Boerumoer: Oom Gysbert se dorpstories
Sarel Pieterse
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798152433
Prys: R136.00
Klik hier en koop Boerumoer nou van Kalahari.net!
Boerumoer: Oom Gysbert se dorpstories is ’n aansienlike boekie. Om mee te begin: die omslag is interessant. Dit trek die oog en is esteties aanvaarbaar. Laat jou ook wonder. Eers span jy jou visuele geletterdheid in en dan jou skoolgeletterdheid: jy lees dit kreatief en dán neem die ou dominerende linkerbrein oor – jy verstaan wat jy sien as jy woord en beeld bymekaarsit. Maar mens sal nie na dié foto kyk en dink: “Mmm, is ’n pyp wel ’n pyp (à la Magritte), en is dit ál?” nie.
Die leser sal sekerlik ook wonder: Waaroor gaan die boek? En dan, wanneer die naam van die skrywer herken word, hoe gaan dieselfde leser voel oor die 18 stories wat oor hierdie 148 bladsye verspreid lê? Verwagting, of eerder verwagtingshorisonne, is die kwessie wat hier bietjie mag pla.
Daar is die verwagting van die leser wat Sarel Pieterse al op die televisie op die verhoog gesien optree het, wat sy mondelinge oorleweringstalente met sy skryfvermoë mag vergelyk. Ek glo nie Tolla van der Merwe sou kon skryf soos hy, Tolla, kon vertel nie, en Jan Spies kon amper, maar ook net “amper”, omdat hy so fantasties vertel het, glad nie omdat hy nie kon skryf nie. Inteendeel.
Neem mens dus Boerumoer op om te lees-en-geniet, met of sonder Cremora by jou koffiekapitaal, is dit onrealisties om nié te wonder of Pieterse naastenby so goed kan skryf as wat hy (mondelings) kan vertel nie. En dan, ironies genoeg, wonder jy – of altans ék het – of dit realisties en regverdig is om só te wonder. Tóg, daar het jy dit: dis ’n feit. Soos ’n paal, of ’n pyp.
’n Tweede verwagting wat net agter dié horison skuil, is die tweede tipe vergelyking wat kop uitsteek: om hierdie bundel te vergelyk met iets soos PG du Plessis se Sommerstories. Nogmaals: Is dit regverdig om Pieterse met die ou meester PG te vergelyk? Natuurlik nie. Maar oom Gysbert, oudboer en nou dorpenaar soos Pieterse self, sal eerste erken dat die lewe nie regverdig is nie – soos met die heel eerste storie duidelik gemaak word: die arme Boggie Cloete met op sy rug “’n helske knop, wat kompleet ooleoetang” as hy stap. Ek glo sekere lesers sal hierdie beskrywing effe aanstootlik vind, indien nie die woordspeling ietwat geforseerd nie. Hang af waarvoor jy lag.
Boggie is ook nie Einstein nie, eerder ons eie Forrest Gump (Pieterse het hom immers nie Forrest Hump genoem nie), dís duidelik, en daarom hoef dié punt nie so oordadig beklemtoon te word nie: ”Jy sou hom selde, indien ooit, vir ’n flinkdinkkompetisie kon inskryf.” Ensovoorts. Dan gaan die skrywer verder aan om seker te maak die leser begryp hoe erg Boggie kon vloek. Vir sowat ’n hele bladsy, van verskillende kante belig, báie duidelik.
En almal weet ’n haas in die hoofligte het geen kans nie – en juis omdat mens hom bejammer, is hy nie so snaaks nie, al skree hy “What’s up doc?” en druk ’n geelwortel in elke neusgat en fluit “Sarie Marais” uit sy boemsie voordat jy hom tref. Sien wat ek bedoel? Oordaad maak dood. In meer as een opsig. Less is more ... more or less.
Daar is beslis verskeie snaakse oomblikke in al die stories. Die meeste lesers sal dit dus terdeë geniet. Solank jy darem ’n humorsin het wat skerp en droog én ietwat lawwe smakies kan waardeer. En mens hét empatie met Boggie, maar die tragikomiese element wat byvoorbeeld by PG se oopbek-Pietersetjies aangetref word, is nogtans afwesig. Onregverdig om so ’n vergelyking te maak? Dis nie die punt nie: daar ís ooreenkomste en dis dus net natuurlik dat dit sal gebeur. Uiteraard sal die leser wat nie PG se Koöperasiestories ken nie, ’n skoon lei hê as hy/sy Boerumoer lees. Miskien beter so, maar mens leer by die bestes.
Pieterse skryf glad nie sleg nie – sy stem is herkenbaar en hy behou dieselfde trant strykdeur, maar die struktuur van sy stories word benadeel deur sy afdwalery om nóg snaakse insidente in te voeg. Dit herinner mens aan jou houtwerkklasse toe jy saagsels in jou amper-abortiewe voeë gedruk het. En daar is min verskil tussen saagsels en semels en ons weet wat gebeur as jy jou – of jou stories – met semels meng.
Nog een woord oor die Boggie-verhaal: ek dink die einde is ongeloofwaardig (dominee Duvenhage vloek van die kansel “uit pure desperaatheid” – ek kan my dít nie voorstel nie) en boonop ’n antiklimaks (“En hy praat oorlede Boggie se engeltaal”). Net daar moes hy liefs volstaan het. Maar hy verduidelik, asof die leser nie self ’n korrekte afleiding kan maak nie: “Daardie taal wat mens allermins in ’n gebed gebruik.” Die leser se deelname word sodoende beperk. Wanneer dit gebeur, probeer die leser ook nie regtig die toneel soveel verbeel as wanneer hy/sy die stippellyne self moet invul nie. En dan is die genieting daarvan ook minder.
Deurgaans skaaf die oordaad van vergelykings en metafore soms aan my. Soos: “Jong, ’n huwelik is gewoonlik grondpad, sinkplaat en al. Maar daai twee was nou wraggies sommer op ’n boendoepad en al twee wou hom enduit ry.” Ek waardeer die pogings om met ekstra kleur en kwink meer vermaak te verskaf, maar iets klink net daai éffe uit pas. Dalk hou sommige lesers van “off-beat”, maar hier tik die spook van verwagting weer aan my skouer. Nogtans het ek die verhaal “’n Bitter huwelik”, waaruit die aanhaling kom, geniet. Indien Pieterse weer skryf, sal hy sekerlik terugkyk en self sien dat hy met klein verstellings groter stemmigheid en harmonieë kon saamgestel het. Dis beslis nie maklik nie: humor is ’n taai toffie – een wat maklik te lank uitgerek word.
“Lewe na die dood” was meesal snaaks, maar steeds effe geforseerd. Reg aan die begin: “Ou Peet was al ’n ou man, by die negentig, maar tot vandag toe lewe hy nog dat dit so vrek.” Lagwekkend gestel, maar die rés van die storie gaan oor Peet wat voel die dood kom nader. Hoe lank het hy toe nóg “geleef dat dit vrek”? En kan mens so onnosel wees soos die einste oom Peet? Wat hom verbeel dat hy dalk nie hééltemal dood sal wees by sy eie begrafnis nie ... maar ek gee amper die ontknoping weg.
Dis só ’n fyn lyn hierdie – absurditeit as humortipe kort vernuftige aanwending, anders is dit nie absurd-snaaks nie, maar absurd-simpel. Pieterse balanseer sy stories na my smaak nogal dikwels op dié lyn.
“Die sooibrandtoloog” trek ook nie die wa vir my lekker egalig deur die drif nie. Van die grappies klink te bekend; en “Uile en muise” was hier teen die middel rond effe voorspelbaar – maar mens kan nie hieroor kommentaar lewer sonder om die storie te bederf nie. Hierdie storie eindig wel baie sterk. Ek het dit selfs aan mense by ’n kursus gaan oorvertel. Die tannies het my egter skeef aangekyk oor die uildrolletjie-deel. Soos ek sê, sommige mense se humorsin is baie kort. Korter en droër as muisdinges.
“Bobbejane” se titel is dalk verbeeldingloos, maar dis dié storie wat by my sal bly spook – dis óók nie enduit snaaks nie, maar tragies, en ook nie tragikomies nie, eerder skandelik. Dieremishandeling en verwerping kielie nie vir almal nie. Veral nie bobbejane nie, en nog minder aanneemkinners. Toegegee, dit was sekerlik ook nie die outeur se bedoeling om bloot snaaks te wees nie.
En dis terloops my probleem met die kwinkslae, naamgewing en situasiehumor van hierdie vertellings: meesal snaaks, maar ... “snaaks” is nie noodwendig “humoristies” nie. Humor verskil van byvoorbeeld satire in die sin dat humor simpatie van die spotter verg. Anders is dit eenvoudig nie werklike humor nie. En is dit dan nog snaaks?
In “Crimen injuria” slaag Pieterse met ’n behendige betekenisverskuiwing wanneer hy sê: “Latyn is ’n regte bokker. Dis net een van my skaapwagters, Apools, wat met Latyn kon werk [...] Jy sien, Apools se trekdonkie, Latyn, kon vir jou hol en skop en byt as jy hom wou vang.” In dié storie is die klimaks, wanneer die hofsaak gewen word, goed (ek sou voorstel dat dit net daar geëindig het), maar die einde het my laat frons. As die verloorder in die saak so sleg tweede gekom het, sou dié persoon sekerlik nie dieselfde woorde waarmee die slinkse prokureur die nekslag toegedien het, as verhoognaam gekies het nie. Weer eens: Hoe onnosel kan mens dan wees? Die skoner geslag is immers ook nie bekend vir selfspot nie, veral nie wat hulle uiterlike betref nie – daarvoor het die diskriminasie van die gemeenskap (mooi vroue is oppermagtig, lelikes is sukkelaars) gesorg. So hier is simpatie nóg belangriker!
In die algemeen beskou: daar is ’n paar uiters vermaaklike stories tussenin – en dan is “Oom Peet se oergedagte” net weer bloot ’n mooi (belowende) pannekoek wat met die laaste salto die pan mis. Dit klink nie juis of die hele plot goed deurdink is nie – dat die storie ’n ekskuus was om oor enkele interessante insidente of karakters te skryf.
En dan “Die tiervanger”. Ek is jammer, dis darem ’n ou grap dié een. Goeie grap, gewis, maar mens verkies mos oorspronklike stories in fiksieboeke soos hierdie. Hier verskil mondelinge vertelkuns van kortverhaalkuns: mens gee nie om dat stories op ’n verhoog, langs ’n kroeg of voor die kameras versamelstukke is wat die meesterverteller sy eie maak deur ekstra stertjies aan te las, dalk meer konteks te gee nie – die Australiese-outback-dorpsidioot raak dalk Vannermerwe in die nuwe weergawe – maar nie almal wat die boek lees, gaan daardie agtergrond ken en waardeer nie.
“Sterligaand” is ’n mooi en goeie storie. Nie gly-op-’n-piesangskil-snaaks nie. Daar is wel voorspelbare segswyses en oordrewe “eenvoudigheid” van die “ongekultiveerde boere” (ék sê nie so nie, Pieterse suggereer dit), maar die einde is onverwags. Dáárvan hou almal mos!
So oom Sarel, ek bedoel dit goed, en vat dit van ’n medesukkelaar: baie mense gaan jou boek geniet. Baie meer mense behoort jou volgende een nóg meer te waardeer as jy so líggies verstel. Net so effe. Hier en daar.
Nogtans: ’n verdienstelike debuut. Take a bow, soos die Britte sê, en stop van my pyp.
Sarel Pieterse is kort voor die publikasie van die boek oorlede. Die resensent was onbewus daarvan en is intussen deur die redakteur van die bundel, Danie Botha, daarop gewys. Die resensent betreur die feit, ook dat Pieterse nie meer sal skryf nie, en hy staan by sy mening dat hy daarna sou uitsien om ’n volgende boek deur dié skrywer te lees.

