Frederick Botha is fiksieredakteur by Human & Rousseau, ’n druknaam van Jonathan Ball Uitgewers. As skrywer debuteer hy in 2026 met die kortverhaalbundel, Seuns weet, wat by Protea Boekhuis verskyn. Hy is ook navorsingsgenoot in die Sol Plaatje Universiteit se Departement Tale en Kommunikasie.
In 2009 voltooi hy die BA-graad aan Noordwes-Universiteit. Aan die Universiteit van Johannesburg behaal hy in 2010 die honneursgraad in Afrikaans (cum laude) en in 2013 die meestersgraad in Afrikaans (cum laude), laasgenoemde met ’n verhandeling oor die rol van briewe in Etienne van Heerden se In stede van die liefde en 30 nagte in Amsterdam. Hy verwerf in 2020 ’n doktorsgraad in Afrikaans en Nederlands aan Noordwes-Universiteit met ’n proefskrif oor die uitbeelding van Afrikaneridentiteit in post-94 prosatekste, met Thys Human as promotor. Aan die Universiteit Stellenbosch behaal hy in 2023 ’n meestersgraad in kreatiewe skryfkunde onder leiding van Alfred Schaffer en Willem Anker.
Hy doseer Afrikaanse letterkunde aan die Universiteite van Johannesburg (2013–2015), Wes-Kaapland (2016–2017) en die Sol Plaatje Universiteit (2021–2024). Hy dien ook op die keurkomitee vir die UJ-pryse vir Afrikaans van 2013 tot 2022, en weer in 2024.