
https://pixabay.com/photos/bulb-the-old-bulb-broken-bulb-lamp-4343326/
.............
In 2019 het ons ook hier vlak voor Kersfees fase 6-beurtkrag gehad.
Ek weet, want ek het nog ewe op Facebook gesê dit is nou die kantelpunt waar Suid-Afrikaners gaan voet neersit en verdere verskonings weier. Toe was die verskoning nat steenkool. As ons ons kollektiewe voet ferm neersit, sal die politici plan moet maak, was my mening.
Ek was reg. Die politici het plan gemaak. Hulle het die ministeriële reëlboek aangepas, gesorg dat by elke ampswoning daar kragopwekkers op staatskoste is, ook dat elke ampswoning as ’n nasionale sleutelpunt vrygestel word van beurtkrag en terselfdertyd sommer bonusse en ander byvoordele beding.
..............
In 2019 het ons ook hier vlak voor Kersfees fase 6-beurtkrag gehad.
Ek weet, want ek het nog ewe op Facebook gesê dit is nou die kantelpunt waar Suid-Afrikaners gaan voet neersit en verdere verskonings weier. Toe was die verskoning nat steenkool. As ons ons kollektiewe voet ferm neersit, sal die politici plan moet maak, was my mening.
Ek was reg. Die politici het plan gemaak. Hulle het die ministeriële reëlboek aangepas, gesorg dat by elke ampswoning daar kragopwekkers op staatskoste is, ook dat elke ampswoning as ’n nasionale sleutelpunt vrygestel word van beurtkrag en terselfdertyd sommer bonusse en ander byvoordele beding. Die lot van die burgers vir wie hulle veronderstel is om te werk, skeel hulle maar min.
Ek was ook verkeerd, want ek het die vlakke van keelvolgeit wat ons kan verduur, onderskat. Drie jaar later is beurtkrag nie net nog steeds met ons nie, ons het soos ’n padda in ’n pot begin gewoond raak aan die voortdurende onderbrekings. Ons het begin akklimatiseer. Koop gloeilampe wat kan brand terwyl die krag af is. Koop kragopwekkers as jy die geld het en dit kan bekostig. Installeer sonpanele. Koop gasstowe en houtstowe. Bou pizza-oonde waar jy ook brood kan bak en ander geregte gaar maak, solank jy toegang tot hout het. Koop inverters. As jy genoeg geld het, omskep jou hele huis of kantoor in ’n omgewingsvriendelike, off-the-grid oase midde-in die beurtkragwoestyn.
Dit kan gedoen word, as jy genoeg geld het, want die regering gaan dit nie voorsien nie. Behalwe, ironies genoeg, HOP-huise word nou gebou met geysers wat met sonpanele werk. ’n Gelukkige toeval dat iemand ’n familielid het wat daai kontrakkie kon losslaan. Natuurlik heeltemal op meriete en die mees koste-effektiewe bod wat geplaas is, heeltemal in lyn met die toepaslike reëls oor tenders.
...........
Die enigste probleem met hierdie oplossing is dat die mense wat histories meer geld het, die vermoë het om te kompenseer vir beurtkrag. Die res, die oorgrote meerderheid, is oorgelewer aan die nukke en grille van Eskom.
..............
Die enigste probleem met hierdie oplossing is dat die mense wat histories meer geld het, die vermoë het om te kompenseer vir beurtkrag. Die res, die oorgrote meerderheid, is oorgelewer aan die nukke en grille van Eskom. Boonop, om sout in die wonde te vryf, word elektrisiteitstariewe verhoog. Meer geld vir minder elektrisiteit, met ander woorde. Verder word daar tariewe gehef as jy durf waag om onafhanklik van Eskom te probeer word.
Ons hulp gaan nie van die regering kom nie. Hulle het reeds bewys dat solank hulle nie verontrief word nie, is hulle tevrede om vir ons leë beloftes te voer met geen intensie om gestalte aan daai beloftes te gee nie. Daar is geen politieke wil by hulle om Eskom, of enige ander staats- en semi-staatsinstelling, te maak werk nie. Daar sal ook geen politieke wil ontwikkel solank as wat hulle knus in hulle posisies sit en as helde vereer word nie.
Ons gaan ook nie noodwendig verandering by die stembus afdwing nie. Dis als goed en wel om te kenne te gee dat alles sal regkom wanneer die ANC uitgestem word. Maar watter alternatiewe het die oorgrote meerderheid kiesers? Die DA kan nou maar net nie wegkom van hulle koloniale geloof in wit meerderwaardigheid nie. Hulle sê die regte goed, maar hulle optrede skree elke keer hulle ware oortuigings uit. Dit wakker swart vrese van ’n subtiele terugkeer na een of ander vorm van apartheid aan. Boonop kan hulle nie eens as amptelike opposisie effektief optree nie. Hoe kan enigeen glo hulle kan die land regeer?
Die EFF posisioneer hulleself alreeds as kingmakers, maar hulle is in baie opsigte maar net ANC lite. Geen van die ander kleiner partye is gereed om te regeer of selfs om as gelykmaker op te tree nie, ten spyte van wat mense hoop omtrent GOOD of selfs ActionSA.
Wat bly oor? Burgerlike ongehoorsaamheid op groot skaal is al wat nou nog verandering kan teweegbring.
Maar ook hierdie opsie is nie sonder probleme nie. Grootskaalse burgerlike ongehoorsaamheid vereis van byvoorbeeld belastingbetalers om en masse te weier om belasting te betaal. Dit kan die regering ekonomies lamlê, maar die meeste groot belastingbetalers val onder die groep wat alreeds vir hulself ander planne gemaak het. Hulle het geen aptyt vir regsprobleme nie, en hulle het waarskynlik min vertroue dat daar genoeg ander gaan wees wat saam nek uitsteek.
Daar sal ook grondig besin moet word oor hoe ons, ons samelewing rangskik. Chaosagente is in soveel organisasies ingegrawe dat hulle net met groot moeite uitgeskud kan word. Mense wat projek-SA wil laat werk, moet die heeltyd veg teen agente van entropie wat reken solank hulle die minimum werk kan verrig vir maksimum vergoeding, is alles reg.
Boonop moet die kriminele elemente wat geld maak uit chaos, wanorde en ’n werksomgewing wat korrupsie aanmoedig, aan die lig gebring en tot verantwoording geroep word. Dis makliker gesê as gedoen wanneer fluitjieblasers goedsmoeds vermoor word.
Tog het ek moed vir ons as ’n land. Dieselfde planmaakgees wat weier om terug te sit en te wag vir ’n oneffektiewe en onwillige regeringskorps om ons te kom red, sal maniere kry om die land te maak werk.
Al wat ons moet doen, is om te leer hoe om saam met mekaar te werk eerder as teen mekaar.
Lees ook:
Municipalities get the green light for an independent power supply

