
Bundelomslag: Protea Boekhuis
Atrium – Gedigte 1970–2025
Marlise Joubert (versamel en ingelei deur Karen de Wet)
Uitgewer: Protea
ISBN: 9781485316060
- Inleiding
Die digter-romansier Marlise Joubert vier op 17 Desember haar 80ste verjaardag. Dit het gebruiklik geword om mylpale in skrywers en digters se lewe te vier deur middel van ’n huldigings- of versamelbundel. Tans word veral huldigingsbundels in Afrikaans deur verskeie uitgewers gepubliseer. In dié opsig is die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se reeks huldigingsbundels vir Hertzogpryswenners tersaaklik. ’n Alternatiewe huldiging van ’n skrywer of digter se literêre werk is ’n publikasie waarin van die kunstenaar se werk deur ’n literêre kundige gebundel word. Alhoewel die tendens ’n afname toon weens uitgewers se begrotings wat tot op die been gesny word, was dit in die laaste drie dekades van die vorige eeu ’n algemene verskynsel in die Afrikaanse letterkunde. 'n Voorbeelde hiervan is Verse vir Opperman (1974) wat in ’n beperkte oplaag van 500 eksemplare verskyn het ter viering van die digter se 60ste verjaardag. In 1981 publiseer Human & Rousseau Kleur van donkerte – Verse 1942–1956 waarin Ernst van Heerden se eerste ses digbundels heruitgegee word. Hierdie versamelbundel dien as huldeblyk aan Van Heerden ter viering van sy 60ste verjaardag. ’n Meer onlangse voorbeeld is Nogmaals vir die bysiende leser – Gedigte ter ere van Wilma Stockenström (2025) – 25 digters is gevra om elk ’n gedig by te dra ter ere van dié besondere digter.
Aangesien Marlise Joubert se vroeë digbundels haas onverkrygbaar is in die algemene boekhandel, het Protea dit goed geag om ’n versamelbundel ter viering van Joubert se 80ste verjaardag te publiseer. Geselekteerde gedigte uit haar oeuvre is in die bundel saamgevat. Die gedigte is deur die literator Karen de Wet gekies. De Wet se seleksie dateer vanaf Joubert se debuut in 1970 met ’n Boot in die woestyn tot haar jongste bundel, laatnageilande, wat in 2023 verskyn het. Wat hierdie versamelbundel besonders maak, is die nege nuwe gedigte wat as ’n selfstandige afdeling by die bundel ingesluit is.
- Joubert en die Afrikaanse poësiekanon
Marlise Joubert debuteer, soos reeds gemeld, in 1970 met ’n Boot in die woestyn. Sy het reeds op skool gedigte geskryf wat in die Hoërskool Warmbad se skooljaarblad opgeneem is. Van haar vroeë gedigte verskyn in literêre tydskrifte soos Tydskrif vir Letterkunde, Contrast en Kol. Vier gedigte verskyn in 1969 in Kol, naamlik “Jou kind huil my ma”, “As jy praat en jy loop”, “Ek wag”, asook “My oë”. Al vier hierdie gedigte verskyn ook in haar debuutbundel onder die afdeling getiteld “1969”.
Om vas te stel tot watter mate Joubert sedert 1970 tot 2025 in die Afrikaanse literêre kanon gekanoniseer is, het ek ’n oorsigtelike studie van ’n aantal versamelbundels onderneem. Onderstaande tabel bied ’n blik op verskillende samestellers se gedigkeuses asook tot watter mate Joubert se poësie ’n impak gemaak het binne die poëtiese kanon. Hierdie opsomming moet egter sekere faktore in ag neem, soos die jaar waarin Joubert se digbundels gepubliseer is, die tematiese aard van die onderskeie versamelbundels, en watter gedigte op eie beweging deur die digter voorgelê is vir keuring en opname in ’n bloemlesing of versamelbundel. Voorbeelde hiervan is die bloemlesing Vers en vrou (2020), waarin De Wet (2020:331) “vrouedigters aan die woord stel oor vroue” en Merang (2025), waarin digters gedigte voorgelê het en die gedigte deur die samestellers gekeur is vir opname in die versamelbundel. In laasgenoemde bundel is daar geen oorkoepelende tema waaraan digters moes voldoen nie.
| Jaar | Samesteller(s) | Titel van die versamelbundel | Aantal gedigte opgeneem | Titels van gedigte |
| 1983a | DJ Opperman | Junior verseboek | 1 | “Roetereis” |
| 1983b | DJ Opperman | Groot verseboek | 1 | “toe het jy gesê” |
| 1999 | Gerrit Komrij | De Afrikaanse poëzie in duizend en enige gedichten | 1 | “Sodat jy van my weet” |
| 2000 | André P Brink | Groot verseboek | 2 | “toe het jy gesê” en “die vrou loop in die strate” |
| 2006 (1986) | Fanie Olivier | Die heel mooiste Afrikaanse liefdesgedigte | 6 | “Domus”, “Hier spoel ek”, Wintermond”, “in die meeu se kaai”, “intermezzo” en “ingreep” |
| 2008 (2000) | André P Brink | Groot verseboek Deel 2 | 13 | “toe het jy gesê”, “die vrou loop in strate”, “in memoriam: Strooi”, “foto van ma”, “weerkaatsings”, “huis”, “in my oksels”, “vrou in Afganistan”, “straatkind”, “by die afsterwe van ’n pa”, “winter is nie die beste tyd vir skryf nie”, “lentebrief” en “staan op, vrou!” |
| 2009 | Ronel Foster en Louise Viljoen | Poskaarte – Beelde van die Afrikaanse poësie sedert 1960 | 4 | “Binneplaas”, “matrys”, “chaka’s rock” en “verwyder maar weer” (“Uit: labirinte”) |
| 2020 | Karen de Wet | Vers en vrou – 258 gedigte | 11 | “Jou kind huil my ma”, “Septemberkind”, “toe het jy gesê”, “oorsprong”, “pa”, “tong van die vrou”, “die vrou loop in strate”, “Eva”, “vrou in Afganistan”, “groei” en “terugflits” |
| 2025 | Neil Cochrane en Alwyn Roux | Merang | 2 | “gestrand” en “kind se stort, ’n terugblik” |
Die tabel bied ’n arendsblik op Joubert se poësie as deel van die breër Afrikaanse literêre kanon. Die gewildste keuse is “toe het jy gesê”, wat in Opperman se Groot verseboek (1983b), Brink se Groot verseboek (2008), en Vers en vrou (2020) opgeneem is. Die gedig verskyn dan weer in Atrium (2025). Brink het “die vrou loop in strate” in beide die 2000- en die 2008-uitgawes van Groot verseboek opgeneem. Die gedig “vrou in Afganistan” is opgeneem in Brink se Groot verseboek (2008) en De Wet se Vers en vrou (2020). Die samestellers se keuse van gedigte uit Joubert se oeuvre blyk oorsigtelik op enkele gedigte na grotendeels van mekaar te verskil. Dit is opvallend dat geen gedigte in Die dye trek die dye aan (1998), saamgestel deur Johann de Lange en Antjie Krog, opgeneem is nie, ten spyte van die klem op die erotiek wat in Joubert se bundels ’n Boot in die woestyn (1970), Domus (1973) en haar ander bundels wat voor 1998 verskyn het, voorkom. De Lange en Krog se keur bestaan immers uit verse waarin lyflike liefde voorkom. Indien De Wet se keuse van gedigte in Vers en vrou (2020) met haar keuse in Atrium vergelyk word, blyk dit dat daar ’n groot aantal gedigte in beide bundels opgeneem is. Hierdie gedigte sluit in “Jou kind huil my ma”, “Septemberkind”, “toe het jy gesê”, “die vrou loop in strate”, “tong van die vrou”, “pa”, “Eva”, “vrou in Afganistan”, “terugflits” en “groei”. In beide gevalle bied De Wet se keuse ’n tematiese oorsig van leitmotiewe wat in Joubert se bundels figureer. Die aantal gedigte wat in versamelbundels opgeneem is, het toegeneem namate Joubert-as-digter meer gereeld gepubliseer het. In dié opsig kan haar bundel Lyfsange, wat in 2001 verskyn het, as ’n deurslaggewende oomblik in die ontwikkeling van haar oeuvre beskou word ná ontruiming wat in 1986 gepubliseer is. Uit laasgenoemde twee bundels is die narratiewe lyn in Joubert as digter-spreker se lewe duidelik sigbaar in veral die temas wat in hierdie bundels aan bod kom.

Human & Rousseau
- Leitmotiewe in Joubert se poëtikale oeuvre
Een van die geslaagde en interessante aspekte van Atrium is die wyse waarop die keuse van gedigte uit Joubert se oeuvre die leitmotiewe in haar digkuns byeenbring. De Wet se keuse uit elk van Joubert se 11 digbundels van 1970 tot 2023 ontgin die temas waaroor Joubert die graagste dig. Hierdie temas oftewel leitmotiewe sluit in onderwerpe soos die liefde, lyflike of erotiek, die rol van die vrou en/of moederskap, verlies van ’n geliefde soos ’n ouer, en die verouderingsproses wat veral in haar laatwerk figureer. Verdere temas sluit in die reistema, die huis en sy vele gedaantes hetsy fisies of as metafoor, natuurgedigte, asook gedigte waarin Joubert vanuit ’n kunsteoretiese perspektief dig.

Naledi
Die invloed van digters soos Breyten Breytenbach, Ingrid Jonker en Antjie Krog (wat in dieselfde jaar as Joubert met Dogter van Jefta gedebuteer het) is veral opvallend in Joubert se vroeëre bundels. In “Moenie wag op ’n middag” (23) gebruik die digter-spreker die beeld van wit granate: “Moenie wag my hart / op die wit granate van reën / of die oë van diere geteken / soos vriendelike vertes.” In haar liefdesgedig “Geslote hek” (1970:22) verwys Antjie Krog na “wit jasmyne”. Dit is interessant dat die twee digters in dieselfde jaar debuteer en dat beide ’n beeld soos “wit granaat” of “wit jasmyne” in hul onderskeie liefdesverse gebruik. Ingrid Jonker se stem eggo in “Jou kind huil my ma”. In haar tweede bundel, Rook en oker (1963), skryf Jonker veral oor die verhouding tussen ’n moeder en kind. In “Swanger vrou” (1963:4) word die beeld van die embrio verken. Jonker verwys na “my nageslag [wat] lê in water” terwyl Joubert in die slotstrofe van haar gedig aanvoer: “Jy is mooi my ma / en leef my lyf en loop my voete / my ma o my maat ek is ’n embrio / en ek lê / ek lê klein / gekrul in die sagte water / van jou dae” (20).

Human & Rousseau
Haar tweede bundel, Domus (1973), bevat veral verse waarin daar na ’n huislike milieu gesmag word. “Vir jou soos my naam” asook verskeie ander gedigte het verwysings na huise of beelde soos vensters wat met ’n huis geassosieer word:
[...]
my geute gaan oop
om die reën van jou woorde op te vang
my ruite kyk verby die spieëls wat jy lig
na ’n ruim van planeetgesprek
wat my bloed met gode verbind.
Die foto wat op die voorplat van Atrium verskyn, is in dié geval funksioneel ten opsigte van die huislike ruimte waarin die digter-spreker afgeneem is. Die verwysing na “spieëls” in “Vir jou soos my naam” is opvallend, aangesien Joubert se agste digbundel bladspieël (2015) heet. Jeugherinneringe aan die Waterberge waar Joubert grootgeword het, word op beeldryke wyse in “Vensters in die Waterberg” verwoord. Die digter-spreker se gebruik van die venster-as-metafoor is besonder geslaagd: “[M]y dae skuif oop soos geblomde gordyne / en in elke venster hang ’n stuk / van hierdie wêreld” (35).
Joubert se laatwerk is van haar mees geslaagde verse. Haar bundels grondwater, disteltyd en laatnageilande getuig van ’n gevestigde digterstem. In “afsondering” (201) verwoord sy haar ervaring van die COVID-19-pandemie:
in hierdie tyd het ek
my wapens neergelê
alle borswerings afgepluk
want kyk, die bome buig
en ritsel nokturnes in my oor
my hare het lank geword
soos ’n heuningbruin rivier
waarin die dae grys pluime spat
en ek disteldryf, ek dommel
verby alle verlate landskappe
soos al die jare van die wêreld
ek gee oor aan die nivellerende
niks, word een met die aarde
se liggaamlose wond.
Karen de Wet se inleiding tot Atrium beklemtoon die ryk geskakeerde leitmotiewe wat sedert 1970 in elk van Joubert se bundels voorkom. Hierdie gedetailleerde uiteensetting stel die leser in staat om oorkoepelende temas en tendense tot met die verskyning van laatnageilande in 2023 raak te lees. Die speurende leser sal veral deur middel van stiplees genot put daaruit om die onderskeie raakpunte met mekaar te verbind.

Afrikaanse Pers-Boekhandel
- Atrium en laatwerk
In hul artikel “Late style(s): the ageism of the singular” beskryf Hutcheon en Hutcheon (2012:3–4) die begrip laatwerk soos volg: “But with age comes late style, which one does not grow out of but rather dies into.” Hierdie opmerking is veral op Atrium van toepassing, aangesien die bundel gepubliseer is om Joubert se 80ste verjaardag te vier. Haar digterskap word dus op ’n gevorderde ouderdom saamgevat en tematies verken. Haar laatwerk is egter nie tot ’n enkele bundel beperk nie. Gedigte oor die ouderdom en verganklikheid vorm ’n belangrike tema in veral bladspieël (2015), grondwater (2019), disteltyd (2021) en laatnageilande (2023). Hierdie bundels sal veral gepas wees vir ’n gerontologiese ondersoek na Joubert se digterlike oeuvre. In dié opsig is die voorheen ongepubliseerde gedigte (met die uitsondering van “Tristesse” en “inruiming”) wat in Atrium opgeneem is, veelseggend. In “Verjaardag” (234) skryf die digter-spreker:
ek is ingeleef
op dié verjaardagdatum
die sewentiende dra die metronoom
van ’n waterbergmaan in die ruim
die maand desember is ’n armband
met goue maroelas om my pols
dan is daar die geboortejaar
van negentien vyf-en-veertig
toe dit gestroop roep na ’n nuwe
wêreld sonder dood en oorlog
sonder die verwoesting van stede –
o dit was die jaar van beliggaming
waar sterrestelsels die honger
weer boomskraap kon voed
die rantsoenering uit as en puin
sodat wasdom ’n kroon kon span
van rivier, boom en bergjuweel
om sinvol ’n oorgawe te verdra
aan my verjaardag
se datum is ek verslaaf
en ten spyte van die naderende
uitdoof van klank, nuwe oorloë
en borende erosie in asem
is ek steeds gaande oor
die sewentiende dag
in elke desember.
Die digter-spreker se verjaardagdatum asook geboortejaar word in hierdie gedig beklemtoon. Die fokus val dus op die verouderingsproses wat met die verloop van tyd gepaard gaan. In dié opsig verwys die digter-spreker na “[...] die naderende / uitdoof van klank, nuwe oorloë / en borende erosie in [haar] asem” (234). Sy is dus bewus van naderende dood wat met oudword geassosieer word. Die metronoom dui metafories op die verloop van tyd en die ritmes oftewel lewensfases waaraan tyd gekoppel word. Die motief van oorloë – wat ’n universele verskynsel is – word effektief gebruik. Die digter-spreker is gebore in die jaar waartydens die Tweede Wêreldoorlog tot ’n einde gekom het. Intussen was daar vele ander oorloë op verskeie kontinente en sal daar in die toekoms weer oorloë plaasvind. Oorloë word immers met die dood geassosieer.

Protea Boekhuis
In “Gaan”, wat aan wyle Breyten Breytenbach opgedra is, merk die digter-spreker op: “[O]ns gaan / is net ’n flitsberig / geskrifte heuwel uit die verwelkte blom” (241). Die beeld van die “verwelkte blom” is veral veelseggend en dui op veroudering en die naderende dood. In “Bury St Edmunds, Engeland” (244) maak die digter-spreker gebruik van seisoene as metafoor vir die naderende dood as gevolg van veroudering:
ek sien dit in hul skrefiesoë
ouvroue en -mans op parkbankies
digby die abbey, keie en kafees: verlies
soos ’n wasem van sneeu, ingevries
as fossiele wagtende, wagtende –
ek sien dit in hul hande, soos my eie
rimpelweek en oorgegee aan herfs
die ooptes, die netwerk van einders
die veld se roes, vir ’n wyle ingegroef
in my geheue en opnuut weggevee.
Die digter-spreker herken haarself in die beeld van die “ouvroue en -mans op parkbankies” en “in hul hande, soos my eie / rimpelweek en oorgegee aan herfs” wat verganklikheid in die gesig staar. Die geslaagde beeld van die vergane geheue sluit die gedig op ’n treffende noot af.

Protea Boekhuis
De Wet se keuse van gedigte slaag daarin om Joubert se laatwerk in ’n neutedop saam te vat en sodoende vir die leser ’n blik op hierdie tema in Joubert se oeuvre te werp. In “versoek” (224–5) verwys die digter-spreker op humoristiese wyse na die hiernamaals:
vergeet tog nie my farah-horlosie
die kristalblou verloofring, my beursie
met ’n kredietkaart in, want wie weet
ek mag dalk ’n boete betaal of miskien
is ek lus vir ’n opdraairoomys voordat
verspreide warm tonge my omring.
Selfs met ’n ernstige (of morbiede) tema soos die dood slaag Joubert daarin om die estetika van die geskrewe woord op kreatiewe wyse in ’n vers te ontgin. Joubert se veelsydigheid verkry gestalte deur haar lewenservaringe en wederswerwinge. Atrium kan as ’n klein ark beskou word wat gevul is met allerlei kleinode waarin haar verse bewaar word.

Protea Boekhuis
- Slot
’n Afrikaanse digter of skrywer skryf selde om finansiële gewin. Die liefde vir die skep van woordkuns is immers vervat in die literêre tekste wat gepubliseer word. ’n Huldiging- of versamelbundel is ’n gepaste erkenning vir ’n woordsmid se lewenswerk. In hierdie opsig is Atrium ’n welkome toevoeging tot Marlise Joubert se poëtiese oeuvre. Met ’n publikasie van dié aard word Joubert se soms vergete werk wat oor ’n tydperk van meer as vyf dekades strek, herontdek. Hopelik sal ’n nuwe generasie lesers die bundel lees en geprikkel word om hulself in Joubert se verse te verdiep.
Die bundel is keurig uitgegee. Op die voorplat verskyn ’n foto van Joubert wat in 1970 deur Kobus Louw geneem is. Die spel met lig skep ’n reliëf wat prominensie aan die digter verleen. Die foto bevat ook leitmotiewe uit Joubert se digkuns. Die sentrale plasing van die vrou is immers een van die kerntemas wat in Joubert se oeuvre figureer. Daarnaas staan ook die fokus op huise (hetsy letterlik of as metafoor) wat deur die vensters van woonstelle in die agtergrond uitgebeeld word. Verganklikheid kom aan bod met ’n jonger digter wat in die onsienbare staar – ’n metaforiese onsekerheid in die donkerte verskuil. In hierdie opsig is Joubert se laatwerk wat in haar laaste drie bundels, grondwater (2019), disteltyd (2021) en laatnageilande (2023), prominent figureer, ter sake.
Atrium is ’n pragtige versamelbundel wat Joubert se digterlike oeuvre in sy geheel beliggaam. Karen de Wet se uitstekende inleiding tot die bundel, getiteld “Die bladspieël van bestaan”, bied ’n klinkklare blik op Joubert se digterlike oeuvre. Die inleiding bied aan die leser ’n diep besinnende uiteensetting van Joubert as digter asook van die temas waaroor sy graag dig. De Wet slaag daarin om ’n uitgebreide oeuvre wat oor meer as vyf dekades strek, chronologies uiteen te sit. Die inleiding is toeganklik geskryf. De Wet se uiteensetting van die bundeltitel is van belang. In dié opsig skryf sy (10):
Die betekenisveld van die woord atrium, Joubert se keuse vir die titel van hierdie versameling, vibreer in verbande met haar oeuvre. Die atria is die boonste twee hartkamers, die voorhartkamers, wat aan die een kant gebruikte (geleefde) bloed ontvang en uitpomp om weggestuur te word vir (suurstof)verryking; en aan die ander kant die lewegewende bloed ontvang en aangee om vir goeie gebruik uitgestuur te word. Dit nooi die leser uit om ’n metaforiese verband te sien met die digproses: Die werkinge van die proses van poësie skep, funksioneer soos die ritmies pompende hart. Die analogie is dan dat waarnemings en gebeure, emosies, die lewe in die voorhartkamers ontvang word, en ná ’n proses van suiwering en verryking word dit – omskep tot poësie – weer uitgestuur.
Die gekose gedigte versinnebeeld as sulks Marlise Joubert se digkuns hetsy oorsigtelik of tematies. Nuwe sowel as ouer lesers van Joubert se poësie sal opnuut waardering vir haar poësie koester. Die bundel kan inderdaad as ’n “leefboek” (246) – die titel van die laaste gedig – beskou word. In die laaste drie strofes van die gedig merk die digter-spreker op:
soggens en saans skryf ek in my boek
al ritsel die bladsye steeds met die vleuels
van ’n uitgedoofde voël wat nooit ’n enkele
lied in enige nes sal publiseer nie
want die boek wat ek skryf
is net ’n ontruiming vir asemhaling
verskans in ’n woord
en ek die laaste leser.
Dié “Artium” is die lewegewende hartklop en pols van Joubert se poëtiese oeuvre. Met hierdie treffende versamelbundel word ’n digter se lewe en oeuvre gevier. Terselfdertyd word haar lewenswerk gebundel om vir die volgende seisoen se Afrikaanssprekende lesers die digwerk van Marlise Joubert te verewig.
Bibliografie
Brink, AP (samest). 2000. Groot verseboek: Kaapstad: Tafelberg.
—. 2008. Groot verseboek Deel 2. Kaapstad: Tafelberg.
Cochrane, N en A Roux (reds en samests). 2025. Merang. Gansbaai: Naledi.
De Lange, J en A Krog (samests). 1998. Die dye trek die dye aan. Kaapstad: Human & Rousseau en Tafelberg.
De Wet, K (samest). 2020. Vers en vrou – 258 gedigte. Kaapstad: Human & Rousseau.
—. 2025. Atrium – Gedigte 1970–2025. Pretoria: Protea Boekhuis.
Hambidge, J en M Taljard (reds). 2025. Nogmaals vir die bysiende leser – Gedigte ter ere van Wilma Stockenström. Gansbaai: Naledi.
Human & Rousseau (samest). 1974. Verse vir Opperman. Kaapstad en Pretoria: Human & Rousseau.
Hutcheon, L en M Hutcheon. 2012. “Late style(s): the ageism of the singular”. Occasion: Interdisciplinary Studies in the Humanities, 4:1–11. http://occasion.stanford.edu/node/93.
Jonker, I. 1963. Rook en oker. Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel.
Joubert, M. 1969. “Jou kind huil my ma”, “As jy praat en jy loop”, “Ek wag” en “My oë”. Kol, 1(5):1–4.
—. 1970. ’n Boot in die woestyn. Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel.
—. 1973. Domus. Kaapstad en Johannesburg: Tafelberg.
—. 1976. so ver en verder. Johannesburg: Perskor.
—. 1986. ontruiming. Pretoria, Durban, Kaapstad, King William’s Town, Pietersburg, Bloemfontein: HAUM-Literêr.
—. 2001. Lyfsange. Pretoria: Protea Boekhuis.
—. 2007. passies en passasies. Pretoria: Protea Boekhuis.
—. 2011. splintervlerk. Pretoria: Protea Boekhuis.
—. 2015. bladspieël. Kaapstad: Human & Rousseau.
—. 2019. grondwater. Pretoria: Protea Boekhuis.
—. 2021. disteltyd. Pretoria: Protea Boekhuis.
—. 2023. laatnageilande. Gansbaai: Naledi.
Komrij, G. 1999. De Afrikaanse poëzie in 1 000 en enige gedichten. Amsterdam: Uitgeverij Bert Bakker.
Krog, A. 1970. Dogter van Jefta. Kaapstad en Pretoria: Human & Rousseau.
Olivier, F (samest). 2006 [1986]. Die heel mooiste Afrikaanse liefdesgedigte. Kaapstad: Human & Rousseau.
Opperman, DJ (samest). 1983a [1951]. Junior verseboek. Kaapstad: Tafelberg.
—. 1983b. Groot verseboek. Kaapstad: Tafelberg.
Van Heerden, E. 1981. Kleur van donkerte – Verse 1942–1956. Kaapstad: Human & Rousseau.
Lees ook:


Kommentaar
A very well researched and sensitive description of her work. An absolute pleasure to read. Go well, Marlise.