The book & the sword deur Jan K Coetzee: ’n dinamiese sinergie

  • 8

Die pen is magtiger as die swaard. Met sy treffende boek-en-beeldhou-uitstalling in gemengde media, The book & the sword, bevestig Jan K Coetzee hierdie aforisme.

Coetzee noem die kunswerke wat hy skep, boekwerke. In teenstelling met kunstenaarsboeke, waar boeke op sigself as kunswerke voorgehou word, bring Coetzee se boekwerke ’n dinamiese sinergie tussen beeldhouwerk en ongemanipuleerde boeke tot stand.

Boeke speel ’n sleutelrol in die beeldhou-boekwerke wat Coetzee skep en hy bring boeke en beeldhouwerke op boeiende en insigryke wyse in dialoog met mekaar. Die beeldhouwerke word direk ingespan om die betekenisinhoud van die boeke te help ontsluit. Die sentrale tema van Coetzee se projek wentel om ongelykheid, oorheersing en onderdrukking.

Elk van die 153 boeke wat Coetzee in die 34 boekwerke in The book & the sword insluit, is oor ’n geruime tydperk deur hom versamel. Hy onderverdeel die boekwerke in die uitstalling rofweg in drie subgroepe. Eerstens, ou of antikwariese tekste gedruk vanaf die laat 16de tot 18de eeue. Hierdie skaars titels is meestal gemoeid met die oorloë en imperialisme vanaf die antieke tydperk tot en met die sogenaamde era van rewolusies in Europa, en ondersoek onder meer die magsverhoudings tussen die binne- en buite-groep en die rol van maghebbers soos kerk, godsdiens, politiek en wetenskap.

Tekste gepubliseer tydens die 19de en vroeë 20ste eeue vorm die tweede groep. Hier wys Coetzee op die toename in publikasie-uitsette weens tegniese ontwikkelinge en goedkoper drukkostes. Hierdie boeke is meestal gesaghebbende titels, ondersoek soortgelyke temas as die eerste groep en betrek ’n wye verskeidenheid historiese gebeure vanaf die antieke tydperk tot 19de-eeuse kolonialisme en imperialisme.

Die laaste groep is kontemporêre boeke wat vanaf die 20ste tot vroeg 21ste eeue verskyn. Hier vind Coetzee dat geskiedskrywing tot ’n gesofistikeerde en verfynde vlak ontwikkel het. Hy beklemtoon die eksponensiële groei in die hoeveelheid boeke vrygestel sedert 1900 en benadruk die sleutelrol wat boeke as lewensdokumente in die moderne samelewing speel.

Vanweë die enorme getal boeke wat sedert die 20ste eeu gepubliseer is, fokus Coetzee in die derde groep slegs op slawerny: die mees ekstreme skending van menseregte en die vergestalting van onderdrukking, oorheersing en totale beheer.

Boekwerk 6 Chariot of words (2022) is ’n indrukwekkende boekwerk wat op treffende wyse die eeue-oue verhouding tussen mens en perd beklemtoon. Die boek in hierdie boekwerk is Titi Livii Patavini Historiarum Ab Urbe Condita. Decas Tertia, of te wel, The third decade of the history of the founding of Rome deur Titus Livius Patavinus, uitgegee in 1631.

Die beeldhouwerk wat die boek vergesel, is dié van ’n perd en strydwa met ’n sterretoring – wat herinner aan Nicolaus Copernicus se heliosentriese model – en veroweringsbanier. Dit is veral die fyn kerfwerk van die perd se gesig en wiele van die strydwa wat die betragter bybly.

Perde-eienaars in antieke tye beklee hoë range op die sosiale en politieke leer en ontvang selfs spesiale stemvoorregte. Die impak van perdekrag was daarom veel meer as slegs die militêre mag van die swaard. Perde versprei ook verhale na verre lande en dissemineer sodoende taal, kultuur en idees van heerskappy – vandaar die titel van hierdie boekwerk.

Boekwerk 9 Horse and empire (2022) ondersoek ook die verhouding tussen dominansie en perd. Hier word die sewe volumes van Edward Gibbon se The history of the decline and fall of the Roman Empire (1909–1914) uitgestal in ’n kiaathout-boekkas.

Hierdie sewe volumes word as van die mees gesaghebbende verhandelings oor die Romeinse Ryk beskou en is daarom ’n kragtige voetstuk vir die houtsnywerk wat die kop van ’n perd verbeeld. Die beeldhouwerk, van mopaniehout (ook yster- of bloedhout genoem), stel Coetzee se vaardigheid ten toon. Coetzee maak op meesterlike wyse van die vorm en grein van die hout gebruik om die perdekop daaruit te voorskyn te bring.

Met hierdie twee boekwerke beklemtoon Coetzee die sleutelrol wat perde gespeel het, nie net tydens oorloë nie, maar ook in tye van vrede. Perde het gehelp om landerye te ploeg, om mense vinnig en ver te vervoer en verskaf vermaak aan duisende tydens strydwaresies. Perde word mettertyd statussimbole en verpersoonlik rykdom, aansien en militêre mag.

’n Dieptreffende kunswerk is boekwerk 12 Our hands are tied (2022). Ses boeke wat handel oor die tema van slawehandel en deur die loop van die 20ste en 21ste eeue gepubliseer is, word in ’n boekkas van kiaathout uitgestal. Bo-op die boekkas is ’n ystergebonde balie waarbinne ’n ketting en houtgekerfde hande (ook van mopaniehout) op vlekvryestaalstawe gemonteer en vasgedraai met vlekvryestaaldrade voorkom. Die vasgekettingde hande suggereer op ’n aangrypende wyse die ekstreme vorm van menslike onderdrukking, die ontkenning van menseregte en ergste vergestalting van ontmensliking wat slawerny is.

Boekwerk 19 Weighed but found wanting (2021) bestaan uit 16 20ste- en 21ste-eeuse titels en ondersoek ook aspekte van slawerny, insluitend die Transatlantiese slawehandel en die geskiedenis van slawehandel in Noord-Amerika en Brittanje.

Benewens die 16 manuskripte, nogmaals uitgestal in ’n kas van kiaathout, bestaan Weighed but found wanting uit ’n antieke weegskaal met twee houtsnywerke – ’n gesig van basterysterhout en ’n skedel van jelutonghout. Coetzee toon weer sy bedrewenheid met beeldhouwerk. Veral die gesig se uitdrukking, met oë en mond wat treffend leed en pyn verbeeld, bly die betragter hartroerend by.

Die skaal word gebalanseer met antieke Okpoho-tipe Manilla-koperarmbande van suidoos-Nigerië en ou munte lê op die boekkas. Weighed but found wanting lewer op sielroerende wyse kommentaar op die ongeregtighede en gruweldade wat deur eeue se slawehandel veroorsaak is.

Boekwerk 24 Instrumental knowledge (2022) lig ’n heel anderse, dog sentrale tema van 18de- en 19de-eeuse denke uit. Die boeke in die boekwerk is die sewe volumes van Carl Linnaeus (beter bekend as Carl von Linné) se deurslaggewende manuskrip, A general system of nature, through the three grand kingdoms of animals, vegetables, and minerals; systematically divided into their several classes, orders, genera, species, and varieties, with their habitations, manners, economy, structure, and peculiarities (1802–1806).

Bo-op die kiaatboekkas plaas Coetzee verskeie wetenskaplike instrumente, insluitend mikroskope, sekstante en ’n teleskoop, sorgvuldig aanmekaar gesoldeer. Met hierdie boekwerk beoog Coetzee om sin te maak van die oorheersende denkwyse van ons voorgangers. Hoe, as Westerlinge, ons ons optredes beplan, interpreteer, betekenis daaraan gee, verduidelik, regverdig en rasionaliseer. Boekwerk 24 word ’n metafoor vir die Westerling se lewensuitkyk: Ons wil weet, ten einde te kan voorspel, ten einde te kan beheer.

Oliver Goldsmith se A history of the earth and animated nature in four volumes, gebind in twee volumes, is die eerste maal in 1774 gepubliseer en bied ’n natuurhistoriese oorsig tot en met die 18de eeu. Hierdie twee volumes is in boekwerk 25 Scientific revolutions (2021).

Bo-op die boeke is ’n hand wat ’n klein sterretoring vashou, soortgelyk aan Copernicaanse sterremodelle. Die hand hou die sterretoring soos ’n swaard vas en rus self op wiskundige meetinstrumente. Scientific revolutions plaas die soeklig op die boek as ’n barometer van kulturele, sosiale, godsdienstige en wetenskaplike idees en kennis. Coetzee skryf in The book & the sword (2024: 138):

Throughout the ages the knowledge and ideas in books have initiated and (re)circulated great power. But nothing stays the same. When knowledge and ideas change, power shifts too. Some power shifts are seismic, they lead to revolutions that alter the social, political, economic, and scientific landscape in relatively short periods of time. Most of humanity’s major revolutions coincided with turmoil, and contestation.

Jan K Coetzee (Foto: Asta Rau)

Coetzee is emeritus-professor in sosiologie. Die boekwerke wat hy skep, verbeeld deurgaans ’n dialoog tussen sosiologie en kuns. Deur die boekwerke op uitstalling bestudeer hy hoe die opskryf van ons verhale en die stelselmatige ontwikkeling van die uitgewerswese oor eeue heen die wêreld om ons gevorm het, en hoe bepaalde idees en waardes wat deur boeke bevorder word, vandag steeds sirkuleer en pal ons sienings beïnvloed.

As akademiese sosioloog spits Coetzee hom toe op die kwalitatiewe sosiologie met ’n spesifieke fokus op die “narratiewe studie van lewens”. Boeke is lewensdokumente en bevat die neerslag van wie ons regtig is. Mettertyd begin Coetzee se narratiewe blik op die samelewing, op boeke en op die kunste saamvloei. Wat die beeldhouwerk in hierdie uitstalling selfs meer indrukwekkend maak, is dat Coetzee geen formele kunsopleiding ontvang nie.

Hierdie uitstalling gaan saam met ’n kunstenaarsboek The book & the sword waarin die projek volledig gedokumenteer word. ’n Kopie – onderteken, genommer en gedateer – van dié kunstenaarsboek vergesel elke boekwerk op uitstalling.

Die insluiting van ’n kunstenaarsboek wat met elke boekwerk-kunswerk meegaan, herinner aan die kunshistoriese idee van die selfbewuste of meta-beeld. Kunswerke soos Velásquez se Las Meninas (1656) of Vermeer se Allegorie op de schilderkunst (1666–1668) word algemeen as selfbewuste beelde beskou – kunswerke wat na sigself as kunswerke verwys.

Die boek The book & the sword word uitgestal langs elke boekwerk en dokumenteer deur fotografie ook elke boekwerk. Dit is ’n boek waarin fotografie van Coetzee se boekwerk-kunswerke verskyn, wat elkeen ook uit boeke bestaan. Deur die kunstenaarsboek en boekwerk-kunswerke ondersoek Coetzee die impak van boeke op die ontwikkeling van die mens en die samelewing waarbinne ons onsself bevind in ’n selfverwysende kringloop van boeke en kunswerke. Sodoende bewys Coetzee dat die pen inderdaad magtiger is as die swaard.

  • 8

Kommentaar

  • Ek was aanvanklik bloot nét baie beïndruk met hierdie werke. Tóé oorweldig met verskeie emosies namate ek meer daaroor gelees het. Nóú is ek heeltemal verstom oor die geweldige detail, feitelike navorsing en ongeëwenaarde kuns, diepte en skoonheid van hierdie werke.
    Voorwaar ongelooflik.
    Baie geluk en grootste lof.
    Die positiwiteit van die resensie spreek vanself.
    Unieke kuns, insig, kennis en handvaardigheid op top vlak.
    Welgedaan !

  • Nie "gewone" uitstalling nie!

    Hierdie uitstalling, gekombineer met uiters sensitiewe beeldhouwerk het my en ek glo elke kyker aan sy siel gegryp, met die inhoud van die boek "The book and the sword" briljant gedokumenteer... die swaard sny diep! 'n Baie unieke uitstalling. Baie geluk, Jan.

  • Harde hout en metaal wat die realiteite van slawerny uit die boeke trek en ‘n groot emotioenele impak maak. Ongelooflik treffend.
    Baie dankie, Jan.

  • Vir my onderstreep die resensie die wisselwerking tussen kuns, boeke en die narratief van Jan K Coetzee se werk as kunstenaar en sosioloog. Hierdie “boekwerke” konfronteer ons met die geskiedenis en die onmenslikheid van slawerny, maar lê ook die verbinding deur boeke en ons “storie” bloot. Veel van die werke het 'n tederheid in kontras met die gruwelikke geskiedkundige moment wat dit afbeeld.

  • In ‘n tyd van falshede en kitsgenot is Coetzee se werk ‘n betowerende kombinasie van literatuur en kuns. Elke stuk, eens 'n individuele kommoditeit, dra nou by tot 'n breër narratief oor geheue, interpretasie, en die dikwels gesensureerde stemme in die geskiedenis.

  • Elke stuk is ’n meesterlike betuiging van Jan K Coetzee se vermoë om diep emosies oor ’n betreurenswaardige hoofstuk in ons geskiedenis te ontlok. Sy noukeurige vakmanskap omskep beelde en boeke in boeiende verhale wat dien as as ’n sombere herinnering aan diegene wie se stories en stemme onderdruk is. Die boek is ’n merkwardige samesmelting van uitmuntende kuns en sosiale kommentaar.

  • Ek kon ongelukkig nie die uitstalling bywoon nie, maar het 'n paar maande gelede 'n kopie van The Book & the Sword ontvang danksy die outeur se vrygewigheid. Absolute meesterstuk van 'n boek en hierdie uitstalling bevestig dat ons hier met n versameling kunswerke van monumentale waarde te doene het. Hopelik kry dit die erkenning wat dit verdien en ook 'n meer permanente tuiste waar nog meer mense dit kan ervaar.

  • Elizabeth Stack

    This excellent article does justice to the monumental body of work that went into the book and the sculptures. The book, "The Book and the Sword" that accompanies the sculptures, provides far more than a description of the sculptures, it traverses a history of man's injustices to the weak and oppressed. Congratulations, Jan!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top