Kampvuurstories: Stories vir die kampvuur én kaggel, met of sonder vuurwater

  • 0

Kampvuurstories
Pieter W Grobbelaar
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780798151269
Prys: R165.00

Klik hier en koop Kampvuurstories nou van Kalahari.net!

Wanneer mens die naam Pieter Grobbelaar op ’n publikasie sien, weet jy dat jy tien teen een hier met ’n juweeltjie of twee uit die Afrikaanse kultuurgeskiedenis te doen het. In die geval van Kampvuurstories is dit inderdaad ook die geval: daar is ’n hele paar juweeltjies in hierdie bundel.

En om hierdie metafoor verder te poets: mens moet eers grawe – tussen die gruis en halfedelstene is daar diamante en robyne. Later lê hulle sommer dik nader aan die bodem – daar is spookstories met diep en donker gloede en dié wat vrolik blink van die hiperbool: die grootliegstories. Die skatkissie het boonop ’n heel mooi aanskyn: die voorblad is aantreklik en skimp reeds dat daar grootliegstories binne te vinde is – grootlieg beteken in kultuurhistoriese terme stories waarin oordrywing ter wille van vermaak en nie om die leser (of oorspronklik die luisteraar) te oortuig van die waarheid daarvan nie.

Suid-Afrika het, soos Amerika, etlike sulke grootliegkarakters opgelewer – dink maar aan Renier de Winnaar, wat werklik geleef het, en TO Honiball se oom Kaspaas, wat beide karakter en verteller was, maar natuurlik slegs ’n karikatuur van die ou boepens-bossiebaard-grootprater-tipe is waarvan seker nie meer baie nog leef nie. Maar ek verbeel my dalk tog: iewers in die diepste uithoeke van die Bosveld, die Jurassic Park van ons baasvertellers? Wanneer mens sommige van die verhale in Kampvuurstories lees, kan jy jou so ’n karakter, pyp in die een hand en dalk ’n mampoertjie in die ander hand, voorstel. En in die agtergrond ’n ta’ Racheltjie/Doortjie/Engeltjie met ’n rietbesem, gereed om slae uit te deel.

Die agtergrond-inligting aangaande Mot Smit, een van ons legendariese poetsbakkers (ten mínste in die klas van Koos Meyer), is welkom en meer sulke insetsels sou die bundel se waarde verhoog het. Maar dalk hang my kultuurhistoriese onderrok uit ... Soos die Hollander gesê het: “Ik heb het bekijken”, en ek sien ruimte vir potensiaalontginning ... Maar goed, ekstra teks en bladsye kos ekstra geld, anders as wat ek hier op die buitensporige buiteperklike ruimte van die internet kan pleeg. En dis mos nie ’n handboek nie, maar ’n lekkerleesboek. As dit al manier is om kultuurgoedere (her) op te dis aan ons mense, ou vergete skeppings te ontbloot, dan vat mens wat jy kry en mor nie soos oom Sybrand (p 161) oor die kaiings nie. Jy mag dalk gestraf word, soos verskeie mense gestraf word in die boek, maar dalk die ergste deur die legendariese Spoorbek (157). Daar is inderdaad die opvoedkundige elemente van sprokies te bespeur, die waardes van die ou mense wat geslagte lank oorgedra is en, soos sulke stories werk, aangedik en aangepas is soos die verteller dit goedgedink het.

In die beste van hierdie stories kan mens die ironie geniet, soos wanneer ’n ongeïdentifiseerde verteller (hy is eintlik net herkenbaar weens sy assosiasie met sy perd Robyn, en dis jammer – ek sou graag wou weet wie hy was, al is hy ’n denkbeeldige personifikasie van die ou boerespogter) kommentaar lewer op ’n ander grootprater: “Ek aanvaar jou uitdaging [...], want ek het nog nooit aan ’n grootpratery geglo nie” (48), seg hy! Dit is ook hierdie paar stories deur die onbekende eerstepersoon-verteller wat ek meeste geniet het, terwyl van die eerstes, waarskynlik omdat Grobbelaar, soos ’n goeie kultuurhistorikus, hulle onveranderd behou het, vir vandag se leser ietwat soos ’n nat klapper by ’n Guy Fawkes-partytjie ervaar mag word. Maar soos ek reeds genoem het, moet mens aanhou lees – soos in die Bybel het die samesteller hier die beste wyn nie eerste aangebied nie.

Sommige stories sal mens bybly, soos “Seunie” (139-44), wat een van die langer verhale in die bundel is. Bekende karakters soos president Paul Kruger en Siener van Rensburg figureer ook, wat beteken dat daar heelwat volksname in dié 174 bladsye voorkom. En ook minder bekende stories en name, soos oor die rower van die Kaapse Vlakte, al is dié een net ’n halfedelsteen – definitief sou Gerrie Radloff se Buiter of Scotty Smith van hom kleingeld gemaak het voor brekfis.

Gediertes wat ons voorsate se lewens bedreig het, en waarvoor ons nou steeds ril (selfs noudat ’n AK-47 of ’n minibus meer gesag inboesem), soos krokodille, leeus en slange, bevolk ook die boekie se blaaie, en mens kry insae in hoekom hierdie diere uitgeroei is. Dit klink dalk romanties om te lees van leeus wat om die Kasteel se mure gebrul het, maar as jy moet uitgaan om hout vir jou vuur te versamel ... nogal nie.

Wat die illustrasies betref, moet ek sê, verlang ek nogal na een van Grobbelaar se ou vennote, die enigmatiese Katrine Harries (1914-1978), een van soveel kunstenaars wat veral eers ná haar dood na waarde geskat is, hoewel sy werklik uitstekend was. Dat Grobbelaar haar werk waardeer, getuig uit die feit dat daar van Harries se geraamde werke in sy groot studeerkamer in Wellington hang, tussen al die akkolades en voorblaaie van sy enorme pennevrug. Kampvuurstories se illustreerder het blykbaar in die idioom en styl van ou illustreerders gewerk, maar sommige van die pogings lyk ietwat soos onsuksesvolle aftekeninge uit ou Huisgenote of Landbouweekblaaie. Die deurmekaar aanwending van pen en kwas lyk eenvoudig nie professioneel nie, soos op p 41 en p 138 en die inkleding onder die perd en ruiter op p 47. Jammer, maar ek mis die onmiskenbare talent en afgerondheid van mense soos Harries of Flip Coaton of, meer onlangs, Fred Mouton, Tanya Joubert, Piet Grobler, Dale Blankenaar ...

Regverdigheidshalwe sal ek toegee dat daar ook meer geslaagde tekeninge is, soos by “Bokkapater”(57) en “Die goëlkatte” (115), maar per slot van rekening moet illustrasies bydra tot die boek se aantrekkingskrag, deur ten minste dekoratief te wees indien hulle nie bykomende interpretasie bied nie. Jammer dat ek my mond uitspoel, maar Grobbelaar verdien die heel beste.

Pieter Willem Grobbelaar is vandag (reeds oor die 80) nie meer die forse professor wat gesag inboesem soos vanmelewe nie, maar eintlik nou self al ’n kultuurskat. Hy het, soos die grootvoete in sy stories, diep spore getrap – hy is in ons kultuurwêreld Ou Eentand wat op die voorblad pryk – en met die afsterwe van professor Bun “die Klein Messias” Booyens (1916-2010) selfs nog kosbaarder. Hy is wel telkens in sy lewe vereer – gaan kyk gerus op www.Stellenboschwriters.com en ander werwe wat hy vermag het – maar met die hoendertand-status wat Afrikaanse kultuurhistorici nou reeds verwerf het, is hy selfs nog meer van ’n kleinood. En dieselfde geld “onse” stories.

Want hoewel stories stol wanneer hulle gepubliseer word (dan word dié weergawe as die outentieke een aanvaar), teenoor wanneer hulle in die volksmond bly rondrol, nader smake bykry en van vorm verwissel, is dit beslis goed dat hulle eerder geboekstaaf word as om soos die Krugermiljoene te verdwyn.

Kampvuurstories is ’n welkome toevoeging tot die oeuvre van Pieter Grobbelaar – en pas mooi tussen die menigte ander Grobbelaarismes teen die groter kultuurhistoriese gewelf.

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.

Top