemeenskap so te benader dat ek na almal probeer luister het. Ek het myself ook as deel van die godsdienstige, kulturele, sosiale, intellektuele en selfs politieke lewe van die gemeenskap beskikbaar gemaak sodat ek die maksimum data vanaf die leerders kon kry. Ek het geweet dat ek nie ’n "insider" in die volle sin van die woord kon word nie, maar ek was nie van plan om op die kantlyn te staan en my buitestaanderstatus ten volle uit te leef nie.

Dit het harde, emosionele werk gekos, en ek het geweet my siel gaan dit voel. Dit was in die loop van hierdie stryd wat ek tot die insiggewende uitbeelding van hierdie binnestander/buitestander (insider/outsider) dilemma gekom het. Hier het ek mense met verskillende waardes teenoor hul omgewingsomstandighede ontmoet, maar wat dit tog probeer verander het, hoewel dit vir eers moes loop langs die lyn tussen konformiteit en opstandigheid. Ek was nie net in versoeking gebring deur die organisatoriese kultuur, geskiedenis en politiek van die gebied nie, maar ook die dieper en radikale veranderinge binne die plek. Dit moet gesê word dat al het ek by tye my posisie as die buitestaander geniet, ek in staat was om dinge van diegene wat hulle hele lewens daar geleef het, en vir wie die woonbuurt "oorspronklik bedoel was", die kans gebied om hul storie te vertel. My buitestaanderstatus het my ook ’n waardevolle analitiese voordeel gebied, want dit was vanuit hierdie posisie dat ek my analitiese perspektief kon bied.

Dit was vir my belangrik om te besin oor my verskeie identiteite (bv klas, ouderdom, en status in die gemeenskap as buitestaander) om te verstaan ​​hoe hierdie subjektiwiteite ingesluit is in hierdie navorsing. Die literatuur moedig kwalitatiewe navorsers aan, veral navorsers van kleur, om hul subjektiwiteite te beskou as potensiële sterkpunte in die navorsingsproses (sien Foley, Levinson en Snel 2001). Alhoewel ek verskil in opvoedkundige agtergrond, was ek in staat om verslag te bou met die jeug gebaseer op kulturele ooreenkomste. Op sommige en op ʼn sekere maniere, het my eie status as ʼn suksesvolle gekleurde manlike student onwetend die gewilde persepsies van kleurlingseuns verkeerd bewys. Anders gestel, ek vergestalt die idee dat ons lewe in ’n ware meritokrasie, waar diegene wat hard werk sukses sal bereik (McGinnis 2009). Dit was belangrik dat ek deur dit te erken regdeur die studie, dat die volwassenes van Arendsehoop waarskynlik gekyk het na my as ʼn suksesvolle ouer manlike student, as ʼn potensiële rolmodel vir kleurling adolessente seuns wie se lewe, deur hul oë, kan ontaard in skoolverlating en/of bende-aktiwiteite.

Ek kan my indink dat daar lesers is wat by die lees van die artikel 'n diep deernis ervaar omdat hulle kan identifiseer met die leerders. Miskien is daar iemand wat in soortgelyke omstandighede grootgeword het en wie se enigste ideaal en droom was om daarvan weg te kom. Hoe sou jy hierop reageer?

’n Belangrike aspek van selfvorming is dat dit binne die dinamiese interaksie tussen denke, gevoelens en sosiale praktyke saamgestel word. Jou emosionele of psigiese dimensie is ’n belangrike aspek van selfvorming. Appadurai (2004:83) wys ons daarop dat jeugdiges se sosiale rituele, praktyke en prestasies nie as waardelose repetisie van vasgestelde patrone van aksies beskou moet word nie, maar eerder as die produsering van nuwe sosiale effekte, gevoelens en konneksies waaruit stelle van inviduele praktyke gegenereer word. Dit laat ons toe om te verstaan hoe hierdie kinders se identiteitswording spruit uit die alledaagse praktyke en strategieë wat op armoede en opportunisme gebaseer is wat uiteenlopende hulpbronne kombineer tot voordeel van individue. Jou vermoë om toepaslike "bodily comportments" in verskeie leefomgewings aan te neem is wat jou in staat stel om jou kapasiteit om te aspireer, vergroot. Met liggaamlike "comportment" verwys Fataar (2015) na die aspek in terme waarvan hulle ’n tipe van die dubbele identiteit wat gebaseer is op die begeerte om by hul veranderde omstandighede in te pas, opneem. In hul dorp probeer hulle onder die radar leef deur in te pas by portuuraktiwiteite wat teen hul aspirasies werk, ten einde verbale of fisiese viktimisasie te vermy. Hul liggaamlike dissipline en toepaslike "comporting" is kenmerkend van hul suksesvolle navigasie oor die verskillende wêrelde heen.

Een van die beperkings van etnografiese navorsing is dat die resultate en bevindings nie veralgemeen kan word nie. Dink jy daar is tog wel iets wat jy in jou navorsing gevind het wat veralgemeen kan word? Vertel ...

Alhoewel bevindings nie veralgemeen kan word nie moet ons in gedagte hou dat die doel van enige kwalitatiewe studie nie is om bevindinge te veralgemeen nie, maar om elke geval te beskryf in sy uniekheid ten einde die leser te laat besluit of dit wat hy lees oordraagbaar is tot ander omstandighede (Chilisa en Preece 2005:142). Vanweë die kompleksiteit van sosiale lewe het ek verskeie diverse elemente in die veld vasgelê (onder meer die uitleg van die fisiese ruimte waar die verhaal afspeel, die mense betrokke, verwante aktiwiteite, fisiese dinge teenwoordig, spesifieke optredes van mense, die verloop van gebeure, wat mense probeer bereik en emosies wat uitgedruk of ervaar was). Op hierdie wyse het my insig oor hulle sosialiseringspraktyke verder verdiep, en kon ek hul betekenisse en ervarings van hul beleefde omstandighede integreer. Ek het aan gebeurtenisse en prosesse deelgeneem en dit gevolg, wat verskeie vorme van waarneming vereis het. Ek het nie net staat gemaak op wat mense gesê het nie, maar het ook eerstehands waargeneem wat hulle gedoen het. Dit het my toegelaat om die verhouding tussen hul houdings en gedrag rakende die onderwerp onder studie te ondersoek. Dit het my die geleentheid gegee tot interaksie met die leerders. Ek het nie net vertroud geraak met die norme en roetines van die plek nie, maar ek het ook die deelnemers op ’n meer persoonlike vlak leer ken.

Watter persoonlike, menslike insigte het by julle gegroei in die proses van die navorsingsprojek?

Dit het oor die algemeen voorgekom asof hierdie leerders, met die inligting tot hul beskikking, ʼn goeduitgewerkte plan gehad het om in hul leerpraktyke betrokke te raak. Hul plan was om universiteit toe te gaan, mét inagneming van al die vereiste prosesse om dit te laat gebeur. Dit wat in hul gemeenskap plaasgevind het, het hulle ʼn grondige begrip gegee van wat nodig is om aspekte in hul leefruimte te bowe te kom ten einde hul leerpraktyke te konstrueer.

Henry Fillies: Hierdie studie het my tot die insig laat kom dat alhoewel ek dink dat ek werkersklaskinders verstaan ek nog baie het om te leer oor wat hulle daagliks moet deurmaak "in order to get educated". Dikwels kry ek in my klasse nie die geleentheid om diep binne hulle te sien watter "noodkrete" vir hulp daar is nie. Dit het die wyse hoe ek my lesse benader en gee heeltemal verander waar ek hoor "Meneer, ek wil net iets word". Dit is hierdie aangeleentheid wat my laat besef om ’n "every child matters"-benadering te volg en dikwels laat ek my lesse aansluit by die kinders in my klas se geleefde wêreld waar ek erkenning gee aan hulle kennis. Ek poog altyd om my lesse interessant te maak sodat ek nooit nalaat om die hoop en drome van dié wat nie so bevoorreg soos ek is nie te "uplift". Vir my is dit altyd belangrik om te besin oor my verskeie identiteite (bv klas, ouderdom en status in die gemeeenskap) om te verstaan hoe hierdie subjektiwiteite inpas by die kinders in my klas.

Bibliografie

Appadurai, A. 2004. The capacity to aspire: culture and the terms of recognition. In: V. Rao en M. Walton (reds.). 2004. Culture and public action. Kalifornië: Stanford University Press.

Bourdieu, P. 1990. The logic of practice. Vertaal deur R. Nice. Stanford: Stanford University Press.

Chilisa, B. en Preece, J. 2005. Research methods for adult educators in Africa. Kaapstad: Pearson Education and UNESCO Institute for Education.

Fataar, A. 2015. Engaging schooling subjectivities across Post-Apartheid urban spaces. Stellenbosch: Sun Media.

Foley, D., B. Levinson en J. Hurtig. 2001. Anthropology goes inside: The new educational ethnography of ethnicity and gender. Review of Research in Education, 25:37–98.

Jansen, J. 2009. Knowledge in the blood: Confronting race and the apartheid past. Kaapstad: UCT Press.

McGinnis, T. 2009. Seeing possible futures: Khmer youth and the discourses of the American dream. Anthropology and Education Quarterly, 40:62–81.

  • 3

Kommentaar

  • Hierdie is 'n baanbrekerstandpunt wat deur die twee ondersoekers gestel word. Die apatiese oordra van koue feite en inligting maak plek vir oorsteek en belewing van geleefde wêrelde, sodat begrip en verstaan van belewenisse lei tot toegepasde inligting en simpatieke onderrig van leerders.

  • Avatar
    Kathleen Davids

    Interesting article but it gets lost in Afrikaans. I'm interested in this topic for further studies.

  • Avatar
    Petro van Niekerk

    Baie insiggewende artikel en studie. Broodnodige navorsing vir Suid-Afrikaanse onderwys met ons veelfasettige en verwikkelde sosiale kontekste wat inspeel op onderwys en opvoedkundige realiteite.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top