ATR-Kokertoekennings 2019: ’n oorsig

  • 2
9 11 29 ATR Kokers _1921

Die Koker 2019-toekennings (foto: Izak de Vries)

Nie te ver van DF Malan Hoërskool in Bellville nie, betree ons ’n ander land. Die Swart Vrydag-verkeer bring my motor tot stilstand. Ons word omring deur toetende taxi’s en busse. Rondom ons klere, speserye, vrugte en groente op die sypaadjie. Mense met lang wit gewade buk onder die padstalletjies se tentflappe in om handel te dryf.

“Welkom in Somalië,” sê my kollega.

Ons is op pad na die Kokertoekennings van die Afrikaanse Taalraad (ATR). Die geleentheid is vanjaar in Sanlam se hoofkantoor in Bellville gehou.  Die Somaliese stadswyk verbaas my; dit strook nie met my persepsie van die Noordelike Voorstede nie.

Toe die verkeer weer in beweging kom, is ek en my kollega twee straatblokke verder by die stasiegebou en ’n paar honderd meter verder en om ’n volgende draai, by ons bestemming.

Hier heers ’n gesellige stemming. Direksielede van die ATR, soos Japie Gouws, Michael Jonas en Willa Boezak, eet en drink saam met die gehoor wat vir die toekennings opdaag. So ook personeel en medewerkers van die ATR: Conrad Steenkamp, Ria Olivier, Merlyn van der Rheede en Marekyn Kruger-Evert.

Opvallend dat die gehoor net so uitgelese is soos die mense met hul amptelike posomskrywings by hierdie geleentheid: Christo van der Rheede, Danie van Wyk, Eureka Barnard, Dorothea van Zyl, Wium van Zyl, Steward van Wyk, Heindrich Wyngaard, Catharina Wessels en Izak de Vries. Ek sien lede van FEDSAS, SASNEV, die Taalmuseum, SAOU, die ATKV, die SA Akademie en PEN Afrikaans. As ’n mens begin om een mens op die naam te noem, is daar altyd die vrees dat ’n mens ’n ander uitlaat. Hoofsaak is: die mense hier teenwoordig is die prominente rolspelers in die Afrikaanse taalgemeenskap.

Die gehoor betree die ouditorium vir die oorhandigingsgeleentheid.

Toe almal daar sit, is ’n enkele doelstelling van die ATR vir my onmiddellik sigbaar: “Die ATR gee erkenning aan die uiteenlopende herkoms en vorms van Afrikaans.”

Soos wat die aand vorder, beleef ek nog ’n sintuiglike ervaring. Ek hoor die inklusiewe bevordering van Afrikaans: “Die ATR bevorder Afrikaans in sy volle diversiteit en gee erkenning aan algemene Afrikaans en al die variëteite van die taal. ’n Nie-hiërargiese en toevoegende benadering is die beste manier om algemene Afrikaans en die variëteite te bevorder.”

René Arendse (foto: Izak de Vries)

Die aand se seremoniemeester is René Arendse. Sy nooi almal om te tweet met die hutsmerk #kokerskook2019. Jou tweet kan dalk vir jou ’n vakansie by ’n ATKV-oord losslaan.

Heindrich Wyngaard (foto: Izak de Vries)

Heindrich Wyngaard lewer ’n toespraak voordat die Kokers oorhandig word. Hy praat oor al die warm sake in die nuus: oor geweld teen vroue en kinders, en ’n jong onderwyseres wat met haar lewe geboet het. Hy verwys na taalverdraagsaamheid en die insident van Jonathan Jansen in Protea-boekwinkel in Stellenbosch. Hy praat oor die onlangse hofsaak tussen die US en Gelyke Kanse in die Konstitusionele Hof. Almal in hierdie saal praat ’n betrokke taal; ons almal se taak is om betrokke landsburgers te wees. Te ondersoek wat besig is om rondom ons aangaan. Te dink hoe ons daarop reageer.

Lees sy Netwerk24-berig hier.

Shamiega Chaudhari van die Universiteit van Fort Hare (foto: Izak de Vries)

Die Kokertoekenning vir Bemagtiging deur Afrikaans gaan aan Shamiega Chaudhari van die Universiteit van Fort Hare vir haar besondere bydrae tot Afrikaans in die akademie en vir haar navorsing oor die geskiedenis van die taal. Shamiega se innemende persoonlikheid op die verhoog is hartverwarmend. Sy bedank haar Skepper toe sy die toekenning ontvang en stuur groete aan haar bulletjies by die huis.

Lees haar onderhoud met Menán van Heerden:

Agentskap van die slavin: ’n onderhoud met Shamiega Chaudhari

Ingrid Glorie (foto: Naomi Bruwer)

Die Koker-jeugtoekenning vir die Bevordering van Afrikaans gaan aan Ingrid Glorie. Ingrid se toekenning word deur Wium van Zyl in ontvangs geneem omdat sy tydens die oorhandigingsfunksie in die buiteland is. Haar bydrae tot die bevordering van Afrikaans is wel enorm en haar betrokkenheid by Voertaal, die Week van de Afrikaanse Roman, en jare lank se brûe bou met die Afrikaanse taalgemeenskap in al sy diversiteit, word beklemtoon.

Lees sommige van Ingrid Glorie se bydraes en ook onderhoude wat met haar gevoer is, hier onder:

Uit die argief: Literatuur is voor verliefden

Ingrid Glorie wen Vertaalengel 2018

Onderhoud met Ingrid Glorie: Deelnemers van Week van de Afrikaanse roman 2017 bekend

Frank Hendricks (foto: Izak de Vries)

En die Kokertoekening vir die Beskerming van Afrikaans gaan aan Frank Hendricks vir sy taalaktivisme en sy besondere werk om spreektaalvariëteite prakties te bevorder. 

Anzil Kulsen en William Sezoe (foto: Izak de Vries)

William Sezoe ontvang ’n Koker-jeugtoekenning. William is bedrywig op radio, by sy skoolkoerant en as spreker. 

Sinke Mlambo en Renaldo Schwarp (foto: Izak de Vries)

Renaldo Schwarp ontvang ook ’n Koker-jeugtoekenning vir die Beskerming van Afrikaans in die media.

Jolene Pretorius en Lara Erasmus (foto: Izak de Vries)

Lara Erasmus en Jolene Potgieter ontvang die Koker-jeugtoekenning vir die Bemagtiging van Afrikaanssprekendes. Hul projek, Reis Afrikaans, bemagtig jongmense wat in die buiteland wil gaan woon en veral werk. Besoek gerus hul webtuiste www.reisafrikaans.com en vat vlerk. 

Coert Wiechers (foto: Izak de Vries)

Coert Wiechers ontvang oplaas die Kokertoekenning vir Lewenslange bydrae tot Afrikaans namens sy pa, Marinus Wiechers. Prof. Wiechers was ’n regsgeleerde wat jare lank voortreflik tot die bevordering en beskerming van sy moedertaal bygedra het.

Lees ook:

Marinus Wiechers: woorde van ’n kollega en vriend

Tydens die bedankings vra Ria Olivier of iemand al vir die gehoor van die kokerboom vertel het. Ek luister na haar beskrywing van die boom: ’n lewende plant wat sy takke sprei sodat daar skadu vir almal is, sy wortels in Afrika. Ek kyk na die mense in die saal rondom my.

Toe ons die saal verlaat, groet ek vir Earl Basson wat ’n paar sitplekke van ons af sit, en dink aan sy onlangse onderhoud op LitNet deur Cliffordene Norton.

Mag ’n mens sensitief wees vir persepsies en idees van hoe Afrikaans is, aan wie die taal behoort, die grein en wese van die taal. En mag die taal groei en sy takke nog verder sprei.

Ek ry terug en oordink die aand. Tuis Google ek: waarom al die Somali’s in Bellville? Waar hulle voorheen gebly het, was daar, volgens die berig xenofobiese aanvalle. Sommiges het gevrees vir hul lewens. Die plek waar hulle nou is, bied volgens hierdie berig, ’n veiliger toevlugsoord.

Hoe jammer dat die land se mense andere soms so bang kan maak, so kan verjaag.

Vanaand kon ek iets anders sien: dat Afrikaans ’n heenkome kan wees; ’n tuiste vir al sy sprekers in die skadu bied. Veilig soos ’n kokerboom.

Die Kokerwenners van 2019 (van links na regs): Shamiega Chaundhari, Frank Hendricks, Coert Wiechers, Renaldo Schwarp, Jolene Pretorius, Lara Erasmus en William Sezoe (foto: Menán van Heerden)

Agtergrond van die Afrikaanse Taalraad: ʼn Historiese oomblik vir Afrikaans het op 24 Mei 2008 waar geword met die stigting van die Afrikaanse Taalraad op Wellington. Ná ʼn lang proses wat op 13 September 2003 begin het, het die breë Afrikaanse taalgemeenskap die voorgestelde Grondwet eenparig aanvaar. Die byeenkoms is deur meer as 40 organisasies bygewoon – die grotes, die kleineres, van die noorde tot die suide. Die organisasies is verteenwoordig deur ongeveer 100 beraadgangers wat meer as 500 000 mense verteenwoordig.

Bronne: Twitter, Afrikaanse Taalraad-webtuiste

  • 2

Kommentaar

  • Mizi Kellerman

    Wat 'n pragtige meelewende artikel. Daar is geen taal soos Arikaans met sy pragtige idiomatiese uitdrukkings en humorsin nie. As ek Afrikaans dink, dink ek "O moedertaal o soetste taal jou het ek lief bo alles. Van al die tale wat ek hoor, niks wat my siel ooit so bekoor...". Viva Afrikaans my taal

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top