François P Verster is in 1962 in Bellville gebore. Hy matrikuleer in 1979 aan die Hoërskool President in Vrijzee en studeer aan die Universiteit van Stellenbosch.
Hy werk onder meer as onderwyser en argivaris, en verwerf in 2003 ’n DPhil in Kultuurgeskiedenis oor pikturale humor, met TO Honiball as gevallestudie. Aan die einde van 2010 verwerf hy ’n MPhil in Joernalistiek aan die US met sy tesis "A critique of the Rape of Justicia, with emphasis on seven cartoons by Zapiro (2008 – 2010)". Dié tesis is beskikbaar op die internet.
Hy skryf vakkundige artikels (geskiedenis, kultuurgeskiedenis, literatuur, kuns, joernalistiek), resensies en essays in koerante en tydskrifte, asook gereelde rubrieke in die streekskoerant Bolander en vaktydskrif Kaapse Bibliotekaris. Hy skryf ook kortverhale, jeugverhale, gedigte vir jeug, ens. Kortverhale verskyn in Grensoorlogstories (2012) en Skarlakenkoors (2013), asook die roman Een teen Adamastor (wenner van Afrikaanse afdeling van Maskew M Longman kompetisie, 2013).
In 2014 en 2015 het twee wetenskapfiksie-romans verskyn, nl Deur na Nebula Nege en Inversium, albei by Thompson Uitgewers. In 2016 verskyn twee nie-fiksiewerke, nl Omega, oor en uit (Tafelberg) en Die Groot Drie (Penguin). Verster het ook bydaes gemaak vir die bundel Die Burger 100 (Jonathan Ball).
Vir inligting oor gepubliseerde werk, asook skilder- en karikatuurwerk: besoek www.Stellenboschwriters.com.
Foto: Naomi Bruwer