Marinus Wiechers: woorde van ’n kollega en vriend

  • 7

Marinus Wiechers was ’n besonderse mens, ’n Renaissance-mens: akademiese regsgeleerde, kunstenaar, musiekliefhebber, kollega, vriend, vader, iemand wat ons nie sal vergeet nie.

Hy was een van sewe seuns, ’n Pretorianer gebore en getoë: Afrikaans Hoër Seunskool en Tukkies se Regsfakulteit. Ek het hom leer ken toe ons albei jong regsdosente was: hy in Pretoria aan Unisa en ek in Stellenbosch. Maar daar was ook ’n jare lange persoonlike band wat teruggegaan het tot die 1920’s toe sy skoonpa, die beeldhouer Coert Steynberg, en my eie pa, AH du P (Preetjie) van Wyk, koshuiskamermaats by Hoogenhout Hoër in Bethal op die Hoëveld was.

As akademikus in Unisa se Regsfakulteit sal Marinus veral onthou word vir sy baanbrekerswerk op die gebied van die administratiefreg. Reeds sy doktorale proefskrif van 1965 by die Universiteit van Pretoria oor “Die sistematiek van die administratiefreg” het nuwe weë ingeslaan. Vir ’n ongeordende en kasuïstiese vakgebied, gebaseer op Engelse regspraak, het hy met behulp van die goed-ontwikkelde Duitse en Franse reg ’n regsraamwerk geskep wat ook buite ons grense erken word. Dit is ’n raamwerk wat veral in sy magnum opus van 1973 (Administratiefreg by Butterworth; in 1985 ook in Engels gepubliseer) beslag gekry het. Dit gaan om ’n vakgebied wat sentraal tot ons regstaat is, sedert 1994 elke dag in belang toeneem, en die lewens van miljoene mense raak, ook al weet hulle dit nie. Dit behels Afrikaanse terminologie wat sal oorleef en ook in die toekoms die basis van besluitneming en gesprek sal vorm, selfs in ons huidige Engels-oorheerste regsomgewing.

Marinus se ander akademiese fokus was die staatsreg. Sy omvangrykste publikasie hieroor was die 3de uitgawe in 1981 van Johan Verloren van Themaat se standaardwerk van 1956 (Staatsreg). Vele artikels oor die onderwerp, soms akademies, soms meer populêr van aard, het oor die jare uit sy pen verskyn. Hy het sy taak as voorligter van en voordenker vir Suid-Afrika se mense ernstig opgeneem.

Marinus Wiechers het ook die unieke kans gehad om as staatsregkenner by die skep van nuwe staatsreg betrokke te raak, iets wat nie vele geleerdes beskore is nie. In die 1980’s en 1990’s het die langverwagte omwenteling in die samelewing- en staatstrukture van Suidelike Afrika plaasgevind, gelukkig grotendeels op vreedsame wyse. In 1975 het die bal in Suidwes-Afrika met die Turnhalleberaad in Windhoek begin rol. In laat 1989, vroeë 1990 het die Grondwetgewende Vergadering onder die toesig van die Verenigde Nasies ’n grondwet vir Namibië opgestel; een van die drie kundige regsadviseurs was Marinus Wiechers. Ook by Suid-Afrika se Kodesa-proses van Oktober 1991 tot vroeg 1993 was Marinus intensief betrokke, maar effens meer agter die skerms.

Ook by Unisa het die winde van verandering begin waai. As deel van die oorgangsproses is Marinus Wiechers in 1994 as rektor van die instelling aangewys, ’n moeilike posisie wat hy tot 1997 beklee het. Hy was nie ’n natuurlike administrateur nie en dit was stormagtige tye by ons land se oudste universitêre instelling. Toe hy die leisels in 1997 aan oud-Matie Tony Melck oorhandig het, was hy geestelik en ook liggaamlik uitgeput.

Gelukkig het die erkenning nie uitgebly nie. In 1998 verskyn daar byvoorbeeld by Butterworths ’n bundel ter ere van hom met die gepaste titel Suprema lex: Essays in honour of Marinus Wiechers. Hy het ook nog betrokke gebly by regskwessies, soos die arbitrasie oor die Richtersveld onder leiding van regter Antonie Geldenhuys in 2005.

Na sy uittrede by Unisa kon sy vele ander belangstellings werklik aandag begin kry. Ook sy persoonlike lewe het verander. Hy het begin musieklesse neem. Sy tekentalent is nie net meer aangewend om humoristiese sketse in regsboeke te maak nie, maar het as werklike skilderkuns begin uiting vind.

Hy het ook al hoe prominenter geword as ’n Afrikaanse “openbare intellektuele” in ’n tyd toe ons Afrikaanssprekende mense se stemme in die openbare debat baie stil geraak het. Ten dele is dit omdat daar soveel geraas in die huidige openbare ruimte is, maar ook omdat segmente van die diverse Suid-Afrikaanse bevolking hulle gemarginaliseer voel en daarom verkies om hulle ietwat skuil te hou. Die ironie is dat Marinus juis ’n groot rol gespeel het om ’n raamwerk te skep waarbinne al hierdie groepe se stemme luid en duidelik gehoor kan word. Sy eie stem het van toenemende kommer getuig, veral oor die ondergrawing van taal- en kultuurregte: terwyl die oorgangsgrondwet van 1993 gevestigde taalregte uitdruklik verskans het, het dié beskerming stil-stil uit die finale teks van 1996 verdwyn. Die magte van universiteite en skole om hulle eie taalbeleide te bepaal is onduidelik, en van waarborge vir die behoorlike finansiering van instansies soos die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad is daar ook nie sprake nie. Dieselfde geld vir die openbare beskermer, nog ’n sogenaamde Hoofstuk 9-instelling. Maar oor Marinus se entoesiasme vir en toewyding aan Suid-Afrika en al sy mense kon niemand twyfel nie.

In die voorstel vir die toekenning van die Jan H Marais-prys aan Marinus in 2018 is juis daardie aspek van sy akademiese werk oor vele jare beklemtoon: “Sy geloofwaardige en grondige voorspraak deur die jare vir ’n legitieme demokratiese staatsbestel bied ’n groot deel van die verklaring waarom Marinus Wiechers en sy werk wye erkenning bly geniet.”

Die toekenning van hierdie prys aan ’n brose Marinus op 25 April vanjaar was ’n gepaste laaste huldeblyk aan hom. Die Marais-prys vir ’n buitengewone bydrae tot Afrikaans as akademiese taal is drie jaar gelede op 30 Mei 2015 bekendgestel in Jan Marais se historiese woning op Coetzenburg langs die Eersterivier in Stellenbosch. Die geleentheid was die honderdjarige herdenking van die sterfdag van ’n merkwaardige man wat ’n passie vir sy taal en die sprekers daarvan gehad het. Gebore as die jongste seun van ’n eenvoudige boerefamilie het hy en sy broers deur sweet en toewyding op die Kimberleyse diamantvelde hulle fortuin gemaak in mededinging met formidabele kapitaliste soos Rhodes en Barnato. Terug in Stellenbosch het hy sy geld en talente aangewend om die belange van sy mense op vele terreine te bevorder in die moeilike tye na die Anglo-Boereoorlog en tydens die Rebellie. Marais se monumente is nog orals te sien: Si monumentum requiris, circumspice ...: Nasionale Pers, Sanlam, die Universiteit Stellenbosch, en Het Jan Marais Nationale Fonds wat saam met Naspers en die US die prys borg.

Marinus Wiechers se bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal op die gebied van veral die administratiefreg is van kernbelang en sal dit bly. Om weer eens die voorstellers aan te haal: “Marinus Wiechers se aansien strek verder as Afrikaans; maar Afrikaans het Marinus Wiechers sy aansien gegee.”

Marinus se geaardheid en optrede het vir hom as mens sy aansien gegee: ’n sagte, vriendelike gravitas en altyd belangstellend in ander mense, maar ruim van siening en vol passie vir geregtigheid in sy land.

“Stil, broers, daar gaan ’n man verby.” (Jan FE Celliers)

  • 7

Kommentaar

  • Chris Marnewick SC

    Ek onthou Prof Wiechers met eerbied en bewondering. Sy Administratiefreg was op elke Afrikaanssprekende advokaat se boekrak. Ek onthou ook dat hy by geleentheid in 1972, toe hy my en ander Unisa-regstudente in Durban van akademiese raad kom bedien het, toe reeds voorspel het dat administratiefreg die regsgebied was wat in die volgende dekades die vinnigste en die verste sou ontwikkel. En hy was reg, soos onder andere die talle kommissies van ondersoek na staatsoptredes juis nou boekstaaf.

    Een van die Romeins-Hollandsereg se groot geeste.

  • Baie dankie vir hierdie huldeblyk. Ek was vir ses jaar sy kollega tot 1980 en het altyd sy toeganklikheid en nederigheid onthou.

  • Johann van der Merwe

    'n Besondere huldeblyk van een groot Suid-Afrikaanse èn Afrikaanse regsgeleerde - Andreas van Wyk - aan 'n ander, Marinus Wiechers.

  • Hetta Pieterse

    Soveel mense het ook vir Marinus leer ken as iemand wat spontaan hulp aangebied het - so was dit ook met my. Ek onthou nou dat ek nie gevra het nie - hy het eenvoudig aangebied en my vlot uit 'n taai situasie gered met basiese raad en 'n verwysing na 'n ander kundige. Behalwe daarvoor, het hy so ook gemaklik heelwat ander mense gehelp. Sulke ruimhartige deel van sy kennis het gemaak dat baie mense hom nog lank sal onthou. Ek is bly dat hy erkenning kon kry vir sy unieke merk op die Suid-Afrikaanse landskap wat betref Afrikaanse skryfwerk. Die verbeeldingrykheid waarmee hy aan sy eie skryfwerk gewerk het, behoort hopelik ook nog die lig te sien.

  • Andre de Villiers (professor emeritus)

    Marinus was bereid om mense wat hy nog nie eens geken het nie, van raad te bedien. Ek het in 2010 'n boek met die snaakse titel: Tincture (wat dui op 'n mengsel met verskillende bestanddele) gepubliseer. Oor 'n koffie met Marinus het hy voorgestel dat ek 'n byskrif in die titel moet aanbring. Sy voorstel was:: Tincture - passing the buck and bucking the system. Die hele boek gaan oor 'n stelselontleding van Suid-Afrika en ek is hom dankbaar vir sy destydse kommentare en die voorstel van 'n meer beskrywende titel. Toevallig sien ek dat hy by dieselfde gradeplegtigheid in 1965, toe ek 'n BSc graad ontvang het, sy doktorsgraad verwerf het.

  • Dit was vir my ‘n skok om van Prof Marinus Wiechers se onlangse afsterwe te verneem. As oud-direkteur van Butterworths Uitgewers het ek Marinus as vriend en outeur leer ken. Hy het ook ‘n tydjie lank as nie-uitvoerende direkteur op die raad van Butterworths gedien waar sy skerpsinnige en bedagsame menings altyd verwelkom en gewaardeer was. Marinus was ‘n besondere mens. Ek onthou hoe sy diep stem in ons kantoor se gange in Pretoria en Durban my altyd sou opkikker met beloftes van interessante geselskap, vriendelikheid en ‘n oorspronklike perspektief van wêreldsake. Ek dink Marinus het soos Leibniz geglo dat hierdie die beste van alle moontlike wêrelde is en dat ons ‘n plig het om die beste daarvan te maak. Professor van Wyk is in die kol met sy simpatieke en treffende skets van sy ou vriend en kollega. Marinus het ‘n amper kinderlike geloof in die mens gehad wat dikwels streng beproef is. Ons neem afskeid van ‘n Afrikaanse juris wat in ‘n goue era van ons regsgeleerdheid geleef en deelgeneem het. Namens myself en George Crews, die oorblywendes van die direksie van die ou Butterworths, wil ek ons meegevoel aan sy naasbestaandes betuig.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top