Agentskap van die slavin: ’n onderhoud met Shamiega Chaudhari

  • 0

Hierdie onderhoud is gebaseer op die LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)-artikel “Stilte en agentskap in die slaweroman Philida van André P. Brink” deur Shamiega Chaudhari. Menán van Heerden het met haar gesels oor koloniale onderdrukking en die verteenwoordiging daarvan in fiktiewe tekste, asook oor kwessies rondom Suid-Afrika se slawegeskiedenis.

In jou artikel noem jy dat jou navorsing gekoppel word aan jou soeke na identiteit:

My oorsprong is, soos dit die geval met vele slawe-afstammelinge is, met duisterheid omhul. Hoewel my voorouers waarskynlik slawe was, ken ek nie hul name nie, weet ek nie wanneer hulle voet aan wal gesit het nie, en is hul stryd iets waartoe ek eers onlangs via argivale bronne toegang kon verkry. Bo die afgryslike werklikheid van slawerny lê ’n woordelose verlange en ’n vasberade soektog na ’n verstrooide identiteit.

Baie Afrikaner-families se voorvaders en -moeders is aan hulle bekend. Familieregisters is soms baie deeglik nagevors. Wat, prakties gesproke, is die moontlikhede van die optekening van slawe-afstammelinge se familiegeskiedenisse? Hoe kan optekening benader word? Waar is inligting beskikbaar? Gaan die stilte nie te groot wees nie?

Menán, dit is ’n vraag waarmee vele slawe-afstammelinge worstel. Dit blyk ’n moeilike taak te wees, aangesien daar feitlik geen kontak met die lande van oorsprong behou is nie en die oorgrote meerderheid slawe nie kon lees of skryf nie. Daar is wel gevalle waar slawe-afstammelinge hul familiegeskiedenisse kon navors. Een so ’n geval is dié van Ebrahim Manuel, ’n doodgewone visserman wat in Simonstad grootgeword het. Volgens Manuel het hulle ’n boekie in hul familie gehad wat van generasie na generasie oorhandig is. Dit was in ’n vreemde taal geskryf. Hy sê hy het altyd gewonder wat in die boekie staan. Toe die Indonesiese president ’n besoek aan die Kaap afgelê het, het hy met hulle kontak gemaak. Daar is vir hom gesê dat die vreemde taal “Sumbawanees” is. As ek reg onthou het hy toe besoek in Indonesië gaan aflê en toe hy die boekie vir die mense wys, het hulle onmiddellik gesê dat hulle weet wie hy is en na wie hy soek. Dit blyk dat hy ’n afstammeling van een van twee prinse is van wie die een gevang en as slaaf na die Kaapkolonie gebring is. Hy is deur sy familie ontvang en in sy edele klere uitgetof. (Hy het foto’s hiervan.)

Mogamat Kamedien maak die voorstel dat navorsers wat slawefamilie-stamboomnavorsing wil onderneem, “hulself moet verlaat op die geloofwaardigheid en wetenskaplike geldigheid van die mondelinge geskiedenis van bruin gesinne en die kollektiewe geheue van gekleurde gemeenskappe as alternatiewe bron”. Nie alle slawe-afstammelinge is so gelukkig om opgetekende geskiedenis te hê of self deur orale oordrag hul geskiedenisse te kan navors nie. Vir ons ander bly dit maar ’n raaisel. ’n Ander opsie sal dalk DNS-toetse wees. Sodoende kan jy jou genealogie vasstel.

JA Heese het in sy boek Die herkoms van die Afrikaner, 1657–1867 (1971, Kaapstad: AA Balkema) beweer dat “7% van die Afrikaner-genetiese erfenis […] nie van Europese afkoms [is] nie.

Daar is soms skeptisisme oor Afrikaners wat skielik daardie 7% inheemse en slawebloed asook die bestaan van byvoorbeeld ’n slawevoormoeder opper, weens politieke korrektheid of ’n soeke na legitimiteit. 

Het jy kommentaar hierop?

Ek glo, soos Edward Said en Homi Bhaba sê, dat die mensdom hibried is.

Heindrich Wyngaard voer aan dat die fliek Krotoa “‘die hoorbare stilte’ oor die koloniale vergrype teen die inheemse mense […] verbreek”.
 
In die geval van Philida is die koloniale vergrype met betrekking tot ’n slavin ter sprake. 

Hoe kan gesprekke rondom koloniale onderdrukking (daarmee saam, patriargale onderdrukking van slavinne), nog verder gevoer word, in die akademie en/of die literatuur?

Ek voel dat dit belangrik is dat gesprekke hieroor gevoer moet word. Die onderdrukte stem moet oopgevlek en hoorbaar gemaak word. Hoewel in die geval van Philida (en dit geld seker ook vir alle slawe) daar nie vir die slavinne gepraat kan word nie en hulle stories slegs agterhaal kan word, is dit tog belangrik dat ’n beeld van hierdie onderdrukking geskep en die stiltes verbreek word. Ek dink dat dit veral in die geval van slawe-afstammelinge belangrik is dat hulle ’n beeld/idee het van die onderdrukking wat hul slawevoorouers moes deurmaak en dat hulle nie skaam oor hul herkoms hoef te voel, soos Wicomb in een van haar artikels noem nie.

Op akademiese vlak voel ek dat daar veel meer gedoen kan word soos, byvoorbeeld simposia, kongresse en gemeenskapsbewustheidsprogramme. Ook kan navorsing op hierdie gebied meer aangemoedig word.

In jou artikel word aangevoer dat Philida gebaseer is op “die historiese materiaal oor die werklike slavin Philida, wat in die museum op Solms Delta beskikbaar is”. 

Jy bespreek ook die kwessie van verteenwoordiging van “die stem van die Ander / die subalternsubjek”. 

Volgens jou het ’n “postkoloniale skrywer” soos Brink tog besef dat “die skrywer nooit kan weet nie, slegs op metahistoriese wyse kan agterhaal en vertel”. 

Hoe word die ambivalensie van verteenwoordiging deur ’n wit skrywer en die direkte aanspreek van koloniale vergrype in fiktiewe tekste vereenselwig?

Hier sal ek jou terugverwys na Jessica Murray se artikel “Dit kom daarop neer dat ek nie vergete was nie.” In hierdie artikel sê Murray dat die tradisionele grens tussen geskiedenis en letterkunde oorbrug moet word om “’n meer omvattende blik op die veronderstelde belewenis van slawevroue in Suid-Afrika” te verkry. Aangesien die geskiedenis iets is wat slegs herroep kan word, voel ek dat Brink die “guts” gehad het om Philida se storie te vertel. Was dit nie vir hom nie, sou haar storie miskien nog steeds net in die Solms Delta-museum (geen slegte bedoelings hierby nie) beskikbaar wees waar slegs diegene wat die museum kom besoek, van haar stryd bewusgemaak word. Met die roman word Philida se stem hoorbaar gemaak en raak vele lesers van haar stryd bewus. Die feit dat Brink ’n wit skrywer is, is ’n bysaak aangesien hy sy karakter eers goed in die argief nagevors het. Soos enige ander skrywer beroep hy hom op sy verbeelding om die gapings te probeer invul.

Pumla Gqola sê ook “Writing about enslaved women in South Africa’s past requires entering a site fraught with contradictions.” Die rede vir hierdie teenstellings kan gevind word in ’n tekort aan veral bronmateriaal en narratiewe van die slavin. Ek stem met haar saam wanneer sy sê dat ’n studie waarin dit ten doel gestel word om slavinne meer sigbaar te maak, aandag moet skenk aan “what is known, knowable, suggested about these lives: the influences, movements, echoes, ways through which they made meaning and were made meaning of, and other ways in which they shaped South Africa”. Die ontbloting van sulke en ander inligting vereis volgens haar die afwyking en aanvulling van standaard navorsingsmetodes oor historiese eras om nuanses wat van die hegemoniese vertoë ontbreek, te ontbloot.

“Slawerny, ’n praktyk wat wêreldwyd bekend is vir die algehele onmenslikheid daarvan, is as ’n geraamte in die kas van die Suid-Afrikaanse geskiedenis beskou,” sê jy in jou artikel. 

Is jou algemene gevoel dat baie mense identiteitskrissise beleef oor hul versweë herkoms? 

Natuurlik. Dis belangrik om te weet waar ’n mens vandaan kom. Hoewel dit prakties onmoontlik vir vele slawe-afstammelinge is om hul herkoms na te vors, bly daar nog steeds die hunkering om te weet wie jy werklik is.

Wat is die gevolge van ’n onbekendheid met waar mens vandaan kom, veral in die konteks van Suid-Afrika se koloniale geskiedenis?

Die rimpeleffek van kolonialisme en later die apartheidsbestel het baie skade aan slawe-afstammelinge verrig. In die woorde van Frantz Fanon: “Colonisation is not satisfied merely with holding a people in its grip and emptying the native’s brain of all form and content. By a kind of perverted logic, it turns to the past of oppressed people, and distorts, disfigures and destroys it” (The wretched of the earth, 1963:210).

Die gevolg is ’n verlies aan jou oorspronklike familienaam, kultuur, taal, land van herkoms – maw jou werklike identiteit. In die konteks van die Suid-Afrikaanse koloniale geskiedenis is die slawe-afstammeling tot so ’n mate van sy werklike identiteit ontwortel en met Westerse idees gebreinspoel dat menige afstammeling hierdie “nuwe” identiteit aanneem en slegs kan wonder oor hul voorgeslagte en hul werklike herkoms en identiteit. Die kwessie oor identiteitloosheid loop diep, en dit Menán, maak die seerste.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top