Anna Davel gesels oor Mixtape van die liefde by die Suidoosterfees

  • 0

Foto van Anna Davel deur Gys Loubser vir die Suidoosterfees

Mixtape van die liefde
Ondersteun deur NATi
Vervaardiger: Momentum Beleggings Aardklop
Met: Jana Cilliers, Mathys Roets, Christo Davids, Anna Davel, Stephanie Baartman, Laurinda Hofmeyr en Leon Gropp
Geskep deur: Anna Davel en Alexa Strachan, na die bloemlesing saamgestel deur Antjie Krog
Regie: Anna Davel
Taal: Afrikaans
Venue: kykNET Teater
Datum en tyd: 28 April om 14:00
Tydsduur: 60 min
Prys: R125

Die liefde is soms morsig, meestal misterieus, en maak mense dikwels mallerig.

Hierdie produksie bring Antjie Krog se bloemlesing, waarin verskeie digters aan die woord is, na die verhoog. Dit reik oor grense van temas, kultuurgroepe en generasies heen, maar op die ou end word almal ewe hard omgedolwe, platgetrek óf opgehef.

Izak de Vries het met Anna Davel gesels terwyl sy tussen produksies rondhardloop.

Ek het Mixtape van die liefde, saamgestel deur Antjie Krog, gelees en is werklik mal daaroor. Daar is soveel variasie in. Hoe gaan julle die variasie musikaal aanbied?

Die produksie het ontstaan toe Alexa Strachan van Aardklop my voorgestel het aan die bloemlesing en die idee van ’n show rondom die boek met my bespreek het. Ek het dit in een slag deurgelees en dadelik aan die werk gespring om gedigte te kies. Daarna het ek aan stemme, beide vir voordrag en sang, gedink wat die woorde sou vlerke gee.

Die bloemlesing bevat natuurlik ’n veelheid stemme. Julle produksie ook. Krog was verantwoordelik vir die saamstel van die stemme in die boek. Wie het al hierdie wonderlike kunstenaars op een verhoog gekry vir jul produksie?

Ons produksiespan het saam koppe gekrap en die geselskap van sewe wat uiteindelik gekies is, en ja gesê het, is net ’n droom om mee saam te werk. Die gedigte is baie uiteenlopend en veral noudat ons die vertoning al ’n paar keer gedoen het, is dit vir my moeilik om ander mense in die onderskeie rolle in te dink.

En die musiek?

Daar is ’n goeie balans tussen gedigte en toonsettings. Daar is ’n paar bestaande toonsettings soos “Voshaarnooi” (Louis van Rensburg se toonsetting) en “Allerliefste, ek stuur vir jou ’n rooiborsduif” (Lize Beekman se toonsetting), asook nuutskeppings wat ek en Laurinda Hofmeyr spesiaal vir die vertoning getoonset het.

Foto: Robyn September

Kaartjies vir die vertoning is te koop by Computicket.

Die bloemlesing Mixtape van die liefde is uitgegee deur LAPA en is te koop by Graffiti.

Lees ook:

Mixtape van die liefde kan die vreugde van gedigte vir tieners oopsluit

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top