Maak beurtkrag van Eskom ’n menseregte-oortreder?

  • 5

Agtien tot vier-en-twintig maande, is Gwede se ruimhartige skatting. Nugter weet waarop hy dit grond. Sommige kenners reken vyf jaar is ’n meer realistiese skatting. Dis hoe lank beurtkrag met ons gaan wees.

Die onuitgesproke aanname is dat Eskom hul vinger uittrek en daadwerklik, doelgerig en volgehoue werk verrig om bestaande kragopwekkers in stand te hou en te herstel. Verder moet hulle beweerde ontwerpfoute in die nuwe opwekkers regstel indien moontlik.

Dis nie vir my duidelik of die politieke wil regtig bestaan om dit te doen nie. Die Ramaphosa-faksie besef dat dit rampspoedig vir ons ekonomie is om onbetroubare kragtoevoer te hê. Die ander faksie, dié wie se hoofbron van inkomste die belastinggaardergeld is, gaan die gevaar besef eers wanneer belasting opdroog. Teen dan is dit te laat.

Een manier om vinnig politieke wil te skep, is om beurtkrag ook in die gebiede waar ministers en LP’s woon, toe te laat. Laat die parlement ’n bietjie vir vier ure ’n dag sonder elektrisiteit sit. Laat ministers en LP’s se yskaste afloop en hul duur vleis bederf. Laat hulle vir ’n slag hul Johnny Walker Black met lou kraanwater drink. Net ’n dag of twee, en hulle sal begin gil vir Eskom om hul werk te doen.

Natuurlik gaan dit egter nie gebeur nie. Ons gewone sterflinge moet die ongerief van beurtkrag deurmaak, terwyl ons vreeslose leiers in gemak sit.

Teen hierdie tyd weet ons almal nou al dat beurtkrag nie alleen kom nie. Klein sakeondernemings moet toemaak vir die tydperk dat die elektrisiteit af is. Miljoene rande in inkomste gaan verlore. In huise vind ons dat die onvoorspelbare elektrisiteitstroming huishoudelike toestelle beskadig en vernietig. Dit moet op eie koste herstel word. Eskom trek net skouers op.

Dan is daar die skade wat deur kriminele elemente aangerig word gedurende beurtkrag. Alarms werk nie, en dus is daar maklike toegang tot geboue wat andersins nie ’n lonende teiken vir diewe is nie. In my tuisdorp is die munisipale omheining een nag deur diewe verwyder gedurende beurtkrag. Elektriese kabels word gestroop. Huisinbrake, verkragtings en roof neem toe, alles onder die dekking van Eskom-gefundeerde donkerte.

Boonop is daar toenemend onderbrekings in kommunikasie. Selfoondekking, Telkom se WiFitelefone, en internettoegang word onderbreek wanneer die kragonderbrekings te lank aanhou en te dikwels voorkom.

Ons kla daaroor, maar dan aanvaar ons dit maar net as deel van die nuwe normaal.

Meer onrusbarend is egter die wyses waarop die kragonderbrekings inbreuk maak op ons basiese menseregte, en wat ons ook maar kla-kla aanvaar.

Met die kragonderbrekings word watertoevoer onder druk geplaas. Waterpompe breek en word nie betyds herstel nie, omdat munisipaliteite nie voorsiening in hul begrotings gemaak het vir die gevolge van beurtkrag nie. Munisipaliteite het ook nie altyd watertenke beskikbaar om al die geaffekteerde gebiede van water te voorsien nie. Dit beteken dat babas se melkformule nie aangemaak kan word nie. Daar is tekorte aan drinkwater. Persoonlike higiëne word geaffekteer, want mense kan soms vir dae op ’n keer nie klere, skottelgoed of hulself was nie.

Toegang tot voldoende water is ’n reg wat in artikel 27 van die Grondwet verskans is. Hierdie basiese reg word nou van burgers weerhou.

Regspleging kan nie geskied soos wat dit veronderstel is om te gebeur nie. Ingevolge artikel 35 van die Grondwet is elke beskuldigde persoon geregtig om sonder onnodige versuim voor ’n hof gebring te word. Daar is twee spesifieke aspekte van hierdie reg wat ek wil uitlig. In die eerste plek, tensy daar voldoende rede is om die beskuldigde persoon in hegtenis aan te hou, is hy geregtig om op bepaalde voorwaardes vrygelaat te word totdat die verhoor afgehandel is. Anders gestel, hy is geregtig om op borg of waarskuwing vrygelaat te word. Maar alte dikwels verneem ons dat borgaansoeke uitgestel moes word weens beurtkrag. Beskuldigdes se reg op vryheid word dus onnodiglik ingeperk.

Dan is daar die beskuldigde se reg op ’n spoedige verhoor in die openbaar. Uitstelle vir verhoor kan enigiets van ses tot nege maande neem in ’n normale hof. Bo en behalwe die “gewone” uitstelle vir afwesige getuies, verdere ondersoek, afwesige regsverteenwoordigers en dies meer, kan daar nou beurtkrag as ’n verdere rede bygevoeg word. Dis erg genoeg as die beskuldigde op borg vrygelaat is, maar dink aan die implikasies indien hy om watter rede ook al in aanhouding bly.

Artikel 10 van die Grondwet maak ook voorsiening daarvoor dat elke persoon ’n reg op waardigheid het. Wanneer daar op enige van jou regte inbreuk gemaak word, is daar outomaties ook inbreuk gemaak op jou reg op waardigheid. Daarom dat elke dagvaarding waar menseregtevergrype beweer word, ’n bede het dat die reg op waardigheid geskend is. In al die voorbeelde hier bo genoem, is dit glad nie vergesog nie.

Maar is dit Eskom se fout? Moes die howe nie hul eie kragopwekkers bekom het nie? Soms word die kragopwekkers nie in stand gehou nie. Soms, soos met huishoudelike toestelle, blaas die kragopwekkers op, want hulle kan nie met die voortdurende stuwings byhou nie.

Wat die rede ook al is, Eskom is ten minste gedeeltelik aanspreeklik. Indien hulle krag voorsien het soos wat hulle moes, sou daar op geen regte van individue en gemeenskappe inbreuk gemaak wees nie. Die kragvoorsiener se optrede lyk ook van tyd tot tyd of dit moedswillig is. Daar is duidelike patrone. Verloor Eskom ’n hofsaak, dan is daar onmiddellik onderbrekings weens beurtkrag. Word ’n versoek om tariewe te verhoog geweier? Kragonderbrekings. Is daar ’n belangrike sportgebeurtenis, of iets soos die staatsrede? Geen beurtkrag.

Kleiner munisipaliteite se kragtoevoer word onderbreek weens wanbetaling, maar die grootste wanbetaler, Soweto, word nooit algeheel afgesny nie. Verskillende behandeling gegrond op die ras van die groep? Dis ook verbied in die Grondwet.

Die staat is verantwoordelik daarvoor dat die regte in die menseregtehandves beskerm en in werking gestel word – artikel 7 van die handves stel dit duidelik. Verder is dit van toepassing op alle staatsorgane en alle vlakke van regering. Eskom, as staatsonderneming, is verplig om die Grondwet toe te pas en burgers se regte te beskerm.

Voortdurende kragonderbrekings beteken nie net dat Eskom in sy grondwetlike plig faal nie. Dit maak van Eskom ’n aktiewe oortreder.

Dis net ’n kwessie van tyd voordat ’n groep burgers besluit om ’n klas-aksie in te stel. Dit kom dalk gouer as wat ons dink.

  • 5

Kommentaar

  • Om Eskom die vark in die verhaal te maak is om die waarheid te verdoesel. Die probleem is die ANC se beloningsbeleid om elkeen wat in die 'struggle' betrokke was te beloon ,want hulle het nie gestruggle om arm te bly nie.

    Die gevolg 'n totale ineenstorting op talle gebiede waar lojaliteit aan party bo bekwaamheid gestel is en talle deskundiges op vele vakgebiede die land verlaat het.

    Die wit mense van die land of hul ondersteuners was van die vorige regering of nie moet nou boete doen op talle gebiede omdat hul dan die bevoorregtes was.

    Geld dieselfde dan nie vir die ondersteuners van die huidige regering nie veral die wat in regeringstoele sit,dit is tog hulle wat 'n korrupte president aanbewind gehou het,moet hulle dan nie 'n voorbeeld daar stel deur 'n besnoeing in salarisse en voordele nie?

    Of is dit maar heel gewoon dat die President op 'n veiling tot soveel as R19.5 miljoen vir buffelkoei en kalf kan bie, in 'n see van armoede, al sê hy later onder druk 'jammer'. Is dit omdat hy uitgebie is?

    Los die getroue belastingbetalers op alle gebiede uit en begin op te ruim waar die probleme begin,by die ANC.

    Gedurende apartheid het die volgende persone in die tronk beland:
    1988: Hennie van der Walt, deputy minister of co-operation and development and MP for Schweizer-Reinecke. Sentenced to 10 years in prison, five suspended, for 15 counts of theft involving trust monies of R800 000

    1989: Leon de Beer, former National Party MP for Hillbrow. Jailed for two years for 70 counts of electoral fraud.

    1993: Pietie du Plessis, former National Party cabinet minister, sentenced to nine years in jail for 17 counts of fraud involving R300m."

    Het die ANC-regering genoeg moed om die voorbeelde te volg. Woorde wek maar dade trek. Hoe lyk dit mnr die President?

  • Henning Janse van Vuuren

    Pavlov het net so lekker met sy honde gespeel soos Eskom reeds ʼn geruime tyd uit onkunde met ons doen. Trieng-trieng, dis hok A se beurt vir skedule 4 (klassieke kondisionering). Later daardie middag:

    “Is die krag al aan? Is die krag weer aan! Yeah!” kwyl al die brakke van Turffontein.
    (https://www.youtube.com/watch?v=PQbD2bU5CR)

    Hier is dus praktiese wenke om te verseker dat jy nie Bayern Munich se wedstryde misloop nie:
    1. Leen so R15 000.00 teen jou verband of iewers waar die skuld later, na onteiening, die staat se probleem sal word.
    2. Koop by jou gunsteling sonkragmense minstens (vir ʼn klein gesin) ʼn groot sonpaneel, 2 batterye, kabel, omsetter, reguleerder en verlengingskoord. (Ek het hier gekoop: https://web.facebook.com/thabasolar/?_rdc=1&_rdr)
    3. Plaas die paneel in die son en laai die batterye (myne laai omtrent elke dag vol – ek skuif die paneel grondlangs agter die son aan … bly op die uitkyk vir skelms.)
    4. Prop by jou verlengingskoord in.
    5. Ons yskas en buiteligte is permanent hieraan gekoppel (behalwe wanneer dit dae aaneen reën). Indien nodig, prop ek die TV ook in om te sien hoe sake verloop.

    Ek kwyl nie (sommer) oor Eskom nie.

  • Gustaf Claassens

    Puik, beredeneerde stuk met feite en vrae wat skree vir antwoorde.

    Die probleem is dat die wat moet luister en iets moet doen, doodgewoon nie die vermoë en/of wil het nie. Intussen vind vergrype plaas en word mense se waardigheid inderdaad aangetas. Hoe gouer daar ’n klas-aksie kom, waarna Bettina verwys, hoe beter. Dit behoort 'n baie interessante toetssaak te wees.

  • Hoe meer Eskom in die nuus is,hoe meer skokkende feite kom na vore,want volgens Fin 24 is daar 46 000 mense werksaam in Eskom.Dit is volgens die wêreldbank 'n oorbemanning van 66%. Dit is ongeveer 30 000 werknemers te veel.
    Die surplus personeel moet nou ontplooi word volgens Cosatu ,na munisipaliteite wat self sukkel om kop bo water tehou.
    Daar is 800 bestuurders wat elk meer as R2 miljoen per jaar verdien. Dit is dus geen wonder dat Eskom gedurig aansoek om tariefverhogings doen wat die inflasiekoers tot soveel as drie keer oorskry
    Dat die ANC daarvan hou om uit belastingbetalersfondse breë rieme te sny is duidelik,want met 'n verdienste van R3.9 miljoen per jaar is die Staats President een van die bes betaalde Presidente in die wêreld. 12de op 'n lys van 45.
    Donald Trump verdien ongeveer R5.9 miljoen per jaar Hy is 3de op die lys,Die VSA het net meer as 331 miljoen mense teenoor suid Afrika se 56.7 miljoen mense..

  • Antoine Grundling

    Wat kon ons gedoen het dat dit wat nou met ons gebeur nie gebeur het nie? Dis nou van dag een na die verkiesing in 1994. Ek het 26 jaar tyd gehad en julle?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top