
Foto: Canva
Jy spoeg woorde oor die skerm
Jy sê vir my daar is seekoeie in die see
Jy maak woorde op soos “watpaaie”
Jy maak spelfoute en ek krimp ineen
Jy bou metafore wat my laat verstik
Jy gee antwoorde en verduidelikings
Jy maak die wêreld slim en dom
Jy verander ons doen, ons denke
Jy word ’n afgod, ’n god aanlyn
Jy breek reëls asof ’n tiener
Jy veroorsaak intellektuele aardskuddings
Jy, mensgemaakte kennis-masjien
Jy, brein binne-in kuberruim
Jy, met jou kunsmatige intelligensie
Jy kom lê nuwe grense om ons heen
Jy vertel my jy is die nuwe wêreldorde
Jy, robot, tot die dood ons skei

