

Opening text by Jean Dreyer:
This exhibition opened on 10 September at the Gallery @ Glen Carlou (on the Klapmuts Road).
Gerhard Marx delivered the opening address:
Herewith a contribution by
Herewith a contribution by Ingrid Winterbach (not for sensitive readers)

een
George was ’n skat. Op goeie dae ’n lewensgenieter. Andersins ’n las, ’n aanspreeklikheid. Maar ’n pleb. Geen oog nie. Slegte oordeel. Twee dae voor die opening van my triomfantlike retrospektiewe uitstalling by die Grand Palais, veronderstel om my groot oomblik te wees, skiet hy homself in die kop. My moeder was emosioneel koud. My vader was ’n bombastiese fool, maar met ’n sekere brutale, wel, magnétisme animal. Die staljongens was die ware, onvervreembare liefdes van my jongenslewe. Ek ontwerp woonstelle in die Art Deco-styl. Ek steek my kleim af met die drie studies van figure by die basis van ’n kruisiging. (Die verlengde nekke, die blinddoek, die gillende mond met tandjies.) Ek skilder Isabel Rawstone in Soho. Sy dra ’n blink rok en sy staan in ’n ruimte soos in ’n draaikolk, en asof in ’n hok, asof sy die as is waarom die hele Soho spin. Ek stel nie belang in representasie nie. Ek wil alleen wees wanneer ek skilder. Volstrek alleen. Die fisieke teenwoordigheid van die model inhibeer my. Ek wil die image, die beeltnis, die portret, dringender, onmiddelliker maak – meer irrasioneel, meer gewelddadig. Ek wil dit direk op die senu-eindpunte laat inwerk. Ek wil die sensasie wat ek met die beeld assosieer, oproep - die impak, die rou krag daarvan. Hoe verder weg van representasie, hoe suiwerder, hoe meer gekristalliseer, hoe kragtiger die beeld. As ek nie so ver gaan as wat ek moontlik kan nie, en dan nóg verder, is dit nouliks die moeite werd. Niks wat nie grens aan skandalige, buitensporige oordaad is die kool die sous werd nie. Ek omlyn Henrietta Moreas se vorms met brutale swart kwashale. Ek bewerk haar gesig totdat die skedel en oogkasse sigbaar is en die tande in hulle kasse soos tydens ’n X-straalfoto vertoon. Ek skilder die daad van kopulasie as ’n daad van kannibalisme. Gewelddadige besitname en verorbering. Ek weet wat ek wil doen, maar weet nie hoe om te werk te gaan nie. Daarom vertrou ek op kans, op toeval. Op ingewing, op rou intuïsie. Op die besluit wat binne ’n oogwenk geneem word. Skilder word ’n dobbelspel – ’n kontinuum tussen geluk of teëspoed en intuïsie en kritiese oordeel. Ek is die beste van almal, ja, maar die kompetisie is ook nie besonder groot nie.
twee
Op tienjarige leeftyd tref ek my vader aan – hy het homself opgehang. Op dertienjarige leeftyd sonder ek myself in ’n kas af om by ’n enkele gloeilamp comics te kopieer. Op drie-en-twintig-jarige leeftyd gaan ek, Jackson (Pollock) en Tolegian na Krishnamurti luister in die Ojai-vallei. Pollock bestuur, sigaret in die mond, halfjack altyd binne bereik. Die omliggende bergreekse is manjifiek en geplooi soos material. Krishnamurti het groot Indiese oë met lang, reguit wimpers. Moet hom nie vlak kyk nie. Volledig kompromisloos. My eerste liefdes is Piero, Giotto, Mantegna, De Chirico. Meksikaanse muurskilderinge. Ek verwerp die idee van Art for art’s sake met die minagting wat dit verdien. Op ’n foto praat ek geanimeer met Mark Rothko. My hand op my hart, my das skeef. Ek het ’n groot retrospektiewe uitstalling in die Solomon R Guggenheim-museum in New York. Ek is suksesvol, ek het dit gemaak. Ek word amptelik toegejuig as lofwaardige Abstrakte Ekspressionis. (Dit maak my latere stilistiese ommeswaai des te verraderliker.) My oormatige eet en rook – drie pakkies ongefilterde Camel-sigarette per dag – begin sy tol eis. (Portret van die skilder. Loer met bloedbelope oë agter ’n hoë baksteenmuur uit, sigaret in die hand, glas en bottel gebalanseer op die rand. Swart, groen en kadmiumrooi.) ’n Obsessiewe persoonlikheid. ’n Moeilike inkarnasie. Eers laat ek my beïnvloed deur De Chirico, dan deur Robert Crumb, comic-kunstenaar. My eerste uitstalling van figuratiewe werk word negatief ontvang. Lomp figurasie, skryf ’n vooraanstaande kritikus. Onvergeeflik om die heroïese te verruil vir die komieklike. (’n Klu-Klux-Klan-figuur sit by ’n venster, rus met sy kop in sy hand, sigaar in die ander hand, staanlamp, blinding. Blou, groen, kadmiumrooi, swart en wit.) Skilde, vuiste, dobberende koppe. Close-up, in jou gesig. Onaanvaarbaar. Ek raak toenemend angstig en bedruk. Ek onttrek. Draai my rug op die New Yorkse kunswêreld. Ná my byna fatale hartaanval skilder ek stadiger, maak ek kleiner werk. Wat ooit vir my die belangrikste was, was om in my ateljee te sit, voor ’n skildery in wording.
drie
My werk is in my eie tyd nie na waarde geskat nie. Ek is ’n uitsondering, hoogstens ’n voetnota. Baglione (1642) en Baldinucci (1681) noem my slegs. Die ander sewentiende eeuse biograwe Mancini, Scannelli, Belori, Passeri vermeld my nie eens nie. Met Roberto Longhi se 1916-artikel oor my en my vader word daar vir die eerste keer ernstig gekyk na my oeuvre, in die konteks van Caravaggisme. Ander tydgenootlike vrouekunstenaars probeer nie vernuwe nie. (Dit kan selfs gevaarlik wees vir ’n vrou om dit te probeer.) Ek sal my nie laat terughou nie – laat inhibeer deur die eietydse geringskatting van vroue en vroueskilders nie. My vrouekarakters is lewenskragtig, met heroïese voornemens. Anders as manlike kunstenaars, wat vry is om rond te beweeg, verskeie leermeesters te hê, is my enigste opleiding in my vader se werkswinkel. Ek gaan nie uitwei oor die ongelukkige gebeurtenis van my
verkragting en van die gevolge daarvan nie. Voldoende om te sê dat Agostino my om die bos gelei het met sy beloftes. (En my hart gebreek het, maar nie my voorneme nie. Wat ons nie breek nie, word gesê, maak ons sterker.) Kyk, ons leef in ’n tyd wat nie afgeskrik word deur geweld nie. Openbare teregstellings, onthoofdings, verbrandings. (Die reuke. Die verleidelike kleure van verrotting. Die sagte terre verte-groene, die donkerder capuut-mortuum-skakerings van vermolmde vlees.) Ek skilder die swymelende Ester voor Ahasveros dat hy geboei – selfs betower – vorentoe leun op sy troon. Judith is die een met wie ek die diepste meelewing het (behalwe miskien die penitente Maria Magdalena, haar nek skilder ek volrond, sag en vlesig. Geen man het ’n vrou nog so geskilder nie – deursypel van innerlikheid.) Judith is vol afgryse, maar onstuitbaar, sy druk Holofernes se kop tegelyk stewig vas en wég van haar, sodat sy nek ontbloot is. Ek het plesier in die skilder van die bloed, karmosynrooi, op die sylakens. Ook hoe dit uitspuit – ’n straal soos ’n waaier van dun pluime. Vir die deken wat sy lendene bedek, gebruik ek diesefde rooi as wat Raphael vir Pous Leo X se kleed gebruik in sy skildery van hom met sy twee neefs. Ek het behae in die weergee van Holofernes se sagte, sensuele onderlip, en sy omgedopte, dooie oë. Ek bewonder Caravaggio. (Gevaarlik, onvoorspelbaar.) Sy werk is soveel kragtiger as dié van sy manlike tydgenote. Húlle weergawes van byvoorbeeld Judith, van Susanna, ag nee wat – preutse prikkelpoppe, een en elk. Wanneer ek ’n rolmodel kies, kies ek Caravaggio. Sy durf en kragtige, manlike verbeelding trek my aan. Maar anders as hy, skilder ek vanuit die gesigspunt van ’n vrou.
Francis Bacon (1909–1992)
Philip Guston (1913–1980)
Artemisia Gentileschi (1593–1653)
Die twee olieskilderye op doek, Bellini, skilder, Herr S en Swart & pienk dispuut, asook nog vier ander werke van Ingrid Winterbach, vorm deel van die groepuitstalling artwords by die Glen Carlou Galery, waar dit besigtig kan word tot 5 November.


