Frederick Botha deel sy top drie leesgoed vir die afgelope jaar met LitNet Akademies.
Klimtol deur Etienne van Heerden Van Heerden se onverwagse (en interessante) terugbring van Snaartjie Windvogel is egter die een aspek in die roman wat my beïndruk het. Dit het selfs die begeerte by my geskep om weer In stede van die liefde te gaan lees, om vas te stel of Van Heerden dalk al daar van subtiele verwysings gebruik maak as voorbereiding vir wie en wat Snaartjie werklik is. Die slot van Klimtol is (hopelik) ’n vooruitsig dat ons die komplekse en interessante Snaartjie se terugkeer in toekomstige Van Heerden-romans te wagte kan wees. |
|
Kaar deur Marlene van Niekerk Van Niekerk se poëtiese stilswye van bykans 30 jaar was vir seker die moeite werd met die publikasie van hierdie lywige digbundel. Wat my bybly van Kaar is die feit dat van hierdie gedigte dikwels ontbreek aan betekenis, maar op grond van hul sterk ritme en klankrykheid hulself as “klankgedigte” voordoen. Goeie poësie is een van die hoogste vorme van kuns, en Van Niekerk bemeester hierdie kuns op grond van haar klankryke spel met die taal. Deel twee van Kaar bevat boonop van die allermooiste liefdesgedigte wat my skoon aan’t huil gehad het. |
|
Bloedfamilie deur MS Burger Bloedfamilie is ’n puik voorbeeld van kortverhaalbundels in Afrikaans wat as sogenaamde eenheidsbundels geklassifiseer word. Wat my opgeval het, was Burger se vermoë om ’n fyn balans tussen die banale en humor te handhaaf. Oor die algemeen is Bloedfamilie ’n sterk en belangrike bydra tot die Afrikaanse gay-literatuur, veral lesbiese literatuur in Afrikaans, wat nog nie voldoende ontgin is nie. Dis ’n baie goeie debuut, met ’n natuurlike vertelstem, sonder pretensie en uiters eerlik. Die verhale is uiters realisties, met ’n tipe “in-your-face”-uitbeelding van soms banale gebeure. |
Klik hier en vind uit wat sê die res van ons akademici.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter