ATKV-Prosaprys bekend, Woordveertjies vir spanningslektuur en niefiksie

  • 0

In ’n tyd waar sosiale interaksie aan bande gelê is deur die Covid-19-pandemie, het boeke die ideale geselskap geword.

Ongeag ’n uitdagende jaar het die uitgewersbedryf daarin geslaag om puik boeke die lig te laat sien.

“Dit is vir die ATKV ’n voorreg om uitsonderlike prestasie rondom die Afrikaanse woord te bekroon. Die voorafgaande kalenderjaar is een wat vir ewig in die geskiedenisboeke opgeteken sal word en ons glo dat die wenners van die ATKV-Woordveertjies bygedra het om ’n moeilike tyd meer draaglik te maak,” sê Sonél Brits, besturende direkteur: ATKV-MSW.

“Die Amerikaanse skrywer Jhumpa Lahiri sê ‘Boeke laat jou reis sonder dat jy voete hoef te beweeg’, en hoe waar was dit nie, veral in 2020.

“Die ATKV is dankbaar vir elke skrywer wat vir Afrikaanse lesers die geleentheid te gee om hul horisonne te verbreed al was dit net met reise op die rusbank. Baie geluk aan elke wenner.”

Die wenners is soos volg:

Willem Anker word vir Skepsel (Queillerie) vereer met die ATKV-Prosaprys. Die beoordelaars in die kategorie was Francois Bekker, Riana Scheepers en Kirby van der Merwe.

Die beoordelaars het die volgende te sê gehad oor die wenboek:

Skepsel is ’n meesleurende roman wat die leser konfronteer en uitdaag. Stilisties is dit ’n kreatiewe teks met drie verhaallyne wat ’n verrassende filosofiese geheel vorm. Die reikwydte van die verhaal is verbluffend. ’n Verhaal met ongelooflike gravitas, maar ook sardonies en deerniswekkend.  

Homo sapiens staan sentraal in die storie wat die verhouding tussen mense, tussen mens en tegnologie asook ons soeke na sin in die algemeen ondersoek. Uiteindelik kom ons verhouding met die blou planeet en hoe vervlietend die lewe is onder die soeklig. Omdat die roman die huidige tydsgees met sy eksistensiële krisisse knap vasvang en oor die toekoms spekuleer, is dit ’n besonder aktuele werk. ’n Monumentale stuk prosa.

Skepsel is ’n kragtoer van skryfvaardigheid, intelligensie, intellektualiteit en ’n ensiklopediese kennis van pop-kultuur. Hiermee sing Anker voor in die koor op die groot verhoog en plaas daarmee Afrikaanse letterkunde ook daar.

Die Prys vir Spanningslektuur se beoordelaars was Phyllis Green, Thys Human en Valda Jansen met die wenner: Die versoeking van Thomas Maas – Chris Karsten (Human & Rousseau).

Die beoordelaars het die volgende te sê gehad oor die wenboek:

Die manier waarop Chris Karsten die verhaal inlui, maak dat die leser aanhou lees, want jy wil weet wat die uiteinde is. Die verhaal is spanningsvol en innoverend geskryf, en breek deur die normale, “afgesaagde” spanningsroman resep.

Die karakters is veelvlakkig en oortuigend en die verhaal geloofwaardig. Wat verras is hoe glibberig die karakters met die waarheid omgaan, niemand vertel leuens nie – net nie die volle waarheid nie.

Vanuit die staanspoor integreer Karsten uiteenlopende taalregisters op soomlose wyse sonder om ooit die aandag van die sentrale spanningslyn af te lei. Sy navorsing is omvattend en onberispelik, sy taalgebruik ’n vreugde en die vrae wat sy roman vra, uitdagend en interessant. Die versoeking van Thomas Maas is ’n roman wat die leser se aandag nie net enduit behou nie, maar dit ook dubbel en dwars beloon.

Die Prys vir Niefiksie is deur Jean Meiring, Martie Retief-Meiring en Bettina Wyngaard beoordeel met die wenner: Sulke vriende is skaars: Die briewe van Arnold van Wyk en Anton Hartman, 1949 – 1981 – Stephanus Muller & Stephanie Vos (Protea Boekhuis).

Die beoordelaars het die volgende te sê gehad oor die wenner:

Die briefwisseling tussen Arnold van Wyk en Anton Hartman werp nie net lig op ’n vriendskap nie, maar gee die leser ook ’n binneblik op die groei van Afrikaanse klassieke musiek. Die skrywes vang die tydsgees vas: sosiaal, maatskaplik en selfs polities.

Die komponis en dirigent se persoonlike insigte, vrese, afkeure en interpretasies is vir die leek én die musikus vars en stof tot nadenke.

Dis ’n waardevolle bydrae tot ons kennis van Afrikaanse komponiste en ’n bloeityd in musiek –  deur wat vasgelê is, maar ook selfs deur wat bewustelik agterweë gelaat is. Uiters leersaam. Outentieke taalgebruik, keurige verpakking en die weldeurdagte samestelling van die briewe maak vir ’n toeganklike, genotvolle leeservaring.

Lees ook:

Skepsel deur Willem Anker: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

Skepsel deur Willem Anker: ’n resensie

Die versoeking van Thomas Maas deur Chris Karsten: ’n resensie

Sulke vriende is skaars: Die briewe van Arnold van Wyk en Anton Hartman, 1949–1981: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top