Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd: Tweede weergawe van "Desperate Housewife"

  • 0

Die tweede weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd word anoniem geplaas.

 


Desperate Housewife

Sy vat ’n sluk van haar koffie – swart, sonder melk of suiker, soos die nuwe dieetplan teen die yskas voorskryf.  Met ’n sug sak sy voor haar rekenaar neer.  Vandat haar wekker vanoggend afgegaan het, was dinge net chaoties.  Sy moes haar man en drie kinders uit die bed en reg vir werk en skool kry.  In die geharwar moes sy ook ’n onvoltooide Lewensoriëntering-taak help klaarmaak, omsendbriewe teken, Poena die foksterriër kos gee en haar man na sy karsleutels help soek.

Karen van Loggerenberg dubbelklik op die Word-ikoon.  Sy kyk hoe ’n nuwe dokument voor haar oopgaan.  Sy maak haar oë vir ’n oomblik toe en begin dan tik:

Hy draai haar om met ’n drif wat onbekend is vir haar.  Stadig en sensueel begin hy haar nek lek, tot by haar hals.  Behendig volg sy tong die roete af ondertoe.  Dit laat hoendervleis op haar vel uitslaan.  Sy tong trakteer haar tepels, twee parmantige rosyntjies wat instinktief op sy aanraking reageer.  Dan lek hy verder tot by haar naeltjie.

Die font van die teks pla haar.  Times New Roman lyk tog so banaal.  Sy verander dit na Arial Narrow.  Tevrede tik sy verder:

Hy druk haar plat op die kombuistafel.  Met sy heupe forseer hy haar bene oop.  Haar hele liggaam tril in afwagting.  Sy is skielik bewus van sy prominente geslag wat haar kloppend en koorsagtig tegemoetkom.  Sy weet dat hy haar gaan gee waarna haar lyf al so lank hunker.  Sy trek hom stywer teen haar vas en gee haarself volkome aan hom oor. 

Karen van Loggerenberg bloos vir haar gedagtes, maar terselfdertyd ervaar sy ’n gevoel van ekstase.  Sy wens Hannes wil haar behandel soos Fabio, die Don Juan in haar erotiese kortverhale wat sy in die geheim skryf.  Fabio met die welige bos swart hare, groen oë, aristokratiese neus, sensuele mond, six-pack, gespierde boude en die libido van ’n jong stoetbul.  Toe sy en haar vriendin Lena laas week te veel Springbokkies gedrink het toe Lena en Koos by hulle kom braai het, het die wulpse Karen skielik in haar ontwaak.  Hannes het haar van die braai af aangegluur namate sy meer uitbundig gelag het vir Lena se bedpraatjies saam met Koos. 

Toe hulle na die braai in die bed klim, het sy haar styf teen Hannes vasgedruk, haar groot sagte borste teen sy moesierug en haar huisvrouhande wat so sensueel as moontlik teen sy harige bors afbeweeg tot by die spaarwiel wat hy om sy middel saamdra.

“Nie vanaand nie, ek is hardlywig,” het Hannes gesê, die bedlampie afgeskakel, gesug en kliphard gepoep. 

Karen van Loggerenberg is al vir twee en twintig jaar getroud met ’n man wat seksueel hardlywig is.  Sy is al gewoond aan hierdie blokkasie, wat kort na die geboorte van hul jongste kind gekom het. 

Karen se selfoon lui.  Dis Lena.  “Kaptein, span die seile,” sing Kurt Darren.  Ja, Hannes van Loggerenberg, dink sy, as jy maar net jou dekselse seil vir my wil span.    

Sy antwoord.  “Hallo, Lena.”

“Hallo, liewe vriendin, hoe gaan dit?” 

“Kan nie kla nie.  Hoe gaan dinge daar by jou?”

“Jong, vriendin, ek vat mos nie grond nie!  Kosie het mos ’n rugbybeurs gekry om na een van die topskole hier in die stad te gaan, so ons is nou natuurlik druk besig om sy laaste goed reg te kry.  En Leentjie se danseksamen is mos oor twee maande en dan is dit ook nog ’n hele gedoente om haar matriekafskeidsrok klaar te kry.  En dis mos nie asof dit maklik is om ’n afspraak by Simon Rademan te kry nie.  Ek weet nie hoe ek al my draaitjies gaan kry nie.  Ek is ’n bol senuwees, vriendin. ’n Bol senuwees, sê ek vir jou!”

“Ja, ek verstaan,” sug Karen.  Sy weet maar alte goed waarvan Lena praat, maar die aansitterigheid in haar vriendin se stem irriteer haar vandag. 

“In elk geval liewe vriendin, ek dog ek gee jou gou ’n tinkle om seker te maak dat jy nog saamgaan Skouspel toe.  Hierdie jaar s’n gaan blykbaar die beste ooit wees.  Ek sidder om te dink dat ons dit moet misloop.”

Karen voel weer daardie opgewondenheid in haar binneste roer.  Sy kan dit al klaar sien:  sy in die voorste ry, met Nicholis Louw of Snotkop wat reg voor haar op die verhoog staan en hul heupe ritmies in haar rigting pomp.  Huisgenoot Skouspel is ongetwyfeld die hoogtepunt van haar jaar.  Dis die een naweek in die jaar wat sy van Hannes verwag om huis-huis te speel en vir die kinders te sorg. 

“Maar natuurlik, Lena!  Jy weet ek mis dit vir niks!”

“Fantasties!  Net een probleempie, liewe vriendin.  Jy weet mos ek kan soos in glad nie met die rekenaar werk nie, wat nog te sê kaartjies aanlyn bespreek.  En nie Koos of die kinders het die geduld om my stap vir stap te wys nie.  En boonop is ek so druk besig, jy weet mos.  Ek sal eenvoudig nie die tyd hê om dit by Computicket te gaan bespreek nie.”

Karen weet waarop Lena afstuur.  “As dit nie anders kan nie, kan ék seker maar die kaartjies gaan bespreek.”

“Is jy sekertjies, liefste vriendin?  Ag, jy is ’n engel!  Wil jy dan nie sommer die bespreking vir die gastehuis ook maak nie?  Aangesien jy nou besig is.  Ek sal sommer dat Koos die details van die plek vanaand vir jou SMS.  Ek sal met jou regmaak as ons die naweek ry.”

Karen weet dat Hannes nou weer ’n ellelange preek vir haar sal afsteek oor sy toelaat dat Lena haar misbruik, maar sy vind dit moeilik om vir Lena nee te sê.  Sy vind dit moeilik om vir enige iemand nee te sê. 

“Dis reg, Lena, ek gee nie om nie.”

“Ag, jy is ’n engel van ’n vriendin, Karen van Loggerenberg!  Maar nou ja, laat ek totsiensies sê, ek wil nie die besige huisvrou weghou van al haar moederlike pligte nie.” 

Wanneer Karen die rooi knoppie op haar selfoon druk, voel sy dadelik skuldig.  Soos ’n Sondagskoolmeisie wat in die pastorie betrap word dat sy met die predikantseun vry.   Sy wonder wat Lena sal sê as sy moet weet van haar skrywery, erotiese kortverhale helder oordag!  Nog erger, wat sal Hannes en die kinders sê?

Sy probeer verder skryf, maar haar gedagtes bly dwaal.  Sy onthou dat sy nog ’n draai by die winkels moet gaan maak om sjerrie en suurlemoensap te koop.  Sy het op ’n nuwe Huisgenoot-wenresep afgekom wat sy wil uittoets:  ’n geurige sjerrie-sampioensop.  Ten spyte van haar nuwe dieetplan gaan sy haarself dit gun om net vir vanaand in te gee.

Haar oog vang die Best Mom in the World-kouse wat sy saam met haar pienk Crocs aanhet.  As huisvrou en ma van drie het sy tog die reg om soms ontspanne en informeel te lyk en ook só in die openbaar te verskyn. 

Sy skrik toe sy op die rekenaarskerm sien hoe laat dit al is.  Sy sal moet wikkel as sy vandag nog hierdie kortverhaal wil klaarkry.  Oor ’n paar uur moet sy die kinders gaan oplaai by die skool en dan begin die gejaag weer tussen dramaklasse, rugby, ballet en hokkie.  En sy moet nog voor dan by die winkels ook uitkom!  Sy vat ’n sluk van haar koffie wat teen dié tyd al yskoud is.

Voor sy verder tik, vang haar oog haar weerkaatsing in die rekenaarskerm:  ongewaste hare waarin die grys al duideliker wys, die sakke onder haar oë, die lagplooie om haar mond wat dieper keep.  Dan kyk sy na haar naels wat tot in die lewe afgebyt is.  Sy kyk vinnig terug na die toetsbord en tik verder:

Hy beur teen haar aan, haar harde tepels teen sy bors.  Sy haak haar hakke agter sy boude in.  Sy dringende beweging tussen haar bene in maak dat sy haar naels diep in sy rug inslaan.  Sy snak na asem en byt sy skouer. 

Haar selfoon gaan af.  ’n SMS.  Dis van haar dogter: 

Ma, onthou om hokkiesak skool te bring.  Ht vrgeet by huis.  En stop asb bib vi info oor evolusie, of kyk op wiki. Pretty plz...  Lovies

Karen van Loggerenberg druk Control en S op die rekenaar se toetsbord.  Sy stoor die kortverhaal onder Onvoltooid.  Sy sal moet spring as sy vandag nog al haar draaie wil kry.

 


Lees die tweede keurverslag oor "Desperate Housewife"

Lees die eerste weergawe van "Desperate Housewife"

Lees die eerste keurverslag oor "Desperate Housewife"

Terug na die lys Nuwe Stories-kortverhale: Tweede weergawe

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top