
Die eerste weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd word anoniem geplaas.
Elke hond kry sy dag
Ek was nog altyd ’n gelowige mens. Daar word gesê dat jou naam meer important as enigiets anders is, maar nie in my case nie. Geloof kom eerste. Always. Geld het ek nie. Het eintlik nog nooit gehad nie. My naam, wel dié vergeet ek soms. Mense hier rond noem my sommer Antie. My regte naam verskyn net op die maandelikse notice wat my remind dat ek al weer laat is met die rent. Daarom hou ek vas aan dit wat ek het: my geloof. Iewers in my Gideonsbybel het ek gelees van geloof, hoop en liefde. Moet my net nie vra waar nie. Maar om in vandag se tyd gelowig te wees is ook nie easy nie. Om op die pad van die sonde te loop ken ek goed.
Ek lees nie my Gideonsbybel elke dag nie. Ek het my Gideonsbybel in my standerd 9-jaar gekry. Dit was op ’n Maandagoggend ná saalopening. ’n Dik man wie se knope uncomfortably oor sy massiewe pens gespan het, het ons skool kom besoek en vir ons kom vertel hoe Jesus ons liefhet en het na die tyd vir ons elkeen ’n Bybeltjie for free gegee. Die man was bles, met ’n ongesonde rooi in sy gesig, en hy het baie gesweet.
Ek het al voor daardie Maandag van hierdie Jesus-man gehoor, veral by ons buurvrou wat altyd koeke en terte gebak het vir hulle kerk se basaar. Ek het haar soms vir haar man hoor sê dat dit gaan soos wat dit gaan met ons omdat ons nie vir Jesus ken nie. Ek het nie regtig verstaan wat sy bedoel het nie, want ons het oor die algemeen nie baie mense geken nie.
Maar daardie dag het iets in die man se Jesus-praatjies my geraak. Ek kan dit nie beskryf nie. Maar ek het dit gevoel. Soos die eerste keer toe ek Demis Roussos se “Goodbye my love goodbye” gehoor het. Dit was iewers in die 70’s en my squeeze van daardie tyd het met die LP by ons huis opgedaag. My dad het nooit ’n liking gekry in die ducktail met sy leerbaadjie en bike wat hy self warm gemaak het nie. Moeks het gesê Dad moet eerder praat van Eendstert. Sy het dit blykbaar in ’n boek gelees wat sy by die dorpsbiblioteek uitgeneem het. Maar nou dwaal ek weer af.
Daardie Maandag het ek ’n pad begin stap saam met die Jesus-man. Ek het begin om elke dag my Gideonsbybel te lees. Soms het ek gebid ook, maar dit was nie altyd easy nie. Lately lees ek net my Gideonsbybel wanneer ek dronkverdriet kry van die bottel Klippies wat ek by die eienaar van Liquor City kry. Hy gee dit vir my nadat ek hom afgesuig het in sy Hilux-bakkie wat hy onder die bloekombome hier langs die grootpad parkeer. Ek kan sien hy voel skuldig as hy klaar gekom het, en wanneer hy vir my ’n ekstra R50 uit sy wallet haal en ek die foto van sy family daar binne sien. Hy is wel nou ’n doos van ’n verneuker met 'n klein voël wat heeltemal te vinnig kom, maar at least hy het ’n goeie hart. Ek is nie ’n hoer nie, maar die Here hoor my, ’n vrou moet darem ook drink.
En terwyl ek so die dronkverdriet lê en uitbaklei met die Here, weet ek dat Hy hierdie ou sondaar vergewe en steeds liefhet. Ek weet dit maar net. Net soos wat ek weet my kinders gaan die einde van die maand weer op my toesak en die bietjie pension wat ek van die government kry, vir hulself vat. Dieselfde kinders wat ek in hierdie wêreld ingebring het, wat ek met liefde grootgemaak het, behandel my só. Hulle is bang dat ek nie met my geld kan werk nie, so daarom vat hulle die geld en moet ek hulle vra as ek daarvan wil gebruik. Nie dat hulle die geld gee as ek daarvoor vra nie. Maak nie saak hoeveel messages ek op die answering machine los nie.
Die lewe het sy harde kant vir my gegooi. Ek bly in ’n meidekamer hier op ’n plot, agter die vrou se huis wat so af en toe van my services gebruik maak om haar te help om die huis skoon te maak as haar ousie die dag nie pitch nie omdat sy een van haar baie kinders hospitaal toe moet vat. Seker maar Aids, sê die vrou altyd vir my, want dit gebeur baie. Partykeer spring ek sommer in en help die man met die gras sny wanneer hy die sleg tuinkaffer weer weggejaag het omdat hy gesuip die job wou kom doen het. Ek kla nie wanneer dit gebeur nie, want dan gee hulle my darem bietjie discount op die huur van die meidekamer. Meubels is daar maar min in my meidekamer. Ek het nie baie nie en dit wat ek gehad het, het ek pawnshop toe gevat. Ek weet die ou donner van ’n koelie doen my in, maar wat kan ’n ou vrou van my ouderdom doen?
Maar om terug te kom by my storie van ek wat ’n gelowige mens is. Ek het so ’n paar dae terug mos ’n miracle ervaar. Genuine. Ek het altyd vir die vrou wat so ses plotte van ons af bly die laundry gedoen. Toe tune sy my die oggend dat ek maar eerder moet loop, want haar gesuipte boyfriend het sy werk by die mechanics verloor en daar is nie nou geld vir onnodige expenses nie. Tune my ook so ewe dat sy baie jammer is dat sy my nie kan pay vir die maand wat verby is nie.
Ek het teruggeloop plot toe, snot en trane getjank. In my meidekamer was daar luckily nog ’n ou lekseltjie Klippies oor. Ek het by die ousie wat in die groothuis werk, ’n paar Voyagers gaan bedel en hulle sommer hier op my bed gelê en rook en probeer uitfigure wat om nou te doen. Die bietjie geld wat ek oor gehad het, was genoeg om die rent te cover. Prys die Here. Maar ek het geld nodig gehad vir kos. Na twee se dae se oorleef op die bietjie oorskiet van die groothuis se mense wat die ousie saans voor my deur kom sit, het ek vir die soveelste keer my kinders probeer bel om te sê dat hulle nou vir Ma moet help, met die ousie wat bly moan dat ek haar airtime opgebruik. Nie dat dit gehelp het nie. Excuses van ek wat my geld uitsuip en maar plan moet maak. Ek is nie die enigste een wat onder die economy suffer nie.
Ek het nog altyd geglo aan engele. Angels, soos Dad gesê het. Maar anderste as hy glo ek nie aan die angels met lang wit vlerke nie. Ek glo aan mense-engele. Soos Tollie wat die koelie uithelp by die pawnshop. Ek het my ou oorlede Granny se trouring, die enigste erfstuk wat ek het, pawnshop toe gevat om te kyk hoeveel ek daarvoor kan kry. Tollie het gesê dat ek die ring moet hou en vir my R20 in die hand gestop sodat ek darem brood en melk kan gaan koop. En ou Tollie suffer ook maar. Die Here gaan haar nog bless. Die naaste Cash and Carry is ver weg van die pawnshop. Dit was ’n warm dag en ek moes ver stap. Ek was moeg en honger. En sommer net fokken moedeloos. Maar elke keer wanneer daar ’n groot donderse trok verbygejaag kom en ek die urge kry om sommer voor die fokken ding in te spring dat hy my kan trap en ek kan klaarkry met hierdie ou lewe, dan dink ek weer aan die Here. En dan weet ek dat die Here ’n doel met my het.
Soos wat ek al hoe nader aan die Cash and Carry kom, en daar al hoe meer robotte is, het ek sommer lus gehad en gaan staan en bedel by een van die robotte, daar tussen die kaffers wat swartsakke en hangers verkoop. Daar langs die papier wat teen die robot vasgeplak is met ’n nommer wat mans kan bel as hulle penis enlargements en stronger erections wil hê. Maar ek het darem ook my dignity. Dan suig ek eerder piel. Maar dit gebeur nie baie nie, want die mans hier kla dat my asem stink van my tande wat al vrot. Party van hulle gril wanneer ek my plooierige mond dankbaar om hulle voëlkoppe vou. Bene oopmaak is ook nie ’n goeie option nie. Ek juk nog steeds vandat ek laas keer my pote vir Buks, een van die mans hier op die plotte, oopgemaak het. Die ou doos het aan al sy pelle vertel dat dit ek was wat vir hom die jukkerigheid gegee het, en van toe af is die mans maar skrikkerig. Soms strike ek my luck met een van die trokdrywers wat hier verby kom, maar hulle is maar suinig as dit by die pay kom en is maar net te goddank bly om bietjie wit poes te kry om die eensaamheid van die pad mee te troos.
Maar nou verloor ek weer die draad van my storie. So stap ek mos Cash and Carry toe, toe daar skielik ’n vuil rooi kar langs my kom stop. ’n Mazda 323. As ek nou vinnig moet skat, ’n 1986-model. Daar was nie wheel caps op een van die tyres nie en die exhaust het aan ’n stuk draad gehang. Die ding was omtrent fucked up met al die duike en krapmerke. ’n Vrou, seker so in haar forties, draai toe die vuil ruit oop. Sy was dikkerig, met haar hare kort gesny soos ’n man s’n, met haar arm wat sy by die venster uitsteek en so teen die kardeur vashaak asof die ding enige oom
blik gaan afmoer as sy dit nie vashou nie. Haar arm het gebult van die muscles. Sy het ’n Gholf-shirt aangehad en om haar dik nek ’n goue ketting met ’n kruis wat op haar bultende tiete rus.
“Waarheen is Tannie op pad?”
“Jammer, girla, maar hierdie Antie stamp nie koek nie,” sê ek vieserig en begin verder stap. Fokken dykes. Sy het my laat dink aan hierdie butch lesbian wie my eenkeer in ’n bar in Viljoenskroon vasgedruk het. Dit was iewers in die nineties. Ek was al klaar lekker aangeklam van al die Black Labels wat Giel, my boyfriend op daardie stadium, vir my aangedra het. Ek was well aware van hierdie bees van ’n vrou wat saam met die mans darts gegooi het en my heel aand uitgecheck het. Haar jeans was styf en was opgetrek tot bo haar bellybutton, wat haar pens se polonyrol, wat in haar jeans bo haar koek rus, duidelik gewys het. Dit verklaar seker die bedompige reuk wat ek later geruik het toe sy die toilet cubicle wat nie kon sluit nie oopdruk, instap, haar broek met ’n gesukkel oopmaak en uittrek, en met een vinnige beweging haar regterbeen opswaai oor my skouer en op die toiletbak laat rus en my gesig tussen haar bene indruk. Ek dink Sexy Eyes het op daardie oomblik oor die pub se speakers begin speel. Ek was te moer toe om enigiets te doen, so dis hoekom ek nie resist het nie. Maar dit was die eerste en enigste keer wat ek poesbedroef was.
Die dyke in die Mazda gee toe ’n bulderende lag. “Tannie kan ontspan. Ek is nie homoseksueel nie.”
Vir ’n while staan ek toe so met my doubts, maar Here, dit was warm en ek was moeg en honger.
“Ek is op pad na die Cash and Carry vir brood en melk.”
“Maar Tannie, dis nog ’n goeie tien kilometer ver! Kom klim in, dan vat ek Tannie vinnig soontoe.”
“Jy vat g’n fokken niks,” sê ek toe so ewe hardegat en point my hand wat die gekreukelde R20-noot vasklem aggressively na haar. Ek weet mos hoe werk die closet dykes. Weereens lag die dyke.
“Ek wil regtig net vir Tannie help.”
Om deur ’n butch dyke gevinger te word, is seker ook nie een van die ergste dinge wat met mens kan gebeur nie, so toe besluit ek maar om in te klim.
“Is dit al geld wat Tannie aan Tannie het?” vra sy toe ek inklim. Ag, Here, dink ek toe, verwag sy nou dat ek háár moet betaal om haar koek te lek uit dankbaarheid vir die lift.
“Ja,” antwoord ek verdedigend. Ek check toe dat die binnekant van die kar nie beter as die buitekant lyk nie. Die suède-sitplekke is al deurgesit en geskeer, en daar is rubbish orals. Take-away pakkies, leë coke-blikkies. Apparently ook haar hele wardrobe. Maar derde klas ry is seker beter as eerste klas loop.
Die dyke sit toe RSG sagter waar Annelie van Rooyen besig was om “Ek kan droom van my sonskip” te sing en sy begin my behoorlik te ondervra. Sy vra my uit oor my hele lewe. En ek weet nie of dit die hongerte of die moegheid was, die feit dat ek toe realize dat sy ten spyte van haar masculinity ’n oop en eerlike gesig het, of sommer net die feit dat iemand bietjie met my gesels en dit nogal op ’n decent manier, maar ek hou aan vertel. Sonder ophou. Ek vertel vir haar my hele storie. En toe sien ek hoe die trane uit die dyke se oë begin rol. Ek sit nog ewe daar, so humiliated oor my lewe, toe sy skielik ’n wilde draai oor die pad kap, en sommer net daar ’n U-turn maak.
“En nou?” vra ek.
“Ek vat tannie eers huis toe,” sê die dyke terwyl sy die trane uit haar oë vee. Ek wou eers aanbied dat ek nou maar haar tiete vir haar sal brei as sy my tog net sal help, maar iets in my het opgegee.
By die plot aangekom het die dyke my afgelaai. So in die uitklim het sy vir my gesê dat sy oor ’n uur sal terug wees en daar weggetrek met ’n stofwolk. Dit was die langste uur van my lewe. Wie is hierdie vrou? Ek realize toe dat ek nie eers haar naam gevra het nie. Waarheen is sy op pad en wat het sy gaan doen? Hoekom kom sy terug? Sal sy ooit terugkom?
’n Uur later stop dieselfde fucked up rooi kar voor my meidekamer. Toe die dyke uitklim, sien ek eers hoe kak sy werklik lyk. Ook maar verwaarloos, met twee groot sweetkolle wat onder haar arms langs haar tiete vorm. Sy maak die boot van die kar oop en my mond hang oop. Nog nooit het ek soveel groceries in my lewe gesien nie! Die dyke lift sommer so vier pakkies in elke hand gelyktydig uit en marsjeer daarmee my meidekamer binne. Ag, Heretjie, maar daar begin ek vir jou te tjank. Ek sê vir haar dat ek dit nie kan accept nie, maar sy dring daarop aan. Met al die groceries in my meidekamer en die sweetkolle wat nou tussen haar bralose tiete en maag uitslaan, grawe sy haar wallet uit haar gatsak en haal ’n R100-noot daaruit. Soos wat sy dit na my toe uithou, sien ek dis die enigste geld wat sy het.
“God voorsien,” sê sy, knik vir my haar oog, en klim terug in haar kar en spin daar weg.
Met die snot wat op my bolip drup soos wat ek tjank, het ek die groceries begin uitpak. Ek het besluit om ’n pakkie op te maak vir Tollie by die pawnshop. En dis toe dat ek die Checkers-slippie in een van die grocery bags sien. Op die agterkant was daar in die fokken lelikste handskrif wat ek nog ooit gesien het die volgende geskryf: Want julle Vader weet wat julle nodig het nog voordat julle dit vir Hom gevra het – Mattheus 6:8. En dis net daar wat ek op my knieë gaan en die Here dank vir die engel wat hy vir my gestuur het. My dyke van ’n engel in die fucked up rooi kar.
*
Sy sit die voos ou Mazda oor in vyfde rat en trap die pedaal plat wanneer sy op die R23 net buite Brakpan klim. Haar beursie mag miskien nou leeg wees, maar haar hart is vol. Dis net toe sy die motorruit met ’n gesukkel oopdraai en tevrede haar longe met die buitelug vol trek, toe sy die volgende toneel voor haar sien afspeel.
Sy sien hoe die verwaande sakeman in sy deftige motor verby haar gejaag kom, sigaret in die mond, selfoon teen die oor, baie vinniger as die 120 km/h spoedlimiet waarteen die bordjies motoriste waarsku. Sy sien die hond oor die pad hardloop. Sy hoor die slag van metaal teen dier. Sy hoor hoe die hond se bene kraak en sy hoor hoe hy deur die lug geslinger word en langs die pad beland. Sy hoor hoe die sakeman sy motor se bande laat skreeu soos hy rem. Sy sien hoe hy uitklim, sy sonbril afhaal, en langs die hond staan en hom gevoelloos aankyk. Sy sien hoe die hond se ribbes moeisaam op en af beweeg. Sy sien hoe die sakeman oor die duik voor sy motor vryf, homself weer met sy sonbril pantser, in sy motor klim en wegry. Sy sien hoe hy die hond net daar los.
Sy sien hoe sy self net verder aanry. Verby. Weg. ’n Hele ent verder weg raak sy naar. Sy sien weer die verminkte hond wat in die somerson lê en kerm. In haar kop hoor sy hoe die hond tjank. Sy ruik die stank van die hond se bloed, die reuk van remmende bande teen die teer. Sy hoop dat daar later tog ’n barmhartige Samaritaan verby sal kom en die hond finaal sal doodry, hom miskien sal skiet en van sy lyding bevry, of miskien net vashou totdat die hond self besluit dis tyd om te gaan.
En dan besef sy: vanaand is daar waarskynlik ’n kind wat tevergeefs na die hond sal soek; ’n baas wat teen skemeraand na hom in die donker in sal roep; en ’n onbeveiligde huis met ’n leë mandjie op die agterstoep.
Lees die eerste keurverslag deur Suzette Kotzé-Myburgh
Nuwe Stories 2014: Verhale en keurverslae
Klik hier vir die kortlyskandidate
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter


Kommentaar
Ag nee wat! Die grootste deel van die storie en die taalgebruik het my gewalg. Alles hoef sekerlik nie so in detail beskryf te word nie. Die platvloerse name en die gebruik van die Here se naam so saam-saam het my uiters ongemaklik laat voel. Ek verstaan om die hoofkarakter uit te beeld is dit nodig om dalk kru taal te gebruik, maar hierdie is té erg! Die positief is die barmhartige sammaritaan, maar hoewel sy ook uiters arm is aan lewensmiddele, is dit onnodig om haar so kru te beskryf.