Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd: Tweede weergawe van "Die engel se exhaust het aan ’n stuk draad gehang"

  • 0

Die tweede weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd.

 


Die engel se exhaust het aan ’n stuk draad gehang

Ek was nog altyd ’n gelowige mens. Daar word gesê dat jou naam meer important as enigiets anders is, maar nie in my case nie. Geloof kom eerste. Always. Geld het ek nie. Eintlik nog nooit gehad nie. My naam vergeet ek soms. Mense hier rond noem my sommer Antie. My regte naam is net op die monthly notice wat my remind dat ek al weer laat is met die rent. Daarom hou ek vas aan dit wat ek het: my geloof. Iewers in my Gideonsbybel het ek gelees van geloof, hoop en liefde. Maar om in vandag se tyd gelowig te wees is ook nie easy nie. Om op die pad van die sonde te loop, dit ken ek goed.

Ek lees nie my Gideonsbybel elke dag nie. Ek het my Gideonsbybel in my standerd nege-jaar gekry. Dit was op ’n Maandagoggend ná saalopening. ’n Dik man wie se knope uncomfortably oor sy massiewe pens gespan het, het by ons skool kom praat en vir ons vertel hoe baie Jesus ons liefhet. Ná die tyd het hy vir ons elkeen ’n Bybeltjie pasella gegee. Die man was bles, met ’n lelike rooi in sy gesig, en hy het baie gesweet. Ek het al voor daardie Maandag van hierdie Jesus-man gehoor, veral by ons buurvrou wat altyd koeke en terte gebak het vir hulle kerk se basaar. Ek het haar soms oor die muur met Mammie hoor raas dat ons so suffer omdat ons nie vir Jesus ken nie. Ek het nie regtig verstaan wat sy bedoel het nie, want ons het overall nie baie mense geken nie.

Maar daardie dag het iets in die man se Jesus-praatjies my geraak. Ek kan dit nie beskryf nie. Maar ek het dit gevoel. Soos die eerste keer toe ek Demis Roussos se “Goodbye, my love, goodbye” gehoor het. Dit was iewers in die seventies in Carletonville en my squeeze van daardie tyd het met die LP by ons huis opgedaag. My dad het nooit ’n liking gevang in die ducktail met sy leerbaadjie en Kawasaki wat hy self warm gemaak het nie. Mammie het gesê Dad moet eerder praat van Eendstert. Sy’t gesê sy’t dit in ’n boek gelees wat sy by die dorpsbiblioteek uitgeneem het. Maar ja, net soos wat ou Demis alles in my kon lam maak met daai song, so het daai Gideonman ook iets in my kom wakker maak.

Daardie Maandag het ek ’n pad begin loop met die Jesus-man. Ek het begin om elke dag my Gideonsbybel te lees. Soms het ek gebid ook, maar dit was nie altyd easy nie. Lately lees ek net my Gideonsbybel wanneer ek dronkverdriet kry van die bottel Klippies wat ek by die baas van Liquor City kry. Hy gee dit vir my nadat ek hom afgesuig het in sy Hilux-bakkie wat hy onder die bloekombome hier langs die grootpad park. Ek kan sien hy voel guilty nadat hy gekom het, en wanneer hy vir my ’n ekstra R50 uit sy wallet haal en ek die foto van sy family daar binne sien. Hy is nou wel ’n doos van ’n verneuker met ’n klein voël wat heeltemal te vinnig kom, maar at least het hy ’n goeie hart. Ek is nie ’n hoer nie, maar die Here hoor my, ’n vrou moet darem drink ook.

En terwyl ek so die dronkverdriet lê en uitbaklei met die Here, weet ek dat Hy hierdie ou sondaar vergewe en steeds liefhet. Ek weet dit maar net. Net soos wat ek weet my kinders gaan die einde van die maand weer op my toesak en die bietjie pension wat ek van die government kry vir hulleself vat. Dieselfde kinders wat ek in hierdie wêreld ingebring, wat ek met liefde grootgemaak het, behandel my só. Hulle sê hulle is bang dat ek nie met my geld kan werk nie, daarom vat hulle dit. En ek moet hulle vra as ek van my eie geld wil hê. Nie dat hulle die geld gee as ek vra nie. Maak nie saak hoeveel messages ek op die answering machine los nie.

Ja, die lewe het sy harde kant vir my gegooi. Ek bly soos ’n wit meid in ’n buitekamer hier op ’n plot, agter die vrou se huis wat so af en toe van my services gebruik maak. Ek help haar sometimes om die huis skoon te maak as haar ousie die dag nie pitch nie omdat sy een van haar baie kinders hospitaal toe moes vat. Seker maar Aids, sê die vrou altyd vir my, want dit gebeur baie. Partykeer spring ek sommer in en help die man met die gras sny wanneer hy die sleg tuinboy weer weggejaag het omdat hy gesuip was. Ek kla nie wanneer dit gebeur nie, want dan gee hulle my darem bietjie discount op die huur van die buitekamer. Meubels is daar maar min in my kamer. Ek het nie baie nie. Anyway, dit wat ek gehad het, het ek lankal pawnshop toe gevat. Ek weet die ou donner by die pawnshop doen my in, maar wat kan ’n ou vrou doen?

Maar ek’s besig om te vertel van my wat ’n gelowige mens is. Ek het laas Vrydag mos ’n miracle ervaar. Genuine. Ek het altyd vir die vrou wat so ses plotte van ons af bly laundry gedoen. Toe tune sy my die oggend dat ek maar eerder moet loop, want haar gesuipte boyfriend het sy werk by die mechanics verloor en nou’s daar nie geld vir onnodige expenses nie. Tune my ook toe sommer so ewe dat sy baie jammer is dat sy my nie kan pay vir die maand wat verby is nie.

Al die pad wat ek terugloop plot toe, tjank ek – snot en trane. In my buitekamer was daar luckily nog ’n ou lekseltjie Klippies oor. Ek het by die ousie wat in die groothuis werk ’n paar Voyagers gaan bedel en hulle sommer hier op my bed gelê en rook en probeer uitfigure wat om nou te doen. Die bietjie geld wat ek oor gehad het, was net genoeg om die rent te cover. Prys die Here. Maar ek het geld nodig gehad vir kos. Ná twee dae se oorleef op die bietjie oorskiet van die groothuis se mense wat die ousie saans voor my deur kom sit, het ek vir die soveelste keer my kinders probeer bel. Ek het hulle probeer bel om te sê dat hulle nou moet help, met die ousie wat bly moan dat ek haar airtime opgebruik. Nie dat dit gehelp het nie. Ek hoor net excuses van ek wat my geld uitsuip en maar plan moet maak. Ek is nie die enigste een wat onder die economy suffer nie. My eie bleddie kinders; asof hulle engeltjies is.

Gepraat van – ek glo mos nog altyd aan engele. Angels, soos Dad gesê het. Maar anderste as hy glo ek nie aan die angels met lang wit vlerke nie. Ek glo aan mense-engele. Soos Tollie wat uithelp by die pawnshop. Ek het my ou oorlede Granny se trouring, die enigste erfstuk wat ek het, pawnshop toe gevat om te kyk hoeveel ek daarvoor kan kry. Tollie het gesê ek moet die ring hou en vir my R20 in die hand gedruk sodat ek darem brood en melk kon gaan koop. En ou Tollie suffer ook maar. Die Here gaan haar nog bless. Met daai R20 in my sak is ek die Cash and Carry toe. Dis bleddie ver weg van die pawnshop en dit was ’n warm dag. Ek moes ver loop en was moeg en honger. En sommer net fokken moedeloos. Maar elke keer wanneer daar ’n groot donderse trok verbygejaag kom en ek die urge kry om sommer voor die fokken ding in te spring dat hy my kan trap en ek kan klaarkry met hierdie ou lewe, dan dink ek weer aan die Here. En dan weet ek dat Hy ’n doel met my het.

Soos wat ek al hoe nader aan die Cash and Carry kom, en daar al hoe meer robots is, het ek sommer lus gehad en gaan staan en bedel by een, daar tussen die swartes wat refuse bags en hangers verkoop. Daar, sommer langs die papier teen die robot met ’n nommer wat mans kan bel as hulle penis enlargements en stronger erections wil hê. Maar ek het darem ook my dignity. Nee, dan suig ek eerder piel. Nie dat dit so baie gebeur nie, want die mans hier kla mos my asem stink. En van my tande vrot al. Party van hulle gril wanneer ek my plooierige mond dankbaar om hulle voëlkoppe vou. Bene oopmaak is ook nie ’n goeie option nie. Ek juk nog steeds vandat ek laas keer my pote vir Buks, een van die mans hier op die plotte, oopgemaak het. Die ou fokker het al sy pelle loop vertel hy’t sy juk by my gekry en van toe af is die mans maar skrikkerig. Soms strike ek dit lucky met een van die trokdrywers wat hier verby kom. Al is hulle maar suinig as dit by die pay kom, is hulle maar net te goddank bly om bietjie wit poes te kry om die eensaamheid van die pad mee te troos.

So loop ek maar aan Cash and Carry toe, toe daar so vuil rooi kar langs my stop. ’n Mazda 323. As ek nou vinnig moet skat, ’n 1986-model. Daar was nie wheel caps op een van die tyres nie en die exhaust het aan ’n stuk draad gehang. Die ding was omtrent fucked up geduik en gekrap. ’n Vrou, seker so in haar forties, draai toe die vuil ruit oop. Sy was dikkerig, haar hare kort gesny soos ’n man s’n. Haar arm het by die venster uitgesteek en so teen die kardeur vasgehaak asof die ding enige oomblik gaan afmoer as sy dit nie vasknyp nie. Haar arm het gebult van die muscles. Sy het ’n Gholf-shirt aangehad en om haar dik nek ’n goue ketting met ’n kruis wat op haar bultende tiete rus.

“Waarheen is die Antie op pad?”

“Jammer, girlie, maar hierdie Antie stamp nie koek nie,” sê ek vieserig en begin verder loop. Fokken dykes. Sy het my laat dink aan hierdie butch lesbian wat my eenkeer in ’n bar in Viljoenskroon vasgedruk het. Dit was iewers in die nineties. Ek was al klaar lekker aangeklam van al die Black Labels wat Giel, my boyfriend op daardie stadium, vir my aangedra het. Ek was well aware van hierdie bees van ’n vrou wat saam met die mans darts gegooi het en my heel aand uitgecheck het. Haar jeans was styf en opgetrek tot bo haar bellybutton, met haar pens se polonyrol highly noticeable wat in haar jeans bo haar koek rus. Die bedompige reuk onder haar polonyrol het ek later in die toilet cubicle geruik. Ek was in die een wat nie kon sluit nie. Sy het dit oopgedruk, haar broek met ’n gesukkel oopgemaak en uitgetrek, en met een vinnige beweging haar regterbeen opgeswaai oor my skouer en op die toiletbak laat rus. My gesig het sy tussen haar bene ingedruk. Ek dink “Sexy Eyes” het op daardie oomblik in die pub begin speel. Ek was te moer toe om enigiets te doen, so dis hoekom ek nie resist het nie. Maar dit was die eerste en enigste keer wat ek poesbedroef was.

Die dyke in die Mazda gee toe ’n bulderende lag. “Antie kan ontspan. Ek is nie skeef nie.”

Vir ’n while staan ek toe so met my doubts, maar Here, dit was warm en ek was moeg en honger.

“Ek is op pad na die Cash and Carry vir brood en melk.”

“Maar my Antie, dis nog flippen ver! Klim in, dan vat ek Antie vinnig soontoe.”

“Jy vat g’n fokken niks,” sê ek toe so ewe hardegat en point my hand met die gekreukelde R20-noot aggressively na haar. Ek weet mos hoe werk die closet dykes.

Die dyke lag weer. “Ek wil net vir die Antie help.”

Om deur ’n butch dyke gevinger te word, is seker ook nie een van die ergste dinge wat met mens kan gebeur nie, dink ek toe, en klim maar in.

“Is dit al cash wat die Antie het?” vra sy toe ek in is. Ag, Here, dink ek toe, verwag sy nou dat ek háár moet betaal om haar koek te lek uit dankbaarheid vir die lift.

“Ja,” antwoord ek verdedigend. Ek check toe dat die binnekant van die kar nie beter as die buitekant lyk nie. Die suède-sitplekke is al deurgesit en geskeur, en daar is orals rubbish. Take-away pakkies, leë coke blikkies, gebruikte tissues, koerante en advertisements. Apparently ook haar hele wardrobe. Die kar ruik bedompig. Maar derde klas ry is seker beter as eerste klas loop.

Die dyke tune die radio sagter waar Cora Marie besig was om “Gee haar ’n roos” op RSG te sing en sy begin my behoorlik te ondervra. Sy vra my uit oor my lewe. En ek weet nie of dit die hongerte of die moegheid was, of die feit dat ek toe realize dat sy ten spyte van haar masculinity ’n oop en eerlike gesig het, of sommer net die feit dat iemand bietjie met my gesels en dit nogal op ’n decent manier, maar ek begin vertel. En ek hou aan vertel. Ek vertel vir haar my hele storie. En toe sien ek die trane in die dyke se oë. Ek sit nog ewe daar, so humiliated oor my lewe, toe sy skielik ’n wilde draai oor die pad kap, en sommer net daar ’n U-turn maak.

“En nou?” vra ek.

“Ek vat die Antie eers huis toe,” sê sy terwyl sy die trane uit haar oë vee. Ek wou eers aanbied dat ek nou maar haar tiete vir haar sal brei as sy my tog net wil help, maar iets in my het opgegee.

By die plot aangekom het sy my afgelaai. So in die uitklim het sy vir my gesê sy sal oor ’n uur terug wees. Toe trek sy daar weg met ’n stofwolk. Dit was die langste uur van my lewe. Wie is hierdie vrou? Ek realize toe dat ek nie eers haar naam gevra het nie. Waarheen is sy op pad en wat het sy gaan doen? Hoekom kom sy terug? Sal sy ooit terugkom?

’n Uur later stop dieselfde fucked-up rooi kar voor my buitekamer. Toe die dyke uitklim sien ek eers hoe kak sy werklik lyk. Ook maar verwaarloos, met twee groot sweetkolle wat onder haar arms langs haar tiete vorm. Sy maak die boot van die kar oop en my mond hang oop. Nog nooit het ek soveel groceries in my lewe gesien nie! Sy lift ook sommer so vier pakkies in elke hand gelyktydig uit en marsjeer daarmee my buitekamer binne. Ag, Heretjie, maar daar begin ek vir jou te tjank. Ek sê vir haar dat ek dit nie kan accept nie, maar sy insist. Met al die groceries in my kamer en die sweetkolle wat nou erger tussen haar bralose tiete en maag uitslaan, grawe sy haar wallet uit haar gatsak en haal ’n R100-noot uit. Soos wat sy dit na my toe uithou, sien ek dis die enigste geld wat sy het.

“Die Here voorsien,” sê sy, knipoog vir my, en klim terug in haar kar en spin daar weg.

Met die snot wat op my bolip drup het ek die groceries begin uitpak. Ek het besluit om ’n pakkie op te maak vir Tollie by die pawnshop. En dis toe dat ek die Checkers-slippie in een van die grocery bags sien. Op die agterkant was daar in die fokken lelikste handskrif wat ek nog ooit gesien het die volgende geskryf:

Want julle Vader weet wat julle nodig het nog voordat julle dit vir Hom gevra het – Mattheus 6:8

. En dis net daar wat ek op my knieë gaan en die Here dank vir die engel wat hy vir my gestuur het. My dyke van ’n engel in die fucked up rooi kar.

 


 

Lees die eerste weergawe van Die engel se exhaust het aan ’n stuk draad gehang

Lees die eerste keurverslag oor Die engel se exhaust het aan ’n stuk draad gehang

Terug na die lys Nuwe Stories-kortverhale: Tweede weergawe

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top