’n Boeiende groepsuitstalling, approximations to a voice: ellipsis, word tydens die Vrystaat Kunstefees op die hoofkampus van die Universiteit van die Vrystaat (UV) van stapel gestuur. Kunstenaar-kurator Jean Dreyer is die samesteller van hierdie aangrypende uitstalling.
Soos die titel suggereer, bring die uitstalling sleutelbegrippe – benadering, stem en ellips – op ’n treffende wyse met mekaar in verband. Dreyer heroorweeg en brei hierdie begrippe uit en bring hulle op ’n opwindende manier verder in verband met die dinamiese energie van die galeryruimte, die UV se Johannes Stegmann Kunsgalery.
’n Ellips word gekenmerk deur drie kolletjies of punte. Die herkoms van die term dateer uit antieke Grieks waar die woord élleipsis (of ἔλλειψις) na ’n weglating verwys. Dreyer verwys ook na die Oudengelse woord onginnan, wat “begin” beteken.
Die woord ellipsis in die titel van die uitstalling verwys dus na ’n weglating en suggereer dat ’n leemte of opening geskep word én dat iets ongesê gelaat word. Dit is egter ook ’n begin- of uitgangspunt. Die leemte of opening wat die kunsuitstalling skep, dien as ’n uitnodiging aan die galerybesoeker om sy of haar verbeeldingstogte aan te roer, om te begin luister na dit wat die metaforiese stem van die uitstalling nié sê nie, dog moontlik wel geluidloos impliseer.
Daar word dikwels na kunswerke as “uitdrukkings” verwys, wat impliseer dat ’n kunstenaar in gesprek tree met sy of haar gehoor. Kunstenaars kommunikeer deur middel van ’n unieke kunstenaarstem wat, soos Dreyer verduidelik, grense oorskry en oor kulture heen strek.
........
In die konteks van hierdie uitstalling suggereer die teenwoordigheid van die kunstenaarstem egter ook ’n afwesigheid of weglating. Die stem wat afwesig is, dog nietemin ook deur die galerybesoeker as teenwoordig ervaar word, word voorgehou as ’n benadering.
........
In die konteks van hierdie uitstalling suggereer die teenwoordigheid van die kunstenaarstem egter ook ’n afwesigheid of weglating. Die stem wat afwesig is, dog nietemin ook deur die galerybesoeker as teenwoordig ervaar word, word voorgehou as ’n benadering. Kunswerke tree alewig op as approximations of benaderings tot die kunstenaarstem, maar kan die stem nooit werklik bereik nie.
Die ellips skep ’n opening en laat iets ongesê. Die besoeker, as ’n betragter van kunswerke en as ’n persoon wat metafories luister na die stem waarmee die kunstenaar uitdrukkings vorm, kan self egter die moontlike betekenishorisonne van kunswerke slegs benader, maar nooit werklik bereik nie. Om te poog om nie alleen die kunswerk se betekenishorison te benader nie, maar om dit inderdaad te bereik, moet ook na die onsegbare of onuitgesproke wat deur die kunswerk-as-kunstenaarstem impliseer word, geluister word.
Dreyer voer ook aan dat die betragter se eie en unieke self deur middel van die opening wat die ellips genereer aangehoor kan word en kan sodoende deur daardie self ervaar word.
Die spilpunt waarrondom die werke wat in approximations to a voice: ellipsis ingesluit is, uiteindelik draai, is derhalwe beide dit wat uitgesproke, maar van sleutelbelang, ook onuitgesproke bly. Die samehang van die kunswerke in die groepsuitstalling is enersyds die metaforiese opening wat deur die galeryruimte geskep word en andersyds die opening wat elke unieke kunswerk sigself óók skep om die onsegbare te verwoord.
........
Die verbeeldingryke vindingrykheid van die betragter om die onsegbare noukeurig te benader en sy of haar skerpsinnige strewe om dit wat nie uitgespreek word nie, weliswaar tog te bereik, is ook van kernbelang.
........
Die verbeeldingryke vindingrykheid van die betragter om die onsegbare noukeurig te benader en sy of haar skerpsinnige strewe om dit wat nie uitgespreek word nie, weliswaar tog te bereik, is ook van kernbelang.
Dreyer betrek ’n opwindende verskeidenheid media in die groepsuitstalling, insluitend olie op doek, ink op fabrianopapier, marmer, plant- en diervesels in ’n poliësternet, klokspiraal, geblaaste glas en graniet, essenhout, leiklip en vlekvryestaalbande, bolseil- en spinnakerseillap, kaartfragmente op katoenpapier, en selfs ’n beeldhouwerk van klophamers en tappenne.
Die Kaapstad-gebaseerde kunstenaar Jonah Sack se Stonehead (2024) is ’n olie-op-katoenpapier-kunswerk wat dadelik ’n indruk op die betragter maak. Hierdie swart-en-wit skildery verbeeld ’n figuur met sy kop afgekap en loodreg op sy skouers geplaas. Die figuur se torso word in swart uitgebeeld, met slegs die nek en gekruisde hande wat in wit verskyn.
Die vreemde, verwyderde hoof, hoewel dit duidelik ’n gesig is, word bykans meer abstrak as figuratief uitgebeeld. Dit herinner aan ’n standbeeld met ’n geskende of ontsierde hoof en roep die idee op van die oomblik ná ’n revolusie, óf die teenrevolusie wat daarop volg.
Wat laat die skildery egter ongesê? Verwys dit dalk na iets meer persoonlik, na ’n ontkoppeling of onsamehangendheid tussen liggaam en gees? Soos die ruimte wat deur ’n ellips geskep word, poog die skildery om ’n opening tussen denke en aksie ten toon te stel. Of om weer na die standbeeld te verwys, ’n ellips van aksie, daardie oomblik nadat iets verwerp is, maar voordat iets anders omarm word.
Diana Vives is in Brasilië gebore en word tussen Suid-Afrika en Switserland groot. Haar aangrypende multimedia-installasie Hyphen (2023) betrek ’n klokspiraal, ’n geblaaste glasbol en graniet.
Die meer as 250 cm lange klokspiraal, wat noukeurig en met vernuf deur kurator Dreyer uitgestal word, trek onmiddellik die galerybesoeker se aandag. Die lengte van die klokspiraal word vertikaal uitgerek en die granietblok en geblaasde glasbol word daaronder, op die vloer, geplaas, met die glasbol wat versigtig op die graniet balanseer.
Drie reëls uit Jorge Luis Borges se A new refutation of time (1944), wat die nielineêre aard van tyd en die paradoks van die self oproep, is op die klokspiraal gegraveer:
Time is a river that sweeps me along, but I am the river;
it is a tiger that destroys me, but I am the tiger;
it is a fire that consumes me, but I am the fire.
Weer eens moet die betragter deur middel van sy of haar intuïsie en begrip poog om te benader wat Vives deur middel van haar kunstenaarstem sê, asook wat moontlik ongesê gelaat word. Die titel van die werk, Hyphen, roep ’n volgende antiek-Griekse begrip op, huphén (ὑφέν), wat “saam” beteken. Soos die ellips, is ook die koppelteken ’n stom merk wat die tussen-in erken en wat ’n ruimte tot nabetragting skep.
Die klokveer is ’n relikwie van die predigitale era. Desnieteenstaande verteenwoordig die spiraalvorm ’n sleutel- organiserende beginsel van die kosmos – die vorming van sterrestelsels, helikoïede skulpe en varings, die dubbelheliks van DNS, die roete van vallende blare en sade, die beweging van water.
Die geblaaste glasbol soos dié van ’n waarsegster of fortuinverteller suggereer ’n blik na die toekoms, ’n tipe heldersiendheid of innerlike wysheid, asook ’n vermoë om iets aan te voel wat nie onmiddellik sigbaar, of in hierdie konteks hoor- of verstaanbaar, is nie.
’n Tweede Kaapstad-gebaseerde kunstenaar wat in die groepsuitstalling ingesluit is, is Douglas Gimberg. Sy beeldhouwerk Weir (iii) (2024), van essenhout, leiklip en vlekvryestaalbande, dring dadelik op verdere nadenke aan.
Die Engelse term weir verwys na ’n keer- of stuwal – ’n klein versperring wat oor ’n stroom of rivier gebou word om die watervlak te beheer en wat ingespan word om oorstromings te voorkom en watervloei te meet.
Weir (iii) bestaan uit ’n enkele essenhoutplank wat in agt lengtes geskeur is en weer aanmekaar vasgegespe word deur dun vlekvryestaalbande aan elke kant. Gimberg voeg tussen-in die geskeurde lengtes stukke leiklip wat hy vanaf ’n plaaslike keerwal versamel het, en waarop die balk nou figuurlik dryf.
Soos die leiklippe die houtlengtes uitmekaar dwing, ’n aksie wat egter beperk word deur die vlekvryestaalbande aan weerskante, word ’n gevoel van intense spanning geskep. ’n Gevoel van ’n sikliese begin, aksie en beweging, en einde word egter ook gesuggereer. Moontlik ’n element van die ellipsistiese onuitgesproke en weggelate?
Benewens dat die leiklippe die houtlengtes uitmekaar dryf, verhef dit die houtbalk sodat dit nie plat op die grond lê nie. Die balk “dryf” metafories en vestig die aandag daarop dat Weir (iii) net soveel deur afwesigheid as deur teenwoordigheid gestruktureer word.
Gina van der Ploeg is ’n Kaapstadse tekstielkunstenaar. Whether warp or weft ends (2024) is ’n tekstielwerk bestaande uit hennep, vlasplant, denne, bamboesgaringspasieerder en katoentou.
Die Engelse term warp verwys in die tekstielbedryf na die lengtedrade van weefsel en word ook die skering genoem. Die weft is die inslag of dwarsdraad. Van der Ploeg het tydens ’n performance met dieselfde titel hierdie kunswerk geweef. Sy sou aanhou totdat óf die skering (van hennep) óf die inslag (vlasplant) opraak. Die hoeveelheid materiaal en die spoed waarteen sy geweef het, het dus die duur van die performance bepaal. Die inslag het eerste opgeraak.
’n Geweefde objek is soos ’n teks – een inslagry netjies bo-op die vorige een bygevoeg. Die skering hou die inslag vas, soortgelyk aan die wyse waarop teks op die bladsy staan. Van der Ploeg sluit die onderskeie dele van die weeftou, die skering en inslagpunte, in die tekstielwerk in. Sodoende verseker sy dat die spanning van die gare behoue bly. Dog van sleutelbelang vir hierdie uitstalling skep sy ook ’n oopte wat gereed is om deur die verbeeldingshorisonne van die galerybesoeker ingevul te word.
Soos die enkele voorbeelde hier bo genoem, tree elke kunswerk-as-kunstenaarstem in approximations to a voice: ellipsis op soos ’n ellips. Die diverse werke het ’n opening binne die galeryruimte geskep vir ’n skerpsinnige betragter om na dit wat die werke hardop sê, maar ook ongesê laat, te luister, om aan die gesprek deel te neem en die werke vir sigself toe te eien.
As kurator het Dreyer daarin geslaag om die Stegmann Galery in ’n ellips – ’n gaping om verbeeldingshorisonne te verbreed, ’n spasie om die onuitgesproke te benader – om te tower. Sy plaas die uiteenlopende media, die diverse kunstenaarstemme, van die groepsuitstalling in ’n boeiende dialoog, met die onuitgesproke en onsegbare wat sagkens fluister vir diegene wat bereid was om daarvoor te luister.
Vir dié galerybesoekers wat die uitnodiging aanvaar het om aan die gesprek deel te neem en wat gepoog het om die betekenisvelde, beide uitgesproke en onuitgesproke, te benader, het approximations to a voice: ellipsis ’n opening geskep om met elke terugkeer na die gesprek iets nuuts te hoor en te ervaar. En om sodoende ook ’n dieper insig oor hulself te benader en eindelik te bereik.
Blaai gerus deur die digitale katalogus deur hierdie skakel of besoek die virtuele galeryruimte hier.
Alle afbeeldings is met vergunning van die Universiteit van die Vrystaat Kunsgalery en die kunstenaars.
Lees ook:
The book & the sword deur Jan K Coetzee: ’n dinamiese sinergie