Carolina (Carla) Botha het grootgeword op ’n klein plaasdorpie genaamd Vaalwater. Sy moes ongelukkig na hoërskool die Waterberge verruil vir verdere studies by Tshwane-Universiteit vir Tegnologie in Pretoria. As jong skoolonderwyser het die reisgogga haar gebyt en is sy vort op soek na avonture waar sy verder gaan studeer het, eers in Amerika en toe in Parys, Frankryk, waar sy haar meestersgraad verwerf het. En alhoewel haar voete en siel nóg nie rus gevind het nie, anker haar diep liefde vir woorde en Afrikaans haar. Sy is ook die stigter van Ons skryf Afrikaans op sosiale media en het nog baie planne vir die platform om Afrikaans te help bevorder.
Carla werk tans by New York University in Abu Dhabi waar sy voltyds klasse aanbied in akademiese skryfwerk, asook ’n gemengdeliteratuurklas. Sy is ook besig met haar doktorale studies aan die Universiteit van Amsterdam. Van haar fotografie en Engelse digkuns en boekresensies is al in Nederland en Amerika gepubliseer.